Pages

31.5.11

Kilimandjaro en die Middellandse see

“Tussen my en jou, lê daar 'n berg... Tafelberg”

Wie dit sing, weet ek nie, maar dit is beslis 'n liedjie – ek het dit al gehoor.

Vriende van ons hou skool by 'n skool waar die hoof onder die wanindruk is dat skoolhou nog is wat dit 30 jaar terug was toe hy nog skoolgehou het, net voor destyds hoof geword het. Een oggend, na hy weer gepieker en gepredik het oor praktyke wat meer as twee dekades gelede al nie die toets van die tyd deurstaan het nie, laat hoor 'n juffrou mismoedig van haar: “Tussen my en jou, Meneer,” en toe sing sy dit hardop verder, “lê daar 'n berg, Tafelberg.”

Vandag wou ek dit sing, hét dit trouens deur my gedagtes gemaal. Nie in die personeelkamer en vir my hoof nie; in die klas – vir die kinders!

Tussen my en julle, lê daar 'n berg, hoër as Tafelberg, langer as Drakens- en breër as die Lebombo-berge.

Dis verskriklik. Maar dis waar.

Dit voel nie altyd so nie, maar dit is.

Ek en die kinders leef in twee totaal verskillende wêrelde, en nie berge nie, maar oseane wat ons skei.

Gelukkig word ons nie elke dag daaraan herinner nie.

Vandag was egter een van daardie dae dat ek dit opnuut besef het.

Die graad 10’s skryf more letterkundevraestel, so op die eerste dag van die eksamen wat in die middel van die week begin.

Wat die letterkundevraestel betref, stel ek die leerders van graad 10 af al aan keuses bloot, dan is dit niks vreemds of iets wat hulle onkant betrap, kom hulle die dag in graad 12 nie.

Hulle het seker so 8 gedigte om voor te berei, 8 waaruit ek 4 gekies het en hulle op die ou einde net 2 van hoef te doen.

Nou ken ek 'n kind (of so het ek gedink) en weet dat hulle slegs die gedigte gaan leer wat hulle weet ek van hou, en die res gaan hulle ignoreer.

Ja, ek is in baie opsigte 'n slegte onderwyser – ek kan nie wegsteek as ek meer van 'n spesifieke gedig as ‘n ander hou nie, ek kan nog minder 'n geheim daarvan maak as 'n betrokke gedig my nie rasend van opgewondenheid laat nie – so hulle weet, hulle weet goed.

Die gevolg is dat drie van die vier behandelde gedigte wat ek in die vraestel ingesluit het, die drie gedigte met die minste om die lyf is.

En ek doen dit vir net een rede – ek wil nie hê hulle moet in matriek met 'n tiental gedigte konfronteer word, en dan leer hulle net die helfte in die hoop en vertroue dat húl keuse in die vraestel ingesluit sal wees nie.

Hulle moenie spot nie.

So toe die een klas vandag by my is, toe preek ek my eksamenprekie, die eksamenprekie waarvan die belangrikste boodskap die een is wat hulle juis daarvan afraai om te spot.

En dis toe 'n kind vra wat spot is en ek oomblikke later agterkom nie 'n enkele kind in die klas ken die woord of gebruik dit nie, dat ek wil sing van die berg wat daar tussen my en die kinders lê.

Tweede klas? Dieselfde. Derde klas ook.

Die kinders weet nie wat spot is nie! Die graad 10’s in my skool, in die jaar 2011 weet nie wat spot is nie.

Vandag se kinders weet nie wat dit is om te spot nie!

Ek kan dit aanvanklik nie glo nie.

Dalk het hulle 'n ander woord vir dieselfde praktyk.

Kinders kys immers al jare nie meer soos toe ek op skool was nie, of sal ek sê hulle doen nog al die jare dieselfde, maar onder 'n ander naam.

Maar nee, hulle het ook nie 'n ander woord vir vrae of gedigte spot nie.

Die naaste wat daaraan kom is Nigel. Maar nie eers 10% van die kinders is vertroud met die begrip Nigel nie. En in drie klasse het ek drie verskillende definisies van Nigel gekry.

Dis as jy net die helfte van die werk leer, dan doen jy goed in die helfte van die vraestel, vrot in die ander helfte en dan kom jy net-net deur.

Dis as jy net genoeg leer om te slaag en nie warrie oor verder nie. (Ja, dis hoe hulle hom spel.)

Jy Nigel as jy op jou gat deurskuur. (Vreemd dat hierdie ouderwetse uitdrukking behoue gebly het.)

Nie een van hierdie drie verduidelikings is spot nie.

En toe ek hulle vra of kinders van die buurskole sal weet wat dit is om te Nigel toe is ook nie een vreeslik seker nie. Straks is dit sterk idiolekties wat ons skool betref. (So het die kinders 11 jaar terug by ons nie van 'n sigaret gepraat nie, maar van 'n toon. Pass bietjie daar vir my 'n toon aan!)

Toe ek verduidelik wat spot is, laat val 'n kind in die laaste klas darem:  “O, dis wat my ma altyd gedoen het toe sy nog geswot het.”

So sy ken die woord.

Maar nee, hulle weet nie van spot of iets soortgelyks nie.

Wanneer die woord uitgesterf het, weet ek regtig nie.

Is dit met die nuwe onderwysstelsel wat Kader Asmal en sy gesante destyds ingevoer het. Hulle het nie meer nodig om te leer nie. Hulle het nie meer so baie om te leer nie. Parate kennis word nie meer verwag nie, eerder insig en toepassing?

Miskien.

Dalk bodder hulle nie om te spot nie, hulle leer sommer net half, want met half leer doen hulle nog goed genoeg?

Ek weet nie.

Die leerwerk in Afrikaans het sedert ek op skool was maklik 75% minder geword; sedert ek begin skoolhou het, seker met 50%

Antwoorde het ek egter nie.

Ek is nie sommer iemand wat oud voel nie. Maar vandag is ek daaraan herinner dat ek oud is.

Tye verander. En dis goed so.

Die een meisie kom agter sy het nie die aantekeninge oor 'n gedig wat ons behandel het toe sy afwesig was nie. Sy skryf more oor die werk. Sy weet ek gaan binnekort met my les begin (hulle is by my vir twee periodes, en ons gaan oorbeweeg drama toe.)

So wat doen sy – sy gryp haar selfoon en neem 'n skrander maatjie se aantekeninge met die ingeboude kamera af.

Presies soos wat James Bond in die sestiger-/sewentigerjare in sy flieks die vyand se geheime dokumente met iets klein soos 'n pen of brilkassie afgeneem het.

En dis 'n feit, wat regtige egtige spioene daardie jare nie kon doen nie, vermag skooldogters soos sy vandag in die klas.

So waarom sal die kinders hulself met iets so oudedoos soos spot wil ophou!





Naskrif:  Ek google toe die woorde wat ek uit die liedjie onthou. Dis Dozi wat dit sing.

Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg

Die rawe op die telefoondrade
Luister na die gesprek
en vlug op die plek,
want tussen jou en my lê daar 'n berg

Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg

Outeniekwaberg se baard is nat
Teen sy wang loop daar 'n traan
‘n Stroompie oor die pad,
maar tussen jou en my lê daar 'n berg(2x)

So sleep ek voort deur Meiringspoort
Sonder jou en sonder 'n woord,
want tussen jou en my lê daar 'n berg
ja, tussen jou en my lê daar 'n berg

30.5.11

Die pasafgelope naweek

Ek het 3 goed gedoen, maar tyd en geleentheid om aan elkeen 'n gesels te wei, is daar nie.

Ek het natuurlik baie meer gedoen, en nóg meer nié (goed wat ek móés). Maar hierdie drie is die drie wat ek aan die klok wil hang.

Nommer 1

Ek wonder hoeveel van my vriende se Facebook-bladsye spreek hulle in Afrikaans aan. Myne doen. Vir langer as 'n week nou al. En ek is trots daarop, op myself én Facebook.

Dit was miskien vir 10 minute vreemd, nie eers 10 nie (ek spandeer nooit soveel tyd op 'n slag op Facebook nie) en toe ek die volgende dag terugkeer, was ek daaraan gewoond om in Afrikaans bedien te word.

Ek het nog nooit daarvan gehou om iemand te poke nie – dit laat my aan die een kant dink aan 'n yspriem of iets waarmee jy die kole in die kaggel deurmekaar krap, aan die ander kant het dit vir my 'n seksuele ondertoon. Nou hoef ek niemand meer te poke nie, en nee, ek steek of stamp of stoot hulle nie, ek por hulle.

Ek dink nie jy kan iemand por nie, aanpor ja, maar van por weet ek nie, ek sal moet gaan kyk. Tog pla dit my nie, en as daar nie voor Afrikaanse Vuisboek iets soos por was nie, ag ek dit as 'n oulike eietydse neologisme.

Dankie aan wie ook al die bladsye vir ons in Afrikaans toeganklik gemaak het.

As jou moedertaal Afrikaans is, doen ek 'n beroep op jou om jou FB-taalvoorkeur op Afrikaans te stel. Ek is geen taalpuris nie, trouens en inteendeel, maar ek is lief genoeg vir die taal om dit self te doen, en jou aan te por om dit ook te doen.

Dit het my destyds, toe ek my selfoon se telefoontaal na Afrikaans verander het, langer geneem om daaraan gewoond te raak as nou met Facebook.

Komaan, jy weet dis die regte ding om te doen!

Nommer 2

Na my bek so wyd was oor die gebrek aan ordentlike blikkies tamatiesop op ons rakke, het ek besluit om uit te vind of ek bog gepraat het of nie.

Ek het nie lus gehad vir 'n vreeslike gekokery nie en wou wegkom met lui-huisvrou-kos, toe besluit ek om die blikkies tamatieroomsoppe op Checkers se rak, op die proef te stel.

Checkers het twee fabrikate se produkte op die mark, Deny en Divine. Die een het suiker as derde bestanddeel op sy lys van bestanddele – iets waarvoor ek uitkyk; ongelukkig het die ander sout as derde bestanddeel. Nou weet ek nie watter een van die twee is die ergste nie.

Na ek die twee blikkies afsonderlik voorberei het en ek en Annieka beide dieselfde blikkie as gunsteling gekies het, het ek die twee gekombineer en selfs Klaradyn het gesmul – iets wat sy nie sommer aan tamaties doen nie.

Ek en Annieka het altwee na afloop van die ete gewonder of daar nie iewers 'n resep vir tamatieroomsop is wat met 'n houer tamatiesap begin nie. Ek maak lekker gazpacho van so liter tamatiesap, maar weet nou nie van 'n roomsop nie.

Sleg was die sop beslis nie. Ek dink ek en Annieka het beide die een of ander tekort wat maak dat ons gestelle hunker na tamatiesop - soos wat honde partykeer gras eet en papegaaie modder.

Nommer 3

Ons het meisies in matriek gehad wat nog nie hul beenhare mog skeer nie.

Solank soos Klaradyn onder my dak is, sal sy maak soos ek sê.

Ek het gelukkig nie 'n probleem met beenhare skeer nie.

Maar tot gister het sy nie gaatjies in haar ore gehad nie. En as dit van my afgehang het, het sy dit eers gekry die dag as sy vir haarself sorg – sommer uit beginsel uit.

'n Pappe baba met gaatjies in die ore sit my af.

Selfs 'n kleuter met oorbelletjies staan my nie aan nie.

In my kop had ek dit dat sy miskien reg kan wees op 9 of 10.

Maar dit was nou reeds vir drie maande duidelik – in 2011 gaan Klaradyn oorbelle kry.

Toe is Ma Saterdag weg, en ek en sy is alleen.

Ons tel 4 jaar se bruingeld in talle spaarbussies en kom op R37-00 te staan. Tel daarby die die R10-00 wat sy in die kassie langs my bed kry, die R10-00 wat sy uit my beursie neem, en die R20-00 wat Annieka haar gee toe sy gou stop om telefone te ruil (hare is pap, myne sterk gelaai) bring ons op R77-00 en etlike sente te staan.

Dis te min vir 'n haashok en twee hase.

Toe beplan sy 'n stalletjie op die sypaadjie waar ons onder andere die hamster van die hand gaan sit.

Maar dis te koud en sy sien van die plan af.

“As ons dan nie vandag 'n haashok en hase gaan kry nie, kan ons netsowel vir my gaatjies in die ore laat skiet,” laat val sy uit die bloute.

En wat sê ek? Ek sê “ja Sussie, trek vir jou aan dat ons kan ry.”

En wat doen Sussie? Sy trek vir haan en jaag my kar toe.

In die winkel gekom, vra ek die vrou eers hoeveel gate sy al vandag geskiet het. Nie een nie.

Hierdie week?

Vier.

Maar sy lieg, ek kan dit in haar lyftaal lees.

Ek oorweeg om uit te stap en iemand anders te probeer.

Maar hulle sal almal lieg. En vier uit elke vyf graad eens het gaatjies in hul ore.

Ons kry Klaradyn op 'n stoel en toe die tannie haar pistole gaan haal, stap ek nader en vra: “Hoeveel is dit op 'n skaal van 0 to 10?”

Sy laat weet dis 3. (Kan ek haar glo?)

Ek oorweeg dit sterk om eers self 'n gat in my oor te kry. Ek kan die ding mos dadelik uithaal en dan groei die gat toe.

Die terugkerende gedagte dat 4 uit elke 5 meisies in graad 1 gaatjies in hul ore het en die feit dat hulle nie een, iets oorgekom het nie, laat my gelukkig van die idee afsien. (En ek weet mans is kleinseriger as vrouens, as ek die geweer eers toetsbestuur kry die kind nooit 'n gat in haar ore nie.)

Toe raak die Tannie, nie ek of Klaradyn nie, benoud – haar assistent is met verlof en hulle skiet gewoonlik saam is.

Ek sien 'n visioen van 'n huilende Klaradyn met een gat in een enkele oor wat weier om 'n tweede keer aan die pyn en leiding uitgelewer te word.

Toe sê ek vir die vrou om die magasyn vol te maak, a man’s got to do what a man’s got to do.

En voor Klaradyn goed aan die tjank kan gaan, het ek haar 'n spieël in die hand gestop en vertel die hele winkel haar hoe mooi sy lyk.

Dit is seker mooi. Maar self hou ek nie daarvan nie. Ek sou wou wag tot 9 of 10.

Klaradyn se euforie (O, Pappa, my grootste wens het waar geword!) maak egter op vir my stille misnoeë.

Annieka sluit by ons aan oor ‘n wafel.

Ons sê niks, maar dit neem Mamma nie 20 sekondes om agter die kap van die by te kom nie.

“Hoe is dit moontlik?” vra ek haar.

“Ek ken my kind. Toe ek sien hoe sy absoluut eenvoudig net straal daar langs jou, toe weet ek iets groots het oor haar pad gekom. En toe is dit ook so. Het sy daar in 'n goiingsak gesit, sou sy nog soos 'n prinses gevoel het, sou sy daarom ook soos een gelyk het, en sou ek dit net so gou opgemerk het.”

28.5.11

Oor los geselsies en sop, onder andere

Op skool, daarna, en sommer tot nou die anderdag nog, kon my ma my altyd vreeslik verleë kry as sy allerhande los geselsies met wildvreemdelinge aangeknoop het.

Iewers in Januarie ’84 sit ek regs van haar in die PUK se ouditorium. Die volgende oomblik sink ek weg in die stoel (berge val op my, heuwels bedek my, die aarde sluk my in) toe sy met die tannie links van haar aan het gesels gaan. Toe moet ek drie stoele links van my oor 'n afstand oogkontak maak met 'n ander ewe verleë dogter – ons het glo dieselfde een of ander vak saam.

Die tannie op die stoel langs my ma het haar vooruitgegaan; ek en die ongemaklike gesiggie twee stoele verder het die beste van vriende geword, en is dit 27 jaar later steeds...

Maar, nee, ek knoop uit die aard van my inkennige en ongeskikte aard en natuur nie sommer graag geselsies met wildvreemdelinge aan nie.

Behalwe nou in die Spar of Pick & Pay, staan ek tussen die kosrakke en weet ek nie waar die kant toe nie, dan steek ek my kwansuise  skaamheid vinnig in my sak en klop enige een met die grootste vrymoedigheid op die skouer.

Soos verlede week weer:

Annieka had lus vir tamatieroomsop, maar ek het dit in my ganske lewe nog nooit gemaak nie. Die eerste resepteboek wat ek oopslaan vra vir skaapbene én gewone sopbene en ek besef 'n tamatiesop is nié iets wat ek die betrokke aand vinnig aanmekaar gaan slaan nie.

Ek is eintlik vanuit die staanspoor negatief want ek weet ek gaan nergens 'n die ganske Gauteng 'n enkele ryp tamatie te koop kan kry nie, wat nog te sê enige iets tussen 500 g en 1 kg. Tamaties, ja, baie, 'n hele paar honderd morg se ZCC grasgroen hopeloos te vroeg geplukte tamaties binne 10 km radius van my huis; maar rooiryp, vet uitgeswelde blink, plomp tamaties, sommer nog so aan die rank en stingel soos dit eintlik hoort – beslis nie.

Nietemin sit ek maar af Spar toe om te kyk wat ek kan uitrig.

Jare gelede, toe ek nog op laerskool was, het jy 'n geblikte tamatieroomsop gekry wat 'n mens met vrymoedigheid kon gebruik. Die naam het ek nou vergeet; ek verbeel my dit was van Royco toe hulle nog met vloeistof in plaas van poeiers gewerk het, of Oxo of Knorr. My ma het gereeld die heerlikste rooi hoender met hierdie blikkies roomsop gemaak, maar toe gaan dit van die mark af. Die ander roomsoppe op die mark was nie dieselfde nie, die rooi hoender nooit weer dieselfde nie, en iewers teen standerd 4 of 5 het sy net opgehou op dit te maak. (Ek, my broer en sy vrou smag vandag nog na Judy se rooi hoender uit die jare sewentig, maar verniet.)

So my hand aan 'n blikkie roomsop slaan, sal ek ook nie.

Maar Annieka dreig my af met 'n sakkie Royco –poeiersop wat jy sommer so met kookwater in 'n koppie aanmaak. Oor my dooie liggaam.

Ons plaaslike Spar het toe, soos verwag, tussen die honderde sakkies, nie 'n enkele ryp tamatie in 'n enkele van daardie sakkies nie.

Maar, glo dit of te not – in Woolworths-styl, 'n plastiekhouer klaar bereide tamatieroomsop!

Natuurlik oorweeg ek dit nie, allermins nie teen 'n prys waarmee ek 'n hele weermag vir dieselfde bedrag voed nie.

Nietemin draai ek die etiket na die fynskrif om te lees wat alles daarin is en sit af om daarvan in my mandjie te kry.

Toe ek terugkom om te bevestig dat ek alles het, tref ek 'n ander tannie voor die soppe aan.

Ek, op my beurt, het nou wel die bestanddele, maar hoogstens 'n vermoede oor die metode, en hierdie tannie lyk soos 'n kosmakertjie van formaat.

Maar hoeveel vrouens, wat die vooraf bereide soppe in 'n winkel se yskas uitkyk, is nou die tipe voorslagvrou wat hul eie tamatieroomsop berei!

Nietemin waag ek dit:  “Het jy al jou eie tamatieroomsop gemaak?”

En ek het die boerpot geslaan – sy begin dadelik gesels en deel sommer twee reseppe.

Ek gesels saam en toe wys sy my die blomkool, waarvan sy die betrokke aand 'n sop aanmekaar gaan slaan, in haar mandjie.

En dis met hierdie blomkoolsopresep ook in my kop, dat ek daar weg is.

En dit is wat ons gisteraand geëet het – 'n onbekende in Spar se blomkoolroomsop.

Ook daar waarby ek wil uitkom.

Dit kom neer op 'n blomkooltjie, hoenderekstrak en water, en 'n halwe blokkie blou skimmelkaas. Sout en peper.

Nee, oortuig sy my, beslis nie nodig vir melk nie.

Toe maak ek dit gisteraand.

Ek gebruik selfs die laaste van Ina Paarman se vloeistof-hoenderekstrak.

En dis heerlik. Heerlik geurig.

Maar soos ek vir Annieka sê: “Die sop is lekker, maar dit sou heerlik wees met melk en 'n kannetjie room. Dis al.”

En dis al wat ontbreek. Room en melk.

Maar oor die room en melk ontbreek, is juis die enigste rede waarom ek die sop gemaak het.

En vandaar ook al die om- en afdraaipaaie wat ek tot hier geloop het.

Een maal 'n jaar, dan maak ek my arm oop vir die vrou en as sy gelukkig is, kry sy met die eerste steek 'n aar.

Maar nog nooit, in hoeveel jaar nou al, is ek 'n paar dae later teruggebel nie.

Dis nou tot hierdie jaar, verlede week:  “Meneer Moolman, dis Suster van Staden hier by doktor Gothe se kamers. Hy het jou bloedtoetse se resultate gekry en wil jou graag sien.”

So op pad terug van hierdie man, dat ek stop vir die waterige blomkoolroomsop.

Op pad uit sê hy mos vir my dat ek, wanneer ek daar verby gaan, by die susters se stasie moet vra vir die cholesterol-eetplan.

Hy het 'n pilletjie voorgeskryf, maar ek weet ek kan baie help met anders eet: biltong kan wat my betref 'n repie vleis aanhê as dit moet, maar eintlik is dit opsioneel; enige iets smaak beter in room en met room, room kan enige water of melk in bykans enige resep met groot sukses vervang; brood saam met botter is nie te onaardig nie, solank die sny brood net nie te dik is nie, want dan oorheers dit die smaak.

Die suster vertel toe ook van knoffel, aalwynsap, vlassaadolie en nog iets wat haar pa se telling laag hou.

Ek sal nog sien – ek verwerk nog die inligting.

Die suiker is ook bo die perk en ek moet vir 'n opvolgtoets gaan – een van daai waarvoor jy vooraf 'n afspraak moet maak omdat hulle jou suikerstroop voer.

Een van die dae sal die man seker allerhande plastiek handskoentjies ook wil aantrek op my jaarlikse roetine-ondersoek!

Was Klaradyn klaar met skool en ek nie meer lief vir Annieka nie, het ek die nuus straks gevier met 'n vetterige biltong van my gunsteling biltongverskaffer, afgerond met die Skotse roompoeding, die Boere-weergawe wat wegtrek met 'n liter room, en dan is hy nog nie uit die oond uit en aangeklam met vla en room nie!

Maar nou is die kind in graad 1 en ek nog lief vir my wederhelf.

Ek sal maar kyk of ek dit so kan kry dat ek hul siele vir nog 'n hele paar jaar kan versondig.

Lekker, in besonder lekker op die tong, lyk my gaan dit beslis nie wees nie.


27.5.11

Chill Pappa

Die stomme kind!

Twee weke gelede is dit of die huiswerk in alle opsigte 'n ander vorm begin aanneem:  daar is nie al die baie inkleurwerk nie, hulle moet sinne skryf en op getallelyne werk.

Daar is selfs sprake van 'n “speltoets” teen Vrydag.

Die enigste manier met spelwoorde is dan seker maar die skryf daarvan. So Maandagmiddag kry Klaradyn, wat my betref 17 uit 20 vir die 20 spelwoorde.

Teen Dinsdag kom ek agter dat ek haar op Maandag, die spelwoorde van Maandag, Dinsdag, Woensdag en Donderdag gevra het; dis nie 20 per dag nie, maar 5 wat oor 4 middae heen opbou na 20 vir Vrydag toe.

Maar soos Langenhoven ons geleer het:  “Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.”

Woensdag trek ek my beste Uitkomsgebaseerde Onderwys-skoene aan. Ek onthou vaagweg iets uit die gebrekkige opleiding wat hulle ons destyds gegee het, wat ons daarop wys dat die kinders nooit die werk in isolasie nie, maar in die een of ander konteks, moet doen.

So, in plaas daarvan om met “knip” weg te trek en dan dadelik oor te gaan na “pappa”, val ek toe nou nie met 'n deur by die huis in nie, maar met 'n sin in die toets: “George die houtkapper kap die kameeldoringboom op vir vuurmaakhout. Kap.”

En daar is ek op die punt om my te vererg oor dit die kind nou skielik so lank sit op 'n drieletterwoord wat die vorige dag sommer tjoef-tjaf kafgedraf is.

Ek moet haar 'n tweede keer aanjaag.

Maar toe ek kyk, toe sien ek sy sukkel met iets gans onontsyferbaar soos djo die hoitka...

Dit sal help as Pappa verduidelik.

Maar Donderdag kry sy 'n lieflike 100%. Dis weliswaar by ons by die huis. Wat in die klas gebeur het, weet ek nog nie.

Dan is daar sigwoorde. Ek verstaan daaronder dat hulle die woord moet sien, en dadelik herken, sonder om dit te veel te wil klank. Supercalefragenisticexpialidocious, in plaas van s-u-p-e-r-c-a-l-a-f-r-a-g-a-n-i-s-t-i-c-e-x-p-i-a-l-i-d-o-t-i-o-u-s, by wyse van spreke.

In 'n stadium kom die boodskap dat die kinders nou daaroor geassesseer gaan word en ons moet dit elke dag oefen. Ek tik die goed oor in PowerPoint en stop by so ongeveer 90 woorde, maar dit gaan nie te goed met die nuutste van die vier velle nie, en ek sit hierdie woorde aan die begin en weer aan die einde.

Na twee weke sal ek steeds nie sê die kind herken elkeen met eerste oogopslag nie, maar hoe vinnig hulle dit nou op sig moet kan eien weet ek ook nie. Ons het nou die punt bereik waar Klaradyn nie meer die woorde vir my sê nie, maar dit mimiek, uitbeeld of in die geval van werkwoorde, doen.

Ingrypendste egter die feit dat die hele week se huiswerk nie meer op 'n Maandag afgerol uitgedeel word nie, maar dat dit daagliks, deur die parrabeentjies self, in die huiswerkboekie neergeskryf word.

Hierdie huiswerkboekie het my in twee weke siek van bekommernis en Klaradyn op die voorstoep van terapie en 'n reeks gehoortoetse gehad – die kind los aldag en heeldag die eerste letters van woorde uit. Elke keer hier teen die begin van 'n sin, en ek weet nie of my kind nie kan hoor nie, en of sy sit en gesels en dan nie seker is wat sy moet skryf nie.

Dan kom kyk die Juffrou blykbaar of hulle reg geskryf het. Dan help sy Klaradyn reg. Maar die volgende dag is dit maar weer so.

Ek bel amper die Juffrou om uit te vind wat ons nou te doen staan oor die kind so sukkel met die skryf. Dikteer sy vir hulle? Skryf hulle van die bord af?

Gister, na amper twee weke, is toe die eerste keer dat ons darem net twee van die drie sinnetjies het wat korrigeer moes word, die laaste, onderste sinnetjie is genadiglik in plek:

Lees Lin se vin p. 11 en 12.
Doen twee sinne.
Lees Mossie bl. 17 en 18.

Toe Klaradyn in die bad speel, stap ek op Annieka af met die huiswerkboekie en deel my bekommernis oor die kind se werk met haar.

En wat sê sy?

Die kind maak nie foute nie – die juffrou maak telkens die beginletter sodat die kinders kan weet waar om te begin!

Nou of dit so is, sal ek nie weet nie.

Maar dis beslis 100 maal meer gerusstellend as die gedagte dat jou kind nie kan hoor of skryf nie.

Ons het genadiglik darem al 5 van die 144 (as alles goed gaan) agter die rug – dis nou 5 van 144 maande in die onderwys, as ons nie iewers langs die pad 'n jaar of wat herhaal nie, en sy wel besluit om tot matriek vas te byt.

Nie dat ek dit omwens nie; as dit van my afhang, het ek lankal 'n klip op haar kop gesit.

Dat ek reikhalsend daarna uitsien om te kan begin chill, is en bly egter 'n feit.



NS:  Intussen het ek terugvoer oor die speltoets gekry. Volgens Klaradyn het hulle wel toets geskryf en sy het een verkeerd, iets met 'n –p.

Maar of dit 20 of 10 of 5 woorde is wat hulle moes skryf, weet ek nie – aanvanklik het sy gesê dit was 100 woorde en sy het 3. (Sy doen sulke goed as sy moeg is vir my uitvra en enige iets antwoord net om my stil te kry – sy jok darem nie, maar gee duidelik te kenne dat sy net speel. Egter verniet of ek meer uit haar kan kry.






24.5.11

'n Moewiese klein trappie


Wat 'n vreugde was dit nie toe Klaradyn halfpad oppad huis toe omdraai en vervaard in haar tas begin krap nie – sy het 'n nuwe graad 1-leesboek en wil dit uitkry om met my te deel.

Hierdie vreugde verdubbel sommer toe ek die titel van die leesboekie wat sy uitruk so in die bestuur met die een oog raak lees:  'n Nuwe Trap der Jeug.

Weliswaar nie Trap der Jeugd nie, 'n nuwer Trap der Jeug, maar dit is en bly 'n stokou boek!

En die skool het hom nie einde ’83 toe hy laas gebruik is, weggegooi nie!

Ook nie einde 1994 toe alles wat goed en reg was, skielik sleg en verkeerd geword het nie.

En die skool is nie bang of skaam om hom in 2011, na al die jare, weer vir graad 1’s uit te deel nie!

Hulle wil die kinders so veel as moontlik leesgeleentheid bied. Hulle hét dit reeds gedoen, hulle dóén dit reeds 'n geruime ruk nou al, en as dit beteken hulle moet in die argief krap om daarmee vol te hou, dan doen hulle dit.

Die motief en dryfveer agter die uitdeel van die boek is dalk anders as wat ek hieraan toedig, maar dit maak nie saak nie; my interpretasie is ook 'n invalshoek wat geldig is.

Ek salueer daarom ook die leerkrag agter die besluit om Baas en Mossie uit te deel.

Ek dog aanvanklik ek gooi die motor om toe ek sien die boek is laas in ’83 uitgedeel! En toe gooi ek inderdaad amper die kar om toe ek drie oudleerlinge name herken!

Kan jy glo!

Wat 'n heerlikte!

Rochelle Kemp (1980) se gesig sien ek voor my, al het ek nooit vir haar skool gehou nie. Vir Inus se sussie, Talita Daneel, het ek nie skoolgehou nie, wel vir haar man. En dan sien ons mekaar gereeld in Waverley Square.

Dan is daar Franz Jonker (1983). Vir die gesin se seuns het ek by CR Swart én Menlopark skoolgehou.

Die boek bring nie net wonderlike herinneringe aan my eie skooldae nie, maar sommer my skoolhoudae ook!

En wat doen Klaradyn, eers by die huis gekom?

Sy gaan maak haar tuis op die porseleintroon en lees.

Ek gaan loer in (al weet ek presies wat sy doen – sy klank mos hardop) en laat val:  “Ons moet tot by bladsy 9 lees, maar ek gaan hom nou klaar lees.”

Ek loer en sien sy trek al op p. 12.

Sy lees steeds. Sy lees hardop. Sy vertolk.

Sy geniet elke oomblik.

Sy geniet hierdie boek beslis die meeste van al die baie wat sy al hier aangebring het. (Dit verklap iets van die ou dae se manier van doen. En die ou dae se beter weet in heelparty opsigte.)

Sy lees die boek in die kamer klaar en sluit by my aan met die woorde:  “Pappa dis 'n verskriklike oulike boekie!”

'n Nuwe Trap der Jeug het ons huis 'n leeservaring gegee wat ons nog nie voorheen van die skool af gebring het nie.

Ek wil nog iets inwerk van a small trap der jeugd vir Klaradyn; a huge step vir onderwfrika, maar ek weet nie waar en hoe nie, so ek sluit maar liewer af. Miskien kan ekm daarmee wegavl, 

23.5.11

Kyk na die miere...

Maar nie net die miere nie, die honde en die swaels ook.

Met die vertalery van die fabels saam het ek al geprobeer om my eie te skep, sommer so vir die lekker.

Die afgelope naweek beleef ek interaksie met die drie honde en ek wonder in 'n stadium aan watter fabel dit wat ek opmerk en beleef, my herinner – iewers moet daar 'n fabel wees wat waarsku teen dit wat ek toegelaat het om te gebeur, te waarsku teen dit wat ek beleef.

En toe besef ek dat dit wat ek beleef, die fabel is. Ek gaan nie 'n vinger- of heenwysing tussen die dierefabels vir my honde kry nie, my teef en die ander twee is die diere in 'n fabel se teregwysing aan die mens.

Dit het 'n les en die wat ore het kan maar hoor, maar 'n fabel is dit ongelukkig nie.

Ons het drie honde, dieselfde ras, maar totaal verkillende geaardhede. Wat eetgewoontes en –gedrag betref is die een 'n aasdier, die ander 'n opperste vraat en die laaste 'n neusoptrekkerige fynproewer.

Deel jy iets uit, spring Snuffels die kos uit jou hand nog voor jy dink aan deel, Boeta sluk dit weg sonder om te weet of dit soet of sout, proteïen of koolhidraat is, en Sussa sal haar neus optrek voor sy haar miskien verwerdig om haar happie eenkant toe te dra. Daar sal sy dit neersit, uitkyk, uitruik en die tekstuur takseer voor sy strakkies langtand haar mond daaraan slaan. Dis nou ás een van die ander twee nog nie haar porsie voor haar oë en uit haar mond weggeraap het nie.

So gebeur dit onwillekeurig dat ons Sussa se bederfies eenkant uitdeel – anders het die stomme dier niks. En oor sy nie gulsig en vraatsig en dik en ongeskik is nie, is dit moontlik dat ons uit waardering en toegeneentheid miskien tog wel van tyd so ietsie meer na Sussa se kant toe stuur. Ek het groot geword met wie gryp kry niks, so dan kan die wat nie gryp nie seker beloon word, nie waar nie?

En soos 'n hond mos maar is, raak Sussa daaraan gewoond en begin sy dit laterhand as het ware van ons verwag.

Saterdag sit ek met 'n skottel van die een of ander geurige oorskiet – as die yskas trouens nie son vol was nie, het ek dit gebêre.

In drie deel en op die grond uit die hand gee, gaan ek nie.

Ek roep al drie en sit die bak tussen hulle neer.

Wat doen die ander twee? Hulle duik in vir 'n pig out.

En Sussa? Sy hou my met die grootste verwagting dop, sy volg my elke beweging noukeurig en presies en wag dat ek haar agter die deur van die gewone sal voorsien, sy stap selfs in en gaan sit sterswaaiend, groot-oog, agter die deur waar die ander ons nie kan sien nie.

En op daardie oomblik is dit vir my vreeslik: ek het nie vir haar spesiaal eenkant nie, ek gaan niks kan optower nie en hoe langer sy my sit en dophou, hoe geringer word die kans dat sy iets uit die skottel gaan kry.

Sy skiet haarself in die voet om te dink sy gaan voorkeurbehandeling kry – sy gaan uit mis. Wat sy toe ook doen.

Ek waarsku haar en stuur haar uit; sy word net meer oortuig daarvan dat ek nou enige oomblik 'n oondgebakte skaapboud gaan uitkry en die helfte daarvan is hare.

Was dit mense het die ander twee al winde opgebreek van die haastig en baie vreet; Sussa het niks en ek het nog minder om haar aan te bied.

Dis toe dat ek fabel soek, een wat my sal aankla oor die gedrag wat ek help vestig het, maar ook een wat haar op haar onnoselheid sal wys.

Maar verniet, ek kan my tong nie op 'n enkele fabel lê nie – ek en Sussa is die fabel, die waarskuwing aan ouers wat meer as een kind op die groenkoringland het.

Al die spesiale behandeling, die voortrek en voorkeur het haar niks gebaat nie. Inteendeel.

En so is dit ook met ouers wat nie hul kinders oor dieselfde kam skeer nie, dit werk nie noodwendig positief in op die een wat aan die spesiale guns blootgestel is nie.

En skielik, toe ek uitbrei op gedagtes oor hoe 'n tweede of derde kind, die hartskind, Sondagskind en Benjamin, ondoelbewus, op die lang termyn aan die korste ent kan trek, toe is ek vir die eerste keer in my lewe, vir 'n breukdeel van 'n nanosekonde, nie spyt ons gesin is net drie asems sterk nie. As ek net dink aan op welke groot skaal en maat ek droog kon gemaak het, was daar twee of drie, het ek regtig stof tot dankbaarheid.

Dit alles sommer net 'n fabelgedagte (fabelagtige gedagte?)

Ek het darem 'n eie enkele fabel in 'n Esopus-tradisie en op 'n Esopus-patroon? Een waarop ek nogal trots is:

Die swaeltjie-ouerpaar was so lief vir die enkele kuiken wat hulle die lig laat sien het, dat hulle bang was om hom die lug ook te laat sien. Die ander ouers het hul kinders al lankal deur die opwinding van eerste vlerkgeklap gevat, toe dra hierdie mamma en pappa steeds kossies by die moddernessie in – net nou kom hul kind iets oor, netnou vat hy koue, maak hy homself seer. Terwyl die ander voëltjies wat dié betrokke jaar uitgebroei het, al die seisoen en omgewing op eie vlerk met hul maats verken het, was die eniggeborene steeds gekoester onder Ma en Pa se trotse vlerk in die nes wat by die dag al hoe kleiner begin voel het. Toe die herfs 'n paar weke later kom en instink die swaels, ook sy ma en pa, dryf om noord en verder te verhuis, kon hierdie baba wat ook al 'n man geword het, steeds nie vlieg nie en moes hulle hom agterlaat. En of hy verkluim het en of hy van die honger omgekom het omdat hy nie by die nes se bek kon uitkom nie, so groot en vetgevoer was hy, kon die ouers die volgende seisoen nie sê nie.

Onthou tog om in te loer by die fabels. Ek put die wêreld se genot daaruit. Kliek hier om deurgeskakel te word en teken sommer in, dit werk presies soos met Pappa-Mamma-&-Klaars: as ek die dag iets pos, kry jy die volgende dag 'n e-pos; pos ek niks, dan kry jy niks. (En pos ek tien op 'n dag, word jy nie geteister nie; jy kry steeds net een e-pos.)

22.5.11

Van stemdag tog Sondag of sommer net Koningskos

So het stemdag, waar ek Klaradyn tot in die stemhokkie saam met my geneem het om verkiesing deel van haar ervaringswêreld te maak, gekom en gegaan, en ek het niks van my laat hoor nie.

Ons het selfs ons eerste Voortrekker-kentekendag, sonder dat ek my bek hier daaroor gerek het, beleef.

Iewers het ons Klaradyn ook gevat om te sien hoe speel ons eerstespan netbal – sy het mos nou hoeka verlede naweek haar eerste wedstryd gehad.

Daarby, verbeel ek my, het ek uitgekom, maar by al die ander lekker dinge nié. Want, ja, dit gaan dol en as dit nie was dat geure uit die kombuis my vanoggend (Sondagoggend) 05:00 wakker had nie, het ek ook nie nou hier gelê en tik nie. Ek troos my daaraan dat ek nog sou geslaap het en dat die tyd wat ek nou aan geselsies aanknoop spandeer dan eintlik 'n bonus is, tyd wat ek waaragtig nie aan skoolwerk af hoef te staan nie.

Nie dat ek by skoolwerk gaan uitkom voor vanaand nie: as alles goed gaan kry ons sommer vanuit drie windrigtings vandag jarelange baie goeie vriende vir ete.

En dan nou ook ons poeding wat my vroegdag wakker had: pere in rooiwyn.

Ek wou nie gisteraand nog 3 ure opwag vir dit om sag te stowe nie, vandag wil ek ook nie daaraan tyd afstaan nie, toe onderdompel ek dit gisteraand en oornag in die prutpot (in die volksmond beter bekend as 'n slow cooker)

Daarom dat ek seker maar so lig geslaap het – ek het die pere nog nooit op die manier gaargemaak nie en het gisteraand met 'n woordspeling in  my kop gaan slaap:  ek hoop nie ons eet more Purity/Pearity vir poeding nie. Want ja, die kanse was daar dat ek vanoggend met vrugtemoes konfronteer kon word, en het ek laat geslaap, was dit beslis teen 07:00 te sag; nou is dit net reg.

Maar eintlik die hoenderdis, 'n pastadis, wat ek wil deel.

Ek het altyd gewonder hoekom die betrokke pastadis vir my so lekker is, tot ek afkom op ‘n resep van Peter Veldsman, een vir die sewentigs se immergewilde Chicken a’la King, en besef wat ek doen om die hoendersous te kry, is presies wat die tannies daardie jare gedoen het om hul koninklike hoendergereg vir die witrys gereed te kry.

Ek het vir 12 reggemaak; vir 4 sou ek soos volg te werk gaan.

Vier vet hoenderfilette. Peter Veldsman se chicken fit for a king vra dat jy hoenderborsies in witwyn gaar stowe, met gebotterde waspapier om hulle teen die aanslag van vars lug te beskerm. Ek het my filette gisteraand op die manier gaar gekry, maar glo my ek het ook al, die kere wat ek nie oorskiet hoender gebruik het nie, sommer gaar hoender by Woolworths gekoop en dit ontbeen.

So hoe jy aan sowat 350 na 375 gram gaar hoender kom is jou eie storie.

Kry dan ook sag in 'n pan die volgende:  'n ui, 'n lekker groot rooi peper ('n rooi green pepper en nie 'n rissie nie) en 'n 250 gram pakkie sampioene wat jy opgesny het.

Ek begin met die uie, voeg dan die dun gesnyde repies rooi peper by en as dit sag is, die sampioene.

Sodra die sampioene se water weggekook is, roer ek 40 gram meel by die groente.

Hierdie meel verdik dan die 500/600 ml hoenderekstrak wat ek oomblikke later byvoeg.

Iewers vra die oorspronklike resep vir iets so belaglik soos ses eetlepels room. Ek koop nie room om ses eetlepels daarvan te gebruik nie – teen die tyd dat ek iets met die res doen, is die room al suur. So ek maak my hoenderekstrak met 'n kannetjie room en 'n kannetjie kookwater aan.

(Ina Paarman, sien ek gister, het nou 'n vloeibare hoenderekstrak op die mark – ek het dit gister probeer.)

As daardie souserigheid dikkerig is, gooi jy 'n halwe koppie droë sjerrie in (pale dry shery).

En sout en peper tot dit vir jou lekker genoeg op jou vinger (of teelepel) proe.

Intussen het jy jou 500 gram lintpasta (tagliatelle, verbeel ek my is wat die Italianers dit noem) gaar en van die vuur af gekry.

Ek en Klaradyn het ons eie pasta uitgerol en jare se pret gehad.

Nou meng jy die pasta met die gaar hoender wat jy in klein blokkies gesny het.

Dit hang nou af hoeveel wyn jy gedrink het terwyl jy in die kombuis doenig was. As jy matigheid voor oë wil hou, dan bere jy die kaas wat jy gerasper het om bo oor te gooi, vir bo oor, aan die einde.

Maar as jy roekeloos wil wees, werk jy die gerasperde kaas by die hoender en pasta in – dan rasper jy netnou die ander helfte van die blok kaas vir bo oor.

Dan roer jy die sous by.

In 'n bak daarmee.

Bedek met 'n dun of dik lagie gerasperde kaas.

Oond toe vir 30 of 40 minute, die oond op 180 grade.

Saam met slaai is dit heerlike kuierkos, en dis waarvoor ek lus was, kuierkos en nie noodwendig 'n tradisionele Sondag-noenmaal nie.

Vir die poeding skil jy soveel pere as wat jy mense verwag (plus twee ekstra vir die wis en die onwis). Dit kry jy sag in 2/5 water en 3/5 rooiwyn (500 ml water en 750 ml/bottel rooiwyn vir sowat 6 pere)

Jou vloeistof geur jy met 5 of 6 of 7 naeltjies (ek verbeel my die resep vertel oorspronklik 5, maar dit voel vir my effentjies), 1 of 2 stokkies kaneel en 'n lourierblaar of wat. Ek kyk dan wat daar nog in die rak is wat kan in; gisteraand was dit steranys en heel pimento en 'n suurlemoenblaar. 'n Repie (repies?) suurlemoen en/of lemoenskil is net so lekker.

En dan natuurlik suiker tot dit alles vir jou soet genoeg proe.

Jy bedien die pere koud met room.

En omdat jy gisteraand al jou room in die hoender gegooi het, in plaas daarvan om iets so belaglik soos ses eetlepels af te meet, moet jy dan nou vanoggend, as Klaradyn Sondagskool het, gou nog room gaan koop.

Die pere op hierdie manier is so lekker dat ek nooit net 6 of 8 pere voorberei nie – ek doen 12 of 14. Dis heerlik later, of om weg te gee – daar is min dinge so lekker om weg te gee soos 3 of 4 pere in rooiwyn, in 'n Tupper-bakkie.

Dis trouens hoe ek myne die eerste keer geproe het – Tannie Susan Latsky, my ma se beste vriendin en al jare in haar graf, het by ons aangekom met so Tupper-bakkie en 2 of 3 gestoofde peertjies.