Pages

10


Uit die argief:

Kinderskry is nie karkoop nie
As trou nie perdekoop is nie, wonder ek baie, wat is kinderskry dan. Of wat is kinderskry dan nié?
Tog nie ‘n gegewe (of is dit soos Ouma gesê het, gegeefde) perd nie?
En ás dit is, moet jy hom dan in die bek kyk, of nie?
Daar is natuurlik nie in Afrikaans ‘n spreekwoord wat kinderskry takseer nie.
Beslis nie op soortgelyke wyse as wat daar is om die huwelik en sy kompleksiteite aan die hand van perdekoop te verwoord nie.
En dit maak vir my honderd persent sin. Spreekwoorde is stukkies opgegaarde wysheid wat in die volksmond oor baie jare heen van voorgeslag tot nageslag verder vorentoe die toekoms in, oorgelewer word.
En soos die huwelik vandag iets is wat jy geensins kan vergelyk met die koop van ‘n nuwe 4X4 vir Mamma om die honde doggy parlour toe te karwei nie, was vrou- of manvat ook jare gelede al baie ingewikkelder as wat dit destyds was om ‘n geskikte hings of merrie uit te soek.
Kinderskry en –grootmaak, aan die anderkant, was egter ‘n alledaagse roetinetakie, soos channel hopping op ‘n Vrydagaand as jy die fliek al klaar gekyk het— niks om oor huis toe skryf nie; kinderskry beslis nie rede genoeg om 'n ‘n spreekwoord vir die volgende generasies oor uit te dink nie.
Gezina Hebziba Clasina Moolman (néé Beyers), om nie te praat van Hans Jurgen Hartogh Moolman nie, draai daarom proesend en kopskuddend in hul graftes om as hulle weet die agter-agter-kleinkinders en hul portuurs stap Exculsive Books en CNA toe om in boeke te moet lees hoe bring jy ‘n baba tot sy eerste lewenslig as hy nou eers geverwek is, hoe oorleef jy, en die baba, die eerste jaar, die tweede jaar, én die kleuterjare.
Dat ons Kalahari toe gaan (en dis ‘n ander Kalahari as die een waar Oupa gaan jag het) om boeke te koop wat tien verskillende persoonlikheidtipe-ouers touwys maak om tien verskillende (versoenbare of onversoenbare) persoonlikheidstipe-kinders op die regte pad te kry, is buite hul wydste verwysingsraamwerk en oortref beide hul stoutste en lafste verwagtings denkbaar.
Maar dan is dit oor jy, destyds, as oudste van die agt of twaalf klein Moolmantjies help grootmaak het aan die laaste ses of sewe.

Onthou Grootjie en Oorgrootjie kon, weliswaar moontlik apokrief, glo ‘n plaas van oom Paul kry as hulle twaalf nuwe landsburgers in die lewe kon bring.
En teen die tyd as jongste Sussietjie al die werf se hanslam sy bottel kan gee (Ma se rug is af) word oudste Sus  se jongste twee al in haar hand geprop.
Realiseer die groot gesin met sy swetterjoel boeties en sussies nie (Ma se rug begin vroeg al neuk, of Pa het al 'n plaas en hoef nie een los te teel nie) is daar in elk geval, soos die jakkals draf, nie tien bossies  van die opstal af nie, ‘n nes vol nefies en niggies, aanplaksels en –naaisels, bywoners en inwoners wie se doeke jy omruil of wie se winde jy kleintyd al uitvryf.
Daarom, teen die tyd dat jou eerste telg eendag in jou arms lê en tiet vat (soos Ouma gesê het) ken jy jare lank al die verskil tussen ‘n koors om bekommerd oor te wees, en ‘n koors wat oornag net so stil-stil sy koers sal vat as wat hy daar opgedaag het, is daar onder hierdie son nie ‘n kinderkroep of –siekte wat jy nie self al ‘n keer of twee gehelp besweer het nie.
Egter nie Hans en Annieka se generasie nie.
Is jy nie ‘n enigste kind nie, het Ma en Pa in elk geval ‘n kindermeidjie (soos Ouma haar genoem het) gehad wat die boeties en sussies moes grootmaak terwyl Pa weer na een van daai vergaderings (daai vergaderings waarvan ons nie mag praat nie, saam met die ooms is) en Ma leer op haar beurt en in dieselfde tyd blomme rangskik of troukoeke versier saam met Pappa se ooms se tannies.
Kinderskry en –grootmaak is daarom regtig nie maklik vir ons nie. Perdekoop is trouens ‘n vulletjie.
Vir die geringste koors, sóú jy die koorspen kon opspoor, weet jy regtig nie of jy die bobbejaan agter die berg gaan haal (terwyl daai berg eintlik maar net ‘n molshoop ook kan wees nie) en of jy sit met ’n kind wat die dood op haar hakke, sy asem in haar nek, het nie.
Jy weet nie of dit ‘n –geit is nie (iets wat grootjie hulle op ‘n afstand met die stofpad langs kon sien aankom en uitruik) en of dit daai virus is waarvan hulle in die koerante skryf nie. (Daar was iets daarvan oor die nuus ook, maar jy het deur jou ritse boeke geblaai op soek na die beste manier om ‘n koors te meet / af te bring en net met 'n halwe oor gehoor.)
Maar vir hierdie klas van ding, van skarlakenkoors tot gordelroos en anderkant ensefalitis verby, is daar darem altyd raad iewers in een van die baie boeke en tydskrifte, is daar ‘n Doktor Smit of Suster Saaiman.
Hoeveel keer het ons nie dae lank gewonder wat fout kan wees nie, en dan kom ons hoofstukke later agter die kind is vermoedelik besig om 'n tand te sny.
As taalonderwyser weet ek hoekom jy nie 'n gegeefde perd in die bek moet kyk nie, maar as onbeholpe Pappa is die binnekant van kind se mond die laaste plek waar ek kyk.
('n Perd se ouderdom word glo deur sy tande verklap, en kry jy een present is jy dankbaar en niks meer nie – jy vat nie jou weldoener in die gesig en kyk die perd in sy bek om te sien hoe oud die dier is wat jy as geskenk gekry het nie.)
Maar hoe nou gemaak, en aan die ander kant, as die bobbejaan wat jy uit die molshoop wil wurg, niks met ‘n kroep, 'n kuggie, of koors te doen het nie?
Hoe gemaak as dit wat jy opmerk ‘n moontlike, vaagweg vermoedelike, geit van een of ander emosionele aard is?
Hoe gemaak as jy in jou onervarendheid reeds in jou geestesoor ‘n besorgde vrou by wie julle ter elfder ure en in nouer nood gelukkig darem ‘n afspraak kon kry, woorde hoor sê soos: gedragsafwyking, gedragswanaanpassing, aanpassingsprobleem, gedepriveerd, onstabiel, uitval, terugval en onryp?
Is dit wat jy opmerk ‘n fase?
Of, erger nog, is dit nie ‘n fase nie?
En as dit ‘n fase is, moes hierdie fase nie lankal deur twee nuwe en erger fases vervang gewees het nie?
Hoe gemaak as jy nie weet of dit wat jou opval, -1 op ‘n skaal van 1 tot 10 is; en of dit dalk 11 op daai selfde skaal van 1 tot 10 is nie?
Ek weet nie. Ek weet wragtig nie. Maar ek vermoed ten sterkste Oorle’ Clasina sou die kind net so een kyk, en dit nogal oor ‘n afstand, gegee het, en tien teen een gesê het:  “Maar heiden Hartjie, daai kind kort mos son. Kry haar kaalvoet en uit die huis uit, sommer nou en gee dan tog vir Ouma die tee aan.”