Pages

13.6.11

Toe se ouma en nou se ouma


My Ouma Moolman was in die ouetehuis op Sonop, net buitekant Brits. My pa se suster was die matrone van die ouetehuis en omdat hulle nie ver daarvandaan nie geboer het, kon Ouma Moolman in Tannie Miemie se Personeelwoonstel bly.

Ek onthou my ma was altyd haastig om te vertel van die matrone-woonstel waarin my ouma gebly het. En ek onthou my ouma het nooit saam met die ander oumense in die eetsaal geëet nie, maar in die kamer – so asof sy die behandeling wat die matrone toekom, geniet.

My ouma en Tannie Miemie was al jare dood, toe ek agter die kap van die byl kom. Die Sonop-nedersetting is blykbaar begin om huisvesting aan hulbehoewendes en armlastiges te verleen.

En die oues van dae in hierdie betrokke ouetehuis was die wat letterlik geen ander heenkome had as om daar deur die staat gedra te word nie. My ma-hulle moes gevolglik seker verplig gevoel het om dadelik te kwalifiseer dat Ouma haar nie daar bevind op grond van armoede nie, maar dat sy die matrone-kwartiere in die plek van haar dogter betrek.

En Ouma Moolman was straks self te opstairs om met die ander te assosieer.

Ek weet nie. Ek was kind en baie klein. En het net een keer 'n maand saam met ouers deurgery Brits toe om vir Ouma en Tannie Miemie-hulle te gaan kuier.

Die kuiers op die plaas was heerlik.

Maar ek het elke oomblik by die ouetehuis gehaat.

As ons eers by Ouma in die kamer was, was dit okey, maar om daar te kom, was 'n stryd en nagmerrie.

Ek kry sommer so hol kol op my maag, net om hier daarvan te tik en daaraan terug te dink.

Die ouetehuise, daardie dae, het nie op gegaan, die lug in, nie. Nee, hierdie was 'n enkelverdieping-gebou wat vir myle en myle in die Wes-Transvaal son uitgesterk gelê en vergaan het tussen sonbesies en swart turfgrond.

Letterlik soos myle het dit gevoel. Myle van waar die motor in die skadu parkeer is, na die hoofingang waar Ouma se kamer dadelik op linkerhand was.

Die hekkie het 'n son met strale in gehad, so in ysterwerk gesweis, en die gedagte was seker dat dit 'n opkomende son moes verteenwoordig. Tot en met daardie een middag in standerd 7, die tweede laaste middag in my lewe wat ek ooit op Sonop was, het daardie son, van ek my verstand gekry het, net een ding beteken – 'n son wat ondergaan. Niks positief nie, maar negatief al die pad.

Die paadjie self was van sement in verskillende vlakke en grade van verval. Daar was al die jare 'n bedding tussen die vervalle paadjie en dooie grasperk wat tot teen die ouetehuisstoep gestrek het; partykeer was daar dooie blomme in die bedding (of iets wat daaraan herinner het dat dit dalk 'n blomplant kon gewees het), meestal was daar niks.

Maar hierdie sementpaadjie in die hitte en sonbesies was niks, niks in vergelyking met dit wat op die stoep agter en tussen die koffieblikke vol varings aangegaan het nie. Daar, vir myle en myle, so lank as wat die gebou was, het ingeryg gesit die ou ooms en tannies.

En dan was Jacques Brel amper reg as hy sing dat the old folks don't talk much, and they talk so slowly when they do. Want hierdie ooms en tannies het niks gepraat nie, nie woord nie. En as daar die betrokke Sondag 94 van hulle in die verweerde rottangstoele op laslapkussinkies gesit het, het 179 oë (‘n paar was blind en een of twee sou iewers langs die pad ‘n oog verloor het) jou gevolg van die oomblik wat jy die sononder-hekkie se knip oplig, totdat jy, ure later (so het dit weer eens gevoel) by Ouma se kamer ingehol het.

Hulle het nie gepraat nie, nie ‘n woord gesê nie, maar dit beteken nie hulle was stil nie, tussen die sonbesies en die paar aasvoëls en swart kraaie se gekrys in die omgewing deur, kon jy die ou ooms en tannies se nekke, en oë, en senings, en gelooide en geplooide leer velle hóór kraak, soos hulle jou elke tree en beweging volg.

Naby die hoofingang sou altyd iemand wees wat ‘n gekraakte rimpelhand van die stoelleuning gelig het, en na my gewink het, my nader gelok het; ‘n tandelose mond sou dalk iewers iets geroggel het. Maar voor my ma of pa my kon terugroep om die oom of tannie ordentlik te groet, was ek al by Ouma in haar kamer.

Brel bring in sy lieflike én verskriklike liedjie oor die ou mense ook 'n ou silwer horlosie wat hul tyd op aarde sekond vir sekond aftel, in. Hy sluit dan ook af met:

but life goes on / For still another day / As they try to escape the old silver clock / When day is through / It tick-tocks oh so slow it says "Yes" it says "No" / It says "I'll wait for you" / The old old silver clock that's hanging on the wall / That waits for us / All

Vir my, as kind, was hierdie ou ooms en tannies op die stoep daardie klok wat op my gewag het, my wou kom haal het, my wou kom kry het. 'n Groot, ou, hout, staanhorlosie, nie 'n silwer klok nie, elkeen van hulle, hulle oë en nekke, die pendulum en uurwerk wat vreesaanjaend en amper sinister beweeg. Ek wil ook die woorde makaber en surrealisties kan gebruik.

