Pages

27.4.16

Lekker is g'n vingerlank nie - dis 'n skeplepel vol


Toe ek op Dinsdagmiddag my kop by die klaskamerdeur uitsteek, en ek kyk die weer wat tegelyk guur én onguur kan wees, en ek herinner my daaraan dis eintlik soos ʼn Vrydagmiddag al is dit more eers Woensdag, toe weet ek – dis sulke tyd. 

Uiteindelik!

En ek wag nou al lank vir so ʼn tyd om aan te breek.

Ek onthou ons het kleintyd ʼn skaap vir R25-00 gekoop.

Ek vermoed daar was in die sestigerjare van die negentiende eeu al ʼn verbod op die slag van lewende hawe in voorstedelike agterplase, want ek verbeel my dat ek ʼn effense lugtigheid, ʼn ligte spanning en selfs ʼn tikkie geheimhouding rondom die skaap wat in ons agterplaas ter slagting gelei is, onthou.

Hoeveel ons betaal het, en óf ons enigsins betaal het, vir die skape wat ons al om die ander keer van oom Kobus-hulle op Holfontein betaal het, sal ek nie weet nie.

Wat ek wel weet, is dat ek vandag die prys van drie R25-00-skape vir een kilogram skaapvleis betaal het.

Toentertyd is so ʼn slagskaap se vleis rofweg in vier verdeel:  hondekos, Anna en Ben (onderskeidelik die vrou wat my grootgemaak het en ons tuinier) se vleis, kerriekos, en dan die res vir Hans en Judy, Jacie en myself, Klein-Hansie.

Nee, nie vir gaste nie. Gaste het daardie jare nie skaap gekry nie – dit was hopeloos te algemeen. Gaste het hoender gekry. Miskien is ʼn skaapboud as tweede of derde, maar hoogstens tweede of derde vleisdis, voorberei.

Maar tye verander – vandag eet ons hoender deur die week, beesvleis oor naweke en skaapvleis op “high days & holidays”. (By ons een-en-twintigste-eeuse Moolmans kry die gaste steeds nie skaapvleis nie – dis hopeloos te duur – ons bêre die skaap vir Pappa-Mamma-en-Klaars-etenstye.)

Wag, ek dwaal af:  terug na die sestigs, nee, die vroeë sewentigs.

Wat presies gebeur het, sal ek nie weet nie (ek was ʼn kind, nog nie eens ʼn tiener nie). Maar min of meer die tyd toe ons in die destydse Transvaal begin het om Valley-wyne (uit sulke 2 l-bottels met oortjies vir handvatsels) te drink, het die honde oorgeskakel na Epol.

Jy het wittes, groenes en hierdie bruines gekry -
Judy had vir jare haar olie en asyn in twee sulkes gehou.

Die honde se afvalvleis en lieslappe is toe na Ben en Anna toe, en hulle vleissnitte het ons kerrievleis geword.

Teen die tyd wat lieslappe ons kerriekos moes word, en die outjies wat by Anna en Ben oorgeneem het op oorskietkos en blikkiekos aangewese was, het ons opgehou om slagskape te kry.

En ook maar beter so, want aan lieslappe sou Hans en Judy Moolman nooit hul lippe sit nie.

Judy het twee woorde met algehele weersin uitgespreek – die een was “kak” (die kruuste woord wat ek haar ooit – miskien drie keer in my lewe – hoor sê het); die ander was “lieslappe”. En “lieslappe” het sy nie ingespan om suiwer na skaaplies te verwys nie – o, nee, “lieslap” is gebruik om na enige vleis op die afkerendste manier moontlik te verwys - of dit nou gaar, of rou, of vol maaiers was, dit maak nie saak nie - dis lieslap.

En as jy is slegte mens is, is jy nie 'n lieslap nie, maar 'n verbuiging daarvan - 'n "lieplapper"!

Haai, en toe ek vanmiddag my neus by die deur uitsit, en ek kyk na die weer, en ek onthou dis eintlik soos Vrydag – toe wéét ek, ek gaan nou slaghuis toe ry om lieslappe te koop.

En dis presies wat ek gedoen het – ek het slaghuis toe gery en 1,562 kg se lieslappe, spesiaal mooi netjies in blokkies gesny, gekoop.

Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan R118-56 vir die lappies betaal nie – dis amper die prys van vyf slagskape wat agterop ʼn bakkie, vasgebind by die pote, op jou erf afgelaai is!

Maar as dit sulke tyd is, dan is dit sulke tyd –en dis sulke tyd.

Ek het verlede week ʼn porsie van die lekkerste skaapbredie wat een die matrieks in Hotelhouding en Spyseniering as praktiese assesseringstaak gekook het, na pouse op my tafel gekry. Sy juffrou het my die resep beloof – ʼn geurige vermenging van lam, kruie, speserye, tamatie, rosyntjies en ʼn hemelse, degerige kluitjierigheid om alles af te rond. Dié resep bring Annieka vandag by my klas aan – Michelle van huishoudkunde stuur vir my.

Maar nee, dis nie súlke tyd nie – daardie resep sal hom ter gelegener tyd kom aanmeld, hy moet net geduld gebruik.

Vandag is dit tyd vir iets heelwat eenvoudiger, amper Spartaans, met skaapvleis en uie, water, ʼn eetlepel of wat blatjang en ʼn eetlepel kerrie.

Ja, ek is by die gewaardeerde en gerespekteerde Kook en Geniet se voortreflike “skaapvleiskerrie” op p.207 van die eksemplaar wat Marc en Joanne, my twee broerskinders, vir my gegee het toe ek 21 geword het.

Dis eintlik nodig om Ma se Kook en Geniet, of – beter nog – Ouma van Wyk se Kook en Geniet nader te trek:  uit respek vir die klassieke tydloosheid van hierdie gereg. Oor 200 jaar van nou, nee, so lank iets soos skaap nog bestaan en daar mensdom oor is om skaap te eet, sal hiérdie gereg hemels wees.

        
  
Ouma s'n                                              Ma s'n                                           Myne

Maar Ma en Ouma se uitgawes praat met my in ponde en onse, en dis woorde wat ek nie verstaan nie.

En hierdie resep is een van daardie resepte wat jy een keer deurlees en dan een van twee dinge mee doen:  jy bêre die boek, skink ʼn glas wyn en volg jou eie kop verder, óf jy kry jou skaal, maatbekers- en –lepels uit en begin so lank wonder hóé groot, presies, sou SJA de Villiers gedink gereken het, is ʼn middelslag ui – want jy het drie sulkes nodig.

Al twee paaie sal jou by ʼn lieflike dis uitbring.

Ek is lus vir die letter van die wet, elke jota en tittel.

Dis die eerste keer dat ek die dis gaan maak.

Die lekkerste wat ek nog hierdie jaar geëet het, was die eerste keer toe dié resep se eindresultaat geëet het. Ek had buikongemak tot die volgende oggend, en dit van ooreet.

Ek het gevrees dit gaan met my wees soos met Annieka se oupa toe jaar pa een naweek vir hom, op sy versoek, skaapafval gekook het – op ʼn gasbottel in die garage wat nóg vroulief, nóg skoonma wou die mans toelaat om afval in die kombuis te maak.

Lang storie kort:  hulle is daardie nag met die oupa hospitaal toe. Die man het homself hopeloos ooreet, en dit op ʼn spysverteringstelsel wat nie meer as tien-vier beskryf kon word nie.

Nou ek het gevrees dis my beurt vir die hospitaal, daardie naweek toe Esther en André hierdie skaapkerriedis op ʼn kamp voorgesit het.

En dis van tóé af, dat ek wag vir die regte geleentheid om dit weer te maak.

Ek wil dit hê presiés soos dit toe was. Ek wil net minder onverantwoordelik wees as dit by die groottes van derde en vierde porsies kom – baie minder onverantwoordelik.

Maar toe het ek die vorige aand die laaste suurlemoensap in die slaai gebruik, omdat ek Sondag die laaste asyn oor die gerasperde boerekomkommer gebruik het . Toe moet die agurkies se piekelsous instaan.

Toe is die blatjang ook op (dit sou in elk geval perskes en nie appelkose nie, in had) en ek het nodig om die laaste van die tuisgemaakte appelkooskonfyt nader te trek.

Ek kry my platboom-swartpot. Die lepel waarmee ek afmeet, is nie ʼn metrieke lepel nie, ek kry een van Ma se eetlepels uit die kas – die eetlepels waarmee ek groot geword.

Vir die koppie water, hou ek toe ook die vlekvyestaal stelletjie wat ons destyds as deel van ʼn troupresent gekry het, verby:  ek gaan dit afmeet, maar dit sal met Ma se koppie wat altyd in haar meel was, die een wat nou al sonder ʼn oor is, wees.

Jy braai drie of vier uie wat jy in skywe opgesny het, bruin en sag in ʼn eetlepel botter (want waar sal jy ook nou vet vandaan kry!)

Jy gooi ʼn eetlepel (of wat) appelkoosblatjang (mev. De Villiers sê dat drie gedroogde appelkose ook goed is) en ʼn koppie water saam met die vleis, by die uie.

Draai die hitte af nes jy alles in die pot (sy praat van ʼn swaarboomkastrol) mooi warm het en sit die deksel op.

Vergeet daarvan vir ʼn uur en ʼn half.

Teen die tyd dat jy weer daarvan moet onthou, lyk dit soos vaalafval, want dit was nou nét vleis, uie, ʼn bietjie blatjang of konfyt en water in die pot; nie eers sout nie.

Dan, na 1½ uur (sy praat selfs van ʼn halfuur voor die vleis reg is) gooi jy ʼn eetlepel kerriepoeier, ʼn eetlepel meel, sout en peper, na smaak by. Stoffelina (ja, die SJA staan vir Stoffelina Johanna Adriana) dikteer nog ʼn eetlepel suiker ook, maar omdat ek appelkooskonfyt in plaas van blatjang gebruik het, en my asyn nie asyn was nie maar effe soet piekelwatersuur was, hou ek verby.

In hierdie laaste halfuur kry jou rys (of – hemels – páp!) in gereedheid.

Beter nog as pap is stampmielies. Dis hoe Esther-hulle dit bedien het. Maar stampmielies vra vooraf, en ek het my kop by die klaskamerdeur uitgesit en geweet dis sulke tyd, dis nóú sulke tyd – daar’s gʼn tyd vir vooraf week en sulke dinge nie.

Buitendien moet ek eers weer ʼn eerste volle 5 kg afskud voor ek my mond vir beloning aan pap of stampmielies kan sit. (Oh, happy day!)

So ek rasper ʼn blomkool. Dit roer ek by so ʼn halwe koppie gesmelte botter in ʼn pot wat goed warm is. Na drie of vier minute se ywerige roer haal ek die pot van die hitte af en sit die deksel op. Die blomkool stoom nou deurwarm tot jy tafel gedek en ʼn nuwe bottel wyn oop het.

Annieka se oupa se hospitaal-toe-jaag-in-die-nag kom vir ʼn oomblik weer by my op:  Ons huis, ons woonbuurt, trouens omliggende woonbuurte tot bo teen die berg, is na ʼn uur se stadig stowe op die stoof in ʼn kragonderbreking gedompel en ek en Klaars is uit motorhuis toe om die gasbottels te gaan haal.

Eintlik is dit net ʼn bonus, ekstra atmosfeer en ons het lieflike gesinstyd by kerse rondom potte op blou Cadac-gasbottels staangemaak – te heerlik!

Amper iets soos “my gasstofie brand, my kersie gee sy lig, ek hoor dan maar hoe loei die reën daarbuite,  hoe ruk die winde aan my ruite; hier binne in ons kombuisie is dit veilig, warm en dig...

"Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan - dit is 'n rots waarop op ons huisie staan...

"...en ʼn porsie gesonde boerekos, sonder daai rys, waarop sy weermag marsjeer."

Want kyk! ons hét lekker weggelê. Annieka het haar ete afgesluit met:  “Ek kán nou nie meer nie – ek gaan hierdie bietjie bêre vir more vir ontbyt.”

Wanneer die krag weer aangekom het, weet ons nie – magie vol:  ogies toe.


No comments: