Pages

5

Uit die argief:
Oor kolwyntjies ook, onder andere
In ons skool se dagboek was die pas afgelope naweek een van die enkele naweke in ‘n kwartaal waarna Pappa, Mamma en Klaars altoos reikhalsend uitgesien. Interhoër was op die Donderdag, en uitéindelik, sedert die begin kwartaal — ‘n naweek sonder enige skool. Nie atletiek nie, nie swem nie, nie koor, ‘n Valentynsbal, groentjiekonsert of een of ander ouervergadering met die nuwe ouers nie.
Woorde en frases soos Irene-mark, die Boeremark, dieretuin, vrot voor die TV en talle ander dinge wat jy nie kan doen as jy sopwaternatgereën saam met die skool 300 km van die huis af bedruip toesig doen op ‘n paviljoen nie, het al hier van Woensdag af positiewe vibrasies en klankgolwe deur die huis gestuur.
Vroulief negeer die bestaan van die goedkoop dooswyn in die yskas en kom Vrydag-agtermiddag hier aan met yskoue bottelwyn. Daar is DVD’s en springmielies, en ander soetgoed vir later.
Maar soos élke Vrydagaand van élke skoolkwartaal, as ons nie 300 km verder op 'n skooluitstappie is nie, gaan slaap Mamma en Pappa saam met Klaars en die hoenders. En staan ons wel iewers in die nag miskien op vir ‘n pie-pie (two passing ships in the night), wonder elkeen skuldig wanneer Klaradyn toe wel aan die slaap geraak het.
Saterdagoggend wonder ek en Annieka gelyk, gelukkig darem nie skuldig nie, hoe dit is dat die badkamerlig sommerso geblaas het.
Maar nee, niks met die gloeilamp te doen nie – die krag is af.
Nie dat dit in ons pad staan om Boeremark toe te gaan en gly-gly deur die modder, stalletjies, drentelaars, toeriste, nog modder, kopers en kraampies deur, pap en kaiings (vir Pappa) en wafels met room en stroop (vir die dames) in die plek van Pronutro of Wheatbix te ontbyt nie.
Tuisgekom, steeds geen krag.
Ek bel drie keer om die krag aan te meld maar teen die tyd dat ek my vingers stompies gedruk het aan nommers een tot vier (to direct my call to the appropriate desk), en ek toe moet luister na ‘n plaat wat vasgehaak het op all our operators are currently busy, pleece be a patient, your call is important to us, het ek lank genoeg siek gewees en het ek ook nie meer die tyd of die geduld om die gebrek aan krag by The City of Tshwane Metropolitan Municipality aan te meld nie.
Ek troos my daaraan dat die single available operateur so besig gehou word deur ander inkomende oproepe en aanmeldings, dat ons betrokke woonbuurt se kragteloosheid lankal aangeteken is.
En daar besluit ons om te doen, presies wat die ander honderd vier en veertig duisend huisgesinne wat saam met ons sonder krag sit, besluit om te doen:  Kom ons mall toe. Kom ons gaan fliek.
Sowat van ‘n verdringing, verdrukking én verdrinking (dit reën ou previously disadvantaged female citizens met knopkieries toe ons my die Mall opdaag) het ek in my dag des lewens nog nie aanskou nie.
Ek en Annieka verlang albei na vroeër die oggend se modderige skouers stamp en skuur by die Boeremark, iets wat ‘n ligte somersbriesie was in vergelyking met die orkaan wat verwoestend voort tornado in en om die Mall.
Groot stede soos New York beleef telkens nege maande na soortgelyke kraggebrekke en –gebreke ‘n skielike styging in die stad se geboortesyfer. Pretoria se stakende verpleegpersoneel kan maar ontspan, wonder hulle nege maande vêrder waarom daar skielik soveel beskikbare bedspasie in die kraamsale is, sal hulle dit kan toeskryf aan die toestroming, op kosmiese skaal, van mall-toe ganers en ander diverse mall-gangers die pas afgelope naweek.
Ten spyte van ‘n wêreldwye resessie het besighede in Pretoria hierdie naweek rekordverkope beleef wat selfs die beste Kersseisoen en einde-van-die-jaar-depresie diep in die skadu stel.
Maar maal en mall, sal ons maal en mall, fliek, sal ons fliek. Nie teen R15-00 per persoon, soos gewoonlik nie, maar teen ‘n volle R45-00. En dan is die Coke en springmielies en Jelly Tots nog nie bygereken nie!
Tuisgekom is die krag teen alle verwagting (maar na dese, eerder, soos verwag kan word) steeds af.
Hier teen vieruur, toe ek nét aan die slaap wil raak, gaan al wat lig is, skielik aan. Ek, dadelik helder wakker, begin ek maar lees. Vier paragrawe, want toe gaan die krag weer af. My vaak en moeg steeds met my, maar die slaap myle der myle weg op ‘n ander kontinent.
Om soortgelyke toue as vanoggend in die Mall te vermy, bel ons Ouma en Oupa al hier teen vyfuur:  “Kom julle saam met ons eet? Ons moet vroeg gaan, want daar gaan twee honderd agt en tagtig duisend mense wees.”
Maar nee, Ouma en Oupa se krag, vyf blokke van ons af, is al van vieruur af aan. Ons score ‘n ete by hulle en hoop vir die beste as ons lank na sononder terugry huis toe.
Verniet, die donker kolle in Pretoria se woonbuurte staan uit soos puisies op ‘n vark se rug as ons die pad aanvat.
Soos die noodlot dit wil hê, is ons steeds in die duister gelaat, terwyl inwoners twee blokke van ons af, anderkant die hoofpad, deurnag partytjie kan hou.
Met die intrapslag, by die verblindende ligstraal van ‘n vier jaar oue selfoon, gly ek amper my voortande uit op die plas water wat onder en om die ontdooide vrieskas opgedam het.
Daarom ook ‘n baie nukkerige pa wat minute later met ‘n Klaradyn sit wat nie in die donker wil gaan slaap nie. ‘n Kers of wat het ons darem al opgespoor, maar as ‘n kind wat groot geword het met “mens-gaan-slaap-nie-met-‘n-brandende-kerslig-nie — jou-oumagrootjie-se-jongste-sussie-se-huis-het-een-nag-tot-op-die-grond-afgebrand-van-‘n-brandende-kers-wat-hulle-aan-vergeet-het”, is daar nie ‘n manier dat ek ‘n kop op ‘n kussing lê of ‘n enkele oog toemaak by die flikker van ‘n kers nie.
Met die kers, in ‘n beker vol sand uit Klaradyn se sandput, in ‘n skottel vol water, op ‘n marmerblad, in die middel van die kamer, waar geen wind, deur die toe venster, die gordyn teen die vlam kan laat waai nie, lê ek toe nou vir die kers en kyk tot Klaradyn slaap. Stories kon ons ook nie lees nie; Pappa moes vertél, dit terwyl Mamma lankal al, reeds in diepe REM-slaap weggesink, sulke sagte troetelgeluidjies maak.
Nou maak die duiwel my wys dat inbrekers, soos diewe in die nag, ons donker kolle, met kriminele intensies waarvan ‘n mens later in die koerante lees, gaan kom verken. Die drie honde is hoeka meer gespanne soos snare as op Guy Fawkes of Oujaar, hulle gaan aan die blaf vir die geringste bosduif wat haar vlerke tussen die takke en blare regskuif.
Saggies is ek toe maar op en aan met die alarm.
“Wat maak Pappa?”
“Ek sit net die alarm aan my skat.”
“Is Pappa dan bang?”
“Nee! Slaap nou my lief.”
As ek, wat soos ure later voel, uiteindelik opstaan om die kers te smoor, hê Klaradyn my te vertelle dat ek die kers moet aan los “Pappa weet mos ek soek ‘n liggie aan as ek slaap.”
As dit nie was dat ek, omdat ek nie weet wie almal miskien eendag hier kan lees nie, doelbewus besluit het om nooit in my digitale dagboek te fok nie, het ek nou hier my fok van nou die aand toe die krag af was ge-fok.
Want daar is dit nog ‘n sessie van staar vir die kers terwyl ek wag vir die slaap om sag soos Eybers of Malherbe se manestrale oor my kind se oë te spoel (genaak?)
Wie eerste aan die slaap geraak het, ek of sy, weet ek nie. Maar hier teen twee-uur word ek wakker uit ‘n droom met brandende gordyne en mans met balaklawas, as die ligte om my skielik aangaan.
Nie net die badkamerlig, kamerlig, bedlig links en bedlig regs nie, ook elke denkbare lig af in die gang tot onder in die sitkamer.
Ek is deur die slaap op en af in die gang om nog vêrder te spaar aan al die krag wat ons nou al die afgelope vier en twintig uur gespaar het. Natuurlik – ook toe die alarm wat in die omgewing van die kombuis afgaan toe ek onder sy waaksame ogie instap. Die honde histeries. Klaradyn hollend en roepend na haar ma wat in die badkamer vasgemeer het. Die bure, en die bure se bure, se honde histeries.
