Pages

2.5.12

Oor Tiddalik, die rooiborsduif, 'n reier en my kind wat soos 'n blommekind lyk







Dis geen wat wafferse foto’s nie, maar dit was die wat wafferste van wat wafferste naweke ooit gewees.
Ons het by die huis gebly en die lekkerste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies denkbaar gehad.
Annieka het ons in ‘n stadium, sommer so op die bank onderbreek, miskien het sy haarself in die rede geval, maar sy het ons stil gemaak en ons aandag gekry om te kan sê, iets soos: “Ek is so bang ek gaan skielik dood van die een of ander iets en dan weet julle dit nie, en julle moet dit weet – die Pappa-Mamma-en-Klaars-tye wat ons so saam het, is die lekkerste tye in my hele lewe.”
Ek en Klaradyn het ge-knoop-en-doop (soos julle kan sien): 6 langmou frokkies en 6 langonderbroeke.
Ons het dit seker so drie of vier jaar gelede ook gedoen – maar daarin sal sy nooit weer kan pas nie. Sy dra dit vir pajamas en huis-speel-sleg-wees-pakkies. In die wildtuin ry ons daarin rond.
Nou sit ons met drie pienk en pers stelletjies, en drie geel en oranje stelle.
Ek het haar soggens, nes ek haar uiteindelik soorts van wakker gewikkel en gesukkel het, irriteer met Breytenbach, en in in stadium selfs die hele gedig in die bed vir die twee dames met gevoel voorgehou:


Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Maar eintlik was dit net om die kind wakker te speel en genoegsaam te irriteer dat sy aan die beweeg kan kom. En toe raak dit ‘n speletjie wat elke oggend herhaal het.
Ek het die fabels wat ek vertaal het, voorgelees en verduidelik. Toevallig kon ek die volgende eenvoudige enetjie, twee keer hierdie naweek inspan om iets vir Klaradyn te illustreer:

Die kat en die reier

Ons moet almal poog om soos die reier te wees wat met ‘n paling in haar bek oppad was om haar kuikens te gaan voed.

ʼn Kat het hierdie reier met haar prooi opgemerk. Dan weet ons almal ‘n kat het ‘n besonderse voorliefde vir vis, maar hou net mooi niks daarvan om selfs net sy voete nat te kry nie. So toe sê die kat vir die reier: “O, jou skoonste van skone beeldskones, het jy nie mooiste van mooi snawel en fynste van fyn vere nie. Kan dit wees dat jou snawel van binne net so mooi is soos van buite?” Maar, gedagtig aan die vis in haar bek, het die reier net geweier om op die vleitaal te reageer. Dit het die muis- en rottevanger opgeklits en hy het begin om die reier te beledig: “Maar is jy dan doof of net sommer dof en onnosel! Want vir wat antwoord jy my nie! Jy wat partykeer slange moet vreet, slange wat liederlik en vieslik vreeslik giftig is. Ordentlike diere vreet ordentlike goed, maar nie jy nie, jy hou jou op met onrein diere. Dit maak jou die onreinste van onrein diere in die ganske skepping!” Maar die reier het niks gesê nie – sy het aangehou stap met die paling in haar bek.

Dan is daar nog iets wat ek wil aanhaal wat ons elke dag hierdie naweek besig gehou het. As dit egter vir joute lank is, spring tot die einde waar die allermooiste van die naweek se allermooiste aangeteken is.

Sien, ons het die naweek ook ‘n stukkie prosa vir die kunswedstryd geleer. Ons weet nog nie eers of dit geskik is of nie... maar nou ken sy dit al. En dit is soos Langenhoven gesê het:  Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

My voorstel was dat ons Tiddalik se storie vertel. Ons het twee Afrikaanse vertellings in die huis (iewers is ‘n derde, maar ek kon dit nie opspoor nie), en toe ons nie kon besluit watter een om te neem nie, toe kombineer ons die twee.
Klaradyn sal nou moet wegval met iets soos: Ek doen vir u die storie van die sandpadda soos oorvertel deur myself, my pa, Piet Grobler en nog iemand wie se naam ek nie nou onthou nie.
Dis oorspronklik ‘n Australiese storie uit die Aborigéne-kultuur wat van mededeelsaamheid en samewerking en omgewingsbewaring vertel. Ons, en Piet Grobler en ander, het die storie Afrika toe gebring:
Sandpadda is dors. Hy gaan toe na ‘n watergat om sy dors te les. Hy gloek-gloek en hy gloek-gloek en hy gloek-gloek. En hoe meer hy gloek-gloek, hoe groter word hy. Hy gloek-gloek so baie, dat hy die hele watergat leeg gloek-gloek.
Rooikat, Renoster en Ratel kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n rivierpoel. Hy shloep-shloep en hy shloep-shloep en hy shloep-shloep. En hoe meer hy shloep-shloep, hoe groter word hy. Hy shloep-shloep so baie, dat hy die hele klein vlei leeg shloep-shloep.
Die paddas, platannas en waterskilpaaie kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n meer. En jy kan raai wat toe gebeur? Hy shloep-gloek en hy shloep-gloek en hy shloep-gloek. En hoe meer hy shloep-gloek, hoe groter word hy. Hy shloep-gloek so baie, dat hy die hele meer leeg shloep-gloek.
Die tiervisse, palings en babers bons op die klipperige bodem rond. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig! Nie vir dors nie, maar om van te leef!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Riviere en mere en stroompies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Moerasse, damme en spruitjies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Sandpadda drink al die water op – totdat daar nêrens meer water oor is nie. Teen daardie tyd is hy so geweldig groot, dat die enigste plek waar hy kan gaan sit , op die kruin van ‘n groot berg is.
Die ander diere is baie kwaad.
“Ek sal hom krap met my naels,” sê Leeu, “as hy kwaak van die pyn, sal al die water uitstroom.”
Maar dit gebeur nie, al is Sandpadda nou enorm, is hy nog steeds rats, en hy duik met ‘n boog uit die pad van Leeu se krapperige kloue.
Verkleurmannetjie het ‘n vriendeliker plan: “Ek en Sandpadda is albei lief vir ‘n sappige vliegie te ete. Ek sal enetjie vang en voor sy bek rondswaai. As hy hap van die honger, sal die water uitstroom.”
Maar Sandpadda is knuppeldik. Hy is glad nie lus vir die kleinste ou happie nie, en Verkleurmannetjie moet die vliegie maar self opeet.
Krokodil se plan is slinks. “Ek sal ‘n verhaal vertel van duisende klein paddatjies wat deur ‘n kwaai krokodil opgevreet is. As hy huil van die hartseer, sal die water uitstroom.”
Maar dit alles help niks. Padda hoor niks. Hy kyk nie eers na krokodil nie.
“Ek sal hom regsien,” sê Kraai. “Ek sal hom beledig en verneder en sy naam beswadder. En as hy sy bek oopmaak om terug te skel, sal die water uitstroom.”
Kraai swets en laster, maar Sandpadda vind dit gewoon vervelig. Hy raak selfs aan die slaap.
Die palingsusters raak bekommerd. “As die modder heeltemal opdroog, sal ons doodgaan,” sê hulle. “Sandpadda kom drink gereeld by ons poele water – ons sal sy sake vir hom werk.”
Heen en weer seil die glibberige susters oor sy dikke lyf. Hulle glip en gly by sy maag op , om en om sy nek en woerts weer af by sy rug.
En dit is só kielierig. Eers rittel en wikkel hy, toe giggel en snork en proes hy – en toe hy dit glad nie meer kan hou nie, toe KWAAAAAK hy van die lag.
Die water spuit en stroom en spoel en skuim by sy keelgat uit.
So hard lag Sandpadda, en so sterk is die stroom water, dat hy sy bek nie weer toe kan kry nie voordat die laaste druppel nie ook uitgeloop het nie.
Die meer loop vol, die damme en riviere en spruite en strome loop weer vol. Daar is selfs ‘n paar druppels oor vir Sandpadda en die palingsusters se gunstelingpoel.
Die res van die diere is almal weer gelukkig en tevrede.
Net Sandpadda hop effe hartseer huis toe. Hy is weer klein en eintlik skaam dat hy so gulsig was. Hy waag dit nie weer om sy gesig voor die ander te wys nie.
En dit is hoekom, tot vandag toe nog, sandpaddas die hele dag in die sand wegkruip, en net snags in die water gaan speel en rinkink.

Die storie waarmee ons wegval, eindig met die padda wat met spiese raakgegooi word en dan hop hy seer weg huis toe. Daarvoor het ek nie kan gesien nie.
Die storie waarop die tweede helfte grotendeels berus, is meer getrou aan die oorspronklike waar die palings die padda laat lag. Sy begin was egter nie so patroonmatig (en gevolglik maklik om te memoriseer) nie.
Nou volg ons die een met dieselfde gedagte wat drie keer vertel word en het ons die uitdaging dat dit elke keer dieselfde moet klink. (Dis nou as die tannie sê die storie is reg.)
Na so ‘n literêre naweek is dit te verstane dat die kind ook literêr sal wil raak. En toe ek in ‘n stadium in die kamer kom, toe kry ek die volgende, wat my seker nog eendag in trane sal hê, op my bed aan:



Waar die Protea vandaan kom, weet ek nie. Annieka sê dis die oggend geteken. En toe vind sy dit die aand goed genoeg om ons woorde van die naweek te deel.

En toe gaan sy aan en skep haar eie gedig, uit my mond, aan haar. Dis haar eie vergelykings en gedagtes:



No comments: