Uit die argief:
Love is in the air
Love is in the air
Klaradyn se een óúpa (Oupa Jack) het vanjaar 90 geword. Ouma Kapie, haar oumagróótjie word oor twee weke 90. Haar een oom en tannie (aan haar pa se kant) is so oud soos haar ouma en oupa (aan haar ma se kant) . En dan is haar een niggie so oud soos haar ma. Sy het ook ‘n nefie en ‘n oom wat ewe oud is.
Maar ‘n konsep van tyd, wat nog te sê ouderdom, is mos nou nog nie deel van ‘n vierjarige se verwysingsraamwerk nie.
Ons tel wel die slapies af na eerskomende Donderdag, want Vrydagoggend vlieg ons af Kaap toe vir Ouma Kapie se birthday bash. Wat Klaradyn betref, is dit haar eerste vliegtuigrit. (Die eintlike eerste vlieg, ook Kaap toe, ken sy net vanaf doopfoto’s, so dit tel nie).
Maar dan het ma en pa ‘n dik geskiedenis van afvlieg Kaap toe:
Met haar doop was die vlug af, met drie ure vertraag.
Enige vorm van medikasie vir die pyn in die ore van ‘n drie maande baba, lankal uitgewerk teen die tyd dat ons die vliegtuig en skommelings in die hoogtes bo seespieël tref.
Maar ons kla nie, ‘n vriendin se tweejarige het presies die teenoorgestelde reageer op sy kalmeerstropie, op pad Rusland toe van alle plekke. En daar sit die ma vir ure, letterlik úúúúre, met ‘n kind wat op en af in die vliegtuiggange hardloop terwyl die res probeer slaap. Pappa wag in die vreemde en kan nie help nie.
Met Ouma Kapie se tagtigste verjaarsdag, tien jaar gelede, was die vlug so vertraag dat die hele gesin moes terug huis toe en die volgende dag eers weer aanmeld.
Verlede jaar, weens klakkelose oorbespreking, het ek via Kimberley aan die voet van ou Tafelberg gaan neerstryk.
Dog, ‘n gans ander Kimberley/Kaapstad-vliegtuigherinnering wat my nou agter die sleutelbord het:
Hoeveel paartjies is daar wat te koop kan loop met die feit dat hulle die groot gat van Kimberley uitgekies het, om by verloof te raak? (Ek sien die outjies daar praat van die “oop myn”, maar vir my sal dit altyd “Kimberley se groot gat” wees.)
Nee, die Moolmans was dit ook nie beskore nie.
Trouens en inteendeel.
Ons het verloof moes raak bokant daardie groot gat. Honderde meters in die lug bokant Kimberley se gat.
En nee, ek verwys nie na ‘n eksotiese lugballonvaart nie: In ‘n vliegtuig, drie ure agter skedule opgestyg by Jan Smuts/Oliver Tambo/Johannesburg Internasionaal.
My broer, Jac, word vyftig en ek en Annieka vlieg af vir die geleentheid. ‘n Reuse familiesaamtrek, die ou mense, Judy en Jack, is ook daar.
Waarom nie romanties wees en op Tafelberg die ring oorhandig nie – die juwelier het immers nou klaar met ons bestelling en waarom uitstel ter 'n gelegener tyd, meer geleë kan ons nie kry nie.
In Kampsbaai staan Jac-hulle reg. ‘n Piekniekmandjie, koue sjampanje, kristal en alles en nog wat om ‘n lieflike uur op die berg mee af te rond. Is die verkeer nie te sleg nie, sien ons nog die son van daarbo sak, voor ons met die karretjie se laaste rit weer af na waar die res van die mense by Jac-hulle op die patio wag: Kampsbaai na onder, Leeukop net regs, hope eetgoed en sjampanje; ‘n swaard wat in Simon van der Stel se tyd al diens gelewer het, gereed om die sjampanjebottels van hul proppe, nekke en bekke te verlos.
En daar, hoe dan nou anders, is ons vlug vertraag. Eers twee ure. Toe drie.
Ek sit een en een bymekaar: met ‘n kabelkar sal ons Tafelberg nie haal nie, ons gaan trouens lank na die laaste aftog vir die dag eers daar aankom.
En Hans is in die onderwys, geen sprake daarom van ‘n helikopter (soos die Britse koningin die volgende dag, toe ek en Annieka wél die berg op is, daar aangekom het) nie.
Plan B sou Seinheuwel kon wees. Maar wie wil nou verloof raak op die agterste sitplek van 'n kar met jou ouer Boeta wat agter stuur sit en jou in die truspieëltjie dophou! En uitklim op die heuwel sal ek waaragtig ook nie – dis al sedert Antjie Somers se dae al dood eenvoudig net te onveilig om na donker daar uit te wil hang.
Maar verloof moet ons verloof wees, stap ons by die huis in: die skemerkelkies sal op die ys gehou kan word, die ou mense wakker. Ander geleentheid is daar nie.
Vir ingeval die alarm afgaan was my hande in my sak, by my sleutels, toe ons op Johannesburg deur die metaalverklikker gestap het. Maar eintlik nie by my sleutels nie, by Annieka se ring, want dié is toe op daardie oomblik, tog so mooi toegedraai, styf teen my lyf in die onmiddellike omgewing van my eie kroonjuwele besig om te versmoor.
Eers veilig in die lug kom die vlugkelner spoedig om vir drinks en teen Annieka se verwagting in bestel ek nie gin & tonic nie, maar sjampanje, sommer namens haar vir haarself ook.
Maar ek het ‘n tannie links van my, en hoe nou gemaak om die ring uit te kry, daar waar ek hom versteek het met die oog op die rit bergop, sonder dat sy nie die een of ander paniek-knoppie druk as ek begin losknoop, afzip en vroetel waar ordentlike mans nie in die geselskap van ouer tannies met pers hare op 'n vliegtuig begin vroetel nie?
Sy het ons twee verliefdes hoeka al so ‘n vuil kyk gegee, selfs nog voor ons opgestyg het.
En toe val alles net mooi in plek reg bokant Kimberley se gat: Die kelner het sy sjampanje gebring, die tafel is afgeslaan (my skoot daarom bedek en ek gevrywaar van openbare onsedelikheid), die tannie se aandag by die venster uit (want die loods het nou net laat val dat, kyk ons links uit, ons Kimberley se liggies soveel en soveel meter onder ons sal sien.)
En daar haak ek die spreekwoordelike Gordiaanse knoop deur en raak ons toe verloof bokant die gat.
Nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moes.
Annieka sê sy het niks verwag nie, nie daardie aand nie, nie daardie naweek nie.
En wat sy, groot-oog, verwag het toe ek lostrek en die pakkie uitkry, los trek om die pakkie uit te kry, kon ek haar ook nog nooit so ver kry om met my te deel nie.
Mog ons gesinnetjie, al is dit dan nou ook laat, tog net Vrydag as ons vir die verjaarsdag afvlieg in een stuk daar aankom. En weer terug ook.
PS: Ek moet tog onthou om te vertel van die diamant wat weggeraak het.
En dalk nou weer weg is.