Teen die tyd dat almal, met die uitsondering van die honde, weer semi rustig is, is die ligte ook weer af. Nie omdat ek dit afgesit het nie; die krag is lankal weer af en het nie kragtoevoer nie drie minute vyf en veertig sekondes geduur nie.
Gelukkig was die kers nog aan.
Nou hou die donker, die springerige gespanne blafferige honde, en die feit dat ADT my nie gebel het toe die alarm afgegaan het nie, my wakker, tot ek, miskien (ek weet nie verseker en kan nie meer onthou nie) weer aan die slaap geraak het.
Maar ek moes aan die slaap geraak het, want Sondag-oggend is die badkamerlig, illusive Scarlet Pimpernel wat hy was, wraggies weer aan. Die City of Tshwane Metropolitan Municipality moes hom gisternag op my rondtes van Vader Cloete namens my afgesit het, nog voor ek hom midde die alarm self kon afgesit het.
Nou het hulle hom darem gelukkig weer vir my aangesit en ons kan carpe diem:  Klaars se kleuterskool verjaar Dinsdag, ons moet twintig kolwyntjies vat, en nee, óns kóóp nié twintig cup cakes by Woollies nie, van waar Gehasi, ons bák twintig van die goed. self.
Maar ons het Maandag-middag kunsklas na skool, so ons bak Sondag en versier Maandag. Annieka, wat hoogstens opruimwerk doen as daar enige iets anders as koffie in die kombuis gemaak word, praat van “verskillende kleure”, en Klaradyn, benewens die twintig verjaarsdagkoek-kersies wat sy my laat koop het, het al Vrydag die versiersuiker se driehoek-sakkie en spuite in die gereedheidshouding geplaas.
Ouma Nooi, wat ‘n meester-koekversierder op haar dag was, is spesiaal vir die okkasie oorgenooi en na ons alles vir die kolwyntjies (behalwe die kolwyntjies self natuurlik) en nog meer, teen die dubbeld die prys van 20 ready made cup cakes by Woollies gekoop het, tel ons haar op.
Die morsdooie, totaal gevrekte, buite werking, stel robotte, die een na die ander, moes my seker daarop voorberei het, maar met ‘n Ouma in die kar wat ons in die laaste sewe minute nou al ses keer aangesê het om tog nie die kind se hare so in en oor haar oë te laat hang nie, het ek ander dinge op te konsentreer – ek moet Ouma en Kleinkind uit mekaar se hare hou, vóór ék en Ouma mekáár in die hare gryp.
Ja, dis reg, die krag is af.
Dis tienuur. Ons sou nou gestruktureerd  ge-cup cakes het.
Dis nog donders lank na middagete toe.
Ouma is op tagtig, en letterlik minus 40% van haar breinkapasiteit, soos ‘n vierjarige. Sy en die ander vierjarige gedra hulle soos twee driejariges.
Ek en Annieka het al na mekaar gebyt toe een van die honde met die intrapslag na Ouma Nooi se bene gehap het.
Klaradyn hop dood verveeld soos ‘n Jack in the box in die sitkamer rond.
My ma, Klaradyn se hare vir ‘n oomblik vergeet, vra elke twee minute vanuit haar hoek van die kryt: “Maar is daar nie iets wat ek vir julle ek kan doen nie?”
En nee, daar is nie. Daar is nie eers warm water vir skottelgoed was nie. Ons kan die kosmos-saadjies wat ek gekoop het gaan plant, maar liewer nie, dan loop my ma weer deur die tuin en tel die hondemis op.
Na die hap na mekaar in die kombuis, oor die hond se hap na my ma op die drumpel, is Annieka missing in action: sy ruim in stilte die huis op. Wat sy opruim weet ek nie. En vra gaan ek liewer ook nie. Ek sien haar net elke dan en wan met ongeïdentifiseerde voorwerpe in die hand verby my spoed.
Ekself gereduseer tot weerligafleier in die sitkamer waar my dierbare ma vir Klaradyn sê om tog nie haar pop se hare so te trek nie.
As daar dan nie gebak kan word nie, dan sal ons tekent en verf (en waar Klaradyn aan tekent in plaas van teken kom weet ek nie).
Ek rol ‘n vel papier so lank en breed soos ‘n huis se deur op die eetkamertafel oop. Ek maak Klaars lê op die papier en trek haar buitelyne af. Ons teken klere en dinge aan en op die lyfie en ek meng poeierverf teen ‘n ongekende tempo.
En daar verloor Klaradyn belangstelling. Enige belangstelling, alle belangstelling.
My ma, aan die ander kant, wat die gedoente net so gestaan en kyk het, staan belangstellend nader.
En daar maak ek die fout om my ma, kunssinnig wat sy steeds op ‘n kinds tagtig is, te laat verf wat Klaradyn nie wil verf nie.
Want toe wil Klaradyn natuurlik skielik verf en hulle trek tou oor die kwas.
Uiteindelik het elkeen ‘n kwas in die hand.
Maar nou wil my ma vir Klardyn wys hoe om te verf, terwyl Klaradyn haar Ouma wil leer hoe om te verf.
Annieka ruim nie meer op nie.
Sy lees koerant.
En ek weet ek het sopas al die opruimwerk in die eetkamer ongedaan gemaak.
Ek ruk die vel papier onder hulle uit en bring ‘n tweede in gereedheid.
VEELS GELUK, ALTEWYS KLEUTERSKOOL, 11 JAAR OUD, in groot hol vet letters, tekent ek toe maar ‘n verjaarsdagbanier, want cup cakes gaan hulle nie uit die Moolman-deel van die klas kry nie.
“Ma, verf Ma vir ons die VEELS,” (heel links, bo).
“Klaradyn, verf jy vir ons die OUD” (heel regs, heel onder, aan die ander kant en ander onderpunt van die tafel en banier).
Haai, en daar het ons ‘n heerlike aktiwiteit.
Eintlik hulle twee girls, die jongste en die oudste, want ek en Annieka versoen in die kombuis, ‘n rustige hond iewers by ons bene.
Maar daar is steeds nie krag nie, die yskas, sy inhoud en onmiddellike omgewing nou al oor die nasionale sender amptelik tot rampgebied verklaar.
Nie dat dit meer pla nie. Die vleis, aanvanklik vir die oond bedoel, gaan moet werk op die braaier, en oor ons kolwyntjies sou gebak het, is vooraf bereide slaaie reeds vroegdag en gerieflikheidshalwe aangekoop.
Toe dit blyk dat die banier klaar gaan wees voor middagete, spring ek ook in en nou verf ons dik buitelyne om elke letter. My ma natuurlik, na twee ure, nie ‘n millimeter buite die lyne, steeds baie deeglik, sorgvuldig en presies besig met die L van VEELS GELUK. Ek en Klaars, net mooi twaalf uur, besig met die finale afronding van die res.
Gekrummelde hoender-schnitzel, lui-huisvrou se ready-made slaaie en Vrydagaand se witwyn. Selfs poering ook, net so lui-huisvrou en só instant, jy koop dit trouens klaar aangemaak. (Niks se ge-from-the-kitchen-to-the-oven-to-the-table, soos van ouds se advertensie nie, maar from the shelf to the fridge to the table, just remove the lid and serve.)
En dan is dit mos hoe dit met kinders is, so vyandiggesind, krapperig en gramstorig soos hulle die één oomblik is, so liefdevol is hulle die vólgende. Klaars en Ouma saam in een bed vir die middagslapie. Ma en Pa versoen verder in ‘n ander.
Maar vieruur bel ek Tannie Marieta, ‘n vriendin. “Kan ons jou kombuis kom leen om cup cakes in te bak?”
Ja, steeds geen krag nie, en wat gemaak as daar more steeds nie krag is nie? Koop by Woollies is steeds geensins ‘n opsie nie. Nie vir hierdie pappa en sy Klaars nie.
Ons drop Ouma by die ouestehuis en bak en brou heerlik aan’t huise van Tannie Marieta.
By gebrek aan warm water tuis, vang die twee Moolman-vrouens elk selfs ‘n lekker bad by die dierbare vriendin, en ons arriveer, soos nou al te verwagte, in stikdonkerte net voor slaaptyd weer by die huis.
Ek het gelukkig, voor ons weg is, ‘n kers op die kombuistafel gereed gesit.
En dis ongelukkig presies wat ek gedoen het — ek het ‘n kers gereed gesit; nie vuurhoutjies ook nie.
Maar die donker is ons in elk geval nou al gewoond en Klaars gaan slaap selfs sonder die lig wat die vorige aand so ontsettend nodig was.
