Pages

3

Uit die argief:
Garages, paarties en garage-paarties
Ook net twee keer ‘n jaar, iewers in die winter- en dan weer in die somervakansie (soos vroeër vandeesmaand weer) dat ek die geleentheid het om een van my meer persoonlike en andersoortige lekkerste van lekkers te beleef: ek trek my en Annieka se karre terug in die motorhuis.
Ja, sommer net vanoggend was dit niks anders as simpel garage nie, maar nou, nege, tien ure later, is dit 'n motorhuis. Ek stink aan die sweet, maar die tires (want aan die karre kon ek in dieselfde tyd helaas niks doen nie) maak so ‘n skril wrywende skuurgeluid, kenmerkend aan motors wat in kliniese wit operasieteaters, met groen geverfde, of selfs geteëlde vloere, parkeer word.
En vir ‘n week, maksimum twee, kán ‘n mens maar van die vloer af eet, die boor op sy plek, die hark aan sy haak en die vier verlengkoorde netjies opgerol, kry.
‘n Maand later, moet dit wat jy ook al wil boor, hark of elektrifiseer, maar oorstaan tot ná die volgende somer- of wintervakansie, afhangende van watter een eerste kom, want dit opspoor in daardie hool van 'n garage gaan jy in die huidige millennium, sonder dat daar opgeruim is, waaragtig nie.
Dis ses jaar later, en die los geut is nog nie geheg nie, die stortdeur nie vervang nie, en die onderdeur wat swel van die reën, ook nog nie afgeskuur nie.
Aan die ander kant, die eerste wat ek gedoen het, destyds toe ons ingetrek het, was om kort duskant die 100 vierkante meter se rakoppervlakte in die motorhuis aan te bring.
En nóú sal dit beter wees as ons spesiale risikoversekering op die voertuie uitneem:  daar, in die dak, waar in ‘n vroeëre bedeling talle rugstringbiltonge gehang het, hang nou beddens, spieëls, matrasse, pramme (maak dit maar liewer prams, of beter nog stootwaentjies) en etlike ander motorbedreigende items wat lankal nie meer stáánplek kan vind op die etlike vierkante meters dennehoutrakke nie, maar aan draad en tou en tie-backs, tevrede moet wees met hángplek.
Ek gaar, Annieka gaar, Klaradyn gaar. Ék gaar in my kar. Annieka gaar in háár kar, Klaradyn in haar pram. En elke maand word, wát ook al úit die karre moet kom, om plek te maak vir wat ook al in die volgende maand ín die karre moet kom, tussen die vorige maande se motor-gaar, saam met die huishoudelike en ander gaar, gegaar.
Sesmaandeliks dan, word die sleepwa, tuinier, kruiwa en ma, rommelwa en pa (asook deesdae Klaars en haar plastiek-kruidenierstrollie) ingespan, om net weer vir die karre in die garage oornag-parkeerplek te maak.
Dis ‘n dag, ‘n volle dag (op góéie dae, ás ons gelukkig is) se werk.
Klaradyn ontdek soveel speelgoed, sy vermaak haarself met die herontdekte skatte in die trollie.
Annieka lees elke papiertjie, traktaatjie en pamflet van die vorige ses maande sorgvuldig deur; my hopies gaan onaangeraak vullishoop toe. (Wat ek in ses maande nie gemis het nie, gaan ek nie meer nodig kry nie, óf was ek lankal klaar in die moeilikheid oor — dit help nie ek spoor dit nou op nie). Ek en Petrus/James/Paul/Mathew, na gelang van watter Nuwe-Testamentiese figuur die ouers gekies het om in die herinnering te roep, pendel asgate toe en terug.
Lunch-tyd eet ons almal pies onder die lapa en skat elkeen stilweg hoeveel ure lê nog voor, hoeveel keer asgat toe en terug.
Laat-agtermiddag, vroegaand trek ek dan die karre in die dag se swoeg en sweet in, neem ‘n heimwee van my moeë liggaam en gees besit.
In vyf en twintig jaar het ek dit ook nog net een keer weer gedoen, en dít is ook al meer as vyftien jaar terug.
Waar is die dae wat ons Donderdagmiddae in ons blink jogger-pants ingespring en die garage opgeruim het, hom Vrydagmiddae versier het en daardie aand ge-garage-paartie het tot knap voor huis toe gaan tyd as die laaste gloeilampe uitgedraai is en ons close-dans op Heart (you’re driving me crazy… save your love for somebody new..)? Of enige een of ander slow moving ietsie wat in die vroeë tagtigs al kon deurgaan as ‘n golden oldy.
Trek ek dan nou, jare later, my kar in, brand ek elke keer om:
·         lakens en komberse met duimdrukkers voor die rakke vas te steek
·         die grassnyer, stukkende naaimasjiene en stoele uit te dra
·         crinkle paper om die fluoressent lig te draai
·         staanplek te maak vir die CD-speler (laat dit dan by gebrek aan naalde vir die platespeler wat al jare in  die studeerkamer stof vergaar, maar ‘n CD-speler wees) met elke denkbare compilation van die laat sewentiger-, vroeë-tagtigerjare)
·         tafels vir eet- en drinkgoed in die gereedheid te kry
In die kring waarin ek beweeg het, was die drinkgoed altyd (met slegs een uitsondering na) botteltjies Coke, Fanta en een of ander Sparletta. Daarom sal ek die hout koeldrank-kratjies wat ons onlangs aangeskaf het, opvul met kouedrank (weliswaar in plastiekbottels, en nie die glasbotteltjies van ouds, wat met soveel sorg opgepas is, sodat ons dit na die tyd kan gaan inruil vir ons deposit nie.
Eetgoed: 
·         Renown Weense worsies op peuselstokkies (Onthou iemand anders nog die advertensie oor Springbok-radio met hierdie frase in?
·         ‘n “Krimpvarkie”, met rooi, geel en groen cocktail uitjies, kasies, blokkies ham en gherkins, ingeryg op tandestokkies en “keurig” staangemaak in een of ander lemoen of omgedopte halwe spanspek of ding.
·         Baie tjips.
·         Geen gekoopte doopsous in ‘n pakkie of bakkie nie, nee, tamatiesous, chutney en mayonnaise gemeng met wat ook al daar in die huis is (en ‘n knippie Fondor)
·         Bakkies grondboontjies gemeng met rosyntjies.
Ek onthou wragtig niks soets nie.
In die tuin is daar draadstoele (wat in die grond wegsak as sy op jou skoot kom sit; maar vandag se dae sak ek, alleen, al in die grond weg nog voor Annieka nog net in my rigting kyk, of daaraan dink om op my skoot te kom sit).
In die bome is ‘n string blou en rooi en geel en groen ligte, ingeryg aan ‘n swart kragkabel. (In hierdie tyd en dae sal ons darem nie meer ‘n bekommerde pa hê wat hierdie ligte vinniger vervang en indraai, as wat ons hulle uitdraai nie.)
Die getroude couples wat ek nooi sal almal unisex kom – ons het hoërskool immers in die seventies getref.
Is dit winter, sal daar ‘n hele paar polo-nek-truie wees.
Ek het so goed gevoel in my swart hoë(-erige)hakskoene, swart kouse, swart broek en swart polo-nek. (Wat het geword van die silwerige The Saint-kettinkie wat Yvette, ‘n Desembervakansie-romanse, my een jaar gegee het? Hy het só mooi afgewys teen die swart.)
Vandag klink dit “tapid”.
Die vrouens sal hul sakke en dinge almal in Klaradyn se kamer gaan bêre.
Nogal jammer dat jy nêrens êrens meer ‘n geblokte Sarah Moon- geblokte poster sal kan opspoor nie.
Ons mans sal dit dertig jaar later (ek weet daar was seuns wat dit gedoen het, my nefie was een van hulle) seker nie meer nodig ag om ‘n sakdoek of twee, styf opgerol, gereed te hê om in jou dye te posisioneer vir wanneer die close plate begin speel nie. (Of sal ons nóú éérs?)
Om myself, vandag, hier, uit te laat oor die keuse van musiek, sal moeilikheid soek wees by elkeen wat ooit moontlik wel hier lees. ‘n Redelike mate van eenstemmigheid behoort daar egter te wees (maar dit hang ook af van die kring waarin jy beweeg het) rondom ABBA, hetsy nou vroeë-, middel- of laat-Abba.
Goeie, onskuldige dae was dit gewees, wat goeie, onskuldige herinneringe terugbring as jy jare later jou kar in die motorhuis trek.
Nie dat daar nie gesuip en gepaar ook is nie, daar ís.
Maar dit was by ander, wilde partytjies waarheen ons nie genooi is nie, waarheen ons nie gegaan het nie.
Die één beskonke seun op ‘n partytjie, wat ek onthou, ironies genoeg, was ‘n klasmaat, met die allesseggende bynaam van Voël, wat vallend dronk by ‘n matriek-klaspartytjie aan huis van ons registerjuffrou opgedaag het.
Ook net ‘n enkele matriek-partytjie (van die baie) waar ‘n groepie van die naïewe girls, naïef genoeg was om by die gasvrou se toe kamerdeur in te stap (om hul sakke en dinge te kry) en verleë, baie verleë, moes uitstap. (Die betrokke girl, haar ongebore kind en, miskien was hy die pa van haar ongehude kind, het al drie, voor sy vier maande klaar met matriek was, in ‘n motorongeluk, op pad heen iewers ver, omgekom.)
En as ek iemand was wat spesifieke goed vir my kind van ‘n Here afgebid het, sou dit wees, dat sy ook eendag, oor veertig jaar van nou, genot sal put uit eenvoudige dinge, soos om as gesin ‘n garage reg te pak; dat herinneringe aan gesonde, onskuldige pret, vyf en twintig jaar na matriek, ook haar hart met heimwee sal vul.
Hier waar ek haar vanaand, tussen die paragrawe deur, gaan in-tuck het, my verbeel het ek hoor haar roep, haar kamervenster aangedraai het, kan ek net hoop en vertrou, in liefde, dat die opvoeding wat ek Annieka haar bied, dit wel moontlik sal maak.
Die lewe, ‘n lewe; so propvol kosbaar, mooi en pret, kan só maklik breek.