Pages

7

Uit die argief:
Van klippies en kwassies
Vrouens het partykeers sulke goeterstes wat van buite bekyk vir 'n man net soos lipstiffie lyk.
Maar haal jy die doppie af, en draai jy die stertkant, dan kom daar nie rooisel uit nie, maar ‘n kwas.
En dan doen hulle seker iets daarmee as hulle stap om hulle “neuse te gaan poeier.”
Ek weet nie.
Annieka het nie so iets nie; my ma hét een gehad, maar hom nooit gebruik nie.
My pa, ‘n ywerige fotograaf, het ‘n soortgelyke sagte kwassie gehad waarmee hy stofdeeltjies van lense en ander fotografiese goeters gestof het. Maar dit was alles in sy donkerkamer toegesluit, en daar kon ek nie uitkom nie.
Daarom dat ek altyd na my ma-hulle se badkamer is, as ek iets fyn wou afstof. My ma se grimeerkwassie het die fotografiese kwassie geword waarmee ek die binnekante van ou radio’s, en wat ek ook al aan die in- en uitmekaarhaal was, mee af te stof. Tog te oulik.
My ma het die ding in elk geval ook nooit gebruik nie. So waarom sy en my pa so ontsteld was toe ek eendag weer daarmee gespeel het, kon ek nooit verstaan nie…
…tot een dag, donkiesjare later, en my pa lankal dood, toe my ma met die sak patats vorendag kom. Op die een of ander manier, die weë van jou ouers bly maar vir ‘n kind vreemd, het my ouers een of ander onwettige warm sluikhandel-swartmark-smokkeldiamant in die hande gekry. Iemand kon seker nie betaal nie, en het my pa met die diamant vergoed, ek sal nie weet nie. Feit bly staan, hulle het die diamant toe in die huis moes wegsteek, waar polieste en mense dit nie kon opspoor nie.
So kry die warm diamant toe rus- en afkoelplek binne die sagte hare van die betrokke grimeerkwassie wat ek van tyd tot uit die badkamerkassie gaan ruk om die Mecano se ratwerk en dinge sonder stoffies en dingeties, soos Pappa met sy kameras, te kry .
Dit was ook toe mooi die blink klippie se laaste bekende rusplek ook gewees, want klein Hansie speel met die kwassie, en daar raak die diamant soek. Tot vandag nog. Vermoedelik opgeslurp deur die stofsuier of uitgevee met 'n besem.
So sit ek toe ook dertig jaar later, hier vlak voor my en Annieka se troue, met ‘n diamant wat ek moet wegsteek,. Nee, dis geen witwarm smokkeldiamant nie; dood wettig. Ek het die waardasiesertifikaat en –papiere iewers in ‘n kas (sou ons die ding ooit weer opspoor.)
Wat Annieka betref is haar verloofring ook haar trouring. My ma sit egter met ‘n verloofring wat ‘n karbonkel in die middel het en vyf of sewe kleiner diamantjies rondom wat sy nooit dra nie. (Die trouring, op dieselfde styl, het ‘n nog groter karbonkel in die middel en ‘n hele eskader kleiner diamantjies rondom – hom dra sy weer.)
Hierdie verloofring bied sy my toe aan om ‘n trouring van te maak; die ou mense wat nie weet van groot word in die moderne tyd nie, glo mos daar moet ‘n verloof- én trouring wees.
Nou vir ‘n mammahen en ‘n rits kleintjies al om haar gerangskik, soos die ring aanvanklik daar uitsien, sien ek nie kans nie. Ek laat smelt die hen en haar kuikens (in die hoogste geheimhouding van Annieka) uit hul goue nes, maak ‘n lieflike pand van die kleintjies en bring die karbonkel huis toe.
Wat nou gemaak met die diamant? Kluis het ek nie, juwelekissie nog minder. Maar dan weet ek mos nou, van kleintyd se grimeerkwassie af, dat ‘n diamant ‘n ding is wat goed weggesteek moet word, so goed dat “geen kat of muis” (of huisbediende, of booswig) dit ooit kan opspoor nie.
En daar steek ek die ding weg.
So goed, dat, teen die tyd dat ek ‘n week of wat voor die troue, die troupand moet gaan optel, ek nie die vaagste benul meer het waar ek die ding weggesteek het nie.
Ek soek en ek soek en soek. Op ‘n ongewone plek, weet ek, sal dit wees, maar wáár, weet ek wragtig nie.
Ek soek en soek en soek op ongewone plekke: tussen die koffiepoeier, die gemengde kruie en die mosterdpoeier. In die yskas, agter die oond, in die broodrooster en selfs, gedagtig aan my ma se grimeerkwassie, in die luukse skeerkwas wat ek vir myself in Duitsland gekoop het. Daar is trouens nie ‘n kwas in die huis, of ek het nie daarin ook gesoek nie.
Maar die diamant is sommer baie weg.
So by so dat ek een aand tydens die groet by Annieka-hulle aan huis (ai, was daardie uitstap om afgesien/afgesoen te word, nie die lekkerste van lekker tye nie) moet openbaar:  “Annieka onthou dat ek jou iets vertel, eendag as ons tweetjies eers getroud is.”
“Nee, ek kan jou nie nou al sê nie, ons moet eers getroud wees, dan kan ek jou sê.”
Siestog, die stomme vrou en bride to be, wat moes nie alles deur haar gedagtes gegaan het nie!
(Ek dink onwillekeurig aan die jong bruidjie wat haar ma huilend op haar wittebrood bel: ‘Ma, Ma, Albertus het net een voet!” En die ma trek los met:  “Haai my kind, jy het mos niks om oor te kla nie, jou pa het skaars drie duim.”)
Aan die anderkant kan ek haar mos nou nie vertel dat ek vir haar ring laat maak het om haar te verras, en in die proses ‘n diamant verloor het nie.
En so staan ons ‘n week of wat later voor die kansel en grawe vir ringe.
Nee, die troupand, anders as die verloofring bo Kimberley se gat, was hierdie keer nie weer by die kroonjuwele nie!
En daar is Annieka so verbaas en oorbluf deur die ekstra pand wat ek op tower en aan haar vinger plak, dat ons nie my pand aan my vinger kan kry nie. Nie om die dood nie. Dit flits deur my gedagtes dat ek tog onmoontlik nie só gou, sóveel gewig kon aangesit het nie, en dit om my vingers nie!
Tot die dominee later ewe stoïsyns tot ons redding kom:  “Dis die regte vinger, maar aan die verkeerde hand.”
Tien jaar later hou Annieka steeds vol dis ek wat die verkeerde hand gegee het; ek staan by my interpretasie van die verleentheid - dis sy wat in haar verbasing oor die troupand, die verkeerde hand gevat het.
Maar die diamant?
Ek het op die wittebrood al met die sak patats vorendag gekom en bely dat ek nie die vaagste benul het waar die centre piece is nie.
Nee, dié moes nog vyf jaar wag, tot die dag van ons trek uit die destydse meenthuis uit, na ons huidige huis toe.
Ons dubbelbed, destyds ‘n koper hemelbed wat uit my ouerhuis kom, moet met sorg en omsigtigheid uitmekaar gehaal word. Ek neem dit op myself, eerder as om dit in die hande van die verhuisingsmanne te laat.
En toe ek die bedstyl in sy onderdele begin kry, kry ek ‘n vae herinnering dat ek eenkeer iets in een van sy pype weggesteek het.
Wát, weet ek nie. En miskien onthou ek verkeerd. Maar ek sien weer in my geestesoog hoe ek iets met vinger in die pyp opdruk.
Ek krap, en daar kom die diamant veilig in sy banksakkie uit een van die tientalle pype.
Vandaar is die ding agter ‘n fotoraampie gebêre (nogal ‘n trou- of verlowingsfoto).
Maar dié se glas het Klaradyn gebreek en die foto én raam het ek in geen jare gesien nie.
Straks weet Annieka waar of agter watter portret dit is.
Ek hoop so.
Want soos dit met kosbare troupande (troupante is voëls, nè?) gaan, vermoed ons hare het iewers geval en is dit waarskynlik, soos daai diamant van my kleintyd, aan die bek van ‘n stofsuier die ewigheid in.
Maar kom Pa se skip in, krap ons daai diamant uit, en Ma kry ‘n nuwe ring.
En of dit nou 'n kano, skuitjie of passasiersboot is, dit maak nie saak nie – Klaradyn sal die ring eendag kry. En ook nie met 'n ompad via die aanstaande nie – die ingenieur of doktor wat om haar hand gaan kom vra, sal moet pa-staan vir sy eie diamant.