So het hierdie lawwe vakansie in
die middel van die kwartaal, 9 skooldae na afloop van die Aprilvakansie om
presies te wees, ook tot 'n einde gekom.
Wat hartseer is van hierdie 9
dae wat op nommer 199 vir die meeste skole 11 dae geword het, is die feit dat
dit 'n langer vakansie was as wat volgende jaar se April-vakansie gaan wees.
Ja, April-vakansie is tradisioneel 2 weke; volgende jaar is hy 5 dae korter en
sluit die binnelandse skole vir slegs 9 dae – een vyfdag-werksweek en twee
naweke.
Vanjaar is in die media erken dat
die huidige boggerop 'n oepsie 'n eish van die kant van die outjies in
beheerposisies (maar nie noodwendig die outjies wat kan beheer nie) is.
Gaan volgende jaar dieselfde
wees? Die semi-rykgatte wat almal met 14 dae tyddeel die land en die wêreld
oor sit, wat gaan hulle doen?
Ons het dieselfde chaos gehad, 'n
klompie jare gelede, toe ons die Aarde-beraad ter plaatse gehuisves het.
Daardie jaar was die skoolkwartale heeltemal omvergewerp en die outjies van die
vakansieskemas het die meeste gekla.
Daardie jaar was ons tweede
kwartaal 21 skooldae lank, toe begin die eksamen. Niks was betyds klaar voor
die eksamen nie. Ons het in elke graad net gewerk om ons assesseringsopdragte
van die kwartaal af te handel.
So ek kla nie oor vanjaar se
kort tweede kwartaal nie, al is hy net 28 skooldae lank; ons het immers al
korter gehad.
Ons sluit die vakansie met 'n “wenkoek”
af – as dit van my afgehang het, het ons gisteraand al met afsluiting van die
vakansie aan die hand van hierdie koek begin. Maar Annieka is adamant en sit
haar voet nie net neer nie, sy sit hom dwars neer – hy sal oornag staan (al
praat die resep van slegs 6 ure).
En 'n koek is die koek ook nie,
dis 'n tert, Klaradyn het dit wenkoek gedoop oor dit die landswye wenner van
Sarie of Rooi Rose se peperment-yskastert-kompetisie is.
Die bestanddele het Annieka
geensins vervreem nie – ek het gesien daar staan nie minder nie as 3 kannetjies
room in die yskas, ek is 'n tweede keer winkels toe gestuur om nog Pepermentcrisp
te gaan koop.
Dis die metode wat haar amper
geknak het. Toe sy, na ons alles aangekoop het, by die metode uitkom, toe is
dit 'n baie omslagtige resep vir 'n haastige werksvrou wat vir 'n dag of wat
die luukse van huisvrou en ma het. Die sjokolade (een deel daarvan) moet in die
room gesmelt word en dan moet jy wag tot dit alles afgekoel het, sodat jy dit
kan klop. En as jou tert klaar gepak is, dan is dit nog 'n verdere 6 ure (in
ons geval, oornag) yskas toe met die ding.
Ek het nie nodig gehad om haar
wyn in te jaag, soos vroeër die vakansie die geval was toe sy 'n ander resep
uit een van die tydskrifte probeer het nie, maar daar was sweet op haar bolip
teen die tyd dat sy die verleiding gisteraand in die yskas gesit het.
Maar ek is van vermoede die
resep gaan óf
uitgeskeur en in ons resepte-lêer gebind word, óf
hy gaan met die hand oorgeskryf word in die boek waar ons die klas van ding
doen.
As dit nie was dat die girls nog geslaap het nie, het ek lankal
voorgestel dat ons ontbyt in die bed – peperment-yskastert en melk – geniet.
Gisteraand, die aand van 1 Mei,
is op 'n histeriese noot afgesluit. Aanvanklik het Klaradyn net heerlik gehuil,
maar 10 minute later het sy alle beheer verloor en haar rou geskree het die
kamer gevul.
Die vorige keer wat Klaradyn in 'n
fliek gehuil het, soos 'n mens wat empatie het maar in 'n fliek mag huil, was
toe ons The Velveteen Rabbit gekyk
het. Dit was seker goed 8 maande terug, indien nie langer nie, en ek was
verbaas oor Klaradyn se “volwasse” huil teen die einde van die fliek. Sy het
die storie gevolg, haarself emosioneel ingeleef en teen die einde het die trane
stil oor haar wange gerol, miskien opgebou tot 'n beheersde snik – presies soos
ek ook maar lekker in stilte gesit en snik-snot-en-tjank het.
Gisteraand toe kyk ons die
1999-fliek, The First of May. Nie doelbewus dat ons toe nou 1 Mei kies om dit te kyk nie, bloot toeval. Die fliek, ek weet nie wie almal dit al gesien het nie,
se tagline by Internet Movie Database is An unwanted boy and a forgotten old lady find running away to join the
circus is really coming home.
Ek kan my voorstel dat 'n swembadheining nie
deur die fliek ontroer gelaat sal word nie, maar wat die res van ons betref,
sal almal tot trane of die inkrimp van die hart beweeg word.
Klaradyn toe ook.
Geensins omdat die fliek 'n ongelukkige
of hartseer einde het nie, glad nie, trouens en inteendeel.
Maar die omvang van emosie, die
deernis en die “mooi” in die fliek, ook na die klimaks van die fliek wat maklik
'n onaangename nadraai kon hê, is genoeg om die gemiddelde mens met
emosionele volwassenheid en intelligensie, tot 'n traan of wat te dryf.
En ek is trots op my kind toe sy
saggies begin snik. Ek besef daar is ander haar ouderdom wat nie noodwendig
geraak sal word soos sy haarself inleef en toelaat om geraak te word nie.
Maar toe die res van ons, week en
broos maar all smiles oor die
lieflike afloop van gebeure, bedwaarts keer, toe is Klaradyn se huil skielik nie
meer wat 'n mens as “volwasse” en “beheersd” kan beskryf nie.
Maar toe ons agter die kap van die byl
kom, het Klaradyn presies toegelaat om te laat gebeur wat boeke en flieks
veronderstel is om te doen – sy het dit deurgetrek na haar en haar lewe toe.
En dit doen sy toe nou deur die oë van
'n sesjarige, wat sy is, en nie deur die oë van 'n volwassene nie. En doen jy
dit deur die oë van 'n sesjarige, kom jy by gans 'n ander prentjie uit as deur
die oë van 'n volwassene.
Maar die prentjie van 'n volwassene,
kan ons nie van 'n sesjarige verwag nie, of dit vir haar inkleur nie, toe troos
haar Ma haar lieflik en sagkens, soos dit hoort, en daar waar sy aan die slaap
geraak het, slaap sy steeds.
Ek, wat intussen 'n draai in die
kombuis gemaak het, het afgesien van peperment-yskastert vir ontbyt; ons laat
dit maar oorstaan vir tee.
Ons gaan kalfsoog-eiers vir ontbyt
eet. (Ek het groot geword met die benaming kalfsoog-eier
maar Annieka, wat wel 'n geposjeerde eier ken, ken nie my kalfsoog-naam vir
'n poached egg nie.)
Ek het twee keer al probeer om 'n eier
te posjeer soos Julie dit onder instruksie van Julia in Julie and Julia doen. Dit was nie een van die twee kere 'n reuse
sukses nie. Maar Klaradyn, eintlik ons almal, is baie lief vir 'n lekker eier
op sy tyd, en daar is darem min dinge so lekker soos 'n kalfsoogeier.
Ek het 'n ruk gelede 'n gadget gekoop wat jou eier in die
mikrogolf posjeer, maar soos met so baie van my gadgets is ek nie beïndruk nie. Toe koop ek vroeër die week een van
daardie panne met die bakkies vir die eiers, soos wat my ma gehad het.
En as jy die eier wat daaruit kom, nie
as 'n kalf se oog herken nie, dan het jy nog nie 'n kalf se oog gesien nie.
Tot later dan, wanneer ek vanuit die
tuig, en nie die weikamp of stal nie, sal gesels.
No comments:
Post a Comment