Dat ek enigsins nog lief vir ouma kon wees, verwonder my tot vandag toe.

Ek het seker so vier jaar gelede weer daar gestop. Baie het verander en is aangebou, maar intussen het dit ook soveel verval, dat dit eintlik maar dieselfde gebly het – die doodsheid, die sonbesies, die drukkende, gillende stilte.

Die ou mense uit my kindertyd is almal dood, en die nuwe ou mense sit nie meer op die stoep nie. Ouma se kamer is verbou. Maar my kindertydvrese het volledig van my besit geneem toe ek met dit wat oorgebly het van die sementpaadjie hoofingang toe, afgestap het.

Daarom dat ek soveel begrip het vir my dapper dogter wat een Sondag 'n maand saam met haar ma en pa by haar ouma in die ouetehuis moet gaan eet.

Hierdie een is in die lug op, daar is nie 'n stoep nie, die seniele oues word in 'n sitkamer ingeryg soos mielies aan 'n stronk. Klaradyn weier om daar in te stap. Die een, dierbare, gesellige, mal-soos-'n-haas, kens tannie, het haar 'n ruk terug nader gelok en begin gesels – Klaradyn het haar water en ligte weggeskrik.

Dis nou winter, daar is nie 'n venster op die hele vloer oop nie, so dit stink so aan pis tot middel September dat geen mens dit sommer kan hou nie.

Die een tannie gil van die more tot die aand so hard dat selfs my ma, stokdoof en vier kamers af in die gang, kort-kort vra wie die kind is wat so skree en of ons die mens nie kan gaan help nie.

En dan is Pa die een wat met 'n opgewonde stem uitroep:  “Kom ons gaan kuier bietjie vir Ouma Nooi!” Stomme kind!

Dan is Pa die een wat so een Sondag 'n maand sê ons moet daar by haar gaan eet.

Darem nie in die eetsaal of haar kamer nie, in die lieflike tuin.

Somer is dit maklik, ek koop kouevleis en slaaie op Ouma se kaart – dit het my nie in die kombuis en weg van die gesin aan die kosmaak nie, én ons het kwaliteittyd met Ouma.

Winter is nie noodwendig moeilik nie, maar anders. Dan vat ons warm kos. Soos gister.

Ek warm die kos op by die huis en pak dit, in 'n kombers, in 'n koelboks. Terwyl ek opgaan om Ouma in haar rolstoel te kry, dek Annieka en Klaradyn die tafel. Sluit ons by hulle aan, kry ons die warm kos op die tafel en ons eet.

My ma is nou een van Brel se ou mense wat nie meer vreeslik praat nie. Partykeer, kom ek daar, het sy vergeet hoe dit is om te praat en dan praat sy in so 'n hoë skril stemmetjie sonder om agter te kom dat dit nie eintlik is hoe mense praat nie. En as sy die dag praat, is dit deurmekaar en gedeeltelik onsamehangend omdat die brein verkeerde en ander woorde as wat sy soek, na haar tong toe stuur. Maar sy geniet die kuier, elke kuier, en die kos terdeë.

Veral iets soets, soos gister se pampoenkoekies. En elke keer se poeding, maak nie saak wat dit is nie.

'n Uur later pak ons op en gaan huis toe.

Maandag het sy vergeet dat ons saam geëet het, maar dit maak nie saak nie. Dis die hede wat belangrik is, die verlede tel nie, en gister het sy 'n hele ruk lank 'n heerlike stuk hede kon geniet. So by so dat sy gehuil het toe ons moet groet, want wanneer sien sy ons dan nou weer.

En dit kom straks as paradoks oor, maar ek was so bly dat sy nog kan huil oor ander goed as frustrasie met lam bene of seer bene. Dit bewys sy weet nog wie ons is, en selfs as sy nie weet wie ons is nie, bewys dit ons is vir haar belangrik en dis vir haar lekker om ons om haar en by haar te hê. Daar is 'n diepte, 'n emosie, 'n begryp en verstaan en deel wees van 'n sosiale struktuur.

In Judy se geval is dit baie om voor dankbaar te wees.

En dan is ek sommer opnuut bly oor Klaradyn ook. Soos vir my destyds, moet dit vir haar hel wees, maar sy verdra dit en sy verduur dit, want dit is na alles haar Ouma.

1 comment:

Minette Ferreira said...

Hans, ek love hierdie stuk. Dit bring my eie kuiers op die plaas naby Brits terug na my toe. Ook Sondagetes saam met Ouma - die oumensreuk wat so oor alles hang en die gordyne wat sy altyd so toegetrek het teen die hitte. Daar was 'n staanhorlosie waarvoor ek doodbang was en plat spinnekoppe wat geluidloos oor alles geloop het.
Minette