Ek soek drie keer 'n dag na my motor- of huis- of klaskamersleutels.
Dis nou op 'n goeie dag. Daar is maar min goeie dae en dan is dit meer keer, of
meer goed waarna ek soek.
Maar twee dinge wat ek my hele lank nooit gesoek het nie,
dis nou tot elf jaar gelede, is selotape en
presstik, minder algemeen ook bekend
as kleefband en wondergom.
In my huis is 'n kamer,
in daardie kamer is 'n lessenaar,
in daardie lessenaar is 'n laai
in die laai is groot rooi blik
en in die groot rooi blik is
onder andere die selotape en presstik.
in daardie kamer is 'n lessenaar,
in daardie lessenaar is 'n laai
in die laai is groot rooi blik
en in die groot rooi blik is
onder andere die selotape en presstik.
Dis nou tot elf jaar gelede die geval gewees. Of die skielike,
ingrypende verandering in 'n jarelange status quo enigsins verband met die feit
dat ek en Annieka vanjaar elf jaar onder dieselfde dak slaap daarmee verband
hou, is iets waarop ek my nie vanaand gaan uitlaat nie. Dis dalk ook net toeval
dat die goed net nog meer en langer soek is vandat Klaradyn ook by ons
aangesluit het.
Ek is oor die selotape
soos ek is oor 'n tandepastebuisie se algemene versorging en sy prop –
manies!
My selotape is in dit
wat hulle in Engels 'n dispenser noem
– hierdie goed wat dit vir jou moontlik maak om jou verlangde strokie kleefband
met een hand in die regte lengte te skeur.
Myne, sedert skooldae, is 'n groot swaargewig swarte. Ek het
hom steeds. Hy is in die laai, waar hy hoort. Maar ek gebruik hom nie meer nie –
dit waarom jy die rolletjie kleefband maak hang in die gleufies – die as van
die wiel – is weg. Seker vier jaar al. (Klaradyn is ses)
Ek het in daardie vier jaar nie minder nie as twee nuwes
gekoop nie – 'n gele en 'n swarte. Die een was tot onlangs nog in sy
verpakking. Ek gebruik nie een van die twee nie. Hulle tolletjies is weg.
Ek praat nie meer nie, ek vra nie meer nie.
Ek het Saterdagnag, knap voor 24:00 Annieka se
moedersdagpresent met wit maskeerband toegedraai. Op so 'n manier dat jy nie
die maskeerband sien nie. En dan nie sommer enige papier nie – tissue papier. En ook nie een pakkie
nie, maar vier. (En nee, vir die wat nie weet nie, tissue papier is nie sneesdoekiepapier nie – dis nóg
dunner as enkellaag toeiletpapier en skeur tien maal makliker.)
Wat anders kon ek doen. Ek het onthou die hond het die double sided selotape 'n ruk gelede
opgekou, so dit was buite die kwessie. Van die vier ander rolletjies plakgoed
wat ek tussen 23:30 en 23:55 opgespoor het, was die maskeerband die beste.
En vanaand, twee aande later, is dit ek en die presstik.
Daar is in hierdie huis net een mens wat presstik hier aandra, en dis ek. En daar
is net een mens wat nooit kans kry om dit te gebruik nie. Ek.
Maar my tande was 'n halfuurlank soek. Ek sê
ook nou “my tande” oor ons van dit praat as “tande”, maar ons verwys na my
knersplaatjie.
Dan ook nie die knersplaatjie wat weg is nie, maar die
grasgroen plastiekhouer waarin dit gekom het, en die plaatjie dan ook elke keer
hopelik is.
Dis nou wat gebeur as twee totaal verskillende wêrelde
ontmoet. Martha weet nie wat dit is nie, en ons sien haar nie om haar te sê
wat dit is nie. Volgens haar is dit 'n speelding, dalk iets wat jy saam met jou
kiddies meal by McDonald’s of Steers kry.
Waarom anders sal ek dit verlede week in 'n geskenksakkie
van Klaradyn, vol van haar speelgoed opspoor? En weet jy hoe lank en hoe ver
moet jy soek, voor jy 'n knersplaatjie se plastiekboksie tussen speelgoedjies
van jou kind in 'n ou geskenksakkie opspoor?
Verlede week was dit darem nog in die huis dat ek die ding
opgespoor het.
Vanaand was dit in die speelkamer – buite die huis in 'n tuinwoonstel
wat ons tot verlede jaar uitgehuur het.
Toe soek ek presstik om
die boksie aan die kas vas te plak. (Dit help nie ek spoor die glue gun op nie – die ander mense in die huis voel oor hom ook
soos hulle oor kleefband, krambinders, gatjieponse en tandepasteproppies voel –
want selfs al spoor ek hom op, ek weet die gomstafies is opgebruik en nog nie
weer aangevul nie. Maar as dit nie vir dit was nie, het ek die ding sweerlik
vasge-glue gun.)
Die hoofpyne waarvan ek April so gekla het, het my van die dokter
af tandarts toe – altwee het goed voorgeskryf, maar die tandarts het toe nou
nog die plastiek knersplaatjie op die koop toe ook ingesluit.
Dis my derde knersplaatjie in my lewe. Die vorige twee het
ek tesame nie vir sewe nagte in my mond gehad nie. Maar hierdie een dra ek
pligsgetrou. Ek sit selfs nou met hom en tik.
Dan het die hoofpyne my ook in 'n nuwe bril in – een met
multivokale lense.
Dit sal nie snaaks wees nie, maar dit sal my nie verbaas as
die Durbaniet vir 'n dokter reg was toe hy gesê het my hoofpyne is
sinushoofpyne nie – allergiese mense reageer volgens hom wat al jare in Durban
praktiseer dikwels anders in Natal op gewone huismyte as wat in hul tuisdorpe
en –stede die geval is.
Die tweede ding wat my nie sal verbaas nie, is as dit net
mediese dekking vir bevalling wat nog oor is by die mediese skema nie – maar ek
kla nie, my hoofpyne is bykans 100% weg.
As ek net die wondergom kan kry.
Of miskien moet ek die plastiek houertjie van die tande
inderdaad vir Klaradyn gee, en dan stoor ek my plaatjie in die brilkassie
waarmee hulle jou belas as jy 'n nuwe bril kry.
No comments:
Post a Comment