Pages

27.4.12

Tandarts toe en terug

Op wie, of waarop, ek die trotsste is, weet ek nie:  my kind, my oordeelsvermoë, of die oudleerling van 1991.
Van die drie het George seker die meeste bekendstelling nodig. Dis my tandarts nie, maar nie sommer net my tandarts nie – een van die oulikste, slimste en kreatiefste kinders vir wie ek nog ooit skool gehou het.
So oulik, slim en kreatief, dat toe die jong man homself klaar as tandarts bekwaam het, ek die vrymoedigheid en volslae vertroue gehad het om by sy spreekkamer in te stap en my bek wyd oop te rek.
Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink dat ‘n onderwyser na ‘n oudleerling van hom sal gaan dat dié in sy smoel loer nie, maar met my is dit anders, of met George.
Annieka was ook al daar, maar toe sy een jaar krisis had, was George se stoel beset en sy moes en sy moes noodgedwonge op die vennoot se stoel plaas neem – en daar kliek sy en dié man so goed dat sy skoon spyt was toe haar behandeling wat oor etlike afsprake gestrek het, ten einde loop. Sindsdien was sy nog nooit weer by George nie, maar elke keer by dieselfde praktyk.
Klaradyn het ek vroeg-vroeg al saam met my geneem, net sodat sy kan agterkom dat omie-tandartse eintlik nie sulke slegte ervarings gaan wees soos sy later op skool gaan leer nie.
Klaradyn se melktande is baie jonger as enige van haar portuur s’n. Ek wou laterhand plate van die kind se mond laat neem om te kyk of daar wel enigsins melktande op pad is, so lank moes ons wag vir die eerste een om te sny.
Waarom die wit jong mieliepitjies so lank op hulle laat wag het, sal ek nie weet nie, maar so traag soos wat hulle was, so voor-op-die-wa en haastig is die permanente stel. En nou is daar botsende belange – want die melktandjies is nog stewig in hul setels, dan is daar klaar nuwe aanspraakmakers op hul staanplek en troontjies.
Haasbek, was my kind dan ook eintlik omtrent nog nooit – want waar ‘n tand uiteindelik loskom en uitval, is die ander een lankal reeds in plek.
So toe die woord monster deur ‘n pa se gedagtes begin flits, elke keer as hy in sy kind se mond kyk, toe is dit ek wat saam met haar saamsleep tandarts toe.
En sy ken Oom George, en sy is hoogstens skrikkerig oor die nuwe ervaring van self in die stoel sit, maar geensins bang nie. Sy is natuurlik toe ook al in graad R en in kontak met talle bangmaakstories gewees.
Vriendelike, kindervriendelike, dierbare Oom George se uitgangspunt was dat ons een van twee dinge kan doen – ons kan inspring en tande trek en haar in die proses lewenslank van tandartse vervreem, of ons kan dat haar mond sy eie gang gaan en ingryp wanneer dit noodsaaklik is, maar sy ook effe ouer. As ortodonsie nodig gaan wees, gaan dit nodig wees, of hy nou trek, of later, of nooit nie. Van die permanente tande wat van koers af opgeskiet het oor die melktande in hul plek was, sal in plek beweeg, maar nie noodwendig 100% nie.
So vat ons haar ‘n tweede keer, Mamma gaan natuurlik elke keer saam, Oom George werk lieflik met haar en Klaradyn werk nog liefliker saam. Maar Oom George hou voet by stuk – geen aktiewe bemoeienis is in daardie stadium nodig nie, ons moet 6 maande wag en weer kom kuier.
En toe gebeur twee goed, ek leer die graad 11’s wat nie verlede jaar by my in graad 10 was nie, hoe ek wil hê dat hulle ‘n opstel moet benader, en Klaradyn sit met ‘n tand wat voortydig wil sny waar daar onder die son geen maar geen plek vir hom is nie – waar hy moet uit, kan hy nie – daar sit ‘n melktand in sy plek en dié klou vir die lewe; na links of regs kan hy ook nie, want links en regs sit hulle klaar twee-twee agter mekaar in gelid. (Ek oordryf ‘n bietjie, dis net na links, maar oor die tand op ‘n draai in die mond wil uit is daar eintlik nergens plek vir hom om deur te druk nie.)
Alle kinders vind baat daarby om nie stories uit hul duim te suig nie, maar te vertel van iets wat van binne kom, iets wat hulle self beleef het. Sodoende is hul opstelle oortuigend en geloofwaardiger, en is hul beskrywing en inkleur van die gebeure ook soveel raker – juis omdat hulle van dit wat hulle aan eie bas gevoel en beleef het, vertel.
Hoogsverbeeldingryke en hoogskreatiewe kinders kan nog waag om uit die duim te suig, hulle doen goed met of sonder my raad; maar die gemiddelde en ondergemiddelde skrywers presteer deur die bank almal beter, as wat die geval sou wees as hulle hul verbeelding, in plaas van hul ervaring, ingespan het om hul stories te skryf.
George homself is een van die top-vyf skrywers wat in 25 jaar my pad gekruis het. Ek onthou hoe spyt ek destyds was dat die kind so sterk in die eksakte vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Biologie was, want ek het geweet hy gaan sy aanvoeling vir taal (sy sesde vak was Latyn) laat taan die oomblik as hy nie meer verplig word om te skryf nie. In daardie stadium het hy nie net geskryf en aangedra wat ek hom in die klas verplig het om te skryf nie, ek het enkele stories wat hy vir die lekker geskryf het, ook gekry om te lees.
En dan weet elke taalonderwyser dit, kinders wat oorhoops is met woorde skryf versies en gedigte, hulle span nie sommer hul aanvoeling en vaardigheid in prosa in nie. George het.
Ewenwel, ek merk toe einde verlede kwartaal of iewers in die vakansie die graad 11’s se opstelle. Een van die onderwerpe was Eendag nié so lank gelede nie. Ek het nie die opdrag uitgedink nie, ‘n kollega het, maar vir my outjies wat ek geleer het om in hul binneste te gaan krap, was so ‘n onderwerp manna uit die hemel.
En daar lees ek hierdie lieflike vertelling van ‘n kind se eerste kinderervaring met haar tandarts en die lieflike pad wat sy die laaste tien of wat jaar met die man gestap het.
Nou kyk, die ervaring moet regtig vir jou positief wees as jy dít in graad 11, onder die onderwerp Eendag nié so lank gelede nie, kies om oor te skryf.
En die kind, juis oor sy dit beleef het, skryf en vertel lieflik, en in die laaste paragraaf noem sy die man by die naam, en ek lees dis ‘n Doktor George. En ek weet toe sommer dadelik, uit dit wat ek lees en dit wat ek rondom Klaradyn saam met die man beleef het, dat dit my oudleerling van 1991 en tandarts van die laaste hele aantal jare is.
Annieka lees die opstel en geniet dit net soveel.
Terug in die klas gekom, was ek reg, dis einste George, by wie Klaradyn die daaropvolgende week (die kind toevallig ook) ‘n afspraak het.
Daar aangekom, is Klaradyn, soos laas, opgewonde om weer by Oom George uit te kom. Ek laat val dat “Oom George sal weet om te doen as iets gedoen moet word” (waarmee ek eintlik toestemming probeer gee dat die mannetjie moet trek as hy reken ons moet trek – ons is nie hier om onverrigtersake huis toe te gaan nie.)
Dit help met vandag se kinders en televisie ook van baie vroeër af nie meer om oor te wil skakel Engels toe nie – die kinders is op 6 vaardiger in Engels as wat ons op 10 was, maar ek laat val ook die woorde “desperate measures”.
George gee die bekkie ook net so een kyk (eintlik die bekkie se x-straal om te sien wat onder die bodem aan die gang is) net so een kyk, en laat val iets van ‘n tand se “vervaldatum wat nou aangebreek het.” En ons verstaan mekaar.
Met ‘n tand wat skoon gespoel moet word, kaboutersalf wat straks ‘n bietjie sleg voel, kry hy haar ingespuit en praat ons tjol om die rukkie wat dit neem vir die verdowing om in te skop om te kry.
Ons leer dat dit nie die ergste is, as jy iewers ‘n wisseltandjie langs die pad verloor nie – Klaradyn het moes ‘n tand in die water op ‘n binneband by U’Shaka Marine World afgeskryf – jy het net ‘n verduidelikende briefie met twee, nie net een handtekening nie, nodig, en jy kry jou geldjie terwyl die muise weet waar om te gaan soek.
Mamma, wat laat van die werk daar aankom, stap etlike minute voor Oom George die krombektang moet vasklem om die tand uit te pluk.
Klaradyn, behalwe vir die lip wat ‘n vreemde gevoel kry, weet van geen sout of water nie, en verdink ook niks nie.
Dis eers toe oom George haar, met ‘n knipoog in ons rigting, vertel dat hy hierdie tandjie van haar, wat al drie jaar terug vanself moes uit, vandag moes uittrek, dat sy besef die man het ‘n tand getrek.
Hy prys haar ook dat sy die beste pasiënt is wat tot op daardie stadium vandag gehad het.
En daar kan sy dit nie glo nie, want dit was geensins, geheel en al, glad nie, maar soos in glad nie, soos sy haar dit voorgestel, en gehoor het, nie.
Ons is daar weg met sy wat die man ‘n drukkie om sy bene gee.
By die motor gekom, wil sy weet wanneer ons kom om die gaatjie waarvan Oom George vertel het, toe te maak.
Ons kon maar netsowel dadelik die afspraak gemaak het – Annieka dog ons sal meer eers die trauma-barometer toets en lees, voor ons bel en afspraak maak.
Dit was nie nodig nie – Klaradyn is sonder enige trauma daar uit en weg.
Ag, en het sy nie die skoen mooi versier nie – as ek ‘n tandemuis was, sou dit vir my heerlik wees om daardie tandjie op te kon spoor waar hy hom opgespoor het.
Klaradyn het selfs ‘n blokkie kaas uitgesit. Annieka het die kaas gevat (ek verbeel my ek het die vorige rondte daarvan vergeet en die kind was diep teleurgesteld oordat die muis nie haar kaas geneem het nie) en ek terug gekom en drie kaaskrummeltjies gestrooi wat ons toe ook ter bevestiging van die feit dat die muis dit wel geëet het, dienooreenkomstig opgespoor.
Ja, ons kan seker gekritiseer word, maar én ek én Annieka is van mening dat nie eens van ons permanente skade opgedoen het omdat ons ‘n ruk lank, nie so nie so lank gelede nie, in dinge soos tandemuise, paashase, feetjies, kabouters en Kersfeesvaders geglo het nie.

22.4.12

Estelle se kalfie; Hans se kleim toe feim



 

Toe ek ‘n week of wat gelede die quiche-resep soek wat Annieka vir haar verjaarsdagete bestel het, gaan soek ek dit op die rekenaar in die lêer waar ek my blogs stoor...

 

En ek kry dit nie daar nie!

 

Is dit moontlik dat ek dit nog nooit gedeel het nie?


Moet wees.

Miskien is dit omdat ek nog altyd gereken het ek sal eendag ‘n kompetisieprys of ding daarmee kan losslaan – so maklik en smaaklik is die familiegunsteling.

Maar dan is dit nie ek wat die prys sal verdien nie, dis vriendin Estelle van wie ek die resep gekry het, jare gelede al.

Ek het die quiche nog nooit voorgesit, en iemand vra nie vir die resep nie.

Na Ankie se verjaarsdagete weer.

So kom ek hang dit maar aan die groot klok.

Maar wees gewaarsku – Annieka koop die Rooi Rose EN Sarie – as jy met my (seker Estelle?) se kallers ‘n eersteprys in een of ander kompetisie wil losploeg, is dit neusie verby met jou.

Hans se Quiche van Estelle


Jy sal saam met ‘n slaai, lag-lag ses mense hiermee iets kan gee wat hulle sal bybly.

Benodigdhede


Kors


  • 400ml meel
  • 400ml fyn gerasperde kaas (geurig)
  • 250g botter (mens kom agter as dit maragrien is — kors is geensins bros, maar hard soos die crakling van Kersfees se varkboud)
  • knippie rooipeper (gooi elke keer wat jy dit maak ‘n bietjie meer in, tot jy uitkom by die smaak waarvan jy hou.)

