Pages

28.2.12

Kom ons sing saam


Ek moes op my dag saam met my Pa na Caruso, Mario Lanza, Richard Tauber, Fritz Wunderlich en ‘n hele spul ander ooms wie se name ek nie meer onthou nie, luister. Party van hulle se name lê op die punt van my tong, maar verniet of hulle wil vorentoe skiet en hulself openbaar.

Klaradyn is hierdie klas van outjies gespaar, maar word geteister met treffers van die 80’s (en meermale die 70’s).
En dan sê ek ook nou “treffers”; eintlik bedoel ek “hits”.

Ek was in standerd 4 of 5, beslis nog op laerskool, toe iemand die hartseer storie van Angelo gesing het:

Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so. Rich was she, came from a very high family. Angelo knew it could never be – they ran away to their destiny. Running away together, running away for ever – Angelo! Running away from danger, hiding from every stranger, Angelo! They knew it wasn’t wrong, they found their love so strong...

Ek het regtig net drie laerskoolherinneringe rondom die verhoog. In graad 1 was ek ‘n week laat vir skool omdat ek plat met pampoentjies was, en toe ek ‘n week later instap, toe is dit mooi die dag wat ons hele klas op die verhoog moet gaan om vir die res van die skool te sing.

Hansie moes op en maak of hy sing.

Iewers, heelwat later, standerd 3 of 4, moes Hansie regtig sing, iets van ‘n pampoen – boerpampoen wat swart en wit en rond is.

En dan was daar Angelo. Ek praat onder korreksie (nie dat ek dink daar is iemand wat my met veel gesag meer sal kan korrigeer nie – ons almal word immers nou oud) maar ek verbeel my daar was ‘n Standerd 5-afskeidskonsert of ‘n ding. En ‘n spul meisies (Karin en Lynette en Elize, straks Susan -  en dalk ‘n spul seuns ook) het Angelo gesing – of gemaak of hulle sing terwyl die liedjie oor die luidsprekers gespeel het.

Ek weet nie, ek is nie seker, daar is beweging regs voor op die verhoog – dis beslis Angelo. Ek sien Lynette in swart.

En ek verbeel my die program, wat destyds op wasvel getik en afgerol is, is die program wat ek so 25 jaar later iewers opgespoor het en toe met groot heimwee teruggedink het aan ons Standerd 5-Angelo-moment.

Ek is nie goed met somme nie, maar kom ons probeer:  ’87 en ’88 – army, ’83 tot ’86 – varsity. ’82 – matriek, 1977 – standerd 5 (?).

Ek het die onbekende kunstenaars (wie sing die liedjie, ek weet nie) se Angelo na 1977 miskien drie keer in my lewe gehoor – en dan sê ek ook nou drie keer, dit kan twee keer of vyf keer ook wees, ek weet nie, ek kan nie onthou nie. Maar dis heel waarskynlik dat ek hom na standerd 5 weer ‘n keer of wat moes gehoor het.

En toe hoor ek hom weer, vyf en derig jaar later, Vrydag vir die eerste keer.

Dit was heerlik, dit was ongelooflik om oombliklik laerskool toe, skoolsaal toe, getransponeer te word. En ek sal dit nie sommer vergeet nie, want toe ek, wat my geheue betref vir die eerste keer in 35 jaar weer die liedjie hoor en luidkeels saamsing, toe ry ‘n haastige student van agter in my gat in. Ja, met my kop in die gebergtes van Meksiko, word ek toe hard afgebring aarde toe, skade toe, paneelkloppers toe.

Dit was Vrydag. Is dit al te laat om die saak by die polisie aan te gee?

Maar dit daar gelaat – dis aardse goed.

‘n Vriend het my musiek geleen om te luister, net ‘n spul CD’s in ‘n CD-houer, ek het nie ‘n idee wat om te verwag nie. Dan prop ek iets in en dan slaan die herinneringe my so die een na die ander ‘n vuishou met 'n voorhamer tussen die oë.

Soos met Angelo, Vrydag.

(Ons vergeet maar van die voorhamer wat van agter in my in is, vir eers.)

Vanoggend wou ek dat die kind wat saam met my skool toe ry, luister na Meneer se groot hit uit die 70’s, maar toe spoor ek die ding nie op voor ons by die skool is nie – toe kom daar dadels van.

Maar vanmiddag, op pad om Klaradyn te gaan optel, kraak die vrouens se Spaans-Amerikaanse heserige stemme oor die luidsprekers:  Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so...

Man ons luister hom sommer twee keer, en omdat daar regtig so min woorde is, sing Klaradyn teen die einde van die eerste ronde al lekker saam.

Haai en daar, as ou man, registreer ek toe nou ook vir die eerste keer die woorde van die liedjie, deur die ore van ‘n grootmens, nie met die ore van ‘n kind nie.

Wat ‘n teleurstelling – ek dog nog al die jare hulle het in die woestyn omgekom, maar ek was verkeerd, dis duidelik – hulle het hulle eie lewens geneem.

Ek het nou weer geluister:  they took their lives that night, and in the morning light they found them on the sand, they found them lying there, hand in hand.

Ek het nog altyd geweet dis ‘n hartseer liedjie op ‘n opgewekte wysie, ek het nog altyd geweet die geliefdes sterf, maar ek het nog nooit ‘n selfmoordpakt vermoed nie.

Hierdie liedjie was nog altyd vir my die grootymensweergawe van die Engelse gediggie wat ek op 7 in ‘n digbundel by my Tannie Anne present gekry het, en met die dat Klaradyn en ek nog gereeld uit die betrokke digbundel lees, het sy ook dadelik die ooreenkomste ingesien:

My dear, do you know how, a long time ago,
Two poor little children, whose names I don’t know,
Were stolen away on a bright summer day
And lost in the woods, I’ve heard people say.

And when it was night, how sad was their plight.
The sun, it went down, and the moon gave no light.
They sobbed and they sighed, together they cried,
‘Til the poor little things, they lay down and died.

And when they were dead, the robin so red
Brought strawberry leaves and over them spread,
And all the day long, he sang them this song:
“Poor babes in the wood, poor babes in the wood.”

En toe 35 jaar later die wrede ontnugtering! Angelo se liedjie was toe al die tyd nie die bekende Engelse kindergediggie en -liedjie, net vir grootmense se ore hierdie keer nie – ‘n tragedie, letterlik in die tradisie van Romeo en Juliet kon hom hier in die sand/berge afgespeel het.

Te vreeslik!

Haai, en hoe kan ek my kind nou na liedjies laat luister waar die hoofrolspelers selfmoord pleeg – ek word sweerlik by die Christelik Maatskaplike Raad aangegee, my kind word iewers in veilige bewaring, waar haar pa haar nie kan besoedel nie, gebêre.

Ongelukkig/gelukkig het ek toe klaar vir haar my naïewe interpretasie van die gebeure vertel: hulle kom die nag in die woestyn om, maar word in mekaar se arms aangetref.

So, ek byt toe maar vas – moord verstaan my kind nie eers so lekker nie, wat nog te sê selfmoord.

Aan die ander kant is daar groter leuens wat aan ons kinders voorgehou word, minder wit maar donkerder leuens met verreikender gevolge.

En buitendien - ek kon my kind laat sing het van kinders waarvan die nekke omgedraai moet word, hulle lyke in die sloot gegooi, en op hulle koppe getrap word.

Angelo en sy geliefde is ‘n vulletjie – ek worry verniet.

Klaradyn sing heerlik saam, Mamma ook.

As daar ‘n oorlog kom, sing ons, soos die Von Trapp-gesin, al die pad vir ons 'n weg oop, op tot in Europa of Amerika.



Naskrif: 

Intussen het ek my huiswerk gaan doen.

Angelo het 16 September 1977 op Springbokradio se  treffersparade verskyn, dit het 17 weke op die parade gebly en wel posisie 1 behaal. Dit maak sin dat ons einde standerd 5 met so ‘n treffer afskeid sou neem.

Dis Brotherhood of Man wat die liedjie vrygestel het – hulle vorige treffer in SA was Save all your kisses for me (en as ek my dit nie mis het nie, is dit nog vertaal ook en in Afrikaans gesing.) Die vertrekpunt was nie Babes in the Wood nie, maar Romeo & Juliet.

En toe ek eers die video opgespoor het, toe is dit duidelik, my husky Spaans-Amerikaanse stemme is in my kop, in Mexico, die girls wat sing, is alledaagse poppe uit die 70's - dream on cowboy.


No comments: