Pages

30.5.11

Die pasafgelope naweek

Ek het 3 goed gedoen, maar tyd en geleentheid om aan elkeen 'n gesels te wei, is daar nie.

Ek het natuurlik baie meer gedoen, en nóg meer nié (goed wat ek móés). Maar hierdie drie is die drie wat ek aan die klok wil hang.

Nommer 1

Ek wonder hoeveel van my vriende se Facebook-bladsye spreek hulle in Afrikaans aan. Myne doen. Vir langer as 'n week nou al. En ek is trots daarop, op myself én Facebook.

Dit was miskien vir 10 minute vreemd, nie eers 10 nie (ek spandeer nooit soveel tyd op 'n slag op Facebook nie) en toe ek die volgende dag terugkeer, was ek daaraan gewoond om in Afrikaans bedien te word.

Ek het nog nooit daarvan gehou om iemand te poke nie – dit laat my aan die een kant dink aan 'n yspriem of iets waarmee jy die kole in die kaggel deurmekaar krap, aan die ander kant het dit vir my 'n seksuele ondertoon. Nou hoef ek niemand meer te poke nie, en nee, ek steek of stamp of stoot hulle nie, ek por hulle.

Ek dink nie jy kan iemand por nie, aanpor ja, maar van por weet ek nie, ek sal moet gaan kyk. Tog pla dit my nie, en as daar nie voor Afrikaanse Vuisboek iets soos por was nie, ag ek dit as 'n oulike eietydse neologisme.

Dankie aan wie ook al die bladsye vir ons in Afrikaans toeganklik gemaak het.

As jou moedertaal Afrikaans is, doen ek 'n beroep op jou om jou FB-taalvoorkeur op Afrikaans te stel. Ek is geen taalpuris nie, trouens en inteendeel, maar ek is lief genoeg vir die taal om dit self te doen, en jou aan te por om dit ook te doen.

Dit het my destyds, toe ek my selfoon se telefoontaal na Afrikaans verander het, langer geneem om daaraan gewoond te raak as nou met Facebook.

Komaan, jy weet dis die regte ding om te doen!

Nommer 2

Na my bek so wyd was oor die gebrek aan ordentlike blikkies tamatiesop op ons rakke, het ek besluit om uit te vind of ek bog gepraat het of nie.

Ek het nie lus gehad vir 'n vreeslike gekokery nie en wou wegkom met lui-huisvrou-kos, toe besluit ek om die blikkies tamatieroomsoppe op Checkers se rak, op die proef te stel.

Checkers het twee fabrikate se produkte op die mark, Deny en Divine. Die een het suiker as derde bestanddeel op sy lys van bestanddele – iets waarvoor ek uitkyk; ongelukkig het die ander sout as derde bestanddeel. Nou weet ek nie watter een van die twee is die ergste nie.

Na ek die twee blikkies afsonderlik voorberei het en ek en Annieka beide dieselfde blikkie as gunsteling gekies het, het ek die twee gekombineer en selfs Klaradyn het gesmul – iets wat sy nie sommer aan tamaties doen nie.

Ek en Annieka het altwee na afloop van die ete gewonder of daar nie iewers 'n resep vir tamatieroomsop is wat met 'n houer tamatiesap begin nie. Ek maak lekker gazpacho van so liter tamatiesap, maar weet nou nie van 'n roomsop nie.

Sleg was die sop beslis nie. Ek dink ek en Annieka het beide die een of ander tekort wat maak dat ons gestelle hunker na tamatiesop - soos wat honde partykeer gras eet en papegaaie modder.

Nommer 3

Ons het meisies in matriek gehad wat nog nie hul beenhare mog skeer nie.

Solank soos Klaradyn onder my dak is, sal sy maak soos ek sê.

Ek het gelukkig nie 'n probleem met beenhare skeer nie.

Maar tot gister het sy nie gaatjies in haar ore gehad nie. En as dit van my afgehang het, het sy dit eers gekry die dag as sy vir haarself sorg – sommer uit beginsel uit.

'n Pappe baba met gaatjies in die ore sit my af.

Selfs 'n kleuter met oorbelletjies staan my nie aan nie.

In my kop had ek dit dat sy miskien reg kan wees op 9 of 10.

Maar dit was nou reeds vir drie maande duidelik – in 2011 gaan Klaradyn oorbelle kry.

Toe is Ma Saterdag weg, en ek en sy is alleen.

Ons tel 4 jaar se bruingeld in talle spaarbussies en kom op R37-00 te staan. Tel daarby die die R10-00 wat sy in die kassie langs my bed kry, die R10-00 wat sy uit my beursie neem, en die R20-00 wat Annieka haar gee toe sy gou stop om telefone te ruil (hare is pap, myne sterk gelaai) bring ons op R77-00 en etlike sente te staan.

Dis te min vir 'n haashok en twee hase.

Toe beplan sy 'n stalletjie op die sypaadjie waar ons onder andere die hamster van die hand gaan sit.

Maar dis te koud en sy sien van die plan af.

“As ons dan nie vandag 'n haashok en hase gaan kry nie, kan ons netsowel vir my gaatjies in die ore laat skiet,” laat val sy uit die bloute.

En wat sê ek? Ek sê “ja Sussie, trek vir jou aan dat ons kan ry.”

En wat doen Sussie? Sy trek vir haan en jaag my kar toe.

In die winkel gekom, vra ek die vrou eers hoeveel gate sy al vandag geskiet het. Nie een nie.

Hierdie week?

Vier.

Maar sy lieg, ek kan dit in haar lyftaal lees.

Ek oorweeg om uit te stap en iemand anders te probeer.

Maar hulle sal almal lieg. En vier uit elke vyf graad eens het gaatjies in hul ore.

Ons kry Klaradyn op 'n stoel en toe die tannie haar pistole gaan haal, stap ek nader en vra: “Hoeveel is dit op 'n skaal van 0 to 10?”

Sy laat weet dis 3. (Kan ek haar glo?)

Ek oorweeg dit sterk om eers self 'n gat in my oor te kry. Ek kan die ding mos dadelik uithaal en dan groei die gat toe.

Die terugkerende gedagte dat 4 uit elke 5 meisies in graad 1 gaatjies in hul ore het en die feit dat hulle nie een, iets oorgekom het nie, laat my gelukkig van die idee afsien. (En ek weet mans is kleinseriger as vrouens, as ek die geweer eers toetsbestuur kry die kind nooit 'n gat in haar ore nie.)

Toe raak die Tannie, nie ek of Klaradyn nie, benoud – haar assistent is met verlof en hulle skiet gewoonlik saam is.

Ek sien 'n visioen van 'n huilende Klaradyn met een gat in een enkele oor wat weier om 'n tweede keer aan die pyn en leiding uitgelewer te word.

Toe sê ek vir die vrou om die magasyn vol te maak, a man’s got to do what a man’s got to do.

En voor Klaradyn goed aan die tjank kan gaan, het ek haar 'n spieël in die hand gestop en vertel die hele winkel haar hoe mooi sy lyk.

Dit is seker mooi. Maar self hou ek nie daarvan nie. Ek sou wou wag tot 9 of 10.

Klaradyn se euforie (O, Pappa, my grootste wens het waar geword!) maak egter op vir my stille misnoeë.

Annieka sluit by ons aan oor ‘n wafel.

Ons sê niks, maar dit neem Mamma nie 20 sekondes om agter die kap van die by te kom nie.

“Hoe is dit moontlik?” vra ek haar.

“Ek ken my kind. Toe ek sien hoe sy absoluut eenvoudig net straal daar langs jou, toe weet ek iets groots het oor haar pad gekom. En toe is dit ook so. Het sy daar in 'n goiingsak gesit, sou sy nog soos 'n prinses gevoel het, sou sy daarom ook soos een gelyk het, en sou ek dit net so gou opgemerk het.”

No comments: