Maar nie net die miere nie, die honde en die swaels ook.
Met die vertalery van die fabels saam het ek al geprobeer om my eie te skep, sommer so vir die lekker.
Met die vertalery van die fabels saam het ek al geprobeer om my eie te skep, sommer so vir die lekker.
Die afgelope naweek beleef ek interaksie met die drie honde
en ek wonder in 'n stadium aan watter fabel dit wat ek opmerk en beleef, my
herinner – iewers moet daar 'n fabel wees wat waarsku teen dit wat ek toegelaat
het om te gebeur, te waarsku teen dit wat ek beleef.
En toe besef ek dat dit wat ek beleef, die fabel is. Ek gaan
nie 'n vinger- of heenwysing tussen die dierefabels vir my honde kry nie, my
teef en die ander twee is die diere in 'n fabel se teregwysing aan die mens.
Dit het 'n les en die wat ore het kan maar hoor, maar 'n
fabel is dit ongelukkig nie.
Ons het drie honde, dieselfde ras, maar totaal verkillende
geaardhede. Wat eetgewoontes en –gedrag betref is die een 'n aasdier, die ander
'n opperste vraat en die laaste 'n neusoptrekkerige fynproewer.
Deel jy iets uit, spring Snuffels die kos uit jou hand nog
voor jy dink aan deel, Boeta sluk dit weg sonder om te weet of dit soet of
sout, proteïen of koolhidraat is, en Sussa sal haar neus optrek voor sy haar
miskien verwerdig om haar happie eenkant toe te dra. Daar sal sy dit neersit,
uitkyk, uitruik en die tekstuur takseer voor sy strakkies langtand haar mond
daaraan slaan. Dis nou ás een van die ander twee nog nie haar porsie voor haar oë en
uit haar mond weggeraap het nie.
So gebeur dit onwillekeurig dat ons Sussa se bederfies
eenkant uitdeel – anders het die stomme dier niks. En oor sy nie gulsig en
vraatsig en dik en ongeskik is nie, is dit moontlik dat ons uit waardering en
toegeneentheid miskien tog wel van tyd so ietsie meer na Sussa se kant toe
stuur. Ek het groot geword met wie gryp
kry niks, so dan kan die wat nie gryp nie seker beloon word, nie waar nie?
En soos 'n hond mos maar is, raak Sussa daaraan gewoond en
begin sy dit laterhand as het ware van ons verwag.
Saterdag sit ek met 'n skottel van die een of ander geurige
oorskiet – as die yskas trouens nie son vol was nie, het ek dit gebêre.
In drie deel en op die grond uit die hand gee, gaan ek nie.
Ek roep al drie en sit die bak tussen hulle neer.
Wat doen die ander twee? Hulle duik in vir 'n pig out.
En Sussa? Sy hou my met die grootste verwagting dop, sy volg
my elke beweging noukeurig en presies en wag dat ek haar agter die deur van die
gewone sal voorsien, sy stap selfs in en gaan sit sterswaaiend, groot-oog,
agter die deur waar die ander ons nie kan sien nie.
En op daardie oomblik is dit vir my vreeslik: ek het nie vir
haar spesiaal eenkant nie, ek gaan niks kan optower nie en hoe langer sy my sit
en dophou, hoe geringer word die kans dat sy iets uit die skottel gaan kry.
Sy skiet haarself in die voet om te dink sy gaan
voorkeurbehandeling kry – sy gaan uit mis. Wat sy toe ook doen.
Ek waarsku haar en stuur haar uit; sy word net meer oortuig
daarvan dat ek nou enige oomblik 'n oondgebakte skaapboud gaan uitkry en die
helfte daarvan is hare.
Was dit mense het die ander twee al winde opgebreek van die
haastig en baie vreet; Sussa het niks en ek het nog minder om haar aan te bied.
Dis toe dat ek fabel soek, een wat my sal aankla oor die
gedrag wat ek help vestig het, maar ook een wat haar op haar onnoselheid sal
wys.
Maar verniet, ek kan my tong nie op 'n enkele fabel lê
nie – ek en Sussa is die fabel, die waarskuwing aan ouers wat meer as een kind
op die groenkoringland het.
Al die spesiale behandeling, die voortrek en voorkeur het
haar niks gebaat nie. Inteendeel.
En so is dit ook met ouers wat nie hul kinders oor dieselfde
kam skeer nie, dit werk nie noodwendig positief in op die een wat aan die
spesiale guns blootgestel is nie.
En skielik, toe ek uitbrei op gedagtes oor hoe 'n tweede of
derde kind, die hartskind, Sondagskind en Benjamin, ondoelbewus, op die lang termyn
aan die korste ent kan trek, toe is ek vir die eerste keer in my lewe, vir 'n
breukdeel van 'n nanosekonde, nie spyt ons gesin is net drie asems sterk nie.
As ek net dink aan op welke groot skaal en maat ek droog kon gemaak het, was
daar twee of drie, het ek regtig stof tot dankbaarheid.
Dit alles sommer net 'n fabelgedagte (fabelagtige gedagte?)
Ek het darem 'n eie enkele fabel in 'n Esopus-tradisie en op
'n Esopus-patroon? Een waarop ek nogal trots is:
Die swaeltjie-ouerpaar was so lief vir die enkele kuiken wat
hulle die lig laat sien het, dat hulle bang was om hom die lug ook te laat
sien. Die ander ouers het hul kinders al lankal deur die opwinding van eerste
vlerkgeklap gevat, toe dra hierdie mamma en pappa steeds kossies by die
moddernessie in – net nou kom hul kind iets oor, netnou vat hy koue, maak hy homself
seer. Terwyl die ander voëltjies wat dié betrokke jaar uitgebroei het, al die seisoen
en omgewing op eie vlerk met hul maats verken het, was die eniggeborene steeds gekoester
onder Ma en Pa se trotse vlerk in die nes wat by die dag al hoe kleiner begin
voel het. Toe die herfs 'n paar weke later kom en instink die swaels, ook sy ma
en pa, dryf om noord en verder te verhuis, kon hierdie baba wat ook al 'n man
geword het, steeds nie vlieg nie en moes hulle hom agterlaat. En of hy verkluim
het en of hy van die honger omgekom het omdat hy nie by die nes se bek kon
uitkom nie, so groot en vetgevoer was hy, kon die ouers die volgende seisoen
nie sê
nie.
Onthou tog om in te loer by die fabels. Ek put die wêreld
se genot daaruit. Kliek hier om deurgeskakel te word en teken sommer in, dit
werk presies soos met Pappa-Mamma-&-Klaars: as ek die dag iets pos, kry jy die
volgende dag 'n e-pos; pos ek niks, dan kry jy niks. (En pos ek tien op 'n dag, word jy nie geteister nie; jy kry steeds net een e-pos.)
No comments:
Post a Comment