Pages

14.5.11

Nog 'n eerste


Ek hét op my dag rugby gespeel.

In standerd 3.

Een keer.

Die seuns en die meisies in die klas het teen mekaar gespeel.

Daar was meer seuns as meisies in ons klas en drie seuns moes hul gewig in die meisiespan gooi.

Ek onthou nog wie die ander twee was. Die een is reeds oorlede, maar die ander een leef nog, so ek verklap geen ander name nie.

My krieketloopbaan was beperk tot oë toeknyp in Casjohan-hulle se tuin elke keer as die bal in my rigting kom.

Ek en einste maatjie Casjohan het ook by dieselfde tennisafrigter tennislesse gekry.

Ten spyte van die feit dat talle van my balle nie net oor die net nie, maar oor die 15 vt. heining om die baan gespan, gegaan het, het ek die lesse geniet en uitgesien na die volgende week se les...

...tot die dag dat die oom van my verwag het om die bal só te slaan dat hy dit nie kan terugslaan nie; tot die dag dat hy nie meer die bal vir my geslaan het sodat ek dit kan terugslaan nie, maar só geslaan het dat ek agter die bal moes aanhardloop as ek wou terugslaan.

Casjohan het hierop ingekoop; ek het my ouers gevra om die lesse te staak.

Maar dan het, sover ek weet, nóg my ma, nóg my pa enige sport in hul are gehad – ek het nie een van die twee ooit hoor praat oor enige deelname iewers hoegenaamd nie. Op 'n sportveld as toeskouer het ons nêrens gekom nie, ons het nooit eers met biltong in die hand as gesin voor Spiekeries en die radio ingeskuif nie, en teen die tyd dat ons land televisie gekry het was ek al groot.

Annieka, aan die ander kant, het langs die muurbal- en tennisbaan begin loop, tande gekry en van die doeke afgekom.

Sy’t geswem, netbal en tennis gespeel, én, maar miskien verbeel ek my, in die atletiekseisoen gehol of die een of ander ding deur die lug gegooi ook.

En dit geniet... (of so het sy gedink) ...tot sy iewers langs die pad die verhoog en kultuurgoeterstes leer ken het en daarna, soos sy self sê, nooit weer dieselfde was nie en na matriek eweneens nog nooit weer haar hand aan 'n sportbal geslaan het nie.

So hoe sterk sportmanskap in Klaradyn se are vloei, is nie die vraag nie; dis of daar enigsins spoorelemente daarvan teenwoordig is, of nie.

Dat haar gees gewillig is, is egter 'n feit – en dan het sy die tipe persoonlikheid wat bykans enige iets met 'n sosiale ondertoon geniet.

Ook die netbal.

Die kleintjies (graad eentjies parrabeentjies) sou aanvanklik geen wedstryde hê nie, maar toe kom dit deur: 'n groot netbalsaamtrek verlede Vrydag.

En skielik wil sy nie meer netbal speel nie, ek word by herhaling ingelig, Annieka word by herhaling ingelig. Dit blyk toe hulle het haar nou al drie weke op doel, en sy voel sy kry nie doele gegooi nie.

Ons kan nie heeltemal agter die kap van die byl kom nie – of sy het spanning oor die komende wedstryd, of sy beleef spanning oor die doele wat sy moet gooi en dit dan nie na wense en verwagting regkry nie. Maar spanning is daar.

Spanning ook vir Pappa:  hy is Vrydagmiddag meer as 'n uur lank in die Vrydagmiddag-spitsverkeer van die een uithoek van die stad, deur die middestad, na die ander uithoek van die stad om Klaradyn se eerste netbalwedstryd met haar te deel.

Ek het (met die gaan) ophou tel by ses kruisings waar die verkeersligte buitewerking was en ons die saamvloei as vierrigtingstop moes hanteer. (Terug kies ek 'n ander pad – selfde storie, vier punte sonder werkende verkeersligte.)

Ek sou nie gegaan het nie – ek het al om die uur verpligtinge by my eie skool se sportdag.

Die selfoonoproep voor ek begin reëlings tref het 'n sinnetjie in soos:  “Jy moet regtig probeer deurkom, dit wemel hier van die pappas en sy sal dit geniet as jy hier is.”

(Die volgende oproep se sinnetjie is: “Ek weet regtig nie of dit die moeite werd is om deur te kom nie, miskien moet jy maar bly.” Maar toe is dit te laat – ek het gebel om te sê ek gaan tien teen een laat wees, daar was vermoedelik 'n ongeluk, die verkeer staan al 10 minute stil.)

Na die eerste oproep willig die een adjunkhoof in om 15:30 vir my in te staan  (hy is ook 'n pa wat sewe jaar gelede sy eerste netbalwedstryd gehad het).

Ek wil iemand anders in plek kry vir 16:30, maar toe die geleentheid voordoen is die persoon in die geselskap van 'n ander adjunkhoof wat ek nie wil hê moet weet ek verlaat my pos nie – en toe ek na 30 kilometer en 'n uur op die pad daar aankom, raai wie se kleinkind neem ook deel, raai wie het deurgery om die kleinkind te sien speel?

Ek kom daar aangestap net mooi toe die fluitjie blaas vir die begin van die wedstryd.

My kind se een voortand hang aan 'n draadjie, 'n speekseldraadjie, en sy is meer gepla oor wat in haar mond aangaan as op die veld met die bal.

Maar ek probeer kyk soos 'n kraai wat nie kyk of sy eie eier die witste is nie, en ek kry dit reg – ek sien 'n hele spul dogtertjies wat effe verward rond pik, per toeval raak vang, of nie oor die bal val as hulle hom probeer vang nie.

Ek kry ook die idee hulle gooi die balle in die arms van die eerste beste hande wat hulle in die lug sien – hulle kyk nie of dit 'n opponent of 'n spanmaat se hande is nie, as daar 'n hand wuif, gooi hulle.

Partykeer herinner die spel se verloop eerder aan Bulletjie-rugby met 'n losgemaal hier, en dogters wat lyk of hulle sak vir 'n skrum daar. Hier en daar is 'n sokker-move wat Diego Maradonna jaloers sal maak, maar dit daar gelaat – die dogters geniet dit. En die meeste ouers.

Ek verbeel my selfs ons het gewen. Met een doel. Die enigste doel van die wedstryd.

Maar in wedstryde soos die wat ons Vrydag beleef het, is daar nie wenners of verloorders nie, elke dogter is 'n wenner, elke span 'n wenspan.

Dis jammer dat daar so baie verkeerd verloop in die volgende twaalf jaar, dis jammer dat die sport in die nabye toekoms so baie van Vrydag se lekker afstaan en verloor, maar daaraan kan ek niks doen nie.

Ek het nog altyd daarvan gehou om my bek langs 'n netbalbaan te rek en luidkeels te ondersteun. Nou dat dit my eie kind se span is kan ek dit net soveel meer onbevange doen. Ag, en die kinders is klein, elke kind verdien aanmoediging en toejuiging as sy die bal vang, of sy nou rooi is soos ons span, of in die klere en kleure van die opponente op die veld is.

Dit sal my geensins pla as Klaradyn nie iewers die een of ander span haal nie. As ek weer geleentheid kry, gaan ek weer.

Miskien het die appel nie ver van die boom geval nie. Maar miskien staan die boom op 'n koppie, rol die appel ver en bou selfs momentum teen die afdraand op – en sit ons eendag met 'n kranige sportman in die familie. Wie weet.

No comments: