Toe my broer, 17 jaar my senior, uit die Kaap bel om te hoor
hoe dit gaan en ek vertel hom wat dit is wat ons vanaand eet wat Ma altyd so
lekker gemaak het, reageer hy nie soos 'n 64-jarige nie, maar soos 'n
17-jarige.
Ja, dis beslis donkiesjare dat hy dit nie geproe het nie, en
ja hy hunker daarna, soos ek ook die afgelope ruk.
Soos Judy dit gemaak het, sal ek haar dit nooit kan nadoen
nie. Resep het sy nooit gehad nie, en ook al seker 8 jaar te laat om haar te
vra om te maak dat ons kan dophou – sy weet nie meer of dit Maandag of dit
Wasdag is nie, of dat sy 'n ouer seun in die Kaap het nie.
En as jy daarmee grootgeword het, sal dit tot jou spreek; as
jy dit nie ken nie, hou verby, dit word gemaak van “innerlike vleeslikhede”
soos een van die ou kookboeke wat ek het, die hoofstuk daaraan afgestaan, dit
noem.
Uit Judy se pan onthou ek uie, nie gekap of in ringe nie, in
maar in lang maer stringe. Dan die lewer in skywe. En as dít
reg is, die soetsuur sous.
En het ek dit gereeld gemaak sou ek seker kon improviseer en
regkom, maar lewer 'n luukse wat ek hoogstens een keer jaar maak. Die gevolg
is, ek blaai maar deur die resepte.
Die Finne maak 'n lieflike lewerkoekie, eerder 'n
lewer-plaatkoekie, want jy laat val dit letterlik soos 'n Flap Jack uit jou lepel op 'n warm plaat.
Maar nee, ek is lus vir lewer en soetsuur sous.
'n Lewer en soetsuursous wat gesnyde uie kry, loop ek nie
raak nie. Lewer en uie, ja, baie, maar dan alleen of met spekvleis, nooit met
soetsuursous nie.
Op die ou einde besluit ek op Peter Veldsman se manier van
doen. Al hierdie man se resepte is te omslagtig vir 'n lui huisvrou, maar as jy
kortpad wil vat, dan kan jy take aways gaan
koop, of beter nog – dit by jou huis laat aflewer.
Nog elke keer wat ek die tweede myl saam met hom en sy
resepte gestap het, of dit nou sosaties of spek-en-bone-sop is, was ek nie spyt
nie, en loop ek die pad 'n tweede, derde, en twintigste keer saam met hom.
Jy het so 500 gram lewer nodig. Ek is nie vir enige lewer
neusoptrekkerig nie, varklewer maak wat my betref moeilik vlies-af, kalfslewer
kry ek nie, beeslewer is niks verkeerd mee nie, maar ek verkies skaaplewer.
Myne het klaar skoongemaak en in skywe gesny by Woolworths
in my mandjie gespring. Ek het dit probeer uithaal maar dit het toe so 'n keel
opgesit en soveel aandag op my gevestig dat ek dit maar terug in die mandjie geplaas
het, net om dit stil te kry, en stil te hou.
Google hoe om
lewer skoon te maak – ek gaan nie nou uitbrei nie. (Hier is die beste, en goed genoeg, wat ek in 'n kort soektog kon kry.)Maar as jy nie gewoond is om
dit te doen nie, stel ek voor jy koop eerder nader aan 750 gram se lewer, want
jy gaan mors en netnou het jy te min oor.
Hulle sê dit maak 'n verskil as jy die lewer vooraf in 'n suur
soos asyn of karringmelk laat lê – dit doen glo iets aan die geur. Ek
doen dit maar, maar of dit 'n verskil maak, weet ek nie – ek maak te min, soos
ek sê,
om te wil eksperimenteer om te sien of dit anders proe as ek dit nie doen nie.
So agtermiddag se kant het ek my lewer met asyn bygekom,
seker so kwart koppie. 'n Uur, twee ure. Drie ure kan seker nie skade doen nie.
Vroegaand toe sny ek die lewer in blokkies en gooi rooipeper
en swartpeper oor.
Ek het drie middelslaguie geraper – nie gekap nie, gerasper,
en by gebrek aan vet om dit in te braai, moes ek maar botter gebruik.
Terwyl dit braai het ek twee koppies voorberei:
In die een is 3 teelepels mielieblom, 2 teelepels suiker,
die gerasperde skil van 'n suurlemoen, en 3 teelepels asyn.
In die ander is drie eetlepels suurlemoensap en ek het die
ketel aangekry vir 'n halwe koppie kookwater.
Toe die uie lekker sag is, het ek die lewer vinnig oor hoë
hitte geroerbraai. My blokkies was klein, so ek was 2 minute besig, maar jy kan
goed 4 minute besig bly, sit jy met duim-dik blokkies.
In met die suurlemoensap en kookwater. En op met die deksel
dat dit kan stowe – enige iets van 4 tot 8 minute (na gelang weer eens van die
grootte van jou blokkies).
Weet 'n mens kan lewer rou eet en niks oorkom nie – dis
trouens vir honderde jare rou voorgeskryf vir sekere siektetoestande – so
moenie bang wees vir te min gaar nie.
Weet ook, oordoen jy die roerbraai en stowe, dan word jou
lewer taai.
Om op te som: te kort
op die hitte kan jou niks doen nie, te lank bedonder die tekstuur.
(Myne was vanaand te lank na my persoonlike smaak in kontak
met die vuur, maar dan maak ek vir meer mense as myself die kos.)
As die dis nou klaar gestowe het, dan gooi jy die ander
koppie se inhou in – die suiker, mielieblom, gerasperde skil en asyn.
Maar voor jy dit doen, proe jy eers in die pan – en gooi
sout na smaak by.
Nou is dit enkele minute van opdien af.
Al wat anders is as waaraan ek gewoond is, is die
suurlmoensap; Judy se soetsuursous was, soos die meeste resepte aangee, net van
asyn en suiker gewees. Maar soos ek sê, die ekstra myl wat Veldsman jou laat
stap, is elke tree die moeite werd.
Ek is gewoond aan kapokertappels saam met die lewer. Maar
ons blokkies is vanaand op gestampte koring wat saam met rosyntjies opgekook
is, voorgesit.
Heerlik. Te heerlik vir woorde.
Daar bly toe (met so bietjie selfbeheersing van my en
Annieka) genoeg oor dat ek gou 'n proeseltjie kon aanry na Ouma en Oupa se huis
toe. Ek weet hulle sal dit baie meer waardeer, as wat ek dit nou vermors op 'n
kind wat dit nie geniet nie.
No comments:
Post a Comment