Pages

31.7.11

En skielik is jy oud

In aansluiting by die vorige inskrywing waarin ek vertel het van my kindertydse bewuswording oor grootword en die uurglas wat loop, kan ek nie nalaat om twee skokke wat my in 2011 in hierdie verband getref het, te noem nie.

In 2001 kom dit met ompaaie en vanuit vreemde oorde tot my dat daar in 2002 reünie gehou gaan word.

Dat dit die matriekklas van 1982 is, wat 20 jaar later reünie hou, pla my geensins, ek is maar al te bly dat daar saamgetrek word. My generasie het mos grootgeword met die gedagte dat dit die hoofseuns en –dogters van die betrokke jaargroep se verantwoordelikheid is om die siele weer opgespoor en in een kraal te kry.

Maar 10 jaar en 1992 het gekom en gegaan sonder enige woord uit die rigting van ons hoofleiers.

En in 2001 het sommiges ook al lank genoeg gewag – hulle spring toe self in en sit oor afstand heen skouer aan die wiel om ons bymekaar te kry.

En wat 'n lekkerte!

Behalwe vir die enkeles wat saam met my op die PUK gaan studeer het, het ek 'n een en 'n elk vir die eerste keer sedert skooldae weer gesien.

Net so lekker, indien nie lekkerder nie, was die samekoms van ons standerd 3-klas wat in 1975 by Sonja Herholdt klas gekry het.

Die hele naweek was vir 'n baie positiewe ervaring. Ek het geensins oud gevoel nie, slegs volwasse, groot, in die fleur van my lewe.

En dit het nie gepla nie.

Wat gepla het, was 'n gewaarwording verlede naweek, toe ek weer op 'n 20-jaar reünie was.

Dit was my 1991-matrieks wat onder leiding van hul hoofdogter vir die tweede tienjaarlikse reünie bymekaar gekom het.

Ek woon geen ander reünies van oudleerlinge by nie, maar as ek op 97 nog in die lewe is, sal ek sorg dat ek by hierdie klasgroep se sestigjaar-reünie ook is. En is hoofdogter dan al oorlede en die res te sleg om die betrokke reünie te reël, dan kry ék die reünie self in plek, so lief is ek vir hierdie, en my 1990-klas, se matriekgroep.

Dit is seker met elke onderwyser so – die 1990-matriek was my eerste matriekklas, die 1991-matrieks weer die eerste outjies wat ek van standerd 8 tot in matriek onder my vlerk geneem het.

Ek was jonk, hulle was oud; dis vanselfsprekend dat daar na hulle matriekjaar sonderlinge vriendskappe gesluit is, wat vandag nog staan en verdiep.

Dis my babas, my kinders.

En toe tref dit my soos 'n uitklophou tussen die oë en in die maag:  my kinders, wat in my oë altyd my kinders sal bly, is vandag al so oud en gevestig, so groot en volwasse, so in (en ook al weer halfpad uit) hul fleur, as wat ek destyds in 2002 was, en gevoel het.

Dit kan nie wees nie.

En al voel ek nie 'n dag ouer as in 2002 nie, besef ek toe dat ek intussen oud moes geword het.

Dis soos om 'n mes in jou maag te kry, en die een wat daardie mes in jou gedruk het, wikkel daai mes, en draai hom rond.

Louter hel.

En dan is dit ook seker hoeka meer as 'n maand dat ek so vreeslik oud voel. (Miskien het ek al daarvan vertel – miskien het ek al van die reünie ook vertel, ek weet nie... ek kan nie onthou nie... ek word oud)

Sien, ek het 'n jong kollega in die Afrikaanse departement, 'n skrander meneer wat verlede jaar by ons aangesluit het. Maar dit was nie sy eerste jaar in die onderwyser nie, hy hét al elders skoolgehou, toe sy honneurs gedoen, en tóé eers by ons aangesluit. So 'n rou groentjie is hy geensins.

En eendag sit ons in die personeelkamer om 'n tafel en 'n koppie tee en gesels. Ek weet nie hoekom of hoe dit gekom het nie, maar my ouderdom kom ter sprake, en die volgende oomblik hoor ek dit: “Sjoe, jy is ouer as my ma en pa.”

Toe hulle my 'n halfuur of wat later met vlugsout weer bygekry het, laat val 'n ander beginnerkollega, wat verlede jaar vir 6 maande in my klas geproef het dat haar ouers en ek ook ewe oud is...

Ek kan dit steeds nie glo nie.

My skool- en universiteitsvriende se kinders begin nou matriek verlaat, die res is op hoërskool (en dan is daar 'n paar wat, soos ek, ook met enigstes of jongstes in die laerskool-gradeklasse sit).

En so erg soos dit vir my was, so erg soos dit vir my vir maklik 'n maand was, so het dié gewaarwording verlede week tot nietigheid gekrimp, toe ek 'n veel groter skok/mes/lem/dolk/vuishou/karateskop gekry het:  as my kind sou oud was soos my kollega, dan beteken dit ek sou, die jaar toe Klaradyn gebore is, 'n kind universiteit toe moes stuur.

Dalk 'n kind, wat soos my kollega, ook honneurs wil doen.

Ek kan my nie indink waar ek oor 12 jaar geld vandaan gaan kry om 'n kind universiteit toe te stuur nie – ek kan my geensins indink hoe ek 6 jaar gelede 'n kind universiteit toe sou kon stuur nie. Met geld wat waar was?

So ja, dat ek 'n ou man is, pla my geensins meer nie – so lank as wat jou gesondheid dit toelaat, is jy in elk geval net so oud soos jy besluit om te voel, wat my nou pla, is dat ek oud én sonder geld is.

En om sonder geld te wees, het my nog nooit gepla nie, maar om sonder geld vir my kind te wees, is wat pla.

Tog vertel die wat weet, dat ek my verniet bekommer, ouers vind glo weë en omweë.

Mog dit so wees en nie sommer net ouvroustories nie.


30.7.11

En skielik is jy groot

Ek het bewus geword van hoe vinnig, so sonder dat jy dit agterkom, die tyd verbygaan en jy groot word, die dag toe ek my eerste belydenisklas in 1983 bygewoon het.

Ons het Sondagskool in die kerk gehad, daar was nie klaskamers soos baie van deesdae se kerke het nie. Elke klas het twee rye banke gehad met 'n bank of wat oop voor die volgende klassie sit. Van links voor, die graad 1’s, tot agter en weer in die middel af tot voor, en dan weer van regs voor tot regs agter waar die laaste standerd 8-klas gesit het.

