Ek onthou dit soos gister, Desember 1987, ek was op pad
terug Caprivi toe na my pasafgelope 7-dag-pas. Ons het natuurlik beslis nie van
iets soos ‘n 7-dag-pas gepraat nie – dit was sommer jou langverwagte Seven Days.
En langverwagte in
my geval, as ons in ag neem ek praat van Desember 1987, dan nou duidelik bykans
12 maande lank verwag.
Toe die Flossie my die vorige week terug in die states had, is ek dadelik na my
broer-hulle toe. Daar was twee tieners aan huis wat in die laat herstelfase van
waterpokkies was, en ek het gehoop... ek het so gehoop. Ek meen enige iets is
moontlik en die hoop beskaam nie.
Die storie wat die ronde gedoen het, was dat jy
staatseiendom geword het die dag toe die SAW & Seuns jou op die bus of
trein gelaai het – in my geval Sturrock Park anderkant die SAUK en die destydse
Onderwyskollege.
En as jy, word jy siek, jouself nie summier aan ‘n
distriksgeneesheer uitlewer nie, kan jy aangekla word van beskadiging van
staatseiendom.
Ek het presies geweet waar om so ‘n man op te spoor en het
my lyf as tiener en op skool nie so verken soos daardie daaropvolgende week nie.
Maar helaas, alles verniet – my lyf is so glad en egaal soos ‘n pappe baba se
boudjies nie kan wees nie.
En hy bly so glad en egaal soos daardie symste pappe baba se
boudjies sewe dae later nie kan wees nie.
Dis natuurlik nou net tot ons bykans 2000 kilometer verder
gereed maak om in kort duskant 40 grade Celius op Rundu-vliegveld uit te klim:
dis mos al asof ek bewus word van ‘n jeukerige krapperigheid hier regs van my
naeltjie en ek vroetel tussen die harde lappe van my browns op soek na die oorsprong van hierdie jollie jeuk.
En natuurlik is dit toe nooit anders nie – pokke, bloedfamilie van
daai herpes wat jy opdoen van hopeloos te veel onverantwoordelike lekkertes.
En oor ek staatseiendom is, het die staat mooi na my gekyk en my
vir twee weke gehospitaliseer: ‘n saal
met agt of so beddens. Geen ruite of vensters – dis te warm, selfs in die
winter – dis gaas.
Die een ander pasiënt, vir daardie twee weke, was ‘n man met die
naam Cavallo – hy het óf aan bomskok gelei, óf hy was verstandelik gedepriveerd.
Moontlik was dit ‘n baie ongesonde gesonde kombinasie van die twee. En dan was
daar nog hallusinasies en psigoses en ‘n hele paar ander mediese terme ook by
betrokke.
Maar ‘n liewe mens, was hy gewees – almal het van hom gehou, dis
net dat hy tydig en ontydig die allervreeslikste keel opgesit het. Dis hoeveel
jaar later, en sy stem eggo nou weer herkenbaar deur my kop – die man het op my
gegroei, daardie twee weke.
Maar behalwe om na Cavallo te luister en te wag vir pos, kon
regtig net twee dinge doen – sweet en krap.
Ek het vir myself stukkend gekrap, dat die bloed loop en ek vandag
nog met kraters oor my ganske gesig sit.
Dis ook hoekom ek my haarlyn so oppas en allerhande aanvullings en
goeterstes gebruik – ek weet, wat daar blootgelê gaan word, verloor ek die dag
my yl haardos: ‘n pankop wat lyk of die pan met hamers vol gate getimmer is.
Wat eintlik maar net ‘n omslagtige manier is om uit te kom by die
hartseer feit dat ons nou by die huis met twee vrouens sit wat elk die een of
ander vorm van herpes het: Annieka met
gordelroos (oppad uit) en Klaradyn met waterpokkies (oppad in).
Ons is Sondag met vyf spikkeltjies op Klaradyn se lyf Doktor
toe: een kon ‘n stukkende blasie gewees
het, een het gelyk soos daai dingetjie wat ek tussen my browns se hemp deur neffens my naeltjie opgespoor het, en die ander
drie kon netsowel muskietbyte gewees het.
Die doktor, gelukkig ‘n oudleerling wat ons daar raakloop
(toevallig seker die slimste, skranderste, intelligentste kind wat in amper 25
jaar my pad gekruis het), wil toe nie sou oudmeneer teleurstel nie en ons is
daar weg met R1 800 se antibiotika en ‘n stropie vir koors.
Ek dink ek is in my dae behandel vir die simptomatiese verligting
van wat ook al waterpokkies oor jou pad bring – ek dink die mediese wetenskap
het vandag ‘n moordmasjien ontwikkel wat die virus nie net verontrief nie, maar
hom in die kiem smoor. (Kiem?!)
Ons het met 5 merkies begin en dit het oor een nag effe
aangegroei, maar daarna nie weer nie.
Waar ons hoor het almal nou waterpokkies: ses onmiddellike
kennisse, en dan vertel die tannie by die skool dat daar ‘n verwoestende vlaag
deur die kinders trek.
Ek is bly ons het met so ‘n skrale kennisgewing tot aksie oorgegaan,
en ek is bly die dokter het besluit om eerder aggressief as akkommoderend te
behandel – van die ander outjies is lelik siek; ons is besig om lig daarvan af
te kom.
Ouma wat nou week lank ‘n siekerige aan huis het, verdien die
meeste simpatie.
En ek wat spekvet en gesond so uit voeling met die res van die
siekes in die huisgesin is, is sommer lus en kry masels of pampoentjies.
Of verbeel my dan maar ter wille van groepsdruk ten minste net met
ongekende oortuigingskrag dat ek siek is.
No comments:
Post a Comment