Wat hierdie kaas in milliliters betref:  dit hang af hoeveel wyn jy drink terwyl jy die resep aanpak. Jy kan jou maatbeker halfpad vol water maak en dan kaas ingooi totdat die meniskus met 400 ml gestyg het... of jy kan fyn rasper en in die maatbeker gooi, tot by 400 ml. (Maar pak dan maar die kaas vas.)

Dieselfde geld vir netnou se kaas – die vulsel kry 750 ml kaas. As die kaas beleë is, sterk en geurig, dan rasper ek en stop vol tot 750 ml; is dit goedkoper kaas en nie so geurig nie, dan meet ek af in water. Na my mening is dit beter om duurder, ryper, geuriger, meer beleë kaas te koop, maar minder te gebruik.

Vulsel


  • medium ui fyn gekap (‘n groot ui werk ook en gras- of slaaiuie lyk weer mooi)
  • halwe pakkie spek (125g) Dis hoekom ek die ding eerder twee keer aanmaak. Gooi dan maar die hele pakkie in, as jy wil, dit doen nie kwaad nie. Probeer om nie speksnippers te kry nie, dit kan swaar wees en afsak, koop reepspek en snipper self. (Dit werk lieflik as jy dit vries en bevrore lekker klein opsny, sommer met ‘n skêr.
  • knoffelhuisie (of so)
  • roosmaryn en/of kruisement en/of marjolien (na gedagte) (ek gooi nege uit tien kere ‘n grypie mixed herbs in, maar die vars kruie is baie lekker en moenie skrik vir die kruisement nie.)
  • 500g groente soos spinasie, sampioene, broccoli, blomkool of dis ook lekker, neen heerlik, met forel of selfs dun gekerfte natterige beesbiltong. Ek het al 500g van hierdie bevrore pakkies geroomde spinasie en sampioene gebruik. As jy die resep al ‘n paar keer gemaak het, kan jy die groente push tot so 750g en selfs ‘n hele pakkie spek probeer, maar begin konserwatief tot jy die resep leer ken.)
  • 750ml gerasperde kaas (hou dit ook maar fyn) (Hoe geuriger hoe beter)
  • 8 eiers
  • 1l room (of 50/50 room en melk, maar dan moet jy maar liewers Zuckerbacker se quiche gaan koop) (of net melk as dit moet, maar in daai geval kan jy netsowel rooibostee of ou flat appletizer gebruik, dit proe op die ou einde dieselfde. Of tel iets by Spar oppad huis toe op).)
  • sout en peper (na gedagte)

Metode


Kors


  • Meng meel, rooipeper en gerasperde kaas
  • Vryf die botter daarby in (Mans haal mos nie trouringe af nie. Dis hier waar ek altyd te laat is om myne af te haal. Dan doen ek dit en sit die ring iewers, soos die speseryerak, neer. So was hy al op twee geleenthede, een keer vir weke, net weg.)
  • Voer groot tertbord daarmee uit. Of twee quiche-panne.
  • Ek het gevind, as ek die resep dubbeld aanmaak, dan maak ek die kors slegs een en ‘n halwe keer aan.

Vulsel


In ‘n pan


  • Braai ui en spekvleis wat jy gesnipper het en knoffel in bietjie olyfolie
  • Geur met kruie ens.
  • Ag, en as dit nou nie olyfolie is nie, maar botter – maak dit nie saak nie, hierdie ding is klaar so ryk en onheilig dat dit sommer preutse vroomgeit is om olyfolie te wil gebruik.

In ‘n mengbak


  • Klits die eiers
  • Meng eiers met room en kaas
  • Voeg die kaas en die goed in die pan by
  • Roer jou groente/vis of wat ookal by

In die terbord (of groot los-boom-ringpan as jy flambojant wil wees)


  • Gooi beslag in terbord en bak sowat 1 uur (of tot gestol) by 18O grade (As jy blikkies asparagus gebruik, moet jy bereid wees om ‘n goeie 45 minute langer te wag — selfs al dreineer jy die asparagus oornag, het dit steeds baie sap. Ek kook die asparagus se water af tot ½ of ¼ van die oorspronklike en verminder die room dienooreenkomstig — vir ekstra geur. Moet net nie aan daai afgekookte sap proe nie, dis soos vanilla essence: bloody sterk en sleg. Onthou ook om sampioene se sap te behou, dis mega geur en kleur)
  • Begin die oond op 240 en draai af na 180 as jy dit insit
  • Moenie skrik as die tert platval nadat jy dit uitgehaal het nie, dit gebeur maar ongelukkig as jy dit nie dadelik eet nie. (Die ding gedra hom regtig soos ‘n soufflé, maar sak redelik gou uit
  • En geniet.
Ek sal nog die sop en poeding se resepte ook gee, daar is gaste gewees wat gevra het, maar nou gaan ek eers slaap.

Peer- en bloukaassop

Creme Brulee

(Ja, daar moet diakrietiese strepies en goed op wees, maar ek weet nie van hoe nie - kom ons noem dit dan maar Gebakte vla met krakerige karamel-bolaag.)

Die foto's is met dank aan Ilze Loots.

Lukraak gekies, 84 momente op 21 April in die ou dae

753 vC:  Hierdie dag word tradisioneel gesien as die dag waarop Romulus en Remus die nuutgevonde Rome gevestig het.
43 vC:  Die Slag van Mutina vind plaas, Markus Antonius word weer eens deur Aulus Hirtius, wat gedood is, verslaan. Hoewel Antony versuim om Mutina te vang, is Decimus Brutus is kort daarna vermoor. "
953:  Otto I die Grote gee visvangregte aan Utrecht.
1073:  Alexander II, wat voor hy in 1061 Pous geword het niemand anders as Anselmo da Baggio was, sterf.
1109: Die filosoof, Anselmus, wat ook die aartsbiskop van Kantelberg was, sterf
1142 Pierre Abélard, Franse filosoof en na bewering die seun van Abélard en Heloïse was, sterf op 62.
1420: Die Verdrag van Saint Maartens Dike word gesluit.
1453:  Die Turkse vloot sink die skip “Golden Receiver” in Konstantinopel.
1477:  Maximilian van Habsburg trou met Maria van Bourgondië.
1509:  Henry VII, Tudor koning van Engeland sterf op 52 en Henry VIII word die Koning van Engeland.
1526: Die Mongoolse keiser, Babur, wis die Indiese weermag van sultan Ibrahim Lodi tydens die Slag van Panipat uit.
1572:  Frankryk en Engeland teken ‘n anti-Spaanse militêre verbond.
1574:  Cosimo de Medici, Italiaanse hertog van Toskane, sterf op ongeveer 54
1600:  Eerste datum in James Clavell se roman Shogun.
1619:  Geboortedag van Jan van Riebeeck, koloniale direkteur en stigter van die Kaapkolonie.
1649:  Die Maryland Verdraagsaamheidwet word in die Amerikaanse Maryland aangeneem. Dit gun alle mense vryheid van aanbidding en is die eerste wet wat van haatspraak melding maak.
1654:  Engeland en Swede teken handelsooreenkoms
1689:  Willem III en Maria II is as gesamentlike koning en koningin van Engeland, Skotland en Ierland aangewys.
1699:  Jean Racine, bekende Franse dramaturg sterf op 59
1729:  Sophia Augusta Frederica van Anhalt-Zerbst word gebore. Sy het later onder die naam Catharina II oor Rusland geheers.
1774:  Jean-Baptiste Biot, Franse fisikus, sterrekundige en bekend as groot ballonvaarder sterf.
1782:  Friedrich Froebel, stigter van dit wat ons vandag as ‘n kleuterskool ken, word gebore.
1785:  Die Russiese Tsarina Catharina II bring ‘n einde aan alle edele voorregte wat sy mag geniet.
1789:  John Adams word ingesweer as eerste Amerikaanse vispresident (9 dae voordat George Washington president sou word).
1792: Tiradentes, 'n Brasiliaanse vryheidsvegter wat hom beywer het vir die bevryding van Brasilië word opgehang en gevierendeel.
1816:  Charlotte Bronte, romanskrywer van onder andere Jane Eyre sterf.
1828:  Noah Webster publiseer die eerste Amerikaanse woordeboek.
1849:  Oskar Hertwig, Duitse embrioloog ontdek bevrugting
1857:  A Douglas patenteer die boesel wat jare hoogmode sou wees.
1861:  Die USS Saratoga verower die slaweskip, Nightingale."
1862:  Die Amerikaanse Kongres stel die Amerikaanse Munt vas.
1865:  Abraham Lincoln se begrafnistrein verlaat Washington.
1878:  Die Eerste Dame, Lucy Hayes, begin ‘n eierrolwedstryd op die Wit Huis-grasperk
1894:  George Bernard Shaw se "Arms and the man," open in Londen.
1895:  Woodville Latham demonstreer vir die eerste keer die projeksie van 'n bewegende beeld  op 'n skerm in New York City.
1898:  Die Spaans-Amerikaanse Oorlog begin.
1906:  Kommandeur Robert Peary ontdek dat die veronderstelde Arktiese vasteland nie bestaan nie.
1908:  Frederick A Cook beweer dat hy die Noordpool bereik het, maar hy het nie.
1910:  Samuel Langhorne Clemens, beter bekend as die skrywer Mark Twain, sterf in Redding Conn.
1913:  Die dramaturg, George Bernard Shaw, sterf.
1913:  Gideon Sundback van Swede patenteer die ritssluiter.
1915:  Anthony Quinn Chihuahua Mexico, akteur van Zorba The Greek en Lawrence of Arabia word gebore.
1916:  Bill Carlisle, die berugte treinrower, beroof 'n trein in Hanna, Wyoming.
1917:  Die stigting van die Imperial War Graves Commission, later Commonwealth War Graves Commission. Die doel van die kommissie was om oorloggedenktekens en -begraafplase op te rig en in stand te hou
1918  Die Duitse vegter uit die Eerste Wêreldoorlog, Manfred von Richthofen, beter bekend as "Die Rooi Baron", word oor Vaux sur Somme in Frankryk afgeskiet en gedood.
1924:  Die bekende Italiaanse aktrise Eleanora Duse (La Gioconda, La Locandiera), sterf op 64.
1926:  Alexandra Mary Windsor II, beter bekend as Koningin Elizabeth van Engeland word gebore.
1935:  Koning Boris van Bulgarye verbied alle politieke partye in sy land.
1941:  Griekeland gee oor aan Nazi-Duitsland
1944:  Vroue in Frankryk ontvang die reg om te stem.
1945:  He Shima Okinawa word in 5 dae verower, 5000 sterf.
 1945 :  Rusland seweermag arriveer by die buitewyke van Berlyn.
1948:  Die eerste Polaroid kamera word in die VSA verkoop.
1951:  Tony Danza Brooklyn, die  Tony Micelli van Whose the Boss word gebore.
1952:   Sekretaressedag word vir die eerste keer gevier.
1959:  Die grootste vis wat ooit met 'n stok en katrol uitgehaal is, word deur Alf Dean aan land gebring. Dis 16-voet, 10-duim wit haai wat 2664 pond geweeg.
1962:  Frederick Handley Page, ontwerper van die eerste groot vliegtuig (40 setels), sterf.
1963:  Die Beatles en die Rolling Stones ontmoet vir die eerste keer saam op die verhoog by die Crawdaddy Club in Richmond, Engeland. Die Stones open konsert.
1966:  Keiser Haile Selassie (Ethiopië) besoek Kingston Jamaika. Vandag herdenk die Rastafariërs hierdie dag as “Groundation Day”.
1967:  Josef Stalin se dogter, Svetlana Alliluyeva, loop oor (defekteer?) na die VSA.
1967:  Kolonel George Papadopoulos lei 'n paar dae voor die algemene verkiesing in Griekeland 'n coup d'tat en stig 'n militêre regime wat vir sewe jaar duur.
1971:  Papa Doc,  François "Doc" Duvalier, diktator van Haïti, sterf op 64.
1971:  Samantha Druce word jongste vrou wat die Engelse kanaal swem.
1972:  Kaptein John W. Young, word die negende man om op die maan te loop, Hy samel tydens die missie van 11 dae, 1 uur en 51 minute, 213 pond maanmateriaal in.
1973:  “Tie a yellow ribbon round the old oak tree” is die nommer een treffer op Britse trefferlyste.
1976:  Toetsing vir ‘n entstof teen varkgriep begin.
1977:  Die musiekblyspel "Annie" open met 2377 optredes tot 2 Januarie 1983.
1977:  Gummo Marx, lid van die Amerikaanse komiese Marx Brothers, sterf op 84
1980:  Amerika se oudste langafstand-wedloop, die Boston-marathon, word hierdie dag deur skandaal geraak. Rosie Ruiz, 'n 26-jaar-oue kantoorwerker, het die sportwêreld verstom toe sy in 'n rekord tyd van 2 uur, 31 minute en 56 sekondes oor die eindstreep beweeg. Later, na 'n ondersoek, is sy gestroop van die eer omdat getuienis getoon het dat sy nie die hele wedloop gehardloop het nie.
1981:  Die VSA voorsien $ 1 miljard se wapens in Saoedi-Arabië.
1982:  Dr. Michael E Bakey voer die eerste suksesvolle hart inplanting uit.
1983:  ‘n £ 1-munt word in die Verenigde Koninkryk bekendgestel.
1984:  ‘n Sentrum vir mediese navorsing in Frankryk kondig aan dat hulle die virus wat VIGS veroorsaak, ontdek het.
1984:  Franz Weber van Oostenryk ski afdraande teen 'n rekordspoed van 209,8 km per uur.
1984:  Na ‘n rekord van37 weke in die nommer 1 posisie, gly Michael Jackson se Thriller-album 'n paar kerwe van nommer 1 tot nommer 3 op die popalbum-speellyste.
1985:  Rudi Gernreich Amerikaanse ontwerper van die miniromp sterf op 62.
1986:  Geraldo Rivera open met ‘n kameraspan en ‘n rekord getal televisiekykers'n kluis in die Lexington Hotel in Chicago wat aan die rampokker Al Capone behoort het, en vind niks van belang daar binne nie. 
1987:  Die Dow Jones skiet die hoogte in met 664,7 punte. Dis die tweede grootste een-dag-wins in die geskiedenis.
1989:  George W. Bush en Edward W Rose word hoof uitvoerende beamptes van die Texas Rangers.
1989:  Sowat 100.000 studente vergader in Tiananmen Plein in Beijing om die Chinese hervormingleier Hu Yaobang te herdenk."
1992:  Groothertog Vladimir K Romanof en groootste aanspraakmaker op die Russiese troon sterf op 74.
1993:  Brasilië hou referendum en stem teen 'n monargie.
2000:  Navorsers van Noord-Carolina kondig aan dat die hart van 'n 66 miljoen-jaar-oue dinosourus meer soos die van 'n soogdier of voël as dié van 'n reptiel was.
2009:  UNESCO loods die World Digital Library, 'n internasionale digitale biblioteek wat vanuit die Amerikaanse Library of Congress bedryf word.
En dan volstaan ek by hierdie 84 uit die sowat 500 historiese brokkies wat ek kon opspoor en vertaal.
84, omdat Judith Jacoba van Wyk (later ook Müller, Moolman en Steyl) twee jaar na Koningin Elizabeth op 21 April 1928 op George gebore is en op 21 April 2012 haar vier en tagtigste verjaarsdag sou gevier het.
Ons het haar geboortedag toe nou maar stil en sonder haar teenwoordigheid herdenk.
Vir haar twee seuns, Hans en Jac (maar eerder dan Hansie en Jacie omdat ons lewenslank haar kinders sal bly) en in hul harte en onthou, oorskadu hierdie dag in 1928 natuurlik alles wat hier genoem is – selfs die baie belangrike stigting van Rome deur die moederlose Romulus en Romus in 753 voor die geboorte van Christus.

19.4.12

Ek laat sak my kop met trots in skaamte


Dis 'n lang storie, 'n baie lang storie. En dan ook nie noodwendig 'n vleiende storie nie.

En ek gaan die storie nie vertel nie; Klaradyn se prentjie moet maar die praatwerk doen.

Dis oor Klaradyn se prentjie wat ek wil praat.

Ek wens ek kon op 7 'n kwartel so mooi uit my kop teken, soos sy hier. Kyk die detail.

En dan verstom ek my aan die simboliese wyse waarop sy die kwartel se slagting uitbeeld. Ek weet nie of dit 'n lem is, of wat dit is nie, maar dis duidelik dat sy die boodskap van finaliteit wil tuisbring.


Die wrede treurspel het voor haar afgespeel - haar eerste kennismaking, op hierdie manier, met dood.

Die trane is nie aardskuddend nie, maar die ontstelde mond (lippies wat bewe) is vir my skerp uitgedink. 
En wat is dit wat gemaak het dat sy "agter die hoek wegekruip" gaan verander het na "na agter die huis wegekruip"? Het sy op 7 gesnap dis ongrammaties?



Toe sy vir Annieka die gebeure aan die hand van haar skets vertel, kon jy dadelik die betekenis van die twee keer se "doot" snap. Die eerste was sag, die tweede harder en meer ontsteld, haar oë het gerek en sy het die slot-d beslis as 'n ekspressiewe -t uitgespreek. Nie sommer net "dood" nie, maar "DOOT!"

Ek was besig om die voëls en hase kos te gee, toe Sussa die geleentheid aangryp. Toe ek die een kant keer, toe ontsnap die kwartel ander kant, en hol in Snuffels se bek in.


Ai, en dan Pa se skaamte - 'n grote man wat buite homself van woede is omdat 'n patryshond hom soos 'n patryshond gedra en, weliswaar nie 'n patrys nie, maar 'n kwartel doodbyt...



Ek het dit aanvanklik uitgevee - die hele insident het 'n maand gelede afgespeel.

Maar ek kan dit regtig nie net uitvee nie. Dit moet my dan nou maar aankla en skuldig laat staan.

Ek is verbysterd oor die uitgerekte idee van die woorde skryf - dis soos in 'n regte comic strip. En dit terwyl die kind van comic strips en die tegnieke wat daar ingespan word, geensins ken nie.

En dan het ek dit lank en diep en uitgerek en stadig geskree, terwyl ek die gevaar geloop het dat ek 'n aar in my kop bars, en my kind het dit ook oorgedra.

Dis lekker as jou kind se vaardigheid jou by tye verstom.





17.4.12

Geboorte- en ander dae

April was my lewe lank nog altyd ‘n maand met blye vierdae. Ek en Annieka het op 7 April getrou; Annieka is op 10 April gebore.
Dan is daar ‘n hele rits ander verjaarsdae:  Annieka se boetie, Erik, en saam met hom, Leanie.
Ook, uit my kinderdae: Tannie Susan (my ma se beste vriendin), Tannie Hazel (my broer se skoonma), Tannie Marthie (my beste skoolvriend, Riaan, se ma).
Natuurlik onthou ek nie meer die datums nie – dit was almal in een week, iets soos 9, 12 en 14. Maar Tannie Marthie, een van my baie ander mammas, (dis na haar huis wat ek gehardloop het die oggend toe ek hoor my ouers gaan skei) is in 1988 begrawe toe ek in die weermag en duisende kilometers ver weg was. Kanker het Tannie Susan (dis by hulle in die buitekamer wat ons ruk lank gebly het na ons uit die huis is) se lewe geneem. En Tannie Hazel (dis sy wat my aan Enid Blyton bekend gestel het – en so my hele lewe lewenslank verander en verryk het) is nou die ander dag, seker so vyf of ses of sewe jaar gelede, oorlede.
En dan 21 April, die belangrikste van hulle almal, Judy.
Wat dan nou ook vanjaar, vir die eerste keer, ‘n stil verjaarsdag gaan wees.
Ek is nog al die pad van 1 April af ‘n April-gek wat kort-kort vir elke bakatel aan het grens gaan.
Soos Vrydag, toe ek ‘n groot bottel Vanilla-essens koop om my leë bottel vanilla-essens mee op te vul.
Ek het mos so ‘n das van my pa, sy troudas. Die ding val letterlik al gate in, maar dis vir my heerlik om hierdie ding uit die jare veertig of vyftig van die vorige eeu uit die kas te ruk en skool toe te dra. Vreemd hoe die modes daardie jare was – die ding is so kort, maak nie saak hoe ek dit knoop nie; dit kom nie eens naby my naeltjie uit nie.
En soos my pa se das, het die vanilla-essens se bottel geword.
Ek het hom uit hulle kas geneem, ses of sewe of agt jaar gelede toe hulle uit die huis, ouetehuis se versorgingseenheid toe is.
Hoe vergeet enige kind die eerste keer wat hy, op sy knieë op die koskas of werksblad, vir die soveelste keer sy ma vra of hy dan maar tog aan die vanilla-essens wat so lekker ruik en die kos so lekker laat smaak, kan proe nie, en sy ma hom, wel wetend wat wag, laat proe?
Ek onthou dit soos gister. Dit moes voor 1970 gewees het.
Klaradyn onthou dit soos gister. Ons praat daarvan elke keer as ons met vanilla-essens werk.
En toe is ons vanilla-essens, Judy se vanilla-essens, so ‘n jaar of wat gelede op.
Maar ons het nog in die huis een van hierdie klein botteltjies, uit die dae voor ons Judy se bottel gekry het, en ek maak dit leeg in Judy se bottel.
Op hierdie bottel word nog Afrikaans gepraat.
Dit verbaas my dat die goed nie verslaan het nie; die prys op die bottel is net meer as R1-00.
En elke keer, wat nie te gereeld is nie, gebruik ek en Klaradyn vanilla-essens, dan loop my gedagtes ver en lekker en mooi paaie.
Maar toe is die laaste druppeltjie van ons eie essens in die groot bottel ook op, en ek bêre die bottel met sy hele lewe van herinneringe liefderyk heel agter in die kas. Ek bêre hom nie, ek steek hom weg; ek wil kyk of daar nog sulke groot bottels in die handel beskikbaar is, om Judy se bottel te vul. Dan is dit Judy se vanilla-essens-bottel, Ouma van Wyk se kaneelsuikerstrooier, Ouma Moolman se slaai- en mengbakke en Hans se biltongkerwer. (En Hans se das, maar ons kuier nou in die kombuis saam met die voorgeslagte.)
Annieka het huis vol mense vir haar verjaarsdag en ek weet haar poeding vra om ‘n halwe teelepel vanilla-essens.
En ek is gelukkig – teen meer as 30 maal die vorige een se prys, en nou slegs in Engels, kry ek ‘n hervul vir ons vanilla-essens-bottel van Judy.
Na ek my dood uit- en aandra van die pakkies – ‘n enkele verjaarsdagete (en geensins overdadig nie) se aankope is deesdae twee keer die prys as die eerste maand se groceries wat ek en Annieka in 2000 gekoop het – los ek alles net so op die rak en kry die dure bottel vanilla-essens uit.
Maar ek het die leë bottel nie goed genoeg weggesteek nie – dis ‘n week gelede, toe ledige niksdoen-vakansiehande en –vingers deur die kas gegaan het, weggegooi.
Dis meer as 40 jaar dat ek nie met vanilla-essens kan werk sonder dat ek nie elke keer opnuut weer in die gedagtes pens en pootjies op die werksoppervlakte langs die klitser sit nie, presies soos ek Klaradyn dit nou nog steeds sien doen.
En vir die volgende 40 jaar (mog ek so lank vasbyt) sal daar nou ook ‘n ruk deur my gemoed trek as ek sommer nog net lees dat die resep vanilla-essens vra.
Ai, en toe gaan ek gister kitsbank toe om myself nog dieper in die rooi te kry ten einde kos op die tafel te hê – en daar is my saldo oornag, skielik sestien maal meer batig as wat dit die vorige dag oortrokke was!
Dat 83 jaar, sy sou Vrydag 84 wees, se spaarsamig leef, 83 jaar se sente omdraai en jouself indoen ter wille van jou kinders, ten koste van jouself, ‘n mens by dít moet uitbring! Dat ‘n leeftyd jou moet reduseer tot ‘n bankbalans ‘n week voor jou 84’ste verjaarsdag.
Ek moes myself, doelloos op en af tussen die rye en gange kruideniersware, daaraan herinner dat ons ouers se nalatenskap veel meer is as ‘n batige saldo.
Maar dit was nie maklik of lekker nie.
En die kassiere, met wie ek altyd so lekker gesels, het sommer gesien om nie eers te poog om ‘n geselsie met die oom aan te knoop nie.


Ai, en dan kry ek nou al lag vir myself: Ek en Klaradyn verjaar 5 dae uit mekaar, en iewers tussen daardie vyf dae het Judy haar laaste asem roggelend uitgeblaas. Gelukkig kan ek nie onthou wanneer nie, weet ek nie wanneer nie, en stel ek ook nie belang om uit te vind wanneer nie.
Ek weet nie wie gaan vanjaar Klaradyn se cup cakes bak nie, want dit sal nie ek wees nie, en Pa se das gaan ek einde Augustus / begin September beslis ook nie dra nie.

15.4.12

10 Vrae; 20, nee 30, antwoorde

‘n Skoolleerder konfronteer my toe ‘n week of wat gelede met die volgende vrae – dis kamma-kamma vir ‘n skoolkoerantjie (maar net kamma-kamma, want dis eintlik vir ‘n skooltaak wat die vorm van ‘n kamma-kamma-skooltydskrif aanneem):

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel teëgekom het?
4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
10.  Wie is Meneer se rolmodel?

Die dag toe ek haar antwoorde stuur, was dit ongelukkig vir my belangriker om ‘n poging aan te wend om haar iets te probeer leer, as wat dit vir my was om haar te vermaak met oulike antwoorde; toe laat weet ek soos volg:

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
Hoe ek daaroor voel, is nie belangrik nie. Wat belangrik is, is hoe ander daaroor voel. Ek wonder of daar nie baie ander onderwysers is wat sal voel die eer moes hulle eerder te beurt geval het nie.

2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
Dit was, saam met Geskiedenis, my gunsteling vak op skool.

3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?
Die kind wat die teenoorgestelde geslag van 'n Tom cat as Jerry cat gesien het - dit moes 'n tabby cat wees.

4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
Dis in my aard, omdat ek altyd opgewonde oor enige iets met potensiaal is, om oor die jeug ook opgewonde te wees. Hulle gaan nie dieselfde pas as ons loop nie, maar langs ander paaie en op ander maniere as waaraan ons gewoond is, nog baie bereik.

5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
Die rekenaarnetwerk!

6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
Ek het elke uur van die dag 'n ander gunsteling. En dan hang dit ook af van watter tyd van die jaar dit is. Nou, op hierdie oomblik, is lamsosaties my gunsteling. Vanaand is dit dalk iets anders.

7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
Naby my vrou en my kind.

8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
Balule in die NKW

10.  Wie is Meneer se rolmodel?
Hoe ouer 'n mens word, hoe minder belangrik word rolmodelle vir jou. Ek kan vandag nie eers meer onthou wie 30 jaar gelede my rolmodelle was nie, en of ek enigsins sulke goed gehad het nie. Beide my ouers was en is steeds belangrike rolmodelle.

Met heelparty van hierdie vrae is ek nog nooit gekonfronteer nie; met ander in geen jare nie. Aan een die vrae word ek sedert ek haar geantwoord het gereeld herinner – so sterk draai dit in my kop, dat ek nou al van Vrydag dreig om weer hierna terug te keer.

Maar my rekenaar was stukkend, my skoolwerk het opgehoop, en ek moes wag tot vanaand voor ek weer my dinkwerk op datum kon kry.

Kom ek kyk weer daarna:

Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?

Kyk, as daar nou een ding is wat lelik kan skeefloop, dan is dit so ‘n Onnie-vannie-kwartaal-ding. Beheerliggame en goed bedoelende ouers het al male sonder tal met so ‘n inisiatief begin, en elke keer (waarvan ek weet) loop dit op onenigheid uit. “Skofbaas van die maand” en “Werker van die week” kan dalk elders ‘n lieflike aansporing wees, maar NIE in die onderwys NIE. Daarom dat ek haar so aweregs beantwoord het.

Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?

Die ander skoolvakke wat ek (op papier) bevoeg is om te gee, is Drama en Engels. Engels het saam met Drama, Spraak en Vertolkingskunde en Toneelkunde, destyds baie meer sin gemaak. In daardie kombinasie sal ek dit steeds kies. Maar dit sal vir my net so lekker gewees het om ‘n Geskiedenis-onderwyser te kon wees.

Ek het al baie gewens ek beland by ‘n skool waar die nood druk en ek by Geskiedenis moet inspring – dan word ek die tweede helfte van my onderwysloopbaan ‘n Geskiedenis-onnie.

Engels het ek laas in 1987 en 1988 gegee. Ek het dit so drie jaar gelede amper weer moes doen en ek het nogal daarna uitgesien. Ek is egter bly dinge het toe anders uitgedraai, want ek dink dit sou ‘n baie goeie vriendskap (met my Engelse eweknie) in die wiele kon gery het.

Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?

My antwoord was ‘n jok – ek het vreemdste ook met snaaksste verwar. Ek wou vertel van die kind wat die ontbrekende woord moes invul:  Die mens wik, maar God _______.
Toe antwoord die kind nie “beskik” nie, maar “weeg.” Ek is egter van mening dat vandag se kinders nie eers weet van “wik en weeg” nie; wat nog te sê van  “Die mens wik, maar God beskik.”

Hierdie antwoord, noudat ek mooi daaroor nadink, sou ook ‘n jok gewees het – ‘n kind het dit nooit vir my geskryf nie – ‘n universiteitsvriendin het dit iewers op skool op ‘n antwoordstel kwytgeraak.
Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.

Siestog, die arme kind – ek sien nou eers ek het ‘n tikfout gemaak – ek het vertel van die kinders wat nie dieselfde “pas” as ons gaan loop nie, en dit terwyl ek eintlik “pad” bedoel het.

Wat ek eintlik met my antwoord bedoel het is:  Hulle gaan groot mense wees wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie – party van hulle sit vandag al met onderwysers wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie. Maar dan is dit vir my en my generasie belangrik om te kan lees en skryf en spel en somme doen. Die jeug van vandag gaan, as hulle (heel geyk) “more se leiers” is, waarskynlik steun op gans ander vaardighede as die wat vandag vir my belangrik is – vaardighede waaroor ek geensins beskik nie. So ek moenie veroordeel nie – dis strakkies ek en my manier van doen wat dan uitgedien gaan wees.

Ek dink natuurlik nie sy sou hierdie antwoord tussen die lyne kon lees nie.

As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?

Die rekenaarnetwerk!

Ek het maar by ‘n twee-woord-antwoord gebly. Ek sou “my salaris” wou byvoeg. En miskien ‘n paar ander dinge. Straks ‘n hele paar ander dinge.

Kom ons volstaan by die “rekenaarnetwerk.”

En moenie my woorde en gedagtes inkleur soos jy wil nie.
Jare gelede het ek die antwoorde op elke vraag en probleem geken, vandag verstaan ek nie eens meer die vrae nie –onthou die meeste van die vrae waarop ek antwoorde gereed had nie eers meer nie, en is ek vir al wat ek weet deesdae eerder deel van die probleem homself, as deel van die oplossing.

Wat is Meneer se gunsteling gereg?

Ek het “sosaties” genoem omdat ek die oggend die lekkerste lamsosaties by die Hazelwood kosmark gekoop het, ek verbeel my by ‘n man wie se blog ek ruk lank gevolg het, ek is nie seker nie, maar ek gaan hom vra as ek weer daar kom.

Is dit moontlik dat “Zak die Priester”/Izak du Plessis nou sosaties op ‘n kosmark verkoop?

Lyk my nooit anders nie – ek het “Izak du Plessis” en”sosaties” ge-google en gesien iemand met dié naam het in 2010 vir nie Nuwe Hervormers/NHN’ers lamsosaties gebraai.

Miskien ook nie. My sosaties het April 2012 R20-00 stuk gekos, en hierdie Izak se sosaties het in 2010 al R20-00 een gekos. As dit dieselfde man was, sou ek vandag al R30-00 vir my sosaties betaal het.

Waar wil Meneer eendag aftree?

Dit moes seker wees “Naby my kind en in die geselskap van my vrou.” Ek sou ook wou byvoeg dat ek liefs nie wil aftree nie, maar lank na aftreeouderdom iewers “in die tuig” (een of ander “tuig” al is dit nie die onderwys nie) die emmer wil skop terwyl ek die lepel in die dak steek.

Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?

Hier wou ek so veel as mootlik in so min as moontlik sê, en ek dink ek het dit reggekry:  Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?

Balule in die NKW. Hulle kan my kampopsigter maak, dan gaan tree ek daar af voor ek my Apostelteelepel, die goue een waarmee ek in die mond gebore is, in een van die rondawels se grasdakke steek.

Wie is Meneer se rolmodel?

Dis hierdie laaste vraag waarheen ek die hele week terugkeer – dat dinge toe so heel anders uitgedraai het as wat ek 30 jaar gelede gereken het.

Hoeveel keer is ek nie al met hierdie vraag konfronteer nie! Hoe lekker het ek nie al, sedert skooldae, daarop en daaroor uitgewei nie!

En toe ek in seker 20 jaar weer skielik met die vraag konfronteer word, toe het al my studentikoosvermakerige antwoorde in die niet verdwyn – toe is daar net een, NET EEN, antwoord:  my ma en my pa.

Ek sou in my lewe al Jesus Christus geantwoord het. Dis nou net soos wat die Bybel die een boek is wat jy as kind verplig voel om te noem as die boek wat jy by jou sal wil hê as jy alleen op ‘n eiland gestrand is. Later van tyd het my gewete my vir jare toegelaat om NP Van Wyk Louw se Versamelde Werke te noem. Vandag is my keuse iets in die lyn van:  How to survive in the woods on your own.

Ek sou ook dalk  ‘n onnie of twee genoem het, ‘n kollega of twee genoem het, na ‘n celebrity of twee drie verwys het.

Maar dit was lank gelede.

Noudat alles wat pronk en sieraad was, weggeval het, noudat ek in party opsigte klaar het met sommige dinge van ‘n kind, en net die drie belangrikstes oorbly, met die grootste daarvan die liefde, nou is dit duidelik dat net my ma en my pa, ten goede goede of ten kwade, vir my ‘n rolmodel was.

En is en bly en sal bly.

Ek kan nie meer by een van hulle iets leer nie – beide is in die graf, tog poog ek elke dag om te doen soos hulle my geleer het, en dan nie geleer het deur “voorskrif en vermaning” nie, maar geleer het aan die hand van die voorbeeld wat hulle gestel het.

Ek het nooit nodig om in die donker te tas of rond te val nie – wat dinge wat regtig saak maak, betref nie: ek het my ouers om op terug te val.

As kind sou ek dit nie glo nie, sou ek dit nie wou hoor of daarvoor val nie; vandag is dit onteenseglik: jou ouers is jou enigste ware en blywende rolmodelle, dit maak nie saak waar jy staan of in watter posisie jy jou bevind nie.

Ek dink dis omdat, in ‘n stadium, van alles, tereg, net die liefde oorbly, en as alles wat belangrik was weggeval het sodat net die liefde bly, kan dit nie anders nie – al rolmodelle wat bly staan, is die van die liefde – jou ouers.

Ás jy so gelukkig is soos ek was, bygesê natuurlik.

Al wat ek wil wees, al wat ek ooit vir Klaradyn wil wees, al wat ek hoop om ooit vir Klaradyn te kan wees, is eenvoudig:  “soos my ouers, in liefde en met liefde, hul gebreke ten spyt, soos Judy en Hans Moolman.”

Dis nie maklik nie, maar wat ‘n voorreg – ‘n voorreg wat min beskore is.