Pages

23.11.13

Ons is darem maar snobiste (1 en 2)

Miskien moet ek daardie ons bietjie duideliker kry – nie almal wat hier lees, is noodwendig ‘n ons in my pond nie; by ons bedoel ek eerstens myself en elkeen wat bevoorreg genoeg was om so vrot bederf soos ekself groot te kon word.

Ook die snobiste  verdien ‘n uitbreiding – kullinêre snobiste; ‘n spul puntenerige, kieskeurige smulpape, dís wat ons is.

Ons is darem maar snobiste (1)  begin drie of vier weke gelede…

Ek en Annieka sit in ‘n restaurant aan die ontbyttafel saam met ‘n ou skoolmaat van my – ons het mekaar na 30 weer raakgeloop nadat ek vir sy kinders begin skoolhou het. Hy het seker so 35 jaar gelede as jong seun, met lang 70’s hare, sónder dat hy ooit ‘n enkele dag skooluniform moes dra, huiswerk óf ‘n drag slae gekry het, saam met sy ouers uit Nederland hier in Suid-Afrika aangekom. Die eerste wat moes gaan, was die hare; die tweede die bell bottom jeans wat met Laerskool Generaal Alberts-skooluniform vervang is. (Die huiswerk en drag slae het enkele dae later gevolg.)

Die gesels maak ‘n draai by kos en iewers laat val hy, of sy vrou, hul voorliefde vir dit wat in die gesin as rafeltjie-vleis bekend staan.

Die word self trek dadelik my aandag, lieflike woord – rafeltjie-vleis, maar ook die manier waarop daarvan gepraat word, die deernis waarmee die woord uitgespreek word, laat my dadelik aan iets reguit vanuit die hemel dink, en ek weet ek moet meer uitvind.

Rafeltjie-vleis is toe ragu,  iets wat ek al baie raakgelees het, maar in my lewe nog nooit self gemaak het nie, ek ken trouens net die woord, maar wat presies dit is, weet ek nie. Voor ek nie by my skoolmaat van rafeltjie-vleis gehoor het nie, kon ragu, vir al wat ek weet, ook ‘n broodpoeding of die een of ander Surinamiese bykos gewees het.

Ek gaan google dit toe en beperk my soektog na ‘n ruk tot ragu wat in prutpot voorberei kan word – nie hieroor of daaroor nie, bloot omdat ek besef die dis sou miskien oorspronklik vir ‘n stadige koolstoof bedoel wees, my ongeduld en warm elektriese stoofplate, gaan nie reg laat geskied nie – ek moet my aan die hand van ‘n prutpot tot urelange lae hitte dwing.

En daar eet ons Moolmans toe gisteraand ons eerste, eie, rafeltjie-vleis. Miskien moet ek dit eerder ons eie fraaiing-vleis noem. Of iets soos toiing-vleis, want tradisionele ragu was dit beslis nie en netnou vat ek die Seesinks se dis lelik in die gesig deur dit wat ek gepleeg het, rafeltjie-vleis te wil noem.

Dit was heerlik en ek weet ek gaan dit weer en weer maak – fra(a)iing-vleis gaan ‘n familietradisie word, ek weet dit.

Maar wat het dit te doen met ons wat kullinêre snobiste of 'n spul smulpape is, vra jy.

Onthou, nie regtig óns nie, maar ék en almal wat soos ek grootgeword, of eerder uitgedraai het.

Dis eenvoudig. As kind het ons elke jaar bees by Oom Kobus-hulle op die plaas gaan slag . Daar is groot geslag – drie beeste op ‘n keer, een vir elkeen van drie gesinne wat saam geslag het. Ook vark is geskiet en ‘n skaap of twee, drie keel-af gemaak.

En daar is niks gemors nie – daar is kos vir die honde teruggebring, kos vir die bediendes, kerrie- en stowevleis, en dan die beste snitte (ás dit nie reeds bykans alles vir biltong opgesny en ingelê is nie).

Later van tyd, in die maerder jare, het die honde se kos weggeval, dis nou vir die bediendes opgekook; die bediendes se vleis het die etenstafel se kerrieblokkies geword, en dit waarvan die gesin kerriekos en stowedisse gemaak het, is nou op allerhande slim maniere vir die gastetafel berei.

Dis hoe elk grootgeword het, maar nie hoe ek uitgedraai het nie. Sonder ‘n Oom Kobus met ‘n plaas het ek self nog nooit gaan slag nie. Beesvleis, van 1989 toe ek vir myself huis opgesit het, was nog altyd net een ding – steak. Ek het in 24 jaar nog nooit ‘n ander snit beesvleis as kruisskyf of filet gekoop nie. Selfs as ek kerrie en reis maak, sny ek kruisskyf in blokkies.

Dinsdag wat verby is, koop ek toe vir die heel eerste keer in my grootmenslewe ‘n ander snit, platrib, om my fra(a)iing-vleis van te prut.

Vroeër die week lees ek deur altwee kookboeke wat Jeremy Mansfield en sy vrou die lig laat sien het, Zwoosh! 1 en 2, en dit val my op dat hulle gereeld van beesvleissnitte gebruik maak, wat ek nog nooit self gaargemaak het nie.

Na ons gisteraand toe nou so lekker aan een van hierdie snitte gesmul het, besef ek dit het met snobisme niks te doen nie, ek was net te dom onnosel om van beter te weet, daar is aan ‘n bees veel meer as steak, daar is nog ‘n wêreld wat wag om ontdek te word.

Gaan google “ragu” en kies ‘n resep om te maak. Wees versigtig, “ragu” en “ragout” word dieselfde uitgespreek en kom vanaf dieselfde woord, maar is twee verskillende disse – “ragout” is ‘n Franse stowegereg, “ragu” is ‘n Italiaanse souserigheid wat tradisioneel met pasta bedien word.

Ek het Dinsdag my vleis gekoop, maar eers Donderdagoggend, tien minute voor ons moet skool toe ry, besluit om om dit deur die loop van die dag uit te rafel. So toe is daar nie tyd om resep op te soek nie, ek het in die pot gemoer en geloop. Maar die toiings, rafels en fraiings wat ure later daar uitgekom het, was hemels.

Hier is wat ek gedoen het.

Ek het seker so ander half kilogram platrib gehad.

Ek het twee uie in dun skywe onder in die prutpot gesit. Heelwat knoffel ook. Toe die vleis en twee blikke tamaties. Die vleis het ek gegeur met: sout, peper, heelwat growwe koljander, kaneel, naeltjies, lourierblare, ‘n stewige skeut Worcestershire-sous en ‘n eetlepel bruin suiker. Die suiker en kaneel was seker nie nodig nie, maar ek het dit vroeër die week in ‘n ander dis gebruik, dit was daarin nogal lekker, toe herhaal ek dit maar in die beesvleisdis. Ek het ook die laaste van ‘n bottel sjerrie bygegooi – as dit nie in die oggend voor skool was nie, sou ek dit in die kombuis gedrink het terwyl ek kos maak, maar toe is dit ongelukkig op my nugter maag en knap voor ek in kinders se nekke moet blaas, toe gooi ek dit maar in die pot.

9 uur later, toe skakel ek die prutpot af, kry die bene uit en trek die vleis uit mekaar, eintlik roer ek dit sommer deurmekaar. Ek het lag-lag 21 basiliekruidblare opgerol en dit in dun repies gesny; kort voor opdiening het ek dit by die sous ingewerk.

Ek het nie spaghetti gekook nie, maar eerder van die dikker linte, tagliatelle. Heerlik. Heerlik verby.

Nooit weer in my lewe maak ek spaghetti & mince nie. Hoor my mooi, ek herhaal:  nooit ooit weer maak ek spaghetti & mince nie, die lewe is te kort daarvoor.

Ek sal weliswaar nog hierdie outentieke Bolognese sous uit Bolognië wil maak.

Tot dan is en bly dit voortaan die Seesinks se rafeltjie-vleis a’la die Moolmans se fra(a)iingvleis.
 
So baie om te ontdek
 

Ons is darem maar snobiste (2)

Behalwe dat ons ons net ophou met filet en kruisskyf, het ons nog ‘n voorkeurverskaffer ook – nie die plaaslike Spar of slagter nie, maar niks en niemand anders as Woolies nie.

So trakteer ‘n kollega my en Annieka nou die ander dag, een pouse, op Woolworths se heat and serve fully cooked pulled pork. Man, dis ‘n lekker rafeltjie-varkvleis konkoksie, bedien met koolslaai en agurtjies tussen die twee helftes van ‘n sagte vars broodrolletjie.
 
 

Toe ek vir die huis wil koop, toe ry ek na vier verskillende Woolworthse toe, sonder sukses.

Toe maak ek maar my eie, nadat ek, soos met die ragu, eers heelwat ge-google het.

Ek het weer begin met ‘n ander half kilogram varkvleis, maar hierdie keer was dit meer vleis as met die platrib – daar is mos nie been aan nie.

Soos met die ragu het ek begin met twee uie en heelwat knoffel onder in die prutpot. Die vleis het ek ingevryf met:  sout, peper, teelepel mosterd, teelepel kaneel, teelepel komyn, so drie eetlepels bruin suiker.

Ek het ‘n koppie of so vleisekstrak gehad om by te gooi, maar sou ‘n boksie Liqui-fruit pynappelsap bygegooi het as ek nie toevallig my eie vleisekstrak van die tong wat ek die vorige dag in die prutpot voorberei het, afgekook gehad het nie.

8 ure later, toe rafel ek die vleis. Ek moes nog ‘n braaivleissous ook inwerk, maar dit was só lekker daarsonder, dat ons nie so ver gekom het om dit by te sit nie.

Ek wou dit op polenta bedien, maar het op die ou einde sommer gewone mieliepap gemaak. Saam met tuisgemaakte koolslaai om darem die Amerikaanse tradisie te behou.
 
 
Google gerus en kies een om te maak. Hier is ‘n Suid-Afrikaanse weblog wat ek vanoggend opgespoor het en letter vir letter gevolg kan word. Ek het, soos met die beesvleis-variasie, wyd gelees en toe saamgefoeter wat en hoe en soos ek onthou het.

Heerlik verby. Ek wil my verstout om te sê:  heerlik, man, heerlik.