Ek het vanaand twee goed gemaak wat ek nog nooit gemaak het
nie. Ek kan nie wag om elkeen weer te maak nie – hoe gouer hoe beter.
Die een was ‘n ongeëwenaarde sukses, die ander ‘n volslae
mislukking.
Enige vrou sal vir jou sê dat ‘n man nie
kruideniersware-inkopies moet gaan doen nie. Ek is daarvan sprekende bewys. Ek
koop wat ek nie moet koop nie en laat na om te koop wat ek moes koop.
‘n Inkopielys is nie iets wat ek in die motor los nie – ek
los hom vanuit die staanspoor op die kombuis- of eetkamertafel voor ek nog
vertrek.
Ek sigsag ook nie in aller yl van produk tot produk nie,
nee, ek slenter op ‘n drentelgang van die gangetjie heel links, tot die een
heel regs.
Ja, ek weet ek soek nie nou glase of wasgoedversagmiddel
nie, maar netnou vra iemand my oor die prys van wynglase of die nuutste geure
in wasgoedversagmiddels – en dan sit ek met ‘n bek vol tande! Daar is mos nie
‘n manier nie! ‘n Man moet op hoogte bly van wat om hom aangaan.
Dis hoe ek ‘n ruk op hierdie vreemde botteltjies tussen die
toebroodjiesmere afgekom het en summier een van elkeen van die vier soorte
gekoop het. Nogal ingevoer uit Argentinië. Die goed se rakleeftyd het al gekom en
verby gegaan toe ek dit gekoop het, maar dit was heerlik. So lekker dat ek die
volgende dag terug is vir nog, maar toe is daar niks. Ek het gevra, tot agter in
die stoor in, en die boodskap gekry dis die vorige dag, enkele ure na my
aankoop, van die rak gehaal, nie net oor die vervaldatum nie, maar oor die
produk nou maar een maal net nie verkoop het nie.
Dulce de Leche. Dis eintlik nie veel anders as ‘n blikkie
kondensmelk wat jy tot karamel kook nie, maar dit voel vir my al te veel na
verneuk.
Toe volg ek die outentieke resep: 2 liter melk, 500 gram
suiker, teelepel sout. Kook dit vir drie ure af tot daar so 500 milliliter
oorbly.
Myne het na 2 uur en 47 minute gaan staan en brand.
Ook nie gaan staan en verbrand soos in galbitterpikswart
verbrand nie – die aanbrand was eintlik net baie dik en donker raak teen die
bodem van die pot. Dit het aan die smaak onder die son niks gedoen nie, die
tekstuur is ongelukkig nou net korrelrig in plaas van romerig.
En al hoekom dit gebeur het is omdat ek vir te lank agter
die werk ingeskuif het, en twee of drie keer se roer by die pot laat verbygaan
het.
Maar dis heerlik – as ek nie so sleg was nie, was ek nou op
straat op soek na nog 2 liter melk sodat ons weer kan probeer.
Die ander eerste hou ook verband met staan en rondkyk in
winkels. Want by die slaghuis doem daar toe hierdie kookboek vlak onder my neus
by die kasregister op. Ek kyk, en terwyl die bank my per SMS kontak om te laat
weet dat ek nog ‘n verdere R345-00 in die rooi in is, jaag ek summier die
kaartjie ‘n tweede keer, hierdie keer vir R160-00 van die kookboek, deur die
kaartmasjien se gleufie.
Dis ‘n lieflike kookboek wat regtig bykans geen moeite met
hoeveelhede doen nie. Dis soos om party van Leipoldt se resepte te lees – neem ‘n
handjievol of wat van dít en dan gooi jy ‘n grypie van dát by nadat jy so bietjie hiérvan
ingeroer en ‘n bietjie dáárvan oorgerasper het...
Daarin erken hulle toe dat dit ook vir hulle jare lank heiligskennis
was om iets anders as knoffel, suurlemoen en botter by garnale uit te bring.
Maar toe bring ‘n vriend hulle met ‘n ander pad by Rome uit en dís
dan nou die resep wat hulle met my deel.
Van voor ons troue eet ek en Annieka (deesdae ek en Annieka
en Klaradyn, wat van garnale as krewe praat)
op Valentynsdag so veel as moontlik garnale, met so min as moontlik bykosse.
Die laaste klompie jare doen ons nie eers moeite met rys nie – ons smeer sommer
hompe brood deur die sappe en medisynerekeninge-vir-cholesterolbeheer wat in
die pan agterbly.
Maar ek kan nie ‘n oopkop kookboek aankoop en met ‘n kop so
toe soos ‘n kleios se sweetgate sit nie – ek besluit daarom om die oopte van
kop te toets aan my bereidwilligheid om hulle nuwe gaarnaalresep op die proef
te stel.
My beursie was by die huis vergeet, en die viswinkel is in
Groenkloof – toe leen ek Maandag geld om ‘n heen en weer reis huis toe en terug
uit te skakel. Ek het koningingrootte Maputo-garnale bestel. (Ek kan nie dink
dat ek Pietersburg nie meer Pietersburg mag noem nie, maar Polokwane, en dit
terwyl ons na al die jare steeds vasklou aan die koloniale Lourenço Marques,
vir ‘n plek wat donkiesjare gelede al ‘n polities korrekte naam gekry het nie.)
Die kannetjie room en brandsous had ek in die huis.
Gister, terwyl Klaradyn dramaklas het, skiet ek toe gou deur
Checkers toe om grondboontjiebotter en van die gewone soort te loop kry. En ‘n
botteltjie bier daar langsaan, want hiervan sou ek ‘n gesonde skeut by my pan
moes gooi. (Ek, wat gewoond is aan ‘n ‘n paar druppels witwyn by my garnale!).
En toe is dit maklik – 6 minute en ons kon eet.
Ek het vooraf my sou berei – en nie met verdrag in die pan,
soos hulle voorgestel het nie.
Ek het vier (eerder opgehoopte as gelykgemaakte) eetlepels gladde
gronboontjiebotter by die kannetjie room ingeroer. Toe so vier eetlepels
chillie-sous – hulle vra die warm soort, maar gedagtig aan Klaradyn het ek
gehou by die ligter kindertjievriendelike weergawe. En dan ‘n skeut goeie bier.
Ek het 300 gram botter gesmelt en aan die borrel gekry –
daarby is die garnale ingegooi. Die oomblik toe hulle alkante pienk was, het ek
my oë
toegeknyp, en die ondenkbare sous daarby ingeroer.
Die meisies het al aangesit en die oomblik toe die sous
lekker dik en deurgeroer was (so 15 sekondes) later, toe stap ek met die pan,
net so tafel toe.
Hierdie keer was daar Basmati rys. Volgende keer, wat beslis
sommer net om die draai is, sal daar weer wees.
Hulle sê niks van sout nie – ek sal die prawntjies vooraf insout, daar by die gleufie in die dop waar die
poefenjersdermpie uitgehaal word.
Dit was ongelooflik lekker.
Dis ‘n wilde sprong, ek weet, baie wild, maar elke
millimeter van daardie sprong is die risiko werd.
No comments:
Post a Comment