Pages

12.2.12

Op my eie Sunday morning sidewalk

Die staaltjie rondom my ma wat ek gister gedeel het, het my in ‘n stadium by ‘n ander insident gehad waaroor sy net so lekker, maar ook met net soveel verontwaardiging, gelag het.
My ma was haar leeftyd lank Dié Koningín van Eufemísmes, maar ons het haar so leer ken en sy het ons so groot gemaak. Dis egter ons, haar seuns, en nie die liggaamlik en verstandelik gestremde kleinkind van een van haar vriendinne nie.
Nou hoe en waar dit gebeur het dat my ma ruk lank alleen saam met kind in die tuin was, sal ek nie meer weet nie – ek was al uit die huis en op universiteit toe die insident afgespeel het. Dit gebeur egter toe dat die ouma in die huis is en my ma saam met die kind by die swaai is. En daar mis ‘n voël toe sy witte blerts al oor my ma se hare en voorkom.
Getrou aan Judy se aard, en in ‘n poging seker ook maar om die kind te vermaak, trek sy ewe oordrewe los met iets soos: “O, alla, mapstieks, my alla makieriekat – die voëltjie het op my kop getjorts!”
Maar daar weet die kind nie wat “getjorts” beteken nie, en sy vra.
Judy beweeg deur haar hele repertorium van eufemismes – gebollie, ge-nommer twee, geblerts, ge-tjorrel, ge-a-a, ge-akka, gepoefies, maar die kind bly in die duister. Judy noem die ding selfs by die naam en sê dat die voëltjie op haar gemis het – maar dit is vir die kind ‘n nog vreemder woord.
My ma word genoop om die sneesdoekie wat sy oomblikke gelede gebruik het om haarself skoon te kry, voor die kind oop te vou, en daar trek die dogtertjie, laggend en met volle begrip los en roep uit:  “O, tannie bedoel die voël het op tannie se kop gekak!”
Ai, en dan het Judy altyd so begin ruk van die lag as sy haar vertelling afsluit.
Egter een van die baie boeke wat ek myself voorgeneem het om te lees, maar nog nie by uitgekom het nie – en in my leeftyd beslis ook nooit gaan uitkom nie, wat my vanoggend rekenaar toe gestuur het:  Jean Jacques Rousseau se Die Sosiale Kontrak van 1762.
Wanneer het ons in Geskiedenis op skool by die beëindiging van slawerny stilgestaan? Ek kan my nie voorstel dat ‘n laerskoolmeneer of –juffrou my aan Jean Jacques Rousseau bekend sou gestel het nie... dit moes iewers in standerd 6 of 7 gewees het.
Hierdie man en sy werk het destyds so ‘n indruk op my gemaak dat hy en sy boek gisteraand in ‘n gesprek rondom die etenstafel weer deur my agterkop geflits het.
Ek onthou dat ek ensiklopedie toe gegaan het – dit was die dae voor internet en elke ordentlike huis het ‘n ensiklopedie gehad – om meer oor die man en sy boek te wete te kom.
Hoe meer ek daaroor nadink besef ek dat ek ‘n wonderlike kind moes gewees het om voor skool te hou! (Of ‘n baie groot pyn in die agterwêreld.)
Ek onthou egter ook dat waarop ek ook al afgekom het totaal bo my vuurmaakplek was en ek my toe maar voorgeneem het om dan maar eendag as ek groot is, die boek te lees.
Watter paragrafie dit was wat so ‘n indruk op my gemaak het, kan ek vandag nie meer woordeliks aanhaal nie, dit het weggeval met “’n mens wat in slawerny gebore is...” en dan aangegaan om my by die gedagte uit te bring dat ‘n mens wat in slawerny gebore is, homself maar net toelaat om slaaf te bly omdat hy niks anders gewoond is nie.
Ek het nou vanoggend, na seker 34 jaar, weer deur die boek gaan blaai; die ensiklopedie is in die motorhuis gepak, maar daar is internettoegang. Die naaste daaraan waaraan ek kon kom is egter:  To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.
Om te beweer dat die seun van 'n slaaf, 'n gebore slaaf is, is om te beweer dat hy nie 'n méns gebore is nie?
Maar wag, miskien haal ek te selektief aan, ons moet die breer konteks sien:  “Every man having been born free and master of himself, no one else may under any pretext whatever subject him without his consent. To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.”
Maar ag, dit maak ook nie saak nie – dis immers nie slawerny, Jean Jacques Rousseau of sosiale kontrakte wat my agter die rekenaar het nie (allermins ook nie wat voëls van tyd tot tyd op tannies se koppe doen nie) maar allergieë of allergiese reaksies.
Onthou ek die gesprek reg, het die dokter waar die ma haar kind oor sy talle allergiese reaksies had, haar gevra of die kind ooit oor sy toestand kla. Die ma se reaksie was om enige so iets ten sterkste te ontken. Waarop die Doktor toe lostrek en sê dat dit dan beslis die geval is, bloot omdat die stomme kind niks anders ken of aan beter gewoond is nie.
En op daardie punt spring my gedagtes toe standerd 6 of 7 toe, na mnr. Rousseau en sy slawe toe: ja, dis omdat die kind as “slaaf” van sy allergiese reaksies in “slawerny” in gebore is, dat hy vrede daarmee het – wat anders of beter ken hy immers.
En dit is presies wat met Klaradyn die geval is. (En met my die geval was.) Jy raak so gewoond om met ‘n kop vol mukus rond te loop dat jy begin dink dat dit nou maar een maal is soos dit is – almal is so, dit kan nie anders nie; dis hoe die lewe is.
Ek wys Annieka daarop dat ons Klaradyn vier jaar gelede by tye elke twee weke by dokter had – dit was omdat haar mangels nog nie uitgehaal was nie en hulle semipermanent ontsteek was van al die gagga goeterstes wat in die nollies wat daar rondom en aan hulle ankerplek gekry het, gaan nesskop het.
Dit was toe dat Doktor Smit een mooi dag sy voet neersit en sê:  “Mevrou, hierdie kind se mangels móét nou uit – besef u dat u die kind deesdae op tweeweeklikse basis by my het – en dit telkens vir dieselfde ding!”
En toe haal ons die mangels uit. Dit het aan die kind se permanente slymkop en –kanale onder die son niks gedoen nie – al wat nou gebeur het, is dat die siektes (ek weet nooit of dit virusse of bakterieë, of sommer altwee is nie) nie meer so maklik vastrapplek kry nie.
En intussen loop my kind dag in en dag uit met ‘n chroniese, akute, snotkop rond.
Ja, oorle’ Judy se jare-voor-haar-oorle’ vriendin se kleinkind, wat vandag ‘n dogter van diep in die dertig moet wees – ás sý nog leef, sou my lankal in die rede geval het en gevra het wat mukus en slymkanale en al daardie ander dinge waarvan ek praat, is. Maar ons is ons ouers se kinders – ons word soos ons ouers.
En dis nóg iets wat Klaradyn presies is: sy is, wat haar nolliekop betref, haar pa se kind uitgeknip! Dis maar eers toe ek in ‘n huwelik met Annieka begin saamleef het, dat ek agter gekom het daar is mense wat nie aldag en heeldag met hulle slymkliere sukkel nie. En al hoe ek dit agtergekom het, is toe ek besef dat my vrou die vaagste benul het waarvan ek praat as sy my begin aanpraat oor my alewige gesukkel met my keel en neus nie.
Ek het besef dat ek lewenslank nie van anders of beter geweet het nie – ek is ‘n slaaf in slawerny in gebore, so gemaak en so gelaatstaan.
En in daardie stadium was ek al so gewoond daaraan, dat ek niks gedoen het om dit te verander nie, dit is, vir mense soos ons, dan nou maar een maal hoe dit is, en basta met die alternatiewe.
Maar my arme kind!
Ek gaan vandag na die homeopatiese goeterstes op die rakke begin kyk – ek kan en wil my kind nie permanent op geskeduleerde (?) medisyne hê nie – maar soos dit aangaan, kan en mag dit nie sommer goedmoeds en siende blind aangaan nie.
Toe ek nagelees het oor die katte, het ek daarop afgekom dat hulle kan help om jou van jou allergiese reaksies te desensitiseer. Miskien moet ek dit oorweeg.
En dan is dit of die allergiese reaktor in haar, ‘n wil van sy eie het. Eers het hy jaar lank floreer op die kat. Toe raak ons van die kat ontslae. En toe gaan dit goed.
Maar ook net vir ‘n jaar – die jaar wat dit hierdie ingeboude reaktor geneem het om stilweg en op sy eie te muteer in een wat nou nie meer histeries in volle swang spring by die aanskoue van ‘n kat nie, maar ‘n veer, enige veer, veral die veer in my kussing.
Dis regtig asof die kind die afgelope ruk erger reaksies op goed toon as van te vore.
Maar wat as ons nou elke veer uit die huis, en elke voël uit sy hok of kou het – soos ons elke kat van die werf en elke hond uit die huis het, en die monster in haar besluit om homself weer van vooraf aan te herbedraad en voortaan in hoogste versnelling te spring by die aanskoue van iets anders!
As dit nie jou lewenskwaliteit aantas nie, kan ‘n mens seker maar bloot leer om daarmee saam te leef. Maar vir ‘n dogtertjie van 7 om elke nag en dag van haar lewe te moet sukkel met storms wat hulself in haar kop se kanale uitwoed, is nie normaal nie.
Ek is oop vir voorstelle. Die lyne is oop, enige iemand wat wil inbel (of inskryf) is welkom.

Naskrif: 
Kyk net die lieflike paar aanhalings van die Rousseau-man wat ek vanoggend in my soeke na die boek opgespoor het. Enkeles is bekend; ander, vir my, nuut:
  • “People who know little are usually great talkers, while men who know much say little.”
  • “The world of reality has its limits; the world of imagination is boundless.”
  • “I would rather be a man of paradoxes than a man of prejudices.”
  • “Love, known to the person by whom it is inspired, becomes more bearable.”
  • “Civilization is a hopeless race to discover remedies for the evils it produces.”
  • “We must powder our wigs; that is why so many poor people have no bread.”
  • “All my misfortunes come of having thought too well of my fellows.”
  • “Why should we build our happiness on the opinons of others, when we can find it in our own hearts?”
  • “Man was born free, and he is everywhere in chains. Those who think themselves the masters of others are indeed greater slaves than they.”
  • “Man's freedom consists, not in being able to do whatever he wills, but that he should not, by any human power, be forced to do what is against his will.”
  • “Freedom is the power to choose our own chains”
Daar is hopeloos te veel op te spoeg en te plak. Loer gerus hier.

No comments: