Pages

27.4.12

Tandarts toe en terug

Op wie, of waarop, ek die trotsste is, weet ek nie:  my kind, my oordeelsvermoë, of die oudleerling van 1991.
Van die drie het George seker die meeste bekendstelling nodig. Dis my tandarts nie, maar nie sommer net my tandarts nie – een van die oulikste, slimste en kreatiefste kinders vir wie ek nog ooit skool gehou het.
So oulik, slim en kreatief, dat toe die jong man homself klaar as tandarts bekwaam het, ek die vrymoedigheid en volslae vertroue gehad het om by sy spreekkamer in te stap en my bek wyd oop te rek.
Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink dat ‘n onderwyser na ‘n oudleerling van hom sal gaan dat dié in sy smoel loer nie, maar met my is dit anders, of met George.
Annieka was ook al daar, maar toe sy een jaar krisis had, was George se stoel beset en sy moes en sy moes noodgedwonge op die vennoot se stoel plaas neem – en daar kliek sy en dié man so goed dat sy skoon spyt was toe haar behandeling wat oor etlike afsprake gestrek het, ten einde loop. Sindsdien was sy nog nooit weer by George nie, maar elke keer by dieselfde praktyk.
Klaradyn het ek vroeg-vroeg al saam met my geneem, net sodat sy kan agterkom dat omie-tandartse eintlik nie sulke slegte ervarings gaan wees soos sy later op skool gaan leer nie.
Klaradyn se melktande is baie jonger as enige van haar portuur s’n. Ek wou laterhand plate van die kind se mond laat neem om te kyk of daar wel enigsins melktande op pad is, so lank moes ons wag vir die eerste een om te sny.
Waarom die wit jong mieliepitjies so lank op hulle laat wag het, sal ek nie weet nie, maar so traag soos wat hulle was, so voor-op-die-wa en haastig is die permanente stel. En nou is daar botsende belange – want die melktandjies is nog stewig in hul setels, dan is daar klaar nuwe aanspraakmakers op hul staanplek en troontjies.
Haasbek, was my kind dan ook eintlik omtrent nog nooit – want waar ‘n tand uiteindelik loskom en uitval, is die ander een lankal reeds in plek.
So toe die woord monster deur ‘n pa se gedagtes begin flits, elke keer as hy in sy kind se mond kyk, toe is dit ek wat saam met haar saamsleep tandarts toe.
En sy ken Oom George, en sy is hoogstens skrikkerig oor die nuwe ervaring van self in die stoel sit, maar geensins bang nie. Sy is natuurlik toe ook al in graad R en in kontak met talle bangmaakstories gewees.
Vriendelike, kindervriendelike, dierbare Oom George se uitgangspunt was dat ons een van twee dinge kan doen – ons kan inspring en tande trek en haar in die proses lewenslank van tandartse vervreem, of ons kan dat haar mond sy eie gang gaan en ingryp wanneer dit noodsaaklik is, maar sy ook effe ouer. As ortodonsie nodig gaan wees, gaan dit nodig wees, of hy nou trek, of later, of nooit nie. Van die permanente tande wat van koers af opgeskiet het oor die melktande in hul plek was, sal in plek beweeg, maar nie noodwendig 100% nie.
So vat ons haar ‘n tweede keer, Mamma gaan natuurlik elke keer saam, Oom George werk lieflik met haar en Klaradyn werk nog liefliker saam. Maar Oom George hou voet by stuk – geen aktiewe bemoeienis is in daardie stadium nodig nie, ons moet 6 maande wag en weer kom kuier.
En toe gebeur twee goed, ek leer die graad 11’s wat nie verlede jaar by my in graad 10 was nie, hoe ek wil hê dat hulle ‘n opstel moet benader, en Klaradyn sit met ‘n tand wat voortydig wil sny waar daar onder die son geen maar geen plek vir hom is nie – waar hy moet uit, kan hy nie – daar sit ‘n melktand in sy plek en dié klou vir die lewe; na links of regs kan hy ook nie, want links en regs sit hulle klaar twee-twee agter mekaar in gelid. (Ek oordryf ‘n bietjie, dis net na links, maar oor die tand op ‘n draai in die mond wil uit is daar eintlik nergens plek vir hom om deur te druk nie.)
Alle kinders vind baat daarby om nie stories uit hul duim te suig nie, maar te vertel van iets wat van binne kom, iets wat hulle self beleef het. Sodoende is hul opstelle oortuigend en geloofwaardiger, en is hul beskrywing en inkleur van die gebeure ook soveel raker – juis omdat hulle van dit wat hulle aan eie bas gevoel en beleef het, vertel.
Hoogsverbeeldingryke en hoogskreatiewe kinders kan nog waag om uit die duim te suig, hulle doen goed met of sonder my raad; maar die gemiddelde en ondergemiddelde skrywers presteer deur die bank almal beter, as wat die geval sou wees as hulle hul verbeelding, in plaas van hul ervaring, ingespan het om hul stories te skryf.
George homself is een van die top-vyf skrywers wat in 25 jaar my pad gekruis het. Ek onthou hoe spyt ek destyds was dat die kind so sterk in die eksakte vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Biologie was, want ek het geweet hy gaan sy aanvoeling vir taal (sy sesde vak was Latyn) laat taan die oomblik as hy nie meer verplig word om te skryf nie. In daardie stadium het hy nie net geskryf en aangedra wat ek hom in die klas verplig het om te skryf nie, ek het enkele stories wat hy vir die lekker geskryf het, ook gekry om te lees.
En dan weet elke taalonderwyser dit, kinders wat oorhoops is met woorde skryf versies en gedigte, hulle span nie sommer hul aanvoeling en vaardigheid in prosa in nie. George het.
Ewenwel, ek merk toe einde verlede kwartaal of iewers in die vakansie die graad 11’s se opstelle. Een van die onderwerpe was Eendag nié so lank gelede nie. Ek het nie die opdrag uitgedink nie, ‘n kollega het, maar vir my outjies wat ek geleer het om in hul binneste te gaan krap, was so ‘n onderwerp manna uit die hemel.
En daar lees ek hierdie lieflike vertelling van ‘n kind se eerste kinderervaring met haar tandarts en die lieflike pad wat sy die laaste tien of wat jaar met die man gestap het.
Nou kyk, die ervaring moet regtig vir jou positief wees as jy dít in graad 11, onder die onderwerp Eendag nié so lank gelede nie, kies om oor te skryf.
En die kind, juis oor sy dit beleef het, skryf en vertel lieflik, en in die laaste paragraaf noem sy die man by die naam, en ek lees dis ‘n Doktor George. En ek weet toe sommer dadelik, uit dit wat ek lees en dit wat ek rondom Klaradyn saam met die man beleef het, dat dit my oudleerling van 1991 en tandarts van die laaste hele aantal jare is.
Annieka lees die opstel en geniet dit net soveel.
Terug in die klas gekom, was ek reg, dis einste George, by wie Klaradyn die daaropvolgende week (die kind toevallig ook) ‘n afspraak het.
Daar aangekom, is Klaradyn, soos laas, opgewonde om weer by Oom George uit te kom. Ek laat val dat “Oom George sal weet om te doen as iets gedoen moet word” (waarmee ek eintlik toestemming probeer gee dat die mannetjie moet trek as hy reken ons moet trek – ons is nie hier om onverrigtersake huis toe te gaan nie.)
Dit help met vandag se kinders en televisie ook van baie vroeër af nie meer om oor te wil skakel Engels toe nie – die kinders is op 6 vaardiger in Engels as wat ons op 10 was, maar ek laat val ook die woorde “desperate measures”.
George gee die bekkie ook net so een kyk (eintlik die bekkie se x-straal om te sien wat onder die bodem aan die gang is) net so een kyk, en laat val iets van ‘n tand se “vervaldatum wat nou aangebreek het.” En ons verstaan mekaar.
Met ‘n tand wat skoon gespoel moet word, kaboutersalf wat straks ‘n bietjie sleg voel, kry hy haar ingespuit en praat ons tjol om die rukkie wat dit neem vir die verdowing om in te skop om te kry.
Ons leer dat dit nie die ergste is, as jy iewers ‘n wisseltandjie langs die pad verloor nie – Klaradyn het moes ‘n tand in die water op ‘n binneband by U’Shaka Marine World afgeskryf – jy het net ‘n verduidelikende briefie met twee, nie net een handtekening nie, nodig, en jy kry jou geldjie terwyl die muise weet waar om te gaan soek.
Mamma, wat laat van die werk daar aankom, stap etlike minute voor Oom George die krombektang moet vasklem om die tand uit te pluk.
Klaradyn, behalwe vir die lip wat ‘n vreemde gevoel kry, weet van geen sout of water nie, en verdink ook niks nie.
Dis eers toe oom George haar, met ‘n knipoog in ons rigting, vertel dat hy hierdie tandjie van haar, wat al drie jaar terug vanself moes uit, vandag moes uittrek, dat sy besef die man het ‘n tand getrek.
Hy prys haar ook dat sy die beste pasiënt is wat tot op daardie stadium vandag gehad het.
En daar kan sy dit nie glo nie, want dit was geensins, geheel en al, glad nie, maar soos in glad nie, soos sy haar dit voorgestel, en gehoor het, nie.
Ons is daar weg met sy wat die man ‘n drukkie om sy bene gee.
By die motor gekom, wil sy weet wanneer ons kom om die gaatjie waarvan Oom George vertel het, toe te maak.
Ons kon maar netsowel dadelik die afspraak gemaak het – Annieka dog ons sal meer eers die trauma-barometer toets en lees, voor ons bel en afspraak maak.
Dit was nie nodig nie – Klaradyn is sonder enige trauma daar uit en weg.
Ag, en het sy nie die skoen mooi versier nie – as ek ‘n tandemuis was, sou dit vir my heerlik wees om daardie tandjie op te kon spoor waar hy hom opgespoor het.
Klaradyn het selfs ‘n blokkie kaas uitgesit. Annieka het die kaas gevat (ek verbeel my ek het die vorige rondte daarvan vergeet en die kind was diep teleurgesteld oordat die muis nie haar kaas geneem het nie) en ek terug gekom en drie kaaskrummeltjies gestrooi wat ons toe ook ter bevestiging van die feit dat die muis dit wel geëet het, dienooreenkomstig opgespoor.
Ja, ons kan seker gekritiseer word, maar én ek én Annieka is van mening dat nie eens van ons permanente skade opgedoen het omdat ons ‘n ruk lank, nie so nie so lank gelede nie, in dinge soos tandemuise, paashase, feetjies, kabouters en Kersfeesvaders geglo het nie.

No comments: