Immer dawerend, nimmer fluisterend, of soos ek al in Engels
gehoor het, not with a whimper, but with a bang.
Dís die begin van ‘n nuwe kwartaal, of dit nou begin van die
jaar, halfpad die jaar in (soos nou) of iewers tussenin is.
En teen 20 voor 7 het ek al my eerste fout gemaak!
Nee, nie eerste nie, tweede! Ek het ons kos by die huis
gelos!
Enige dag wat jy moeite doen om kos vir by die werk voor te
berei en jy vergeet dit, is erg, maar as dit die eerste dag van 'n nuwe
kwartaal is, is dit tien maal erger. Jou liggaam is in 3 weke gewoond gemaak om
te eet en te peusel. Oor Klaradyn moet ontbyt, het ons saam met haar ontbyt,
middagete het ons almal iets genuttig. Dan is daar nog die ietsie te happe saam
met die oggendtee en die agtermiddagkoffie.
Die gevolg is dat skielik
net niks (as die skool weer begin) 'n ontsettende skok op die gestel is.
En toe stap ek 20 voor 7 by die skool se kombuis in om vir
my koffie te maak.
En agter my vra 'n jong onbekende waar die kookwater is.
En ek dink hoe voorbarig studente darem nie deesdae is nie –
in my dae het ons verleë buite gewag, in die kombuis sou jy jou voete nooit gesit
het nie, en daar was selfs skole waar die studente nie eers in die personeelkamer
toegelaat is nie, nie voor skool nie, ook nie gedurende pouses nie.
En hier is dit 'n uur voor die skool begin, die meeste
onderwysers is nog nie eers hier nie, en hierdie jong studentjie maak al vir
haarself koffie. Weet hulle nie van teefonds betaal en sulke dinge nie.
Ek antwoord kortaf en stap uit.
Ja, ek stap uit en wil skuldig voel – ek het die stomme
student nie juis rede gegee om welkom te voel nie, ek kon darem bietjie
hartliker oorgekom het.
Ek troos my daaraan dat sy darem al heel tuis voel vir 'n nuweling,
sy hét
immers ingestap en vir haarself kom koffie maak.
Tydens sy verwelkoming trakteer die hoof ons op sy nuutste
insig: dis eintlik nie geloof, hoop en
liefde nie, maar geloof, hoop en liefdadigheid.
Ek dink weer aan die ou grompot wat ek 20 minute gelede in
die kombuis was.
Toe verwelkom die hoof, na sy breë en algemene verwelkoming,
in besonder die nuwe leerkrag, 'n oudleerling van 'n klompie jare gelede, wat
vandag by ons aansluit in die wiskundeklas.
Dit is toe ook so, my student is toe al die tyd die nuwe
onderwyseres.
En hoe meer ek na haar kyk, hoe meer besef ek sy is duidelik
te oud om as jong student deur te gaan. Die geneuk is net die feit dat sy
duidelik in haar gees nie 'n dag ouer as 'n eerstejaarstudent is nie, en ek kan
sommer sien ek gaan van hierdie girl hou.
So pouse gaan soek ek haar toe maar op en bely my negatiewe
gedagtes van vroegoggend. Ek doen ook my bes om haar welkom te laat voel.
Die ander rede, besef ek toe, waarom ek eintlik instinktief
van hierdie vrou hou, is omdat sy my aan Antoinette Pienaar herinner. Die
meeste mense vandag ken Antoinette Pienaar as 'n vrou in die Karoo wat met
bossies dokter, maar ek onthou haar uit die dae toe sy nog gesing het.
Ek het een jaar drie keer in een week na die vrou gaan
luister. Dit was in 'n baie klein gesellige teatertjie, Die Teaterhuisie.
Sy het my aand 2 al herken as die man van aand 1.
Aand 3 het sy benoud gelyk toe sy my weer sien – sy het
seker gereken hier is 'n bewonderaar met 'n ongesonde bewondering, sy moet op
haar pasoppens klim, want netnou kom hier 'n lelike ding.
Haai, en die volgende jaar toe sy weer in Pretoria kom
optree, toe maak ek vir haar 'n vegetariese pastadis vir haar verjaarsdag.
(Ek het dan nou amptelik twee aan sprake tot roem waarop ek
my kan beroep: ek het vir Ockie
Vermeulen skoolgehou, en vir Antoinette Pienaar pasta gemaak. Dis in elk geval meer
as wat hulle kan sê, hulle het, onderskeidelik elkeen net een enkele claim to fame: Hans Moolman het die een Afrikaans geleer, en
die ander gevoed.)
***
Natuurlik is ek nie klaar gemerk nie – ek het amper, maar ek
kon nie. Ek kan nie my vakansie sleg maak deur skoolwerk nie, terwyl ek skool
en werk lekkerder maak deur my vakansie slegter te maak met merkwerk nie.
Vakansie moet lekker wees. Werk moet sleg wees. Nie anders om nie.
So, ja, ek het nog 'n gesonde stapel opstelle. Die enigste rede hoekom ek trouens nou hier kan
sit en tik, is omdat dit voor die kommandokamers van Klaradyn se Voortrekkerkommando
is en ek nie 'n rooi pen in die motor het nie. Was dit nie die geval nie en ek
had 'n pen byderhand, het ek beslis gemerk.
Ek sóú natuurlik in die uur van die kunsklas gemerk het, maar
toe SMS Annieka dat sy e-pos gekry het wat laat weet die kinders moet vanmiddag
in uniform spankamers toe gaan.
Ag, ek was so bly, toe kon ek huis toe ry en het nie verplig
gevoel om te merk nie/en het nie rede gehad om skuldig te voel omdat ek 'n uur
lank niks sit en merk nie.
Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde; hoe
meer die tyd aanstap, bly ons stil staan waar ons nog altyd was.
Maar dis juis daardie vertroudheid wat 'n nuwe kwartaal so
lekker maak. Ek is 'n slaaf van roetine en patroon – daar is vir my dinge so
lekker.
En ek het toe al die tyd nie die kos by die huis vergeet nie
= ek het dit bloot nie kon vat nie omdat Annieka dit reeds geneem het. Toe ek
pouse rasend by haar instorm, toe buk sy glimlaggend af en bring die pakkies te
voorskyn.
Dinge begin in plek, in ou vertroude plekke, val.
Toe ek en Klaars by die kunsklas wegry, gaan stop ek dadelik
by die vulstasie waar ek altyd tussen kuns en Voortrekkers stop.
Ek sluit Klaradyn, sig- nee spoegafstand van die kasregister
af, toe in die motor, en gaan koop vir haar 'n Vanielje gegeurde melkie. Soos
ek altyd doen.
En ek wonder toe of dit gaan doen. Maar my kind stel my nie
teleur nie: na haar eerste twee slukkies
draai sy die prop op en skud die botteltjie dat die skuim so staan. Verbasend hoe
vreeslik daardie vanielje-melkies skuim as jy hulle skud. As 'n mens dit skud soos
Klaradyn hare altyd skud.
Ja, ook Klaradyn is iemand wat haar geborge voel in
vertroudheid, patroon en roetine.
Die kwartaal het afgeskop, immer dawerend – en wat 'n lekkerte
is dit nie!
Gister se einde-van-die-vakansie-blues,
was nie regtig blues nie, so oor vandag s'n ook nie enigsins blues is nie, gaan ek dit met
vrymoedigheid begin-van-die-kwartaal-bloutes
noem.
As daar in die hogere lettere iets soos digterlike vryheid is, kan daar immers in die lagere geselsies iets
soos dagboekhouerlike vryheid ook
wees.
Begin-van-die-kwartaal-rosekleur
miskien.
'n Rooskleurige
bloute?
No comments:
Post a Comment