Pages

2

Uit die argief:
Wegkruipertjie speel
Ek onthou vanoggend ‘n grappie uit my studentedae.
En die lettergrepe wat ek nou met soveel sorg van akuutaksente voorsien het, moet geensins met erns en drif aksentueer te word nie, dit moet eerder speelsheid en 'n uitgerekte uitspraak uitgehef word.
Pas terug van hul wittebrood en nog nie ‘n week weer by die werk nie, kom manlief tuis:
Hy:         (spelend en roepend) Knock-knock! I’m hóme!
Sy:          (hardop roepend in ‘n fluisterstem) I’m híding!
Hy:         (soos vroeër) I have a kéý! I’m unlocking the front dóór!
Sy:          (soos vroeër) I’m híding!
Hy:         I’m coming ín!
Sy:          I’m híding!
Hy:         I’m lóóking for you...
Sy:          I’m híding!
Hy:         ... and I’m going to fínd you!
Sy:          I’m híding
Hy:         And once I’ve fóúnd you, I am going to make lóve to you!
Sy:          I’m híding... in the kítchen... under the táble... you can’t míss me!
Maar ook nie dat enige iets wat homself hierdie naweek op/langs/onder/voor/agter ons kombuistafel afgespeel het, wat my nou daaraan herinner het nie, dis Klaradyn.
Ek sukkel nou al meer as maand om dit uit haar te kry dat sy “Pappa-kan-maar-kom!”  roep, elke keer as sy klaar haar wegkruipplek gevind het. En dit boonop terwyl ek dan nog eers by “sééééwe” of “ááááágt” is, en nog tot by “tiééén” moet aftel.
En elke keer as ek haar aansê om dit nie te doen nie, dan verduidelik ek na die beste van my vermoeë dat sy moet stil bly, sodat ek nie kan hoor waar sy wegkruip nie.
Maar verniet.
Straks doen sy dit aspris.
Sodat pa kan weet waar sy is, en laaste daar gaan soek. Hoe sal ek weet.
Ek soek altyd eerste hoog bo in die bome, waar sy nie kan wees nie, voor ek die struike en bosse benader, waar sy altyd is.
Soos ook die naweek by Ouma-hulle.
Vandaar ook dat ek my so disnis geskrik het. Ek het vergeet daar is ‘n baie digte boom waarin sy wél kan inklim. En terwyl ek so van boom tot boom loop met my “...en kom ons kyk in hiérdie boom!  Nee, hier is sy óók nie...” is daar skielik hierdie beweging met 'n lyf as deel van die beweeg in die boom, vlak voor my neus. En oor ek haar geensins daar verwag het nie, skrik ek my des moers.
Sy tel ook toe dadelik op dat daardie ‘n lieflike wegkruipplek was. So toe dit weer haar beurt is om weg te kruip, nodeloos om te sê, hol sy dadelik na dieselfde boom, en maak haar daarin skaars.
Met die dat ek om die draai kom, laat weet sy tussen die takke en deur die blare:  “Pappa, moet nie hier in die boom vir my soek nie.”
In ‘n stadium speel ek bietjie vuil. Ek klim in ons kar en maak my plat. Nog nooit het ons in ‘n kar weggekruip nie. Sy is later ‘n tweede keer om die huis. Ek gee haar ‘n tip en gee die toeter ‘n ligte, kort, toet.
Sy kry my oomblikke later.
Pa se beurt om te tel. Ek tel tot by tien, nee, tié-é-é-é-n.
Wragtig, ‘n deurbraak, sy roep my nie voor die tyd nie.
EK:  “Hier kó-ó-ó-óm ek!”
O, donder, en die volgende oomblik, soos ek seker kon verwag het, hard en helder, aanhoudend en deurdringend, vanuit die motor:  “tó-ó-e-é-é-é-é-é-t,” dat hoor en sien, en rus en vrede, vergaan. Die honde gaan aan die blaf en Billy die papegaai val skoon van sy stokkie af.