Hier teen half-tien word ek wakker, nie van ‘n enkele lig nie, nie eers die badkamerlig wat nou al agt en veertig uur die barometer van ons kragtoevoer is nie, maar van ‘n haardroër.
Klaradyn, lei ons af, moes seker deur die loop van die dag, op haar manier aan die haardroër getoets het of die krag nie al aan is nie, en die ding toe aan gelos het.
Die Kaap is weer Hollands, die saak is reg, die kind se naam is Wit Willem.
DVDV (Dank Vader Dis Vrydag) se voet — DVDM!
Maandag-oggend dan, gestort en geskeer in warm water, ry ek skool toe en dink dit was eintlik ‘n lékker naweek — met dié dat daar nie krag was nie, het ek die hele naweek nie ‘n enkelte steek skoolwerk-voorbereiding gedoen nie — ‘n swart bord het ek nie in my klas nie, aan die hand van ‘n rekenaar, en o tog so afhanklik van volts en ampere,  daarom al my werk vir die dataprojektor.
En daar dog ek eers die hoof maak ‘n grap toe hy tien oor sewe vir my vra of my preek reg is vir saalopening.
En daar dog die hoof eers ek maak ‘n grap toe ek, tien oor sewe en agt sekondes verder, laat blyk dat ek nie gesien het ek is verantwoordelik vir saalopening nie.
En saalopening se preek in die “Ou Ooste” van Prhôthôrija, is nie sommer soos enige saalopening se preek uit die jare sewentig van die vorige millennium aan die anderkant die spruit, oorkant die treinspoor nie. Ons dataprojektor in Powerpoint, google toepaslike beeldmateriaal en speel video clips met ‘n stigtelik-geestelike strekking.
Gelukkig daarom darem seker nie verniet dat ek die oggend skool toe gery het en in my gedagtes (gedagtig aan hoe afhanklik ons nie is van iets so vanselfsprekend soos elektrisiteit nie) ‘n parallel getrek het tussen die mens en God, en die Moolmans en Eskom, die pasafgelope naweek, nie.
Daar weet ek, tien minute en tien sekondes oor sewe,  presies wat ek wil sê – dít wat hele oggend nog op my hart druk.
Pleks hulle het my vroeër herinner, dan het ek ‘n skyfiereeks gemaak.
Ek weet selfs watter teksverse ek wil betrek en gelukkig is daar ‘n oud-Bybelkunde-onnie op die personeel wat my kan sê waar om elkeen van die teksverse op te spoor.
Dis vandag Woensdag gewees, en steeds loop onderwysers my of Annieka raak, en laat val wat ‘n aangrypende preek ek Maandag gelewer het. Selfs nuwe onnies wat die begin van die jaar by ons aangesluit het, waarvan ek die name nog nie eers ken nie.
Had hulle maar net geweet.
En die (nee, ek sal nie vloek nie.) cup cakes?
Hulle is feestelik in poeier-skakerings van babapienk, eiergeel, lugblou en sagte groen versier. Elkeen met ‘n bypassende kersie. En patroontjies uit 'n spuit. Weliswaar nie naastenby soos in Ouma Nooi se dae nie, maar selfs Bolywood sou ons dit nie kon nadoen nie.
Klaradyn het na koekie drie of vier alle belangstelling verloor en Pa gelaat met die res. Die ywer wat sy in die fisiese versier verloor het, het sy egter net so verplaas in ongekende ywer om die botter- en versiersuikermengsel met haar kale hande op te eet. En het ons Maandagaand (Maandagnag?) gesit met ‘n kind wat moet bed toe met ‘n akute sugar rush wat skrik vir niks.
Teen twaalfuur had ek die goed met hul kerse punt in die wind, darem so verpak in glad warp dat Ouma dit met gerief by die kleuterskool kan aflaai.
Net jammer die hele kaboedel donder toe gat oor kop toe ek dit in Annieka se kar staan wil maak. Maar dis ‘n lang en tegniese storie, en hou verband met die los plafon van ‘n Corsa se kattebak. Wat nie veronderstel om los te wees nie, maar vas. Maar ons laat dit daar.
Pa en die twintig kersies, toe een en twintig geknakte riete wat Dinsdag-oggend by Ouma stop. Ek kanselleer my sewe-uur-vergadering telefonies met almal in my departement en besig my met plastiese sjirurgie op twintig bedremmelde (en ek gaan dit nié sê nie) cup cakes.
Maar die Juffrou het laat weet: baie dankie, dit was baie lekker.
Had sy maar geweet!