Al die standerd 9’s was op die galery, agter by die orrel.

En die groot kinders, die heel groot kinders, die standerd 10’s, het elke Sondag, van my eerste Sondag in 1971, met die gang afgestap en verdwyn waar die ouderlinge en diakens soggens uitgekom het.

Ek het geweet as jy die dag groot is, gaan jy deur daardie deure, iewers heen – maar waarheen het ek nie geweet nie. Waarheen het ek vir 11 jaar nie geweet nie.

Vir 11 jaar kon ek nie wag om in die belydenisklas (belydenis is iets wat jy doen as jy groot is) te kom nie – net om uiteindelik my nuuskierigheid oor waarheen daardie grotes verdwyn, bevredig te kry nie.

Dit was 'n antiklimaks, al die jare later, toe ek die eerste keer, uit-ein-de-lik, die geleentheid kry om by daardie deur, deur te beweeg – ons is met 'n trap op na so 'n pakkamer toe en daar was stoele waar ons graad 12’s vergader het. Daar het bokse met goeters, seker Bybels en Psalm en Gesangeboeke, rondgestaan, daar was nie juis vensters nie, en iewers was 'n trap (amper soos die van 'n windpomp of rugbyveld se spreilig) op na wat ek vermoed het die kerkklok moes gewees het.

Maar dit is 28 jaar later alles baie vaag en straks onthou ek verkeerd, verbeel ek my goed.

Wat ek egter onthou of dit gister was, is hoe ek nie kon glo dat ek so ongemerk, so sonder dat ek enigsins daarvan bewus was, so vinnig, so groot geword het nie.

Dit het soos die vorige Sondag gevoel wat ek die eerste keer in die kerk agtergebly het vir Sondagskool – daar was 'n algemene verwelkoming, die klasse is ingedeel, name is uitgeroep, en toe het die heel groot kinders met die gang af beweeg en deur daardie deur, waardeur ek nou net vroeër (maar 11 jaar later) beweeg het, verdwyn.

Dit was wonderlik. Dit was net so vreeslik as wat dit wonderlik was. Dit het my gegryp. Dit het my geruk.

En Dinsdagaand het ek weer iets daarvan beleef, en as ek nie weer iets daarvan beleef het nie, het ek ten minste weer daaraan gedink – nie dat ek aan grootword en tyd wat verbygaan en –vlieg dink, sonder om nie aan kindertydse belewenis in die Sondagskool te dink nie.

Die ateljee waar Klaradyn, graad 1, dramaklas neem, het ateljeekonsert gehou. Dit kom daarop neer dat elke groepklas  die groepitem wat hulle vir die kunswedstryd voorberei het, kom lewer. Elke kind kan dan ook 'n individuele wat hy of sy gereed het, lewer.

Die driekwartier voor  die konsert was hel – dit wat my gewoonlik 20 minute neem, neem toe in spitsverkeer 'n volle 45 minute en ons stap 'n volle minuut voor die konsert ‘n aanvang neem, daar in.

Die skool het Annieka die aand van ons gesteel en dis net ek en Klaradyn. Ek kan nie wag dat ons ons sit kan kry en ek vir ons die piekniekmandjie met vars brood en sop kan uitkry nie. Ek het selfs snytjies piesangbrood en warm vla in 'n fles vir nagereg.

Maar nee, ek had dit verkeerd, Klaradyn kondig aan dat sy en al die kleintjies heel voor, met hul neuse letterlik op die kerksaal se verhoog, moet gaan sit.

En dit is toe ook so – heel voor sit al die graad 0’e, 1’s en 2’s.

Die konsert het 18:00 begin en ons is iets voor 21:00 daar uit. Klaradyn se groepitem was so 2 minute, en ek weet nie of haar individuele gediggie 1 minuut was nie, so ek het baie tyd gehad om kind van heel agter in die saal (onthou ons was laat en het op nommer 199 daar ingestap gekom) dop te hou.

En vir 'n Pappa is dit lekker, sommer baie lekker.

Soos wat die aand se program verloop, het die kunstenaars natuurlik al hoe ouer, groter, vaardiger, beter, wonderliker geword.

Die algehele verwondering en vervoering van die graad 3’s se item. het net aangegroei en aangegroei tot dit klimaks bereik het in item 50 op die program – die senior klas se groepitem. Dis doodmoeg, maar laggend en met groot oë, dat sy na afloop van die konsert haar sitplek verlaat en na my gehardloop kom.

Ek het haar gedurende die groot kinders se item, nie net sien lag nie, maar ook hoor lag, en die eerste wat sy my, met groot bewondering vir die groot kinders, vertel, is hoe snaaks die een betrokke moment was.

Sy kon nie uitgepraat raak nie, soos 'n draaiorrel.

En ek weet sy voel oor daardie groepitem van die groot kinders, soos ek gevoel het oor die groot kinders wat by die geheime deur uitbeweeg het.

Ek wou hier teen 19:30 opstaan, Klaradyn kry, en huis toe gaan.

Ek wou. Maar ek kon nie. Niemand wat sy dogter, en haar genot van die aand, dopgehou het, sou dit regkry nie. En hoe later dit word, hoe meer het sy dit net geniet, hoe groter het haar mond oopgesak, tot haar onderkaak laterhand op haar knieë bly lê het.

Miskien is drama iets wat sy tot Graad 12 doen. Miskien is sy volgende jaar weer by die konsert. Haar belewenis sal nie veel anders wees nie.

En elke jaar sal sy wag vir die hoogtepunt – die groot kinders se items.

En eendag, kort voor lank, sal sy self een van die groot kinders wees wat die program vir die aand afsluit.

En miskien sal sy dan soos haar pa, op 'n ander manier aan die hand van 'n ander uurglas besef het, stilstaan en besef dat die tyd gevlieg het, en sy oornag groot geword het.

Wonderlik. Vreeslik. En verskriklik.

28.7.11

Droogtegety verby

Wat die datum is, weet ek nie. Wanneer laas ek geblog het, weet ek nog minder. (Ek klets my klets in die rekenaar se woordverwerkingsprogram en laai dit in blitsbesoeke aan die kuberruim, so ek kan ook nie nóú kyk om uit te vind wanneer laas ek iets gepos het nie – daarvoor moet ek eers die internet koppel.)

En presies wanneer laas ek geblog het, maak ook nie saak nie – vir een wat homself aanvanklik voorgeneem het om sy brein van Maandag tot Vrydag 'n tyd lank agter die sleutelbord in rat te hou, is en bly dit baie lank terug.

Gereelde lesers sal weet dis nie in my aard om sommer net stil te raak nie – ek praat partykeer twak, maar praat sal ek praat. Dis oor ek eintlik my grysstof gimnasium toe neem om te help keer dat dit wat nie moet roes nie, nie vasroes nie.

Vir my eie sieleheil skakel ek ook af agter die rekenaar – daarom ook dat ek nie kyk of ek tyd krý om 'n gesels aan te knoop nie, ek máák tyd.

So as daar die dag groot en langdurige droogte kom, is daar altyd 'n goeie rede voor: vakansie, vraestelle, die skool se jaarblad.

Verlede week het gemerk. Saterdag was reünie. Hierdie week was dit Klaradyn se kunswedstryd, Voortrekkers, Dramaklas, Kunsklas, Laerskole koorfeeste, rapporte, en ek het net regtig tyd om te vat en te blog nie, al wil ek hóé graag en al versink goedjies wat ek wou aanteken om te onthou midde die druk program vinnig in die vergetelheid.

Iemand wat ek nie ken nie, bel die vorige week en vra of ek 'n stemopname vir 'n kleuterskool, wat ek ook nie ken nie, sal kom maak. En wat sê ek? Ek sê ja.

Maar die goeie wat jy vir ander doen, kom na jou toe terug. Ek kry onverwags uit onverwagte oord 'n lieflike geskenk – ek moet  onthou om mooi dankie te sê. Maar dis twee dae later en nog geen kuiken het gepiep, wat nog te sê, 'n haan gekraai, nie.

Dis egter seker alles goeterstes waarvan 'n sesjarige geen benul het nie.

Vroeër die week noem sy dat sy Vrydag 'n brood moet skool toe neem – dis sop-en-brood-dag in die klas, en hulle is hoeka besig met winter as tema. Daar is ook 'n briefie in die verband.

Met Klaradyn weet 'n mens ook nooit nie – sy het ons al goed laat aanry skool toe, iets soos sop én brood, en dan hoor ons later dit was eintlik nét 'n boksie cup-a-soup gewees, vir die arbeiders; die kos het maar net te min vir Klaradyn geklink, toe besluit sy om ons uit haar eie op te kommandeer vir brood ook.

So die brood wat sy skool toe moet neem, interpreteer ek apokrief en met 'n knippie sout – en selfs as dit so is, het ek steeds jare se stof tot dankbaarheid – ek sou pa moes kon staan vir 'n pot sop!

En dit terwyl dit Vrydag die tweede belangrikste dag, die tweede besigste dag, in Annieka se werksjaar, in 'n skool se bestaansjaar is.

En toe doen my kind dit aan my.

Na ek gister donker by die huis gekom het, agter die rekenaar aan die slaap geval het en tot na 24:00 voorberei het aan 'n les wat ek vandag vir die eerste maal in my onderwysloopbaan moes aanbied, is ek agtermiddag 17:30 nog by die skool. Die selfoon se herinneringsnota wat my moet aanspoor om na die kassie langs die bed te stap en 'n cholesterolpil te drink, het in die klas afgegaan.

Oor ek nie selfoonopvangs in my klas het nie, kom ek eers in die motor, op pad huis toe, agter Annieka het 'n hele paar keer geskakel sonder dat ek daarvan bewus was.

Sy het selfs 'n boodskap gelos – iets wat sy sommer doen nie. Dis egter ook maar net 'n baie bekommerde, bel my baie dringend wat in my oor opklink.

Ek is bekommerd dat dit verband hou met die rapporte. Ek moes my klas se rapporte die vorige aand teken en van sinvolle boodskappies voorsien. Maar toe sit ek vas met die skool se weeklikse nuusbrief wat uitgelê en versorg moes word, toe met die nuwe les oor “kwellings, kwessies en ander sake” (my eie allitererende vertaling vir issues and causes) vir die graad8-dramaleerders. Tussendeur berei ek nog voor aan hierdie tweede grootste datum op die skooljaar se besige kalender.

00:30 val my oë toe – ek besluit om vanoggend nié by my ma te stop nie, maar 06:00 reguit deur te skiet skool toe en my skoolwerk klaar te maak – nóg iets wat net met die grootste uitsondering in die middel van die kwartaal, in die middel van die week gebeur.

Natuurlik vergeet ek heeltemal van die rapporte, hoor eers weer vanoggend daarvan, en toe ek die toetsperiode instap om dit te doen, toe is die rapporte nie waar nie... by die huis!

Wel, ek hoop die heel dag dis by die huis, want waar dit sal wees as dit nie daar is nie, kan ek nie weet nie.

So toe die boodskap opklink – toe vertel ek myself dis oor die rapporte – Annieka kry dit seker nergens nie.

Maar ek het die pot heeltemal mis gesit: Mamma laat weet, Klaradyn het laat weet dat sy wat Klaradyn is, vir Juffrou laat weet het dat ek, haar pappa, vir die klas 'n pot tamatiesop sal voorberei.

Vir 'n breukdeel van 'n sekonde wil ek iets oorkom, wil ek omdraai en ry en ry en ry tot die motor sonder petrol gaan staan, en more oggend, daar waar hy gaan staan het, kyk hoe die son opkom.

Maar toe ek die foon aflui, spoel daar 'n tevredenheid oor my, 'n trotse tevredenheid oor my, 'n geluksaligheid en 'n dankbaarheid.

My kind het gesê:  “My pappa sal vir ons sop maak (julle ander kan ontspan)”

My kind kón gesê het:  “Ag nee wat, julle – dit help nie ek vra my ouers nie – hulle sál nie vir ons sop maak nie; nie net oor hulle nie wíl nie, maar ook oor hulle te kak sleg is om dit te maak.”

Dan het ek haar mond met seep uitgespoel en met peper gegooi – dat sy kan leer om nie so lelik te praat nie.

Maar natuurlik, en gelukkig, is dit nie wat sy gesê het nie; sy het gesê:  “Mý pappa sal vir ons sop maak.”

Ek oorweeg Woolworths – maar Woolworths is duur. Ons het Dinsdag Woolworths sop gekoop oor ek sop konsert toe moes vat, maar ek met die rapporte doenig was, terwyl Annieka Klaradyn agter buitemuurs aangery het – ons mekaar vir 10 minute gesien het en ek toe met Klaradyn kunswedstrydkonsert is, en Annieka na 'n adjunkhoofverpligting van haar eie.

Ek oorweeg twee pakkies sop – dan maak ek dit melk aan in plaas van met water, dalk proe dit lekker.

Maar dalk proe dit nie lekker nie. En ek gee nie om wat die ander kinders en die juffrou van die sop dink nie, ek gee om wat my kind van die sop gedink – sý het vertroue in haar pa gestel; hy mag haar nie teleurstel nie.

Maar tamatiesop! Nou!

Ek besluit op hoender en sampioene.

Vir die eerste keer in die 10 jaar wat ek daar koop, het ons kruidenier nie hoenderfilette of ontbeende ietsies nie. Ek wil alles oornag in die prutpot gooi en daarvan vergeet – maar ek wil nie more oggend met karkas en bene sukkel nie.

So toe improviseer ek:

Twee gaar hoenders (dan kan ons hoendermayonaise-broodjies vir aandete eet)
Drie pakkies knopiesampioene
500 ml room
Regte egte Ina Paarman vloeibare hoenderekstrak

Op 'n manier sal ek dit na iets kan laat proe.

Klaradyn het fluks gehelp.

Vir drie minute.

En toe gaan bad.

Van oornag in die prutpot is daar met die gare hoender ook nou nie meer sprake nie.

Daarom dat ek nou hier tik – ek het die selfoon se afteltydhouer gestel vir 3 ure; ingeval ek aan die slaap raak.

Maar ek gee nie om nie, nou krý ek ten minste tyd om te blog.

19.7.11

Die mag van die ongewoonte

Ek weet nie of dit aandagspan, konsentrasiespan of geheue is nie, maar myne van een van hierdie drie word stof in die oë geskop deur 'n goudvis in 'n te klein visbakkie.

En as dit nie dit is nie, dan is dit die holrug geryde gedagte dat 'n man nie daartoe gebore in staat is om twee dinge tegelyk te doen nie.

Maar dit is beslis nie dit nie, ek kan met groot sukses die televisie se afstandbeheer met die hand beman, terwyl ek heel behendig met die ander hand die natterige, vetterige stukkies biltong uit die bruin kardoes opdiep.

Miskien is dit dan eerder 'n geval dat ek nie aan twee goed op dieselfde tyd kan dink nie, veral nie as die een van nietige aard is, en die ander een 'n oplossing op al Suid-Afrika se maatskaplike, politieke, en ekonomiese probleme is nie.

Sien, ek sukkel om goedjies wat na 'n ruk tweede natuur is, te onthou as my gedagtes op ander plekke is.

Dit was op skool al 'n probleem. Ek sal 60 sekondes weg van die voordeur en af in die straat wees, op pad na pelle toe, dan kan ek om die dood nie onthou of ek die deur gesluit het nie. Dan draai ek om en gaan maak seker.

Ek praat onder korreksie, maar ek kan nie onthou dat ek ooit een keer weer voor die voordeur te staan gekom het, en dat die deur wel nie toegesluit was nie.

Vir 35 jaar nou al, sonder uitsondering,  was die deur nog elke keer gesluit.

Maar ek is nie bereid om die risiko te loop om nie om te draai en te gaan bevestig nie – netnou het ek berou.

Ek het sopas onthou ek het vergeet om vanoggend die yskas wat ek afgeskakel het, weer aan te skakel.

Dié onthou tref my nou, toe ek terug dink aan hoeveel keer ek nie al terug moes gaan om agter te kom dat ek toe wel nie vergeet het om die stoof af te sit nie. Vir die langpad hou ek van warm melk in die koffiefles se boeretroos; ek het al twee tolhekke verder, teruggedraai om vir 'n koue stoofplaat te staan te kom.

Ons yskas, op sy beurt, het die hebbelikheid om te gaan stilstaan, al is hy aangeskakel. Maar skakel jy hom vir 7 minute af, dan loop hy klopdisselboom as jy hom weer aanskakel. Dit gebeur so 4 keer 'n jaar en vanoggend het ek my verbeel hy is weer in een van sy katatoniese stilstande.

Toe skakel ek hom af.

5 minute later skakel ek hom toe weer aan; dit was laat en  ek was haastig.

Maar dit was 5 en nie 7 minute nie; die gevolg is ek moes hom weer afskakel.

En toe vergeet ek om hom 2 minute later weer aan te skakel.

En onthou dit eers, oomblikke gelede, 9 uur en 45 minute later.

Myle van die huis en die yskas af.

Dit terwyl al vanoggend se haas my net minder spoed gekos het.

Op skool het ek dit vir myself maklik gemaak: gaan ek uit en sluit ek die deur, dan doen ek iets wat herinner aan my interpretasie van die All Blacks se haka.

'n Minuut of twee-drie, vyf of ses later, wonder ek of ek die deur gesluit het, dan wonder ek dadelik nie meer nie – ek weet ek het, want ek onthou die haka.

Of die bollemakiesie.

Of die klap wat ek myself gegee het – deur die gesig, of op die sitvlak.

Dit moes 'n vreemde gesig gewees het, destyds: 'n seun wat op 'n Saterdagoggend die woonstel se deur sluit, die sleutel om sy nek hang en dan 'n Middeleeuse St Vitus-dans uitvoer.

Of afbuk en die deurmatjie soen.

Deesdae, maande nou al, is dit nie die kombuisdeur nie, dis 'n ander vergeet wat homself as gewoonte kom vestig het:  ek is soggens 'n huis van ons huis af, en dan wonder ek oor die motorhuisdeur – het ek hom toegemaak, ek kan nie doelbewus onthou dat ek die afstandbeheer gedruk, of die groot houtdeure voor my sien toeskuif het nie.

Daar is drie fietse, 'n sleepwa, die grassnyer, hout- en ander handwerkgereedskap. Die honde kan uitkom. Ramp op ramp op terugslag op verlies...

Maar dis maklik om te hanteer – ek skakel oor in trurat en kry gemoedsrus sodra ek die immer geslote motorhuisdeure voor my in die skemerdonker gewaar.

Ander kere tref die onsekerheid my eers halfpad stopstraat toe.

Dan maak ek 'n u-draai, kyk en ry verby – met 'n ander roete en hoek-om dat ek dan die dag begin.

Dit verbouereer die ander drawwers of pendelaars vroegoggend saam met my op straat, maar wat kan ek doen.

Nou, wintermaande, gebeur dit een of twee keer 'n week dat ek met my motorligte in nommer 25 se hoofslaapkamer inskyn as ek brieke aanslaan en 180 grade draai.

Ek het al gewonder hoekom vergeet ek om te kyk of ek die deur toemaak, maar ek onthou klokslag en uit gewoonte nou al, dat ek wel vergeet het om te kyk.

Miskien hou dit verband met die ewe elektroniese hek wat dreig om agter 'n mens in jou motor se kattebak toe te maak, as jy nie gou maak nie, wat my so op my agterent laat konsentreer, dat ek die koppenent nie registreer nie.

Aan die ander kant is dit straks suiwer oor my gedagtes elders is.

En dis die verdere geneukery met die u-draai-omdraai (soos vanoggend weer): draai ek eers by nommer 45 om, het ek, teen die tyd dat ek by ons huis, nommer 13, kom, lankal my gedagtes op 'n ander plek en golflengte – dan ry ek verby sonder om te kyk of die ellendige deur toe is.

Dan is dit een van twee dinge:  óf nog 'n drie-punt u-draai, óf dan maar om die blok ry.

Nege uit tien kere ry ek dan maar om die blok.

En as jy wonder of die ondenkbare al gebeur het, dit het – ek het een oggend drie keer (streng gesproke vier keer) verby ons gewese tuindiensman gery. Gewese, want ek het die vorige maand kennis gegee en hierdie was die eerste week wat hy hier stop en slegs die bure se tuin, en nie ons s'n ook nie, kant en wal takel.

Die eerste keer toe ek omdraai, toe dog hy eers ek wil hom iets sê, en hy staan so ewe my kant toe, maar ek ry verby hom, én verby my huis.

Wat hy gedink het, toe ek oomblikke later weer van onder in die straat opgery kom, weet ek nie – ek het so gekonsentreer om nie oogkontak te maak nie, dat ek so waar as wragtig weer vergeet het om te kyk hoe lyk die deur!

Op daardie punt had ek niks om te verloor nie, toe maak ek maar 'n tweede u-draai vir die oggend, glimlag vir die tuinman en maak seker die deur is toe.

Natuurlik was die deur toe.

Hoe dan anders.

En mog ek nooit daar kom en die deur is nie toe nie, want dan, so waar as wat padda manel dra, raak ek paranoïes.

18.7.11

Uit 'n rooskleurige bloute


Immer dawerend, nimmer fluisterend, of soos ek al in Engels gehoor het, not with a whimper, but with a bang.

Dís die begin van ‘n nuwe kwartaal, of dit nou begin van die jaar, halfpad die jaar in (soos nou) of iewers tussenin is.

En teen 20 voor 7 het ek al my eerste fout gemaak!

Nee, nie eerste nie, tweede! Ek het ons kos by die huis gelos!

Enige dag wat jy moeite doen om kos vir by die werk voor te berei en jy vergeet dit, is erg, maar as dit die eerste dag van 'n nuwe kwartaal is, is dit tien maal erger. Jou liggaam is in 3 weke gewoond gemaak om te eet en te peusel. Oor Klaradyn moet ontbyt, het ons saam met haar ontbyt, middagete het ons almal iets genuttig. Dan is daar nog die ietsie te happe saam met die oggendtee en die agtermiddagkoffie.

Die gevolg is dat skielik net niks (as die skool weer begin) 'n ontsettende skok op die gestel is.

En toe stap ek 20 voor 7 by die skool se kombuis in om vir my koffie te maak.

En agter my vra 'n jong onbekende waar die kookwater is.

En ek dink hoe voorbarig studente darem nie deesdae is nie – in my dae het ons verleë buite gewag, in die kombuis sou jy jou voete nooit gesit het nie, en daar was selfs skole waar die studente nie eers in die personeelkamer toegelaat is nie, nie voor skool nie, ook nie gedurende pouses nie.

En hier is dit 'n uur voor die skool begin, die meeste onderwysers is nog nie eers hier nie, en hierdie jong studentjie maak al vir haarself koffie. Weet hulle nie van teefonds betaal en sulke dinge nie.

Ek antwoord kortaf en stap uit.

Ja, ek stap uit en wil skuldig voel – ek het die stomme student nie juis rede gegee om welkom te voel nie, ek kon darem bietjie hartliker oorgekom het.

Ek troos my daaraan dat sy darem al heel tuis voel vir 'n nuweling, sy hét immers ingestap en vir haarself kom koffie maak.

Tydens sy verwelkoming trakteer die hoof ons op sy nuutste insig:  dis eintlik nie geloof, hoop en liefde nie, maar geloof, hoop en liefdadigheid.

Ek dink weer aan die ou grompot wat ek 20 minute gelede in die kombuis was.

Toe verwelkom die hoof, na sy breë en algemene verwelkoming, in besonder die nuwe leerkrag, 'n oudleerling van 'n klompie jare gelede, wat vandag by ons aansluit in die wiskundeklas.

Dit is toe ook so, my student is toe al die tyd die nuwe onderwyseres.

En hoe meer ek na haar kyk, hoe meer besef ek sy is duidelik te oud om as jong student deur te gaan. Die geneuk is net die feit dat sy duidelik in haar gees nie 'n dag ouer as 'n eerstejaarstudent is nie, en ek kan sommer sien ek gaan van hierdie girl hou.

So pouse gaan soek ek haar toe maar op en bely my negatiewe gedagtes van vroegoggend. Ek doen ook my bes om haar welkom te laat voel.

Die ander rede, besef ek toe, waarom ek eintlik instinktief van hierdie vrou hou, is omdat sy my aan Antoinette Pienaar herinner. Die meeste mense vandag ken Antoinette Pienaar as 'n vrou in die Karoo wat met bossies dokter, maar ek onthou haar uit die dae toe sy nog gesing het.

Ek het een jaar drie keer in een week na die vrou gaan luister. Dit was in 'n baie klein gesellige teatertjie, Die Teaterhuisie.

Sy het my aand 2 al herken as die man van aand 1.

Aand 3 het sy benoud gelyk toe sy my weer sien – sy het seker gereken hier is 'n bewonderaar met 'n ongesonde bewondering, sy moet op haar pasoppens klim, want netnou kom hier 'n lelike ding.

Haai, en die volgende jaar toe sy weer in Pretoria kom optree, toe maak ek vir haar 'n vegetariese pastadis vir haar verjaarsdag.

(Ek het dan nou amptelik twee aan sprake tot roem waarop ek my kan beroep:  ek het vir Ockie Vermeulen skoolgehou, en vir Antoinette Pienaar pasta gemaak. Dis in elk geval meer as wat hulle kan sê, hulle het, onderskeidelik elkeen net een enkele claim to fame:  Hans Moolman het die een Afrikaans geleer, en die ander gevoed.)

***

Natuurlik is ek nie klaar gemerk nie – ek het amper, maar ek kon nie. Ek kan nie my vakansie sleg maak deur skoolwerk nie, terwyl ek skool en werk lekkerder maak deur my vakansie slegter te maak met merkwerk nie. Vakansie moet lekker wees. Werk moet sleg wees. Nie anders om nie.

So, ja, ek het nog 'n gesonde stapel opstelle.  Die enigste rede hoekom ek trouens nou hier kan sit en tik, is omdat dit voor die kommandokamers van Klaradyn se Voortrekkerkommando is en ek nie 'n rooi pen in die motor het nie. Was dit nie die geval nie en ek had 'n pen byderhand, het ek beslis gemerk.

Ek sóú natuurlik in die uur van die kunsklas gemerk het, maar toe SMS Annieka dat sy e-pos gekry het wat laat weet die kinders moet vanmiddag in uniform spankamers toe gaan.

Ag, ek was so bly, toe kon ek huis toe ry en het nie verplig gevoel om te merk nie/en het nie rede gehad om skuldig te voel omdat ek 'n uur lank niks sit en merk nie.

Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde; hoe meer die tyd aanstap, bly ons stil staan waar ons nog altyd was.

Maar dis juis daardie vertroudheid wat 'n nuwe kwartaal so lekker maak. Ek is 'n slaaf van roetine en patroon – daar is vir my dinge so lekker.

En ek het toe al die tyd nie die kos by die huis vergeet nie = ek het dit bloot nie kon vat nie omdat Annieka dit reeds geneem het. Toe ek pouse rasend by haar instorm, toe buk sy glimlaggend af en bring die pakkies te voorskyn.

Dinge begin in plek, in ou vertroude plekke, val.

Toe ek en Klaars by die kunsklas wegry, gaan stop ek dadelik by die vulstasie waar ek altyd tussen kuns en Voortrekkers stop.

Ek sluit Klaradyn, sig- nee spoegafstand van die kasregister af, toe in die motor, en gaan koop vir haar 'n Vanielje gegeurde melkie. Soos ek altyd doen.

En ek wonder toe of dit gaan doen. Maar my kind stel my nie teleur nie:  na haar eerste twee slukkies draai sy die prop op en skud die botteltjie dat die skuim so staan. Verbasend hoe vreeslik daardie vanielje-melkies skuim as jy hulle skud. As 'n mens dit skud soos Klaradyn hare altyd skud.

Ja, ook Klaradyn is iemand wat haar geborge voel in vertroudheid, patroon en roetine.

Die kwartaal het afgeskop, immer dawerend – en wat 'n lekkerte is dit nie!

Gister se einde-van-die-vakansie-blues, was nie regtig blues nie, so oor vandag s'n ook nie enigsins blues is nie, gaan ek dit met vrymoedigheid begin-van-die-kwartaal-bloutes noem.

As daar in die hogere lettere iets soos digterlike vryheid is, kan daar immers in die lagere geselsies iets soos dagboekhouerlike vryheid ook wees.

Begin-van-die-kwartaal-rosekleur miskien.

'n Rooskleurige bloute?

Einde-van-die-vakansie-blues


Ek wou, op aanbeveling van goeie vriende, iewers deur die loop van die vakansie 'n draai by die Maropeng-Wieg-van-die-Mensdom–museums maak.

Ek en Klaars het ge-Google en gekyk en met opwinding, afwagting gebou.

Maar toe ek uitwerk dit gaan R500-00 wees, en dan het ons nog nie daar gekom of nat of droog oor ons lippe gehad nie, was dit reeds te laat in die vakansie – ons het klaar geld op ander lekker uitgegee, hierdie lekker moet wag.

Dis jammer. Maar ook lekker, want nou het ons iets om na uit te sien.

Vandag is toe nou die laaste dag van die vakansie. En ons moet dit spesiaal maak.

Om 'n onderwyser-ouerpaar te wees, hou nadele in, maar hope wonderlike voordele ook: om saam met jou kind, om saam met jou ouers vakansie te kan hou, is seker die wonderlikste van almal.

Ek kan verstaan dat daar ouers is wat vakansies, dikwels spottenderwys, dikwels nie, om wens – dis dalk werkende ouers met kinders wat by die huis, oumas en oupas, sorgsentrums en somtyds sommer net op straat, rondhang. Of straks is dit mammas wat nie werk nie, vakansies daarom nie waardeer nie en reken die kinders se vakansies maak inbreuk op hul persoonlike tyd en ruimte.

Ek en Annieka kan vakansies egter behoorlik na waarde ag en is maar te dankbaar vir die heerlike Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd wat ons gegun word.

So, ja, die laaste dag moet aangegryp word met iets spesiaal wat gebeur.

09:30, toe die laaste slapende in die huis uiteindelik ontwaak, toe weet ek: Klaradyn wou die Nagmaal-Sondag voor die skool gesluit het, museum toe gaan. Vermoedelik die Transvaal-Museum wat jonk en oud deesdae onder 'n ander naam inlig, opvoed en vermaak.

Ons het gesê dat dit sommer bog is, ons kan wag tot die vakansie.

Sy het een of twee keer gevra, ek het verduidelik van die duur toegangskaartjies (dis darem Maropeng én die grotte – twee-in-een) en dit daar gelos.

Maar daar is mos meer as net een museum om te kan besoek.

Sy was al drie keer by die Transvaal-Museum. Sy sal dit weer en weer en weer geniet, maar voor ons nie ons verwysingsraamwerk met die ander museums uitgebrei het nie, sal 'n herbesoek maar moet wag.

Ek oorweeg die kunsmuseum – sy was baie klein toe ons laas daar was. Sy het dit destyds baie geniet, ons het stories gemaak oor die skilderye en beelde, die mense en dinge wat uitgebeeld word name gegee en in die geheel gesien, 'n baie lekker tyd gehad.

Miskien as ons terug kom, want ons gaan vandag na die Nasionale Kultuur Historiese Museum toe. Ek en Annieka was seker so 8 na 10 jaar gelede daar. My onthou is dat dit 'n museum met lieflike materiaal en verwysingsveld is, maar dat die uitstallings destyds nie vreeslik stimulerend was nie.

Straks sien dit vandag anders daar uit, die inhoud sal Klaradyn darem boei – dit vat nie veel om haar brein in hoogste versnelling en rat te kry nie. En as dit nie is wat ons hoop dit is nie, dan is besoek aan die kunsmuseum nog altyd daar om die dag op 'n hoogtepunt af te sluit.

Maar ek was verniet bang – Klaradyn het met die intrapslag begin oe en aa. Die antieke klei-artefakte, met die intrapslag, die rotsgravures van die San, net daarna, en eintlik sommer alles is met 'n gesonde sin vir verwondering ingedrink.

Ek weet van so drie of vier keer wat my ouers, later my ma, met my, of met my en 'n maatjie, van Alberton deurgekom het Pretoria toe, en dan was dit museumdag. Ander kere is ons weer Johannesburg toe!  Te heerlik. Vakansies was dit met Durban en Pietermaritzburg dieselfde.

Ek onthou egter nie 'n besoek aan die Kultuur-Historiese museum nie. En tog is dit die museum met meer as 5 000 000 items agter sy naam. Die mense praat van die Mummie-museum. As kind was ek egter beslis nie daar nie. (Toe moes die museum nog in die rigting van die Dieretuin of Marabastad gewees het, vandag is dit in die gebou van die ou tyronk wat toe later die SA-Munt, voor dit uitgeskuif het Johannesburg se kant toe, geword het.) Ek onthou ek en my ma en my beste maatjie, Riaan, het so laat as om en by standerd 8 nog so 'n Pretoria-besoek meegemaak. Ek onthou ons het daardie dag nie by alles uitgekom waar ons wou uitkom nie. Maar hoe sal ek nou weet waarop ons uitgemis het.

Maar miskien, net miskien, was dit die Kultuur-Historiese Museum.

Ek is van vermoede die mummie was 'n hoogtepunt.

Ons het knap voor die vakansie 'n lieflike internet-leerervaring rondom mummies gehad. Kliek gerus hier om na die BBC se spesifieke Geskiedenis-vir-Kinders-bladsy geneem te word. Toe neem ek die begin van die vakansie 'n dokumentêr oor Antieke Egipte uit en daarin word alles wat ons by die BBC geleer het, op 'n ander manier oorvertel en tuisgebring – ons volg selfs 'n eietydse mummifisering op 'n afgestorwene wat dit wat na sy dood oorgebly het vir navorsing rondom mummifisering geskenk het.

En toe, vandag, 'n regte egte mummie!

Ek onthou nog goed hoe opgewonde ek was toe ek my eerste mummies gesien het – dit was as groot man in die Britse Museum in Londen, maar nogtans.

Die huidige uitstallings is strate beter as wat ek van 10 jaar gelede onthou. Gemeet aan Europese museums is dit beslis nie kindervriendelik nie, maar gemeet aan die gemiddelde museum uit my kinderdae is dit van hoogstaande gehalte.

Daar is plek-plek tekens van agteruitgang, maar niks vergeleke met dit wat by die ou Transvaal Museum besig is om te gebeur nie. (Maar miskien het hulle begin opknap, ons was seker twee of drie jaar laas daar.)

Op pad terug het Klaradyn nog kans gesien vir Paul Kruger se huis, maar dit doen ons 'n volgende keer.

Na meer as twee ure tussen die kultuur-historiese items, het ons by die kunsmuseum ook verby gery en eerder gestop vir iets by Harrie se Pannekoeke.

Dit was 'n lekker dag.

Dit was 'n lekker vakansie.

NS:  Hoe ek kan onthou van 'n dag in Pretoria meer as 30 jaar gelede? My vriend, wat ek my nog al die jare verbeel net so oud soos ek is, was 'n jaar voor my in die skool. En hierdie dag het my ma heeltyd op hom gereken vir aanwysings en raad en inligting. Sy het hom ge-Boetie voor en ge-Boetie agter. En ek was natuurlik jaloers. Ons het in 'n stadium verdwaal ook.

Riaan, onthou jy? En onthou jy die "Boetie"?




17.7.11

Ouetehuisbesoek

Ons het gister met die onbekende agterpad tussen Potchefstroom en Klerksdorp gery. Ongelooflik dat ek in al hierdie jare nie bewus was van die bestaan van hierdie pad nie. Dit was grasgroen Bosveld, links en regs van die pad, en ook nie grasgroen nie, maar neongroen – die gras en stamme en takke en blare was alles verskillende skakerings van hierdie helder neongroen. 'n Opvallende helder neongroen soos mens net in storieboeke kry.
Ek was baie opgewonde oor die roete want die natuurskoon het my iets gegee om te skryf; ek het aan die kunsjuffrou en haar tweelingsussie, wat saam met ons in die motor was, genoem dat ek sommer gisteraand nog my gewaarwordings in 'n blog-inskrywing gaan verwoord.

Die pad wat ons gery het bring jou by Klerklsdorp-dam en die munisipale swembaddens uit. Ons het om die een of ander rede in en deur die swembad gestap en ek moes keer dat my trui nie nat word nie.

Uit by ontvangs, aan die linkerkant, het die damontspanningsoord se vervalle chalets gelê: murasies, ruïnes, 'n een elk, holoogskedels met die verbeelde vlerkgeklap van uile.

En toe word ek wakker. Want wat 'n lieflike droom was dit nie!

En nou skryf ek inderdaad, soos in my droom voorspel, van die mooi stuk pad wat ons gery het.

Omdat ek eerder oor my droom en dit wat in my onderbewussyn aangaan, skryf, as om te wil skryf oor dit wat ek gistermiddag met my bewussyn beleef het:

Ek kom midoggend by my ma aan, nie douvoordag soos die gebruik is nie want ek wil die apteek betaal.

Sy en vier ander tannies word soggens nie in hul kamers aangehou nie, maar sit gemaak in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis.

Ek sien oor 'n afstand my ma is nie lekker nie en my ore tel op hoe sy gefrustreerd en na aan trane hulp van die tannie links van haar smeek.

Eenkant by 'n tafel sit 5 oppassers/verpleegpersoneel/assistente en kuier, en gesels, en selfone gebruik. Maar ek vermoed hulle is, in elk geval vir die uur wat ek toe daar sit, op tee (of sloerstaking) want hulle verpleeg, assisteer op pas geensins op nie.

My ma is bly om my te sien, en val my dadelik lastig met dit waarmee sy die tannie langs haar konfronteer het.

Sy soek hulp met die tafels. Wat presies dit is, kan sy nie verwoord nie, haar frustrasievlak en ongeduld is ongelukkig reeds te hoog gejaag.

Maar gaan sit jy langs my ma en kyk na die toneel waarna sy dagin en daguit moet kyk, die tafel en opgestapelde plastiekstoele, en ken jy my ma soos haar kinders haar ken, sal jy dadelik weet wat pla: daar is drie tafeldoeke oor die tafel en die een wil skewer afhang as die ander, die tafel homself staan skeef, die plastiek tafelblommerangskikkinkie kort drie jaar lank al aandag en is nie gesentreer nie, én die plastiekstoele is opgestapel en nie by die tafel staangemaak nie.

Iemand anders sal dit nie raaksien nie, maar konfronteer nou 'n presiese mens soos my ma met so 'n tafereel, dan jeuk sy binne minute om dit reg te stel en uit te sorteer soos haar estetiese kop en oog dikteer.

Die gejeuk sit gou om in 'n gekrap, en twee, drie ure later (hoe lank sit sy nou al daar? sit sy elke dag daar) is sy een bol magtelose frustrasie. Magtelose frustrasie omdat sy nie meer oor die taal beskik om haar gevoelens te verwoord nie, en mateloos gefrustreerd omdat sy verlam is.

Sy is in 'n rolstoel oor hulle die gebruik had om haar 05:00 soggens daar sit te maak vir die dag, alleen. En met 'n mank been het sy toe vergeet van die mankte in die been en een oggend op probeer staan, geval en haar heup gebreek. Sy het gebulk soos 'n bees toe die oppassers/verpleegpersoneel/assistente by haar kom, maar dit was te laat – sy het nog nooit weer geloop nie, en sal nooit weer loop nie.

Ek sê ook nou sy was die oggend alleen in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis, maar dis maar wat hulle my vertel het – vir al wat ek weet was daar, soos vandag, ses mense saam met haar, eenkant, besig met 'n teetyd/gesels/kuier/telefoonoproepe/sloerstaak of wat ook al.

In die tyd wat ek by my ma sit, sukkel 'n ander tannie goed 40 minute om haar skoene aan te kry. Maar hulle reken seker dit hou die ou vrou besig want hulle laat haar so. Ek het dit vir haar aangetrek toe ek loop. Miskien het sy dit dadelik weer uitgetrek.

Hulle gaan my ma elke dag, tot en met haar dood (uitgesluit die dae wat sy siek of in die hospitaal is) op daardie selfde plek, in daardie selfde stoel sit maak. En bykans elke dag sal die tafel haar frustreer, sal sy die stoele wil instoot, die ruiker wil regruk en die tafeldoeke haaks probeer kry.

Ek sê bykans elke dag, want dis nie die eerste keer dat ek oordag by my ma aankom waar sy sit nie – dit het al gebeur dat ek daar kom, dan vertel sy hoe mooi die tafel is, dan staan die stoele soos soldate ingestoot.

Maar nege uit die tien kere wat ek daar kom, dan soek sy, soos gister weer, my hulp sodat sy die prentjie mooi kan afrond en -werk.

En tien uit die tien kere wat helder oordag daar aankom, dan sit die versorgers/oppassers/assisitente/verpleërs wat betaal word om daar te sit, daar.

Ek probeer my ma se aandag weglei en gaan haal 'n eetdingetjie uit die kas, waar ek dit toe- en weggesluit hou.

Ek tel 15 leë hangers in haar kas. Sy is presies 'n jaar in die kamer. Kom ons gestel die klere wat sy aan het, kom van 2 hangers af. Is die ander 13 hangers se klere alles in die was?

Toe ek my ma verlede jaar uit die vorige kamer, waar ek haar drie jaar vroeër ingetrek het, uitgetrek het, was dit net so opvallend hoeveel leë klerehangers daar was, iets in die 30, naby 40.

Dit klink na baie, maar my ma het haar eie rokkewinkel gehad, klere was haar lewe.

Wat word van die klere? Wat het geword van die klere?

Ek kan aangaan, uitbrei. Maar ek sal nie.

Net die vroeër  die week skryf ek in 'n bloginskrywing oor die vakansie, 'n gesels wat ek aangeknoop maar nooit voltooi of gepos het nie die volgende:

Ek het soggens vroeg gemerk, 'n uur of wat van 03:00 of 04:00 af, en dan oudergewoonte 06:00 se kant gery om 'n draai by die ouetehuis te gaan maak.

Dis belaglik, ek weet, maar waar die werk my ander kere daarvan weerhou om 10:00 besoek af te lê, weerhou die huis en die gesin en die lekker van 'n vakansie my nou daarvan om soggens of smiddags in te loer.

Die eintlike rede is dat dit bloot lekkerder vir ons altwee is om vroegoggend te kuier – sy is dan alleen in haar kamer en nie in die sitkamer tussen die ander oues van dae nie.

Ja, ek kan dat hulle haar bloot in die rolstoel te en met haar kamer toe gaan, maar is dit goed of lekker vir 'n oumensliggaam om so baie rondgedra en opgelig te word.

Soggens het ons ons eie ritueel:  gordyne, musiek, sjokolade, parfuumpie, prente ruil teen die muur, gesels, iets om te lees (deur te blaai) as ek groet.

Dis baie lekkerder as om ten aanskoue van die vloer se ooms en tannies te moet kuier, as om die verpleegpersoneel te kry om haar te lig.

So nie suiwer in eie en die gesin se belang dat ek vakansies steeds in die gewone voorskoolroetine bly nie, dis die goeie belang van ons twee se kuiertjie wat voorop staan.

En nou weet ek waarom ek die inskrywing nie voltooi het nie, waarom ek dit nie kon pos nie:  ek het gelieg.

Ek het vergeet, versuim om te sê, die eintlike rede hoekom ek dit verkies om soggens vroeg by die dierbare ou vrou te kuier, is die feit dat ek soggens nie konfronteer word met die klas van versorging en behandeling waaraan die verswakte oues van dae soms uitgelewer word nie.

Soggens om 06:30 kan ek daar uitstap en myself verbeel dit gaan goed met my ma, sy is gelukkig.

Stap ek soggens later of laat agtermiddag daar uit, dan is dit elke keer met kommer en frustrasie in my binneste.

Gelukkig vergeet sy gou. Vanmiddag het sy vanoggend se frustrasie en trane vergeet. Vanmiddag sorg vir sy eie trane en frustrasie. Wat sy vanaand gelukkig weer vergeet het.

Eintlik draai ek 'n rat voor my eie oë.

Maar ek verkies ons vroegoggend-kuiertjies.