Pages

8.2.12

Pappa en dogtertjie stap

Nee, daar was geen stap ter sprake nie; wel amper, maar op die ou einde het ons dit nie nodig gehad nie – Oupa het tot sy aangetroude skoonseun en sy kleinkind se redding gekom.
Die matrieks het egter jare gelede ‘n gedig met die titel “Pappa en seuntjie stap” voorgeskryf gehad. Ek onthou ek was nie liries oor die gedig nie, maar ek verbeel my die stem in die gedig was ‘n pa waarvan die hart oorgeloop het nie.
Noudat ek self ‘n pa is, want destyds was ek nog lank nie, kyk ek dalk met ander oë na die gedig. My hart loop ook mos nou van tyd tot oor. Soos gisteraand.
Ons is 17:00 Voortrekkers toe. Voortrekkers is heerlik – ek kan vir ‘n volle uur in die motor sit en wag! Ek gaan maak my toe tuis in die passasiersitplek en slaan die toetse van die skootrekenaar dat hulle so sing. (Ek het dit al vanuit die bestuurdersitplek probeer, maar dan sing die toeter, waarteen die rekenaar leun, meer as die toetse.)
Ons dierbare jongste en oudste en daarom enigste telg, het egter steeds die onhebbelike hebbelikheid om na afloop van haar persoonlike Deborah Retief-speeluur, nie motor toe te hol nie, maar op die skool se grensmuur te gaan klouter.
Ek sien dit nie, ek tik – om die waarheid te sê, ek het nie gedink sy sal dit vanjaar weer doen nie... sy is mos nou in graad 2 en al mooi groot.
Maar ek had dit verkeerd. Ek raak bewus van die spanoffisier wat al na haar motor toe beweeg, ek lei af Klaradyn speel elders, en ek klim uit om die vrou ‘n goeie jaar toe te wens. Maar toe ek op en uit en langs my eie motor is, sien ek my bobbejaan-kind op die muur rond klouter. My aandag is vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde verdeel tussen die offisier en die primaat, en dis mooi in presies daardie breukdeel van ‘n sekonde die motordeur ingedagte toemaak. En nanosekondes later besef, weet, registreer, pynlik daarvan bewus word, dat ek sopas my motorsleutels in die motor toegesluit het.
Nee, die vensters was nie oop nie – die lugversorging was aan terwyl ons gery het, en ek het met ‘n oop deur gesit en werk, had selfs my voete in ‘n stadium in die reën toe daar ‘n kort en vinnige katspoegie uitsak.
Ek doen myself onbeholpe voor, maar is net so onbeholpe soos die twee Mc Guyver’s wat my te hulp snel. Ek leen ‘n selfoon en skakel Oupa. (As jy ‘n televisie-animasieprogram met die naam van “Ouma kom help” kan onthou, is jy middeljarig, of jy dit nou wil erken of nie.)
En daar help die bejaarde oupa toe die middeljarige skoonseun binne twee minute uit die verknorsing uit. (En ook net digitaal en met die kuberruim tussen ons dat hierdie man bejaard sal noem; sê ek dit vir hom in sy gesig, gee hy my so ‘n opstopper dat ek my oorle’ ma as ‘n eenvoël aansien.)
Toe ry Pappa en Dogtertjie, in plaas daarvan om voet in die wind te slaan en te stap.
En die eerste wat Dogtertjie vra is wanneer dit weer Boeremark is? Dat ons vir Oupa ‘n presentjie kan koop om dankie te sê.
Só kan ‘n kind se hart mos maar aangeskroef wees!
En ons gaan nie huis toe nie, ons gaan kuier by tannie Marieta. Ma is by die skool vir ‘n vergadering en vir wat sal ons nou so ‘n vervelige en geroetineerde stap neem soos om huis toe te wil ry.
So much to do, so little time!
Pappa geniet ‘n sondondertjie terwyl Klaarsie haar sundowner uit ‘n vrugtesapverpakking geniet.
Dit grens aan onverantwoordelik laat as ons Marieta groet, maar ons aandete is vanmiddag al gemaak – dis nou net eet en bad en dan bid en bed.
Die badroetine word bykans outonoom en met ongekende samwerking en verantwoordelikheid deur Klaradyn haarself afgehandel en na 'n inspeksie van die voetsole (wat sy met vliegende vaandels slaag) sit ons aan vir ete – die allerlekkerste krummelpap (van growwe meel berei) wat tannie Martha agtermiddag sommer vir die lekker vir ons aanmekaargeslaan het. Ek eet myne met kruie, speserye en gerasperde parmesaankaas, Klaradyn hou by suiker met ‘n lekseltjie botter in die plek van melk.
Maar dis voor ons aansit, dat my hart vermurwe en ek ‘n faset van my kind ontdek wat ek nog nooit van te vore so duidelik uitgespel raakgelees het nie.
Dis voor ons aansit dat ek my verwonder aan hoe my kind se hart aanmekaargeskroef is.
Sy was etlike maande oud, toe kry sy ‘n lieflike vlooimark-handwerkrokkie present waarop vrolik staan:  Hanslammetjie.
‘n Verbeeldingryke vriendin besef dadelik dat so ‘n rokkie ‘n lieflike en emosionele dubbelsinnigheid in die Moolman-gesin se lewens kan geniet en koop dit dadelik aan.
Ons wag so jaar of wat en as Pappa en Dogtertjie ‘n hele ruk lank alleen gaan stap (shop, of fliek, of Boeremark,  of uiteet, of diertjies kyk en voer) dan is dit Hans en sy Lammetjie uitgevat in haar blou rokkie wat dit so mooi uitspel.
Maar dis vanjaar ook al drie of vier jaar gelede, die rok is al selfs te klein om as Empire-line bloes te dra.
Waar die kind pajamas gaan uitkrap het, weet ek nie, maar toe ek die pap warm maak. Kom staan sy agter my met die woorde:  “Kyk net hier, Pappa! Onthou jy?”
En daar skiet haar oë vol trane – en dan praat ek nie van ‘n enkele Tretchikof-traantjie wat eensaam en effekberekend oor haar wang biggel nie; die sagte warmte en mooi herinneringe wat die rokkie omgewe, oorval haar so, dat sy heel ontroer oorloop van emosie.
Toe Mamma teen ons laaste happie van haar vergadering opdaag is dit vir haar dadelik duidelik dat ons ‘n lieflike aandjie geniet het – die kind borrel oor van jeudige lekkerte en en energie.
Maar nee, Pappa moet haar in die bed sit.
En wat kies daardie kind om te lees? Twee kleuterboekies wat ons kleutertyd gereeld saamgelees het, maar in drie jaar seker nog nie een keer nie.
Té lekker!
Gisteraand toe maak ons weer so, maar hierdie keer klim ons in die bed met Opperman se Kleuterverseboek en sing bykans elkeen van die dans- en piekniekliedjies wat hy daarin opgeneem het.
Te goed, in die woorde van Sheila Cussons, is hierdie aande om net aan my te gee.

No comments: