Waarom ek blog het ek laas in 2009 kwyt geraak. Ek sal kyk
of ek dit kan opspoor en dit weer pos.
Een van die saadjies lê egter in my skoonma (maar
saam met haar dan dadelik, net nie in soveel woorde uitgespreek soos deur my
skoonma nie, ook in my eie ma, my pa, my ooms en tannies, grootouers en selfs
my broer, Jac).
My skoonma het al by herhaling te kenne gegee dat sy die
stories en stukkies onthou wat sy in haar saamdra gaan neerskryf, opteken,
bewaar vir die kinders en kleinkinders, voor dit te laat is en in die
vergetelheid versink.
Ek het ander mense dit ook al baie hoor sê.
Baie.
Baie maal én baie mense.
Maar soos met al die baie ander, is dit 17 jaar later en my
skoonma het nog nie begin nie.
Elke storie wat ek van my pa het en onthou is vaagweg,
halfpad en ten dele: hoe hy gemaak het
of hy speel in die blaasorkes en toe uitgevang is... die turksvye... die perde wat bang is vir
skilpaaie...
Met my ma gaan dit nie veel anders nie.
Toe ek wou begin het om die stories uit haar te kry, sou ek
haar moes begin wurg het, want toe was dit al te laat – haar onthou het vroeg
die gees gegee.
As ek nie reeds het nie, sal ek die een wat my helder voor
die oog staan, die een van die arm gesin in die Knysna bos waarby jy net te
perd of te voet kon uitkom, vertel. Maar dis ook al storie wat dan sal oorbly,
al een van die baie...
Haar suster, Tannie Anne, het altyd makliker en meer stories
vertel – maar hulle is ook almal verlore en saam met haar in haar graf in.
Daar is die een waar sy en my oupa my ma die Sondag uit die
kerk gaan roep het. Daar is nog meer, baie meer, ‘n leeftyd se onthou, en ook
vergeet, meer – maar hulle is almal flentertjies en eintlik net stukkies bewys
dat daar eendag jare gelede meer was.
Ek dink nie my broer se kinders, en hulle is al groot en in
hul dertigs, weet dat hy histeries van opgewondenheid ge-jakka-jysa het nie. Miskien was dit eerder jaka-jysa, met een –k gespel, omdat die –a lank en nie kort
uitgespreek word nie. Maar hy is nie nou
hier nie (my ma nog minder) om dit uit te spreek – en sal hy dit nog enigsins
onthou? Ewenwel, ‘n jakka-jysa vind my ma-hulle toe na ‘n ruk uit, is die risckshaw
iewers op Durban se goue myl tydens sy eerste besoek aan die see.
Van hom het ek darem ook nog die hele aanloop tot daardie
seevakansie – hoe hy nie vooraf sy see-kleertjies wou dra nie, en in die middel
van die somer met ‘n duffel-coat kleuterskool
toe is – sodat die ander nie sy see-kleertjies sien nie.
En toe hy eers by die see is, toe mog sy swembroek nie nat
word nie. Die ander mense dink hy skree histeries van vrees vir die branders;
hy en my ma weet egter dis suiwer oor hy nie sy swembroek, die spesiaalste van
spesiale see-broekies, wil nat hê nie.
Van my oupas het ek niks, net mooi niks – hulle is beide al
dood gewees nog voor my geboorte. By my pa se broer het ek so tien jaar gelede,
die laaste keer toe ek hom gaan opsoek het, op die stoep waar ons gesit het,
toe wel die storie van Oupa as Kaapse rebel gehoor. Maar dit was die eerste en
laaste keer sedert laerskool dat ek my oom gesien het – hy is vandag ook al
meer as agt jaar oorlede.
Hoeveel stories is daar nie wat verby, verlore gegaan het
nie!
Dit sal almal nie pla nie.
Maar vir my pla dit – ek is lief vir stories, meer nog vir
gister en voorste jare se stories.
En dis hoekom ek toe begin blog het – die stories en onthou
waarna my kind my eendag miskien sal vra, sal opgeteken en nie in die
vergetelheid versink wees nie.
Ek sê ook miskien sal
uitvra – want dis geen uitgemaakte saak dat sy soos haar pa, met ‘n voorliefde
vir die klein geskiedenis, gaan uitdraai nie.
Maar dis hoekom ek blog, en dit onder die naam Pappa-Mamma-en-Klaars, met die
onderskrif lest Pappa forget daarby.
Ek kan daarom nie my vrou en kind van my blog afhou nie –
Klaradyn is die begin en die einde van die blog, sonder haar, sonder haar op
die blog, was daar geen inskrywing, aantekening of optekening nie.
En as ons drie, soos gisteraand weer, een van die
allerheerlikste, allerspesiaalste, allergesinste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies
om die die braaivleisvuur het, dan onthou ek dikwels iets wat ek en Annieka en
Klaradyn gevaar loop om te vergeet, en dan wil ek dit in die logboek kom
aanteken.
‘n Logboek is immers waar die woord blog sy naam aan te danke het, maar nie enige logboek nie – ‘n web log. Maar omdat web log so moeilik op die tong val, is van prokopee gebruik gemaak
om dit te verkort tot blog.
So onthou ek gisteraand toe weer van skollelade/skottelade en glô-die-da-foo, en ek weet ek gaan
dit vergeet, ek moet dit op skrif kry.
En toe die swembad se pomp my vanoggend net na 01:00 in net
my onderbroek in die buitelug langs hom het, weet ek, toe ek eers weer terug in
die huis is, dat alle slaap nou eers vir ‘n rukkie iets van die verlede is – ek
kan skollelade/skottelade en glô-die-da-foo
netsowel nou kom vasmaak.
Al twee dateer uit min of meer dieselfde tyd – rondom 3
verbeel ek my. Miskien later; miskien vroeër.
Ons is met Klaradyn wildtuin toe, Pilanesberg toe.
En daar, vanuit die agterste sitplek, begin sy sing en
vertel van glô-die-da-foo.
Die –gl van die glô is nie sterk
glutteraal soos die Afrikaanse glo nie,
dis eerder soos die Engelse globe – nie
[xlɔ:] nie, maar [glɔ:].
En sy is adamant, daar is so liedjie, ons het die video by die
huis ons het hom al gekyk, ons het hom al baie gekyk. Maar, die kind is
sekerlik nog nie drie nie, sy ken nie die naam van die fliek nie.
En sy sê nie net die woorde nie – sy sing dit vir ons.
Vir vyf dae in die Pilanesberg. En ons weet nie wat of waarvan sy
sing nie.
Ons was al by die huis, meer as ‘n week lank, voor ons agter die
kap van die byl gekom het – glô-die-da-foo
is niks anders as glorious food nie.
Dit kom uit ‘n toneeltjie in Ice Age waar
die aasvoëls
in afwagting sit vir die trekkende diere om te vrek en solank begin sing van al
die glorious food wat op hulle wag.
Ons is seker by aasvoëls verby, of wat ook al, iets moes
Klaradyn, waar sy op die agtersitplek in haar karstoeltjie gesit het, by
daardie woorde en beelde uitgebring het, en dís hoe sy dit in daardie baie
vroeë
stadium van haar lewe onthou het.
Skollelade en skottelade is ‘n ander een, wat ‘n
skrale vyf jaar later al ‘n traan in my oog bring. Seker vier jaar nou al dat
ek wat saal gee, dat ek sal betaal, om te hoor hoe my kind die woorde sê,
nie soos sy dit op ses sê nie, maar soos sy destyds geklink het, toe sy net begin
praat het.
Die uitspraak van die woord sjokolade was vir haar te kompleks en het oor maande heen
verskillende vorme aangeneem: skollelade, skollolade, skottelade, skottolade
(en dan nog ‘n paar ander wisselvorme wat ek elkeen ook al klaar vergeet het).
Ai siestog, grootword is ook nie maklik nie – noudat sy
lankal darem al die uitspraak onder die knie het, lê die spelling nog voor. Sjokolade is een van daardie woorde wat skoolkinders
op hoërskool
nog op dertien verskillende maniere verkeerd spel.
En nou het uitgekom by glô-die-da-foo en skollolade/skottolade maar gisteraand,
en so baie aande soos gisteraand, Pappa, Mamma en Klaars, eers in die kombuis
aan het kosmaak, toe onder die lapa langs die braaivleisvuur, loop steeds
gevaar om in die vergetelheid te versink.
Die wortelslaai het seker 30 minute geneem. Jy het al vyf
wortels self geskil, meer behendig as ‘n maand of wat vantevore, elke keer meer
behendig. Toe het jy dit gerasper – ma wou help en ek wou oorneem. Maar ons het
nie. Dit het 30 minute gevat. Jy het in die proses amper die helfte van die
wortels self opgeëet, net deur die genade alleen nie jou vingers in die bord
gerasper nie en daar was op die ou einde darem iets om met ‘n bietjie lemoensap
oor, uit te dra.
Toe jy vir Mamma ‘n nat lappie moes kom haal om die tafel af
te vee, spoor ek jou pens en pootjies op die kombuiskas op – op soek na ‘n
bakkie: want ‘n mens vat ‘n nat waslap
in ‘n bakkie tafel toe. Uit jou eie.
Jy het langs my gestaan en gesê jy wil die vleis omdraai “want
ek wil eendag kos kan maak soos Pappa.”
Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
My beker loop ook oor.
No comments:
Post a Comment