Pages

21.6.11

My beker loop oor

Ek hetnetVIRGEET
Ja, toemaar wat!

Het ek en Annieka nou vanmiddag op hierdie Dinsdagmiddag, met die motor in die koelte parkeer, heel laf en uitbundig vir hierdie twee sinnetjies gelag!

Vir my en Annieka om saam op 'n Dinsdagmiddag in 'n motor onder 'n koelteboom te sit, is uiters raar.

So jaar of wat voor haar geboorte het ons 'n ruk lank die gewoonte gehad om op 'n Dinsdagmiddag saam te gaan uiteet. Dit was net na die boek, Tuesdays with Morrie, uitgekom het en ek het gepraat van Tuesdays with Ankie en sy van Tuesdays with Hans. Roekelose middae was dit gewees, onverantwoordelik en vreeslik ongebonde.

Maar dis ook al 8 jaar gelede. Tussen toe en nou het baie water in die see geloop, waters waarmee die meul nooit weer sal maal nie.

Klaradyn is gebore en daarmee saam het 'n nuwe roetine en struktuur gekom. Twee middae na 15:00 doen Annieka vier middae se werk, twee middae doen ek vier se werk. Die vyfde middag van die skoolweek wat oorbly, gaan dan na dié een, dan na die ander. En die een wat nie laat by die skool bly nie, tel Klaradyn op.

Net iemand wat die onderwys nie ken nie en dink dat dit vir almal 'n halfdag-werk is, sal nie weet welke nagmerrie dit is om so 'n reëling te maak werk nie; maar ons moet maar, in belang van ons kind. (En om dit te maak werk, is daar eintlik net een ding wat jy kan doen – die drie ure waarop jy tussen drie-uur en sesuur uitgemis het deur dit met Klaradyn deur te bring, moet jy vanaand, as jou normale skoolwerk van na ete afgehandel is, inhaal.)

Vanjaar is Maandag en Dinsdag my middae met Klaradyn, Annieka neem die volgende twee dae, en Vrydae is ons beide meestal by die skool en weg van ons kind.

Dan werk dit ook so dat my middae die “buitemuurs” het. Maandag die Voortrekkers, en Dinsdae die Dramaklasse by Tannie Lorraine.

Daar is seker 8 dramajuffrouens tussen ons en Tannie Lorraine, maar nie een so lief en dierbaar en so vol ondervinding soos Tannie Lorraine nie – dit is al so vandat ek in 1988 in Pretoria aangekom het, en dit gaan vir lank nog so bly.

Die gevolg is dat ons oor die berg na die ander kant van die stad en 'n ander klimaatstreek moet ry om by Tannie Lorraine uit te kom. (Mense sal sê ek lieg, maar dis 'n feit – dis beslis warmder anderkant die berg as aan ons kant. Die Kapenaars sal weer lag as hulle sien watse puisie op die landskap ons voormalige Transvalers en Vaalpense aan hierdie kant van die rivier as 'n “berg” aanspreek.)

So Dinsdae met jou wederhelfte is 'n hele paar jaar nou al uit soos koekies in 'n weeshuis.

Dis nou tot vanmiddag, toe Annieka lus voel vir koffie en koek saam met haar man. Ek stem in, maar van wegkom as die skool sluit, is daar nie sprake nie – eers bykans 'n uur nadat die klok gelui het, stap ons na ons onderskeie motors toe. (En oor minder as 'n uur moet ek Klaradyn klaar weer in die kar en anderkant die tolhek hê vir haar dramaklas.)

Klaar die koffie weggesluk en nie gewag vir die koppies om koud te word nie, besluit ons dat hierdie ongewone kuier nou so lekker was, ons gaan sommer altwee drama toe, dan werk ons in die kar op ons skootrekenaars.

Maar daar was 'n slang in die tuin van Eden en dinge realiseer nie soos ons gehoop het nie – toe ek teoreties gesproke klaar laat is om die langpad drama toe aan te pak, gooi Annieka nog brandstof in haar motor. Ek kan beslis nie vir haar wag, Klaradyn by die naskoolsentrum optel én dink ons gaan betyds wees vir die groepsklas drama nie.

Ek bel en ons kanselleer die afspraak tot ons beide se teleurstelling.

Ek tel Klaradyn op en 27 minute later, 1 minuut voor die aanvang van die klas, stop ek by Lorraine se huis. En ek gooi amper die motor in 'n rustige voorstedelike systraatjie om, want wat is die registrasienommer agter op die motor wat presies soos Annieka s'n lyk? Dis nooit anders nie – Annieka het reguit deurgeskiet Lorraine toe en oomblikke voor ons hier aangekom.

Pappa én Mamma én Klaars straal. Ek en Annieka hou Klaradyn dop hoe sy letterlik dramaklas toe hardloop, nie oor sy dink sy is laat nie, omdat drama klas iets is waarheen sy week na week hardloop, waarvan sy week na week terugstap. Is dit nie wonderlik en die beste kompliment vir Lorraine nie – kinders hárdloop klokslag na haar klasse toe, en stáp traag daarvan weg.

En daar sit ek en Ankie toe nou ons kuier voort.

Die juffrou het KIaradyn se baie klaswerkboeke huis toe gestuur vir insae en teken voor die einde van die kwartaal. (In 1970, toe ek in graad 1 was, het ons nog tot Augustus klei gespeel en geoefen om vetkryt vas te hou!)

Ek is trots op my kind se skool, én op my kind – maar dis soos ek vir Klaradyn in die kar sê toe ons kom:  “Dis pragtig my kind, maar dan weet jy net so goed soos ek dat, was dit 100 maal minder pragtig, sou dit nog steeds vir Pappa die pragtigste van pragtig gewees het, net omdat dit joune is.”

En dit ís natuurlik ongelukkig ook so. Of sy nou 6 reg het, en of sy nou 6 verkeerd het, dit is my om het ewe – dis my kind, en daarom is dit goed genoeg en skiet die knope van my hemp af, so swel my bors van trots.

Dis dan toe nou ook hier, in een van die boeke, dat Klaradyn besluit het:  as Juffrou allerhande boodskappies in my boek kan skryf, dan mag ék tog sekerlik ook maar.

Soos alle onderwysers in die fase waarin Klaradyn haar nou bevind, is die juffrou lief daarvoor , en is dit trouens haar werk, om boodskappies te skryf. Hierdie boodskappies is vir Klaradyn belangrik want ons het einde verlede kwartaal gesprek gevoer oor heelparty van die juffrou se boodskappies.

Ek kan regtig nie aflei wat die dag verkeerd gegaan het nie, maar Klaradyn het seker aanvoeling gekry dat hier nou weer een daai boodskappies gaan kom waaroor sy en Mamma en Pappa later oor gaan gesels, toe spring sy die juffrou voor, gryp haar rooi potlood en skryf in dringende dik rooi letters (die meeste van hulle nog hoofletters ook) “EK HETNETVIRGEET.”

En wat kan die stomme juffrou nou anders as om te reageer met: “Ja, toemaar wat.”

Hoe sy vandag reageer het toe Klaradyn daarop sou aangedring het om in drieë tot by 30 te tel, weet ek nie. Sy laat val gisteraand in die bad dat sy die oggend 'n twee gekry het vir tel in drieë. 'n Twee is nie baie goed nie en daar moet nou weer geoefen word, sy wil dit beter kan doen. Daar word toe geoefen en soos ek dit het, is sy vanoggend vroeg na die juffrou toe om oor te tel, sodat Juffrou kan hoor sy kán dit doen, en dan gaan om die 2 'n beter punt/simbool te maak.

Waaraan die onderwysers (ons onderwysers) nie alles uitgelewer word nie!

Beide rooi sinnetjies is dalk glad nie so snaaks soos dit vanmiddag onder die malse omstandighede vir my en Annieka was nie, dis dalk glad nie eers snaaks nie, maar ek en Annieka het onbevange gelag toe ons onself die gedagtes agter die stukkie kommunikasie in die boek indink – en ons ken ons kind, ons weet hoe dit sou geklink het as sy dit moes sê en nie geskryf het nie; ons sien ook hoe span sy haar letters in dat dit kan lyk soos wat sy wil klink.

Toe ry ons huis toe en lag net nog verder. Klaradyn spring op die trampolien, deur 'n hoepel wat sy soos 'n springtou hanteer.

En daar wonder ek of ek dit nog enigsins sal kan doen – my logge lyf deur 'n hoepel kry. Klaradyn skree na haar ma om te kom kyk wat vang haar pa aan. En toe Annieka eers sien wat ek regkry, wonder sy of sy my dit sal kan nadoen. En kort voor lank slaan ons amper vuis oor gebruiksreg van die hoepel.

Wat maar net weer eens bewys dat 'n mens nie geld nodig het om gelukkig te wees nie.

No comments: