Pages

27.3.12

Gesondheid dan, Dok Bet


Vergeet 'n oomblik van die Joodse bruidjie:
Ek kyk na die foto van Dok Bet wat Peet op die Dep se FB-blad gelaai het – so onthou die departement haar – en ek herken ‘n jonger Bet Botha as die een wat ek in 1983 leer ken het.
Ek maak my oë toe om mý Bet Botha te onthou – en dis ‘n gans ander beeld as daardie een wat tien teen een deur Oom Piet Photies  geneem is, wat by opkom.
Dis Oktober 1991, ek is al 6 jaar nie meer deel van die Dep nie, en ek sien Dok Bet kaalvoet om ‘n kampvuur in die Kruger Wildtuin sit. Nie waar nie – in die Olifantsrivier-wildernisstaproete se lapa.
Dis kort voor sy sestig geword het en sy het die geleentheid om saam met ons te kom stap aangegryp – die oomblik toe ek dit gerig het. En daar stap ons twee dae – die jongste in die geselskap is Jurie Herbst, daardie jaar die skool se eerstespan losskakel; die oudste Dok Bet – knap voor sestig.
Die stort daardie aand was warm water uit ‘n groot sink asblik wat op vier pote staan gemaak is.
O, dit was lekker. En dit was lekker saam met Dok Bet. Ons het baba leeuwelpies aan ons voete gehad, olifante gesien – naby – en seker goed sestig krokodille op ‘n sandbank in die Krokodilrivier verras.
En dit was Dok Bet – sy het die lewe aangegryp met ‘n joie de vivre wat skrik vir niks.
Die ander beeld wat by my opkom is jare later, die laaste keer wat ek haar gesien het en geweet het dis die laaste keer. Ons het, soos die gebruik was, by die De la Reys oorgeslaap op pad Kaap toe of terug. Oom Danie het baie agteruit gegaan en dit was duidelik dat haar lewe gereduseer is tot liefdevolle (maar ook effe ongeduldige) baba-oppasser. Ek sien die kort krom figuur in die lang japon staan. Het sy fisies gekrimp, of het die inkrimp van haar bestaan – die huis toe ook al lank in die mark – haar net kleiner laat voorkom?
Maar snaaks, voor ek haar sien, hoor ek haar; nie suiwer haar gunsteling sê-ding (dit was nou so goor soos die dood) nie, haar weifel en aarsel, haar metataal en tussenwerpsels. Dan hoor ek haar lag, grinnik en snork – by gebrek aan beter woorde vir die ryke omvang van haar lag-repertoire. Die lag wat ek as sinies sou beskryf, kom nou die sterkste by my op.
Ek wonder of daar nog mense is wat destyds saam met daarvan bewus was dat Dok Bet ‘n baie mooi halslyn gehad het: melkwit, seepglad met hier en daar die buitelyne van ‘n blou aartjie. En rondom die sleutelbeen was die mooiste kuile. En ek ontboesem nie hier ‘n onwelvoeglikheid in my aangetrokkenheid tot Dok Bet nie – soos wat party vrouens se voete of nekke ‘n man opnuut bewus maak van hoe mooi ‘n vrou se voete of nek kan wees, het Dok Bet ‘n man net bewus kon maak van hoe mooi ‘n vrou se hals kan wees.
Ek het seker so vir twee jaar van my lewe smiddaes middagete saam met Dok Bet genuttig. Ek het haar seker met intervalle van 6 jaar op drie geleenthede gebel om te vra hoe party van haar gunstelingresepte werk. O, ons was lief vir gekookte eiers in ‘n wit sous met broodkrummels oor. En dan kon Letia (die dierbare huishoudster van daardie jare wat toe oornag weggeraak het) ook iets lekkers met visvingers in ‘n soortgelyke dis gemaak.
En so lekker soos wat ons saam geëet het, so lekker soos wat sy geëet het, het Dok Bet mos nie sommer juis iets kon proe nie – glo oor sy nie kon ruik nie. Iets moes soorts van waaragtig waar baie lekker wees, voor Dok Bet dit as lekker kon ervaar.
O, en dan het ek en sy die platteland deurkruis om ATKV-skooltonele te beoordeel! Dit was lekker tye gewees. Dok Bet is een van die min mense van wie ek net positiewe en aangename herinneringe het – nie oor drie of vier jaar se studies heen nie, oor ‘n vriendskap wat jare sou duur.
Ek en sy hou toe mos nou weer saam skool – ek in Pretoria; sy op Middelburg. Ons ruil tekste uit, spoor vir mekaar tekste op en dikteer poësie vir mekaar oor die foon.
Ek dink dit nie, ek weet dit – ek het baie by Dok Bet geleer in die drie jaar dat ek by haar klas gekry het, maar ek het onskatbaar meer by haar geleer in die jare nadat, eers ek, en toe later sy, weg is op Potch.
Van Wyk Louw, wat sy hande saamslaan in haar studeerkamer, sal my tot my dood bybly.  Die allermooiste wat Dok Bet ooit met my gedeel het, en sy het dit by herhaling met gedeel, oor meer as net ‘n jaar of wat heen, kom uit Tristia (en sy het die woorde nooit opgesê nie, maar gepraat, die gedagtes gepraat): 
Wie naand gesê het, moet goéd wees
vir die vir wie daar naand gesê is;
want die aand is daar om in lief te wees,
en die dag is hard, en die môre is droewig,
meestal:  ons is nie aarde wat suiwer is nie.
Ons arbeid die maak nie ons harte bly nie:
ons is nog onvoltooide wêreld.
En kon sy stories vertel! Nie Brink se lekkerlag-stories of De Maupassant s’n met die kinkel in die kabel aan die einde nie, haar eie stories! Van die plaas en van Belie en van Saar, haar ouers, haar skooldae, haar vakansies, die mense af in die straat, Rivierstraat se stories.
Die divan in die sitkamer het ‘n karos op gehad, op Potch en op Middelburg (aanvanklik). Ek het ‘n dubbelbed karos loop, jare later.
Ek het Tisha Ballot verlede jaar gekontak om te hoor of sy nog so ‘n Oos-Vrystaat-ankerpaal het soos die een in Bet se sitkamer nie. Tisha onthou hom goed, maar nee. Ek onthou hoe ek deur die Oos-Vrystaat gery het, plek-plek afgetrek het en met ‘n mik-en-druk die veld in is om die goed af te neem. Ek het dit in ‘n stadium selfs laat skilder.
Ek het twee Elwin Buchel’s in my huis. skapens en beestens; nie hieroor of daaroor nie, maar oor dit die naaste is wat ek ooit kon kom aan die weiveld in Bet se slaapkamer, en later sitkamer.
Het nog iemand Bet ooit hoor praat oor Die Joodse bruidjie van Renbrandt? Sy kon die bruidegom se mees intieme gebaar oor sy vrou se borste só mooi verwoord.
Ek het myne gaan koop, in 1994, waar Bet hare gekoop het en al die pad in my rugsak terug gedra Suid-Afrika toe.
Ek het selfs in Wenen vir my ‘n afdruk van Breughel se jagters deur die sneeu gekoop.

Die mooiste woord wat sy my geleer het, is “reikhalsend” – wat wat sy met soveel oorgawe kon gebruik, dat jy jou verbeel dit beteken halsreikend! (En dan ken ek nie iemand wat Bophutatswana  - en vergeef die spelling - so mooi kon uitspreek soos sy nie - ek het altyd gewonder wat sy met Phutaditjaba sou uitrig).
Hierdie vrou het my help vorm, sonder hierdie vrou was ek ‘n ander mens vandag, en nie beter daaraan toe nie, maar swakker en slegter, minder geslyp en minder afgerond
Daarom dat ek haar nie mis nie, nie sal mis nie en nie kan mis nie; sy leef in my en om my, fisies in en om die huis, maar ook figuurlik in my ganske wese en gedagtes.
Dok Bet sal my gevolglik eers ontval die dag as ek myself ontval.
Mag sy nog lank, vele lewens lank, voortleef.
Dit was lekker om hartseer te wees, en goed hartseer te wees soos net ek goed hartseer kan wees – maar daar is so ontelbaar meer om geensins hartseer oor te raak nie, om oor bly te wees, dat dit amper ‘n vermorsing van krag en energie is om op die hartseer te fokus. Drink eerder saam met my ‘n heildronk op ‘n wonderlik uitsonderlike mens.


25.3.12

Saterdag 24 Maart 2012

Pa en Dogter het gister, vanuit Pa se perspektief, ‘n lieflike dag saam gehad. Vanuit Dogter se perspektief was dit nie lekker nie, maar soos sy dit stel:  “lekkerder as lekker.”
Dit was vroeg in die week al duidelik dat ek en sy Saterdagoggend vir onsself gaan hê, terwyl Ma takies en dingetjies (wat eintlik nie takies en dingetjies nie maar TAKE en DINGE is) by die skool aan het. Ons het gelukkig eers 15:45 nodig om by haar aansluit.
Die Boeremark, vroegoggend, sal lekker wees – en vandaar af beweeg ons na die Hazelwood kosmark, ‘n katspoegie van die skool af.
Maar dit sal net vir Pa lekker wees – watse plesier sal dit nou vir ‘n sewejarige inhou.
Hugo, sal dit dan wees. Na ons die eerste keer al die voorprent gesien het, het ek geweet dit sal nie ‘n Pappa-Mamma-en-Klaars fliek kan wees nie – Pappa wil dit kyk; vir Mamma lyk dit donker.
Toe lees ek iewers langs die pad dat die ding het pryse en Oscars en toekennings gekry het, die akkolades het glo ingestroom. Selfs Ma noem haar haarkapster het te vertelle dat dit ‘n lieflike fliek is. My barometer wie se oordeel ek te alle tye vertoue is ‘n vriend met drie kinders, die jongste so bietjie jonger as Klaradyn, die oudste se bietjie ouer.
Hy oortuig my net verder.
Maar toe ek Vrydagaand wil kyk hoe laat en waar die fliek orals wys, is die teleurstelling baie groot:  aldus Ster Kinekor en NuMetro se webwerwe wys die fliek, wat Gauteng betref, nog net in Johannesburg, in Sandton en Rosebank.
Nou, kyk, daar is nie ‘n manier nie – as jong verliefdes en selfs as pasgetroudes het ek en Annieka gereeld deurgeskiet Johannesburg toe vir ‘n fliek, selfs op weeksaande in die middel van die skooltermyn, maar dit was baie jare gelede.
Dis egter ook net tot ek tot die besef kom dat ék nie noodwendig hoef te ry nie, die masjinis (of deesdae seker bloot die operateur) van die Gautrein kan mos die bestuurwerk doen.
Klaradyn, klein snip wat sy is, wil nog haar ma se woorde wat dié haar twee maande gelede voorgepraat het, die van die fliek wat kwansuis “donker” is, eggo (sy wil-wil nie net nie; sy doen dit trouens) maar toe sy eers die moontlikheid van ‘n treinrit hoor, is dit so goed soos ek proe klaar die volgende oggend se springmielies in my mond.
En toe is dit vroegoggend (vroegoggend want ek wil 07:30 reeds op die trein wees) duidelik dat Klaradyn hiervan uit en uit ‘n Pappa-en-Dogtertjie-dag gaan maak. Ek het my Mad Dogs-hemp aan, en skielik dring sy daarop aan om ook een van haar twee Mad Dogs-hempies (wat sy, tot my en Annieka se spyt) nóóit wil dra nie, aan te trek. Maar ons sukkel met ‘n gepaste broek en daar is selfs trane in die verband.
Ma is self nou lank nie meer haar sprankelende selwers nie – ons dag weeg darem nou aansienlik lekkerder op teen haar oggend wat soos ‘n berg voor haar uitgestrek lê.
Ek oorweeg dit selfs in ‘n stadium om die hele oggend te kelder, maar gelukkig het my Engelse skoonsus my toe, ek sommer nog baie klein was, bekend gestel aan die Engelse spreekwoord wat lui don’t cut off your nose to spite your face.
Ons is inderdaad betyds vir die O7:00-trein en toe Annieka knap na O8:00 bel om te hoor of ons darem al op ‘n trein is, stap ek en Sussie al in Sandton City rond. Ons is trouens pas verby die Häagen Dazs-roomyswinkel en ek wat vir haar sê dat ons vandag net één ding móét doen. Maar voor ek nog kan uitbrei en sê dat ons voor huistoegaantyd daar ‘n roomys móét koop, trek sy, immer aan my hand as ons vreemde waters betree, los met: “Ja, Pappa, ons móét net een ding doen, en dis om die hele dag lank alles te geniet.”
Ons kon ‘n uur of ‘n halfuur voor die aanvang van die fliek op die stasie wees; ek het doelbewus gekies om dit veiligheidhalwe maar ‘n uur te maak – netnou “verdwaal” ons, of is daar iewers ‘n iets in die drinkwater en is ons nie betyds nie.
Toe gaan ontbyt ons maar en beland in ‘n plek wat buffet-ontbyt aanbied. Nou dis die ander baie spesiale Pa-en-Dogter-lekkerte:  Ma sal altyd iets a’la carte bestel, terwyl ek en sussie die avontuur beleef van by herhaling opstaan en buffet toe stap om ons daar aan talle klein porsies van die interessantste goedjies te help.
Ek het geweet my kind het ‘n lekker ervaring toe sy halfpad deur die ete opmerk: “Pappa, wanneer ek eendag trou, wil ek hê dit moet hier wees – alles is só mooi.”
Nou, Hugo draai al langer as ‘n maand, dis Sandton City, 09:00 op ‘n Saterdag-oggend:  diegene wat nog nie die fliek gekyk het nie maar wel wil kom, slaap almal nog – dis net ek en Klaradyn en een ander man in die grootste fliek waarin ek en Klaradyn nog ooit saam was.
Ek en sy sit in/op een van die vrybankies waarvan ek nog net gehoor het – dis twee sitplekke langs mekaar, maar die armleuning tussen die twee is verwyder en die skerm waar jy bespreek, verduidelik dit is intended for couples.
En omdat ons regtig net een ander mens in die fliek het – ons het trouens eers aan die einde toe die ligte aan gaan en ons uitstap, van hom bewus geword – doen Klaradyn toe iets wat enige kind altyd in 3D-fliek wil doen, maar nie kan doen nie omdat daar te veel mense is en Ma sal raas: sy probeer die balletjies en brokkies en wat-ook-al die regisseur van verskillende 3D-advertensies op die kyker laat afpyl, vang. En ook nie lank nie, toe is dit twee kinders wat onbevange sit en goeterstes in die donker sitplek sit en vang. Te lekker. En as ons nie vang nie, dan koes ons met net soveel oorgawe.
As ons nie vandag (Sondag) ‘n maatjie se verjaarsdagpartytjie aan gehad het nie, het ek en Klaradyn én Mamma vandag weer deurgeskiet Johannesburg toe om die fliek te gaan kyk – hierdie keer sodat Mamma dit ook kan sien en geniet soos dit geniet moet word. Ek weet Annieka sal dit geniet, baie geniet en dis ‘n jammerte dat sy nou vir die video-ervaring in die sitkamer, in plaas van3D op ‘n regtige egtige baie groot grootskerm, sal moet wag.
Die voorprent kan misleidend wees en by sommige mense die indruk wek dat die fliek “donker” kan wees, maar dit is glad nie die geval nie. Die tema word duidelik op nie minder nie as vier maniere aan kinders uitgespel: Dit is nie, soos ons almal so lief is om te sê, net  flieks wat gekenmerk word aan gelukkige eindes nie; in die werklike lewe leer ken ons ook gelukkige eindes, baie, gelukkige eindes (meer as een) én baie gelukkige eindes (geluk in oormaat).
O, en Martin Scorsese speel lekker met sy gehoor: in ‘n stadium neem hy ons deur ‘n toneel wat dan gelukkig net ‘n droom blyk te wees; die hoofkarakter skrik natgesweet wakker. Maar dan skrik hy nie wakker nie, dis net ‘n droom – hy droom in sy droom hy skrik wakker, maar droom verder; dis eers as hy die tweede keer, hierdie keer regtig, uit sy droom wakker skrik, dat ons besef hy het netnou net gedroom hy word wakker uit ‘n droom.
En dan is elke raampie ‘n skildery, ‘n visuele meesterstuk, op sy eie en in eie reg. Die fliek is mooi, nie mooi nie, lieflik, maar elke toneel, elke skoot, bykans letterlik elke raam, is esteties, vir die oog, mooi, trouens mooi verby.
En Klaradyn het dit ook geniet. Dis sy wat my toe weer vang, toe ons uitstap, met: “Nee, Pappa, ek het nie van die fliek gehou nie... ek het sommer báie van die fliek gehou.” Te wyte aan haar daarom dat ek die leser nou al twee keer met iets soortgelyks konfronteer het.
Toe ons twee uur later uitstap, toe lééf daardie sentrum, dis ‘n miernes. Ons kry ons Häagen Dazs (ek het letterlik laas in 1994 iewers in Europa regte egte Häagen Dazs geëet) en gaan geniet dit soos twee wafferse toeriste op die trappe langs die voormalige staatspresident se bronsbeeld op die plein.
En so amper is my kind toe kind-alleen gestrand in die vreemde. Want toe ek vir die 6 bolletjietjies roomys betaal, toe slaan die man my toe R165-00 vir die twee kleine bakkietjies met drie skeppietjietjies elk in, aan. Maar ek slaan nie op die plek morsdood nie, ek bly staande en gee baie subtiel met my lyftaal te kenne dat dit tog sekerlik nie die prys van 6 bolletjies roomys in twee palmgrootte bakkies kan wees nie. Maar nou is dit Sandton, nou is dit Häagen Dazs. Die man kom toe gelukkig sy fout agter en in plaas daarvan dat die ses skeppies roomys my R165-00 uit die sak jaag, kos dit my, ‘n tweede herberekening op die kasregister later, net R120-00 rand.
Dis hoekom ons nie regtig soos wafferse toeriste op die trappe langs Meneer Mandela gaan sit het nie – ek het eintlik daar neergeval, uitgepaas soos die kinders dit in hul opstelle spel.
Na ek my lewenskrag herwin het (my beursie was daarna nog nooit weer dieselfde nie) is ons seker vir twee ure boekwinkels toe – eers na die een Exclucive Books op die plein, en toe die ander een in die sentrum self.
Daar was baie waarvoor ek sou kon en sou wou swig, maar bly daar dan nou vir jou oor as jy die dag alles wat jy jou oë op lê kan koop?
Ons is betyds terug by ma gewees, het lekker hokkie gekyk, en heerlik vroeg gaan slaap.
Soos Sheila Cussons dit so mooi in een van haar gedigte stel: “te goed is hierdie dag om net aan my te gee”
Daarom dat ek ook nie anders kan as om dit te deel nie.

19.3.12

En die stilte dan

Met die Afri-fabels skop ek 23 April 2011 af, daar is reeds 244 bloginskrywings en ek is baie opgewonde oor die 3 116 bladlese wat ek afgelope 11 maande gehad het.
Pappa-Mamma-en-Klaars is darem ‘n maand ouer; hy sien 16 Maart van dieselfde jaar die lig. Daar is nie soveel bloginskrywings nie, slegs 153, maar uit die aard van die blog se inhoud, en omdat die mense wat in die een-en-twintigste-eeu nog oor Esopus se fabels opgewonde raak, yl gesaai is, geniet hy sowat 1000 meer bladlese:  4 085.
Ag, siestog, en dan is daar is die stiefkind, Tweedepouse, my hart se punt. Hy het net 80 inskrywings sedert 19 Mei, en dan ‘n skrale 641 bladlese. Hy het dieselfde leserspubliek as Pappa-Mamma-en-Klaars, my Facebook-kennisse en –vriende, dis die selfde aard en styl, maar bloot die feit dat dit nie vars uit die oond is nie, maak dat hy nie gelees word nie. Dit, terwyl bitter min van die huidige lesers, destyds, toe dit nog Kortpouse was, die geselsies gevolg het waar ek dit tóé gepos het.
Die suksesvolste, gemeet aan bladlese, is daarom Pappa-Mamma-en-Klaars; dit het gemiddeld 26, 7  lesers per inskrywing. Dan volg die fabels met 16,9. Heel laaste aan die kortste speen trek Tweedepouse met 7,6 lese per inskrywing.
Maar nie by Pappa-Mamma-en-Klaars nie, nie by die fabels nie, en ook nie eers by die maklike spoeg-en-plak van die Kortpouse-goedjies waarby ek so van tyd tot tyd onder Tweedepouse probeer uitkom, het ek hierdie week juis by stilgestaan nie.
En tog het enige beginner-blogger se wildste drome Dinsdag en Woensdag vir my waar geword. Ek het Dinsdagoggend ‘n nuwe blog begin, en twee ure later had hy reeds meer bladlese as die ganske Tweedepouse in 10 maande. Na slegs 10 inskrywings, in minder as ‘n week wat die blog aan die groot klok gehang is, het dit reeds 1 702 bladlese geniet – ‘n gemiddeld van 170 bladlese per inskrywing!
Ek het as blogger nog nooit so goed gevoel nie, en sal as blogger ook nooit so goed voel nie.
Die bleddie ding het darem ‘n voorsprong bo die ander drietjies wat ek so koester – elke ouer in die skool het dit Dinsdag in sy e-pos-inmandjie ontvang. Donderdag ek die skool se alumni wat funksionerende e-posadresse op die alumnikantoor se databasis het, dit ook ontvang.
Ek het geweet dis kroek, maar dit maak nie saak nie, dit was lekker.
Hierdie blog het reeds 47 lesers wat ingeteken het om van elke bloginskrywing verwittig te word. Pappa-Mamma-en-Klaars het slegs 13, Tweedepouse het 4 en die fabels, 1.
En dis hierdie nuwe blog wat my weg van die ander had hierdie week, maar ek gee nie om nie – dit was een vet lekkerte.
Hier waar ek werk is ons volgende jaar 50 jaar oud en ek het die blog vir die oudleerlinge begin. Ek gaan ook verantwoordelik wees vir ‘n been van die halfeeufeesvierings se administrasie. En omdat ons skool se e-pos-stelsel meer wisselvallig as Eskom se kragvoorsiening is, het ek besluit om alles aan die hand van die blog te kommunikeer.
En wanneer daar geen werk is om verslag van te lewer of kennis van te gee nie, krap ek maar in die skool se verlede en deel dit met die oudleerders.
En verder gaan daar in ons lewens nie veel aan nie. Ek geniet steeds elke oomblik wat ek voor ‘n klas staan en werk, en met die dat ek nou so lekker in die skool se geskiedenis kan krap, geniet ek selfs heelwat van die oomblikke by die skool waar ek nie voor ‘n klas staan nie.
Klaradyn is steeds een vet vreugde. Sy vertel toe mos iewers hierdie week dat sy en haar maatjies ook maar redelik vlugtig vir hul juffrou is. Ons lei maar af sy het lugtig met daardie vlugtig bedoel.
En Annieka gaan week 5 van die 6 weke wat rondom haar siekte voorspel is, in. As alles goed gaan, is sy binnekort weer 100% klopdisselboom.
Het ek by Pappa-Mamma-en-Klaars uitgekom hierdie week, sou ek tien teen een van die lekker kos vertel het – heel skaapnek, murgsag. En toe draai die weer en die koue tong wat ek beplan het, om net nog een keer darem nog lekker koue tong te kan eet, word toe warm tong.
En dan moet julle weet, ek het nog nooit my eie warm tong gemaak nie. Ek hou mos nie eintlik van tong nie – suiwer ter wille van my skoonpa dat ek dit Kersfees op die spyskaart gesit het.
Maar toe kom kry ons reën en ek weet met die koue tong is dit nou neusie verby.
Ek krap in my kookboeke, op soek na “skoonma se tong” wat my ma altyd gemaak het. Ek kry niks onder daardie naam nie, baie soortgelyke resepte, maar niks onder daardie naam nie.
En ek soek “skoonma se tong,” niks anders nie.
Ek is selfs op die internet op soek na die resep.
Judy het dertig jaar terug en later te vertelle gehad dat die resep skoonma se tong heet, omdat dit so ‘n skerp smaak het. Maar ek dink dis apokrief, sy het tien-teen-een gaan leen by die plant met die naam “skoonma-se-tong” – dit het mos sulke lekker skerp tweesnydende swaard-tongvormige blare.
Want, nie waar nie, maar aan huis van my eie skoonma, dat ek toe nou die “skoonma se tong”-tongresep waarna ek so op soek was, by die naam opspoor. In die eerste Huisgenoot-Wenresepte van 1982.
En toe ek die resep so lees, toe besef ek dat ek enige van die ander mosterdtong-resepte wat ek opgespoor het, kon gebruik het, hulle is almal eintlik maar ligte variasies op een en dieselfde resep.
Maar vir my sou dit nie dieselfde gewees het nie, en ek sou nie gerus het voor ek nie regtige egtige “skoonma se tong” opgespoor het nie.
En die vrou wat die resep destyds Huisgenoot toe gestuur het, verklap toe waar die naam vandaan kom – dis die naam wat haar skoondogter die resep gegee het.
Dit beteken natuurlik nie dat Judy destyds en oor jare heen gejok het oor waar die resep aan sy naam kom nie – sy had die eerste Wenresepte beslis nie, dis maar eers hier van die tweede een af dat sy dit begin koop het; sy sou die resep met die hand geskryf iewers by ‘n vriendin of damestee of vrouevereniging-vergadering gekry het.
Dis duidelik ‘n laat sewentigs, vroeg tagtigs resep – dit kry ‘n volle koppie mayonnaise in.
Maar dit het goed afgegaan en as ‘n nostalgie my weer oorval, sal ek dit beslis weer maak.
Ek wens my broer was hier om saam met my ons ou mammie se hartskos te kon geniet.
Ai, en toe braai ek gisteraand die lekkerste boerewors wat ek in ‘n lang tyd by die Boeremark gekoop het. En ek maak pap, nie soos die aangetroude en aangebore familie daarvan hou nie – dis nou Annieka en Klaradyn, maar soos ek daarvan hou.
Daar waar ek smiddaes na skool gebly het, terwyl my ma gewerk het, kon ons kinders altyd op die laaste dag van die kwartaal kies wat ons vir middagete wil geniet. En ons keuse was kwartaal vir kwartaal, jaar na jaar, presies dieselfde:  pap en wors en sous.
Maar nie krummelpap nie (dit het my skoonfamilie my jare later voor lief gemaak), nie stywe pap nie, maar iets so tussen stywe en slap pap.
En daar eet ons Saterdagaand toe so lekker pap en sous en wors, dat ons Sondag weer pap en sous en wors eet. Woolies se wors hierdie keer, maar dit was net so lekker.
Tot later dan.
En hopelik hou die skoolblog my nie so besig dat ek nie sommer gou weer by Pappa, Mamma en Klaars se Pappa-Mamma-en-Klaars kan uitkom nie.

18.3.12

Dinsdag se gesels, Sondag

As dit nie was dat haar brein haar grotendeels vooruitgegaan en voortydig ontval het nie, sou my ma tot ‘n week voor haar afsterwe nog van my kon sê:  “As sekere dinge nie aan jou lyf vas was nie, het jy dít ook al lankal iewers vergeet of verlê.”
Die eerste keer toe sy dit kwyt geraak het, was ek nog so klein dat ek geensins die speelse strekking van haar woorde gesnap nie – ek was nog hopeloos te jonk.
Nie dat dit vandag, hier, enigsins oor enige een  van “daardie dínge” (of goeterstes) gaan nie – hierdie is immers ‘n openbare platform – eerder die vergeet en verlê en die verloor.
Sien, ek het dit vandag weer gedoen:
Dis meer as ‘n halfuur se ry, deur ‘n poort tot anderkant die Magaliesberg om Klaradyn by haar drama-speelgroep uit te kry.
En dan is ek nou nie iemand wat stil in ‘n kar in die son kan sit en wag nie.
Vanmiddag gaan koop ek toe haaskos en kokketielsaad oor ek Saterdag te lekker in die bed gelê het toe ek op moes gespring het en deurgeskiet het Boeremark toe.
En vandaar moet ek deur Sinnoville-slaghuis toe, ook nie “moet” nie, maar “wil”:  hulle beestonge is altyd lekker klein en kook lieflik sag uit om koue tong vir ete te kan geniet. En dan soek ek twee skaapnekkies wat ek oornag murgsag in die prutpot gaar wil kry – na so ‘n nag “skil” jy die vleis van die been af soos jy ‘n turksvy se skil van die vrug afskil.
Ek en die dame agter die vleis gesels heerlik en ruil resepte uit – ek loer bykans weekliks daar in, juis omdat dit vir my so lekker is om by die betrokke slaghuis en sy dames in te loer – dis die naaste wat ek ooit in SA aan een van die gemoedelike klein Duitse metzgerei gaan kom.
En toe moet ek gaan kos kop vir vanaand – die nek moet immers oornag in en die tong is vir koud saam met slaai.
Ek het nie die wêreld se tyd meer oor nie, maar ek is Pick & Pay se gange kruis en dwars op en af sonder om iets te kry wat ek my kan voorstel lekker vir aandete gaan wees.
Op die ou einde is ek terug slaghuis toe – kouevleis en slaai sal dit dan wees.
Ek betaal vir die paar Pick & Pay-goedjies en gaan groet vir ‘n tweede keer die dames in die slaghuis.
Ons praat die praatjie rondom Annieka se gordelroos en Klaradyn se waterpokkies klaar – ronde 1 het die telefoon gelui en ek kon nie wag nie, ek is toe maar uit.
Hierdie slaghuis maak nog sy eie kouevleise soos ek kleintyd op die plaas leer ken het, so ek is in my noppies toe ek met my pakkies uitstap.
Gelukkig is ek nie berede nie, anders was dit ‘n dagreis te perd oor die berg en huis toe, maar vyf en veertig minute later dra ek en Klaradyn die pakkies in kombuis toe.
En toe ek die tong en die nek (eerste inkopies van drie betaalpunte) wil bêre, toe is dit net mooi nêrens nie:  nie reeds in die yskas nie, nie steeds in die motor nie, nie in die kombuis nie en ook nie in enige een van die drie honde se pense nie.
Ek maak ‘n hooflynoproep na ‘n vriend anderkant die berg om te kyk of hy die slaghuis se nommer vir my het. En dis nie 10 minute later nie, toe bel ek hulle.
En dit is toe ook so – ja, my twee sakkies vleis wag vir my. Nee, ek het dit nie by hulle vergeet nie, maar in die Pick & Pay-trollie. (Ek was haastig.)
‘n Dagreis te perd terug? Geensins. Die een dame bly hierdie kant van die berg (ook net ‘n Pretorianer wat van die Magaliesberge se voetheuwels wat hier deur die Moot loop, as ‘n berg sal praat) ‘n katspoegie van my af – ek kan dit sommer by haar kom optel as sy na werk tuis kom.
So gesê, so gedaan.
Toe vertel ek haar van die keer, so vyf jaar gelede, toe ek, ook anderkant die berg by Kollonade, vir my ‘n nuwe rekenaar gaan koop het. Maar ook nie net ‘n nuwe rekenaar nie (kas en skerm en sleutelbord en luidsprekers), ook ‘n drukker en ‘n aftaster.
Dit was donker toe ek na ses uit die winkel stap; my motor was eenkant en alleen.
En toe ek ounag die drukker wil koppel, toe kyk ek selfs onder die motor se karmatjies, maar kry niks nie.
Ek bel toe die volgende oggend die winkelbestuur se kantore.
Hulle sit my deur na veiligheid en sekuriteit.
En ja, so waaragtig, ‘n motorwag het op die trollie afgekom, en daar onder, waar ‘n mens gewoonlik die sak lemoene of groot sak hondekos bêre, daar het hy my aftaster opgespoor en gaan ingee, soos dit hoort.
Bid jou dit aan!
En as iemand ooit gewonder het hoekom ek en Annieka net een kind het... moenie vra nie, dis ‘n lang storie. Oor goeterstes wat kan afskroef, en laat lê en vergeet word, en so voort, miskien ook.
Maar darem nie regtig nie.
Stel jou voor.
Dit sóú met my kon gebeur het.

14.3.12

'n Niksseggende veelseggendheid (of miskien andersom)


Hier in my beginjare van onderwys het ek skoolgehou vir ‘n kind wat in sy matriekrekordeksamen uitgevind het dat sy sussie eintlik sy ma is en sy ma toe al die jare sy ouma was.

‘n Mens moenie opsien na jou kind se matriekjaar en -eksamens nie, en dit sal vir my ‘n wonderlike voorreg wees as ek en Annieka en Klaradyn eendag vir mekaar gespaar kan bly om elkander deur die kind se matriekjaar te sien, maar ek sidder nou al by die blote gedagte daaraan.

As ek gruwelik veralgemeen het in my taksering van leerders wat middel van die jaar van vreemde skole inkom, gaan die volgende twee stellings dalk ook soos veralgemenings klink, maar dit is nie, glo my vry – dis feite soos koeie en kan deur jare se ondervinding konstateer word:

‘n Kind, seun of dogter, wat in elf en ‘n half jaar van onderwys en opleiding nooit eers malvalekker- ligte pienk rooskleurige hakskeentjies gehad het nie, ‘n kind wat in al die jare nie eers van ‘n onderdeur bewus was om oor te loer nie, slaan in ‘n matriekjaar sulke bloedrooi, vuurrooi hakskene uit dat al die water in die see dit nie kan blus nie – en dan spring hulle nie net oor die onderdeur nie, hulle torpedo sommer dwars deur die deur, en as daar nie ‘n deur is nie, gaan hulle sommer nog deur die muur ook en skep hul eie deur.

Nie wanneer nie, slegs op een van hoogstens twee geleenthede in hul matriekjaar:  voor of in die rekordeksamen, en knap duskant of midde die eindeksamen.

As jy ‘n ouer is, is die kanse 49% dat jy sal beaam. En as jy nog nie ‘n matriekouer is nie, is die kanse 100% dat jy deel van die 49% gaan wees wat wel teen daardie tyd beaam.

Die teendeel is ook waar – nie alle kinders is immers dieselfde nie: as jou kind deel van die ander 49% is wat al op laerskool oorle’ ouma se voetstoeltjie nadergesleep het om voortydig bo die onderdeur uit te toring, as jou kind se rooier as rooi hakskene al hier teen standerd 6 uithang, op die grond sleep en vir die hele dorp (nie net vir jou en jou gesin en jou ganske voorgeslag nie) ‘n verleentheid is, kan jy maar weet – teen die einde matriek is dit oor en verby, asof dit nooit was nie en as jy wil keer dat jou ysblokkies smelt, gee jy dit net vir jou kind om vas te hou.

Natuurlik ook nie wanneer nie, maar in of rondom die rekord- of eindeksamens. Dit kan mos nou nie anders nie.

En of jou kind dan nou tydens daardie eksamen in rat skop, of uitskop, maak nie saak watter kant toe nie – dit gaan vir hom of haar uitklop, so uitklop dat die hele eksamen een van die onaangenaamste ervarings van julle hele skoolloopbaan is.

En dan het ek nog nie die moeite gedoen om die statistiek uit te werk nie, maar soos ek dit het, oorval die liefde (of val dit nie óór nie, maar onherstelbaar úit) die stomme kinders klokslag, altyd, net voor die belangrikste vraestel van die belangrikste vak – daardie vak waarvan die universiteitstoelating afhang. Dis nooit iets soos Engelse opstelle nie, maar Wiskunde se derde vraestel of Skeinat se Fisika (behalwe nou as dit die Chemie is wat hy of sy tot in die rekordeksamen nog gedruip het).

En dis nag.

My ouma het graag gesê dat die liefde jou soos ‘n groot poef oorval.

Dis natuurlik wat my ouma gesê het nie, maar dis die woorde wat ek veiligheidshalwe gebruik as ek met die leerders werk.

Ons kan dit ook Bybels stel:  “Die liefde oorval jou soos ‘n dief in die nag en daar is niks wat jy kan doen om dit te keer nie.”

Self weet ek nie watter een van die twee die ergste is nie: die hallo of die tatta nie, beide is immers ewe ontwrigtend en maak dat jou tiener se kamer en gemoed amptelik tot rampgebied verklaar word.

49% en 49% is 98%; wat het van die ander 2% geword?

Nee, daar is uitsonderings en hierdie uitsonderings is meer bekend – die uitsonderings is immer so dankbaar oor hul uitsonderings dat hulle hul uitsonderlikhede aan die groot klok hang.

En ek het so tussen twee skole heen eers vir drie van ‘n gesin se vyf by die een skool skoolgehou, en toe die jongste twee by die ander skool so twee jaar uit mekaar in my klas gehad.

Nie die oudste drie nie, maar die oudste vier is ongeskonde deur de leste matriekeksamen, ongedeerd van die grootste vraestel tot die kleinste, ligste toets, die hele matriekjaar lank. En toe word hulle teen die grond geklap met die jongste telg. Maar so geklap dat ek nie hier daarvan kan vertel nie.

Maar daar is 2% wat nie deel van die ander 98% deel vorm nie. Die helfte van hulle trou nooit nie (of bly nie saam nie) en die ander helfte is daai outjies wat op skool al kys en uitgaan en iewers na skool in die huweliksbootjie klim en die lewensreis voortsit...

Maar dit was basies ook maar al – ek het net ‘n uur agter die rekenaar gehad terwyl ek vir Klaradyn in die motor gewag het. Dié stukkie gesels was eintlik maar net om die tyd om te kry – dit sou in ‘n oorvol legger van onvoltooide bloginskrywings op my rekenaar beland het. Soos iemand anders toonlere sit en oefen, het ek vingeroefening agter die rekenaar gedoen.

Twee het verby my gestap, ek was nie seker of dit ma en dogter, of sussie en ousus is nie.

Toe onthou ek die kind uit my beginnerjare in  die onderwys en die skok rondom sy ma en sussie wat toe nie sy ma of sussie was nie.

En toe is dit nie lank nie, of ek is by my eie lappie groen koring op die land, en ek sien daai koring op pad na geel toe in ‘n matriekjaar.

Maar met die klim die einste korreltjie koring toe nou ‘n rukkie later terug in my kar.

Sy het die naweek ‘n  CD van Laurika Rauch gesoek en oor ek weet hy is in die motor, het ek hom vir haar in die gereedheidshouding gekry. Maar toe wil my kind nie die Bobbejaanliedjie waarvan sy die naweek gepraat het, hoor nie, nee, sy soek die een van die twee wat nie by mekaar uitgekom het nie.

Ek het natuurlik nie ‘n idee waarvan sy praat nie, (twee wat nie by mekaar uitkom nie, Skat, wat vir ‘n lirdjie is dit?”) en spring rond van snit tot snit.

En toe die regte akkoorde inskop en die eerste note opklink, toe sê sy dis die liedjie wat sy soek en sy begin summier saamsing.

O, ma swak hart, my korreltjie koring, skaars nog ontkiem...

Jasper onthou jy ons belofte gemaak

Dat ons mekaar sou liefhê – ons was agt

Ek in my groen skooljurk

En jy smart in krieketgoed

Met die duiwe as ons dom’nee

Ons getuie was ‘n hoed



Jasper onthou jy ek het eenkeer verdwaal

In daai bangmaak populierbos – ons was tien

Ek het stil gaan sit en sag gebid

Geweet jy sou my kry

Jy sou soek en soek want niemand

Was al ooit so lief vir my gewees nie



Refrein:

Maar ons stofpad saam het teer geword

Jou spoor kon ek nie sny nie

Ek het weer verdwaal en verdwaal gebly

En gehoop jy sou kom soek na my

Maar jou seunskind hart het aanbeweeg

Jy’t nou die oë van ‘n man

Jasper onthou ons kleintyd saam

Onthou my gou weer – as jy kan



Jasper onthou jy ek was nerf-af geval

Toe daai lang ou my gestamp het -

Ons was twaalf

Jy’t my opgetel en weggedra

Die pleister self geplak

En daai boelie sommer vreesloos

In die fietsloods kaalvuis aan gaan vat

Jasper onthou jy toe jy weg moes gaan

Na daai ver dorp innie vreemde

Ons was groot -

Groot genoeg om seer te kry

Te jonk om te kan keer

Better loved and lost than never loved

Dit sou die tyd ons hard-hard leer



Refrein



Brug:

Ek bly nou op ‘n anner plek

Het nie lank na jou daar weggetrek

Het jou nommer nou die dag by navrae opgesproor

As ek jou sou bel en sou vertel

Dat ek steeds van ons twee droom

Sou jy sê jy droom ook steeds van my

Of is ek lankal reeds verloën


Refrein
 

(Woorde en musiek: Mariki de Villiers-Knop - Uitgewer: Ms Samro)

Ag, en toe (my kind is 7 op pad na 8, die stem in die liriek was 8) op daardie punt zirr dit toe in my kop van lyne en verbande en aanknopingspunte en groot word en liefde.

En ek weet dit maak nie sin nie.

Maar tog ook so bietjie.

So toe kom maak ek dit maar klaar.

En die begin en die einde is nie aaneenskakelend nie, ek weet. Dis beslis darem ook nie teenstellend nie. Eerder verbandhoudend, dan.

Op ‘n Maandagmiddag na Voortrekkers was dit vir ‘n ruk lank egter so verbandhoudend dat dit vir my direk aaneenskakelend was en ek daarom nie anders kon as om dit aan te teken nie. Miskien weet ek eendag hoekom ek dit moes doen.

Laat daardie eendag asseblief tog net nie in my kind se matriekjaar wees nie.

10.3.12

Afsaal Uitspan



 




Dan sal daar na die oopgooi van my wortels in die foto’s hier bo, seker, ten spyte van die duidelike uitspel daarvan, steeds diegene wees wat nie kan verstaan dat ek beslis nie langs die pad by ‘n Golden Egg, Steers, Wimpy, One Stop, Ultra City of selfs ‘n plattelandse dorpie se handelshuis of tuisnywerheid wil aftrek nie.

En dan is dit nie dat ek ‘n probleem het met die vernuftige vermenging van gemaalde hart, long, poephol en tong wat hierdie plekke jou olierig gaargemaak en in cholesterol deurdrenk as hamburger-pattie  aanbied nie – daar is immers niks wat die talle giftig en verbode middels in die allerhande souse wat elkeen van hierdie plekke bied, nie kan verdoesel nie.

My enigste probleem met die meeste van hierdie kitskosplekke is die negatiewe effekte wat hul bereidings- en enkele ander ongesiene prosesse op die behoud van die groen gordel reënwoude om die aarde en die osoonlaag het. Maar dit gooi ek, ook maar net ‘n mens, maklik ‘n blinde oog as ek weg byt in een van hul broodjies of burgers wat met niks anders nie as ewe menslike spoeg aanmekaar geplak is nie.

Ek is, soos die meeste van ons, deeglik bewus van die samewerkingsooreenkoms tussen motorwerktuigkundiges en die kistkosbedryf rondom die herwinning van duidende liter afgetapte motorolie vir die gaar maak van ertappelskyfies, maar omdat beide partye dit aan die ontvanger van inkomste verklaar is daar seker niks onwettigs in hierdie verband nie.

So na sommige landsburgers ‘n jaar of wat gelede so ontstel was oor die toevoeging en inspuiting van allerhande vloeistowwe om die land se hoenders so uitgedy te kry, verwonder ek my nie meer hoe die outjies wat so goed daarin slaag om die land se stedelike hadeda-plaag onder beheer te kry, dit regkry om die pluim- en ander geveerde vee wat hulle aanbied, so lekker sappig te kry nie – ek eet lustig saam.

Maar nie op die lang pad nie, op geen lang pad nie. (En dan is lang pad, enige iets verder as die afstand tussen Pretoria en Johannesburg.) Vir die lang pad, enige lang pad, sorg jy dat alles laat agtermiddag reeds gepak en die motor as het ware in die gereedshouding staan vir die volgende oggend se vertrek. En dan maak jy die aand voor die tyd jou padkos vir die volgende dag se reis.

Ek bel selfs vir Annieka en sê sy moet vir ons ‘n wegneemete van die naaste Golden Egg, Steers, Wimpy, Chicken Licken of KFC bring – ek het nie nog tyd en krag vir aandete maak óók nie; my krag en tyd en energie as gefokus afgestem op die lekkerste van alle lekkerstes:  padkos!

En moenie vir my sê jy het ‘n probleem met die geur van afgedopte hardgekookte eiers in ‘n motor nie. Ek het in my lewe al meer hardgekookte eiers in die binneruim van ‘n motor geniet, as daar buite, en ek kan in alle eerlikheid nie noem dat die reuk van die eiers, in welke hoedanigheid aangebied, my al ooit opgeval het nie.

Koue wors is eintlik ook ononderhandelbaar, maar noudat wors ook nie meer is wat dit was nie, gebeur dit helaas al hoe meer en meer gereeld dat ek nie die aand voor die tyd ‘n parmantige spiraal boerewors in die gereedheid bring nie.

‘n Lekker koue hoenderboudjie of twee dan.

Maar dan moet ek bieg, dis ook al jare sedert ek laas die lekkerte van ‘n hoendertjie van my vingers afgelek het.

En miskien het ek sleg geword; hopelik net gemaksugtig, maar ek het al bekendheid verwerf vir my eersteklas toebroodjies. My toebroodjies kry party mosterd, ander peperwortelsous, nog ander kruisementjellie, en die laastes óf swartbessiejellie óf appeljellie op. Dan is daar nog die sonder souse ook. En jy kan nie sonder ‘n konfytbroodjie op die pad gaan nie – my gunsteling is skyfies groenvyekonfyt saam met Duitse Swartwoudham, brie en ‘n groenerige blaartjie met ‘n sterk geur – iets soos rocket.

Ek sal nog kussings (Annieka het dit tog so oor haar eie spul kussings) en storieboeke (Mamma s’n, Pappa s’n en Klaradyn s’n) en selfs ‘n driewiel of groot en belangrike speelding tuis los, maar die etlike kubieke meter tupperbakke en warmflesse, koue flesse, jammerlappies en tafelkleedjie (wat ook kan instaan vir ‘n piekniekkombers as dit moet) moet saam.

En dan is dit nie vir ontbyt of middagete nie, dis vir heeldag se eet – ons is uit Pretoria nog nie eers die tweede keer oor die Jukskei-rivier nie, dis nog ‘n goeie uur voor die son opkom, die motor se enjin moet nog begin warm word, dan het ek al my eerste broodjie(s) agter die blad.

En, te oordeel ook aan – trouens duidelik bewys deur – die foto’s, is dit nie ek nie – dis my ouers se skuld. Dis hulle wat my so geleer het. Enige ander man neem foto’s van die kinders op die strand, of met die visstokke in die hand; nie Hans Moolman nie. Ja, dit ook, die strandballe, babers of leeus (hou ons vakansie in die NKW) maar heel eerste neem hy ook die vyfgangmaaltyd wat hy en my ma vir langs die pad beplan het, af.

Partykeer het daardie vyfgangmaal egter oornag in ‘n viergangmaal verander.

My pa het mos nog die hebbelikheid gehad om in die middel van die nag wakker te word, op te staan, en onder die kerriefrikkadelle, wat my ma met soveel sorg voorberei en gepak het, in te spring.

Haai, en dan kon niemand hom dit verkwalik of blameer nie – enige iemand wat my ma se kos geken het, sou – uit vrees dat hulle nie in die middel van die nag wakker word nie – die wekker stel en iewers knap na middernag inspring en skelm begin eet.

Ek weet (en toe is my pa al jare dood en ek op universiteit – en pas daarna) van meer as een jaar dat ons met twee (een jaar selfs met drie) motors af is Kaap toe – en dan ry ons via Judy-hulle se huis op Alberton, want sy het onderneem om vir ons te sorg vir padkos.

O, en dan het Judy dit in styl gedoen – nie in Tupper nie – sy het na die Griek van die bakhuis gegaan en vir elkeen ‘n wit kartonboksie gekry. Dis soos vir ’n kinderpartytjie – elke kind kry sy eie pakkie. Net nie elke kind nie, maar elke reisiger – ‘n keurige pakkie waarvan jy nie weet presies wat dit is wat die meeste in die oortreffende trap is nie:  die verpakking, die voorsit, die smaak, die verskeidenheid geure en teksture, of die meesterlike kombinasie van bestanddele nie.

Hoe sy dit reg gekry het, sal ek nooit weet of haar dit kan nadoen nie – sy is met daardie vaardigheid en kennis in haar graf in, maar Judy Moolman kon Donderdagaand in Alberton ‘n tamatietoebroodjie voorberei, en stop jy Vrydagagtermiddag by die Hendrik Verwoerd dam (‘n dagreis was destyds nie so ver soos vandag se dae nie – die paaie en die motors en die spoed wat ons daardie jare gehandhaaf het, was anders) dan is Judy se tamatietoebroodjies nog steeds die soggy nie (pap en deurdrenk sou seker net so goed gewerk het, maar soggy klínk net so pap en deurdrenk dat ek nie ander kan as om dié Engelse woord eerder in te span nie.)

Nie dat jy agtermiddag nodigheid had vir ‘n tamatietoebroodjie nie – my ouers het geweet, kom jy doodmoeg van heeldag se ry en eet eers daar anderkant aan, het jy nie krag en lus vir kosmaak nie – en wie eet nou oorskiet van die padkos – nee, hulle het gesorg vir ‘n klaar bereide ietsie vir aandete.

En ons doen dit vandag nog – dis so ietsie spesiaals, so ongekende luuksheid, om in die vreemde, of die vertroudheid van jou tent, steeds iets van die huis by jou te hê op aand een.

En nou is die komende Aprilvakansie vanjaar net een week lank. Ek het selfs my bespreking by die see prysgegee vir dierbare en jarelange vriende. Wie doen nou moeite om al die pad af te ry see toe, en dit vir net ‘n week? Nee, as iets die moeite werd is te doen, dan is dit die moeite werd om dit goed en deeglik te doen. Geen mens kan goed of deeglik vakansie hou in ‘n week nie. Dan gaan ek eerder daar sonder.

Maar nou is ek lus en pak die kar en ry al die pad Noordkaap of Weskaap toe net om langs die pad te kan uitspan. Hier by ons in Gauteng is jare al nie meer bankies en tafeltjies langs die pad om by uit te span nie – en as daar is, is daar struikrowers en verkragters, sluipmoordenaars en sakkerollers om enige vorm van afsaal onmoontlik te maak.

Miskien moet ek dit doen.

Ja, af in Teewaterskloof, of miskien die halte in die lieflike Seweweekspoort, en ek hoop die tafeltjie en bankies is nog daar, is waar ek met Annieka en Klaradyn rusplek vir ons gees wil gaan vind.

As my bankbalans, of ‘n dierbare bankbestuurder, so iets tog net moontlik kon maak.