Pages

26.8.12

Ons kind vier 8

Mag ek eendag van die sestiende sê wat ek onomwonde van die agtste sê:  Dit was nou vir jou ‘n lekker partytjie!
Van die sesde kon ek dit nie sê nie – juis omdat drie, vier en vyf so lekker was; sewe, verlede jaar, was toe weer beter, maar agt span die kroon.
Die kleuterpartytjies was een en elk vir my heerlik – ek verbeel my trouens ons het op twee begin. Verlede jaar het ons egter, na die effe ongemaklike ses, geswig en van die huis na die dieretuin beweeg. Die kinders het dit geniet, ons het dit geniet.
Hierdie jaar, toe wil sy vreeslik graag Maropeng en Sterkfontein toe, na die wieg van die beskawing toe.  Maar dit begin by R525-00 vir Pappa, Mamma en Klaars – en dan is daar nog ‘n maatjie of ‘n piekniek by nie.
Toe koop sy egter 100% in op Lory Park Zoo, ‘n privaat dieretuin op Midrand.
Dis klein, 20 soogdierspesies, 5 reptiele, 14 verskillende papegaaie, 11 uitspesies, 17 verskillende roofvoëls en so bietjie meer as 20 ander verskillende voëlspesies.
11 van die soogdiere is katte – Bengaalse Tier, Jagluiperd, Eurasiese Rooikat, Jaguar, Luiperd, Leeu, Puma ,     Siberiese Tier, Rooikat, Tierkat, en Serval – so dis regtig ‘n opwindende boetiekdieretuin, as ‘n mens so iets kan kry.
Ek het vooraf werksvelle voorberei met vrae oor van die opvallende spesies. En om dit vir die graad 2’s maklik te maak, het ek drie moontlike antwoorde gegee waarvan hulle een moet kies.
Dit was natuurlik nie ‘n uitgemaakte saak dat die kinders gaan inkoop op so ‘n gespesialiseerde akademiese aktiwiteit nie, maar hulle het. So volledig ook trouens, dat ek die laaste keer wat ons ‘n rondte gaan stap het, self gevra het dat ons die aanknipborde met die papier-en-pen-aktiwiteit by die lapa (wat ons twee maande voor die tyd bespreek het) moet los. Die tyd was min, en hulle het die akademie so ernstig opgeneem, dat ek nie kans gesien het dat soölogiese feite ons spoed breek nie.
Elke kind het ‘n koelhouertjie met piekniekgoedjies gekry, ‘n koelhouertjie met piekniekgoedjies wat ons natuurlik by die huis in die yskas vergeet het – en Mamma al die pad voor terug moes ry huis toe.
So terwyl ek en Tannie Esme, Oom Erik en Tannie Johanet van hok tot hok beweeg en probeer uitwerk watter snaakse jaggewoonte die luiperd het (bespring hulle soms die prooi vanuit (a) ‘n erdvarkgat, (b) die water, of (c) ‘n boomtak) verdwaal Mamma toe oppad huis toe. Iewers het Ouma en Oupa ook nog by ons aangesluit om die meisiekind se dag vir haar baie spesiaal te maak.
Op die hitte van die dag, beweeg ons toe eers ‘n rukkie uit die son uit en onder die lapa in, vir die volgende risiko van die dag – speletjies saam met Pappa, drie speletjies waarvoor Pappa drie onderskeie eerstepryse en ‘n vyftal kleiner troospryse gaan kry het.
En ek sê dis ‘n risiko, want die vorige keer (op ses!) toe ek gestruktureerde speletjies wou speel, toe stel die kinders nie belang nie, wip ek my en wil ek hulle almal huis toe stuur. Maar ek was verniet bang dat ek weer ‘n koue skouer gaan kry – die kleintjies het weer eens 100% ingekoop.
Eers het ons, soos op kermisse van ouds, vissies gevang. Elke vissie het ‘n getal onder op sy maag geskryf, en die kind wat die hoogste totaal vang, wen die prys.
Toe word elkeen geblinddoek en moet probeer om die donkie se stert geposisioneer te kry. Groot pret, Ouma speel saam.
En toe moet hulle 10 blikkies wat 4, 3, 2, 1 bo op mekaar gestapel is, met ‘n bal probeer raakgooi en kyk wie kry die meeste met een gooi om. Te lekker.
Na die ete en  nog ‘n soölogiese ekskursie deur die dieretuin waarin hulle leer hoekom aasvoëls se nekke kaal en sonder vere is, kom die koek aan die beurt – en daar ontaard die koek in ‘n impromptu aktiwiteit op sy eie.
Tannie Esme het jaar een aangebied om ‘n koek te bring, en ses jaar later doen sy steeds. Vanjaar se koek was ‘n plaaswerf, ‘n hoogs kreatiewe plaaswerf met trekkers en kampe en krale en koeie en hoenders – en toe ons weer sien, toesit al ses van hulle op hulle hurke en speel spontaan, heel bevange met die koekversierings.
Voor dit, terwyl ons grootmense ons eie worsbroodjies geniet het, het Oom Erik hulle goed ‘n halfuur rondom ‘n ander geskenkie van Tannie Esme – nege dobbelstene – besig gehou.  Dis egter nie sommer enige nege dobbelstene nie, dis nege dobbelstene met vier en vyftig verskillende prentjies op – jy gooi die nege stene en moet dan die storie vertel rondom die nege verskillende prentjies wat boontoe kyk.
Hulle het die reëls perfek aangepas by ‘n groepie van ses: in plaas daarvan dat elkeen ‘n storie vertel, het elkeen, al in die rondte, ‘n deel van die storie vertel. Hoogs kreatiewe stimulering.
En op pad uit – ons dra al die goed terug kar toe – toe kry die partytjie sy kersie op die koek by:  Oom Erik koop kaartjies dat elke kind interaksie met die tierkatwelpies kan hê. Dit is iets wat nie altyd moontlik is nie. ‘n Vorige keer toe was ons daar, toe is sowel die jagluiperd- as die tierkatwelpies te groot vir Klaradyn se ouderdom, ‘n vorige keer was hulle weer jonk genoeg. Gister was die jagluiperdwelpies beslis te groot, maar die tierkatjies nog klein genoeg vir agtjariges om met vrymoedigheid interaksie te hê.
Eers is Oom Erik in met drie maatjies, toe Mamma met drie ander maatjies.
Selfs die outjies wat vroeër die oggend nog te lugtig was om saam met die oom tussen die ooruile in te gaan en hulle te voer, het kans gesien vir die tierkatjies. Hierdie uile was ook ‘n hoogtepunt op hul eie. Die goed word aangespoor om op die kinders se arms te kom sit en van daar af gevoer te word. Een van die kinders het in ‘n stadium ‘n uil op elke arm en ‘n uil op die kop gehad.
Die kinders het dit regtig vreeslik geniet, ‘n blinde sou dit met ‘n stok kon aanvoel, nee, ‘n blinde sou dit kon hoor, en ‘n dowe sou dit kon hoor. Ek en Esme vermoed, toe ons motor toe stap, dis omdat hulle nog ‘n jaar ouer is, en dinge op ander en meer maniere kan geniet as ‘n jaar en twee jaar gelede.
Ek sê ook dis omdat die kinders wat Klaradyn genooi het, dieselfde woordeskat het. Dit klink laf, maar navorsing het bewys dat sosialisering op die ouderdom wat hulle nou is, nie deur goed soos status of ouers se inkomste of waar jy bly en watse kar jy ry, hoe goed jy op skool doen en hoeveelste in die klas jy staan, bepaal word nie, maar suiwer deur woordeskat.
Jy maak nie maats met kinders wie se woordeskat ver bo jou vuurmaakplek is nie – jy voel (en is) uitgesluit uit hul geselskap. Dit werk beide kante toe, jy nooi ook nie sommer ‘n maatjie in jou vriendekring in, wat nie met jou saam praat nie, spreekwoordelik nie dieselfde taal as jy praat nie.
Gister se groepie, seuns en dogters saam, het mekaar verstaan.
Dit was heerlik.
Ek het heeldag met die kamera om mhy nek geloop, maar was so besig en betrokke dat ek nie by 'n enkelete foto uitgekom het nie. Sodra ek kry, Tannie Esme weet ek het foto's geneem, vertel ek meer aan die hand, nie van woorde nie, maar prentjies.

24.8.12

Slaan ek my naam met 'n plank

In my klas het ons al baie keer, baie lekker gelag. Die lekkerste daarvan, vir my, elke keer wanneer ek hardop vir myself kan lag. Soos verlede jaar toe ek midde ‘n les met my voet op ‘n stoel gesteun het en die stoel onder my gebreek het. Ek het omtrent met my ken teen ‘n bank en my gat op die grond beland. Maar ek was so besig met lesgee, dat ek eers die gesels klaar gemaak het. En die oomblik, toe daar drie minute later ‘n oomblik van rus is, toe kraak ons almal soos ons lag. Die kinders het drie minute vasgebyt omdat hulle my nie in die gesig wou vat deur te lag nie, maar ek was self dik van die lag, het lankal geleer om vir myself te kan lag, en het net gewag om waarmee ek besig was, klaar te maak, voor ek my oorgee aan die lag.
Maar min van die baie kere se lag, vir myself lag, was nog ooit so lekker soos vandag se lag.
Ek het ‘n oulike kind in my klas wat beslis nie onder die top 28 voorbeeldigste en hardwerkendste leerders uit ‘n klas van dertig tel nie, maar nie ‘n slegte kind om in die klas te hê. (En ek sê jare nou al dat ek in die onderwys is, suiwer dat daar onderwysers kan wees wat van seuns en dogters van sy kaliber ook kan hou.)
Ek is besig met moeilike werk, trouens die enigste moeilike werk wat daar na 1994 nog in die Afrikaanse sillabus oorgebly het. Maar dit gaan goed, ek is in hoogste rat en die kinders snap.
Toe raak ek bewus van die seun wat, so wil dit aanvanklik vir my voorkom, besig is om op of met sy selfoon te totter.
Sulke goed val my gewoonlik nie op nie, ek het in meer as 25 jaar van onderwys hoogstens nog net een keer ‘n kind in my klas gehad waarvan die hare te lank was en ek hom moes aanspreek, of ‘n dogter met grimering, of gekleurde, hare of vals naels, of iets verkeerd, wat my opgeval het. As ek skoolhou, hou ek skool – ek kyk nie of die kinders kou en of hulle skoene skoon is of nie, en of hul rompe lank of kort genoeg is nie.
Gevolglik sal ‘n kind ook eers letterlik met sy selfoon op my moet afstap en aansê om mooi vir die kamera te glimlag, hulle is besig om ‘n selfoon-video-opname van my tirade te maak wat hulle op die internet wil laai, voor ek enigsins agterkom daar is iemand wat met ‘n selfoon totter.
So as die seun met die selfoon my vandag midde my les opgeval het, dan moes hy regtig baie duidelik uitgestaan het as iemand wat met iets anders as aantekeninge afneem, besig is.
Ek bly toe midde my les skielik stil en gee hom ‘n kyk wat duidelik kommunikeer dat hy nou sy selfoon moet bêre as hy nie wil hê dat ek soos ‘n swanger engel op hom moet neerdaal nie. Maar die mannetjie kyk my net aan soos ‘n bok wat gemelk word en wend geen poging aan om sy selfoon te bêre nie.
Ek is nie veronderstel om dit te doen nie – ek is veronderstel om sy selfoon se sim-kaart af te neem en dan moet hy ‘n week later R50-00 betaal voor hy dit terug kan kry. Maar ek doen so iets nie sommer nie, ek gee die kind eerder net ‘n kyk, en dan bêre hulle gou die ding waarmee hulle besig is.
Maar nie hierdie seun nie.
En dis eintlik nogal vreemd, want die kind is nie ‘n slegte kind nie, ons het ‘n goeie verhouding en ek het eintlik verwag dat hy dadelik sou reageer.
Ek stap toe nader en sien dis nie ‘n selfoon nie, maar iets veel erger, dis ‘n eietydse walkman waarmee al wat kind is deesdae rondloop, ‘n kleinerige iets met dradewerk wat hulle teen hul lyf oplei na hul ore toe – en so loop hulle die ganse dag en luister na die allervreelikste musiek wat nog verskrikliker boodskappe inhou as ‘n mens dit net agteruit speel.
Hy het die dingetjie steeds in sy hand, en dan verdwyn die oorfoondrade hier onder sy hemp in.
Nou het die kind klaar nie reageer toe ek hom duidelik te kenne gegee het dat hy die ding moet wegsit as hy nie moeilikheid wil hê nie.
Ek was nou lank genoeg Mr Nice Guy gewees, ek moet nou optree, en ek bied dit in die vorm van ‘n bevelsin aan hom dat hy die ding vir my moet gee.
Maar hy doen niks, hy knip nie eens ‘n oog nie, hy wend nie eers, al is dit nou hopeloos te laat, ‘n poging aan om die ding te bêre nie.
Nou kyk, is nie verniet kamstig een jaar die universiteit se beste dramastudent gewees nie (nie dat dit iets met my toneelspel te doen had nie, eerder my akademiese insette) en ek laat weet in ‘n bulderende stem, met my dubbelkenne en opgeblaasde binnebande om die middellyf wat saam beweeg, dat hy die ding vir my moet gee, mooi monosillabies:  “GEE DIE DINK VIR MY, NOU!”
Die Griek in sy kafee af in die straat kan my midde ‘n gewande roof hoor, ek hoor maak die kollegas onder en bo en langs my hul vensters en deure toe.
Was ek groot en sterk en aggressief en kort van draad, was ek enige iets soos enige van die onnies wat ek op skool had, hét ek die ding uit sy hand geruk; ek doen dit nie, ek wag vir die weerklank teen die Magaliesberge om weg te sterf, voor ek hom weer verskree.
Want die kind sê steeds niks, doen niks – hy staar my net in ongeloof aan.
Toe ek op die punt is om spontaan in vlamme op te gaan, sê hy heel sedig, maar doodernstig, en dankie tog ek het die ding nie uit sy hand geruk nie:  “Meneer, ek kan nie, ek is ‘n diabeet”.
En dis toe dat ek begin lag, soos ek in geen jare gelag het nie.
En die klas lag, en die seun lag, en ons almal lag.
En al wat ek uitkry is: “Jy kan bly wees ek glo jou, want as ek jou nie geglo het nie, het ek daardie dink, nie net uit jou hande nie, maar uit jou lyf geruk!”
Stel jou voor ek was die aggressiewe tipe, groot  en sterk genoeg om te kan doen wat ek wil – dan het ek die ding in woede uit sy hande geruk!
Arme kind!
Arme ek! Want ek sou in groot moeilikheid wees.
As ek meer street wise was, sou ek dadelik geweet het die kontrepsie is nie ‘n eietydse walkman of draadlosie nie.
As ek meer van diabetes geweet het, sou ek die ding herken het – ‘n vriendin van my loop met so ding rond, maar ek het haar nog nooit gevra dat sy my haar tools moet wys nie.
Is daar ‘n les in vir ou mans?
Beslis.
Maar gelukkig nie ‘n dure les nie:  Ek moet meer in voeling kom met die jeug se nuutste tegnologie, dan sal ek my naam nie so doodsekuur met ‘n plank slaan nie.

Los gedagtes, gisteraand en vanmiddag

Behalwe dan nou vir die talle onvoltooide bloggeselsies waarvan ek ‘n vorige keer, indien nie laas nie, melding gemaak het, is daar natuurlik ook talle voltooide gesprekke wat ek net bloot nooit sal plaas nie.
Soos die een wat ek gisteraand aangeknoop het.
Ek het begin by Klaradyn se partytjie van eerskomende Saterdag.
Ons gaan na ‘n klein privaat-dieretuin toe.
Toe spring my gedagtes na verlede jaar se Pretoria Dieretuin-besoek.
En toe, voor ek my kon keer,  is ek by Judy waarby ek toe nie die Saterdag van die partytjie uitgekom het nie, maar eers Sondag. Judy wat toe siek is en ‘n doktor wat Vrydag al laat kom is, maar die ordentlikheid gehad het om te laat weet hy is te besig, hy gaan nie kom nie.
Ek bel hom toe Sondag terwyl hy gebraaide skaapboud en uitgebakte ertappels eet om te hoor of hy nog steeds te besig is.
Om ‘n lang storie kort te maak – Judy is die Woensdag oorlede. Anders as om soos van Sondag af op fakse en toetsverslae te reken, het hy wel die Woensdag by haar uitgekom. Dis toe dat hy my laat kom het met die boodskap dat my ma sterwend is.
Ek het toe sommer weer die bloginskrywing wat ek verlede jaar rondom my ma se afsterwe geskryf het, maar ook nooit gepos het nie, gaan lees.
Dis duidelik dat ek ‘n jaar later nog net so kwaad is as destyds, ‘n kwaad en woede wat ek nie wil afsterf nie en ek hoop ek ook nooit sal afsterf nie.
Toe snik ek sommer vir die effek ook so bietjie, maar nie naastenby so lekker soos wat Klaradyn vanaand gesnik het nie.
En dis ook iets wat ek hoop, my kind hierdie keer, nooit sal afleer of –sterf nie – die vermoë om te huil in storieboeke en flieks. Maar ook nie net in storieboeke en flieks nie; in die werklike lewe met die die lotgevalle van regte mense van vlees en bloed, daarby.
Vanaand was dit egter ‘n fliek, ‘n fliek wat ons seker vanaand vir die tiende keer in haar lewe, die agtiende keer in my lewe, gekyk het.
Ek en sy sê al die dialoog vir mekaar op en ons kyk wie kan die stemme van die akteurs die beste naboots.
En toe Mufasa vanaand vir die tiende/agtiende keer na sy dood val dink ek dat dit darem maar wraggies ‘n erger kennismaking met die dood in hierdie kinderfliek is, as in baie ander flieks wat ek nie bereid is om my kind aan bloot te stel nie.
En terwyl ek, wat besig is met goeters regkry vir die partytjie, sluk-sluk aan die knop in my keel, gee my kind my een kyk, my oog vang haar oog, en toe draai sy beide krane volsterkte oop, en sy snik asof dit die heel eerste keer, en nie die tiende keer is, wat sy met die storielyn in kontak kom nie.
Ai, dis darem maar lekker! Daar pik ek en sy en ma toe saam ‘n traantjie weg, ek en ma nie soseer oor die fliek nie, maar sommer oor ons kind wat so lieflik sensitief is, wat so vreeslik vinnig so vreeslik groot geword het, en steeds so klein is (en gelukkig nog nie afgestomp genoeg is nie) om te kan by Mufasa se afsterwe.
Ek onthou self hoe ek as jong seun elke dan en wan as ek lekker wou huil, die slothoofstuk van Jock of the Bushveld gaan lees het. Ook nie slothoofstuk nie, sommer net enkele bladsye hier teen die einde, dan tjank ek te heerlik.
Vandag nog is ek die een wat, kyk ek die fliek ‘n tweede of derde keer, dan huil ek al in die openingstoneel – bloot by gedagte aan dit wat nog moet kom.
Flieks waarin Klaradyn vyf jaar gelede gehuil het, wil sy vandag steeds nie kyk nie. Challotte’s Web, waar wil jy ‘n mooier storie kry, is een. Ons het dit gekyk toe sy drie was. Sy is volgende week 8. Sy weier om dit te kyk. Sy het nie ‘n idee wat die strekking van die storie is nie, al wat sy onthou, is dat ‘n spinnekop doodgaan; watter spinnekop en dat die spinnekop se naam Charlotte is, weet sy nie eers meer nie, maar dis vir haar genoeg om viervoet vas te steek sodra ons die lieflike fliek wil kyk.
Ek sê dit al vyf jaar, as ek gelukkig genoeg is om nog in die lewe te wees as my kind miskien eendag die dag trou, weet ek dat sy en ek, in die week voor die troue iewers die tyd sal afknyp om vir oulaas saam Lion King te kyk. Ek weet ek sal huil. En ek weet sy sal huil. En dit sal nie net oor Mufasa wees nie. Maar ek weet ook dit sal heerlike huil wees. ‘n Huil wat ek regtig hoop ek nie gespaar gaan word nie, maar ‘n huil wat ‘n wonderlike voorreg gaan wees.
Sy en Mamma sal ook fliek, nie Lion King  nie, maar Mama Mia. Hulle het dit in die laaste week weer een keer deurgewerk. Klaradyn is nog nie daar nie, genadiglik nie, maar ek kan nie wag om te hoor hoe Mamma gaan bontstaan as Klaradyn wil weet hoe dit dan moontlik is dat die tannie nie weet watter een van die vier ooms die pappa van die kind is nie. Of as sy sou vra wat die “and then we dot dot dot” is waaroor die karakters in die fliek so lekker lag
Maar dis nog lank, voor dan het ons nog eers ‘n agtste verjaarsdagpartytjie. Ek laat hoor later weer van my, as die partytjie oor en verby is.

18.8.12

Vrydag iewers in Augustus

En wat doen ek en my kind Donderdagmiddag terwyl ons moet huiswerk doen, Donderdag-agtermiddag  laat terwyl ons tafels moet leer vir vandag se toets, Donderdagaand in die kombuis om die tafel terwyl die kos in die oond brand?
Ons foeter Kollonade toe, koop die ding en kom speel Battleship.


 Ja, was my enigste ‘n seuntjie, het ek seker nie sommer uitgery om vir hom sy eie Barbie te koop nie, maar ek kan in my wildste drome nie voorstel dat Klaradyn enige identiteitskrisis kan ontwikkel oor sy en haar pa Battleships speel nie!
Ek regverdig my aankoop verder met die feit dat dit my kind se wiskundevaardighede opskerp en ons later nog baie bly gaan wees ons nou, op amper 8, hierdie kosbare oefening inkry. Gee my ook net tyd, en ek sal vorendag kan kom met nog tientalle ander vaardighede, waarsonder geen groeiende kind kan klaarkom nie, wat alles en almal in die speel van Battleship opgesluit is.
En dan moet julle weet, ons het in agt jaar geen doodmaak-doodmaak-speletjies gespeel nie. Speelgoedgeweertjies is ten sterkste afgekeur, selfs waterspuitgeweertjies is weggewys en spuitgoeters in die vorm van inspuitingnaalde is aangekoop.
En hier speel ek en sy ‘n ding wat daarop neerkom dat elkander se vliegdek- ek lugafweergevegskepe kruis oor dwars en links en regs moer toe geskiet moet word, om te wen.
Ja, so val die helde.
Maar ek moes dit net doen, al kry ek baie lag vir myself in die proses.
Ons het die speletjie die langnaweek in ‘n boekwinkel raakgeloop. Ons het baie dinge die langnaweek in die boekwinkel raakgeloop, baie dinge, lieflike dinge, baie lieflike baie lieflike dinge.
MAAR: dis verjaarsdagmaand, Klaradyn die einde van die maand, Pappa vier of vyf dae later. Dis twee partytjies (klaspartytjie en huispartytjie – nie by die huis nie, maar ‘n dieretuin), en, soos elke jaar einde Julie het die Automobiele Assosiasie se geld afgegaan, my water en ligte was R4 300 en bla-bla-bla-bla... daar is ‘n duisend en een redes waarom ons nie die langnaweek die Battleships kan koop nie.
En dis ‘n Hasbro-produk, enige Hasbro ding is moeiliker as hoendertande om in die hande te kry.
Maar daar is nie geld nie, en basta.
En ek spot altyd vir Annieka – haar tjeks hop nie, haar tjeks hop nooit nie, maar o, wee, die geld wat in haar bankrekening kom, hop altyd vinniger daar uit, as wat dit daar in gekom het – dit vat skaars grond, dit word nie toegelaat om asem te skep of tydelik nes te skrop nie, dit vat-vat net-net grond en dan is dit uitgegee.
En toe ek haar na skool gaan tatta-sê, vra sy my of ek ook salaris gekry het, die bank se SMS het laat weet sy het ‘n ou bedraggie gekry.
Ek sal nie weet nie, my selfoon is in die motor.
Maar daar was sprake van ‘n salarisverhoging iewers, en ek verbeel my ek het iets van ‘n terugbetaling gehoor.
O, en toe ek in die kar klim, en ek spoor die selfoon op, toe is daar ook ‘n ou halwe kwarteleiertjie wat darem ‘n knertsie beter is as die leë dop van die afgelope drie weke.
So toe ek die merrieperd vra hoeveel huiswerk sy oor het, en sy noem dis net die tafels vir Vrydag se toets, toe vra ek of sy nie saam met my Kolonade toe wil ry nie.
Ai, en toe ek net noem ek wil na die boekwinkel toe gaan omdat ek ‘n geldjie gekry het en ek my verbeel daar was iets wat ek nog laas daar wou gekoop het, toe weet sy presies waarvan ek praat.
Ag, en hoekom nie?
Sy en Mamma het Maandag teen donker van die Voortrekkers af gekom, hulle tref my toe in die motorhuis aan, en die volgende waarvan ek bewus word, is my kind wat van die motorhek af op my afhol en in my arms en om my nek  spring.
Volgens Annieka, ‘n rukkie later toe ons alleen is, het sy gevra of sy by die hek kan uitspring voor Annieka intrek, “want,” en ek haal haar aan, “ek gaan daardie man nou dood druk.”
O, my swakke vaderhart!
Sy het hoeka die wind verlede week uit my seile geneem toe ek haar die oggend in die symste motorhuis afsien en sy, uit die bloute, sonder enige bymotief, sommer so in die verbygaan, in my oor fluister en terloops net laat val:  “Onthou ek het Pappa baie lief.”
Die enigste ander vroumens wat my nog ooit kon laat voel soos hoe ek gevoel het toe ek net  toe daarna die huis instap, is dieselfde meisiesmensie se ma.
Ja, ek kon sjokolade ook gekoop het, ek kon die sagte speeldingetjie ook gekoop het, die boek waarvan ons al twee so baie hou, ek kon, maar ek het nie en ek sal nie – dis verjaarsdagmaand en ons draai die geldjies twee maal om.
Dis nou al die geldjies, met die uitsondering van die paar rand wat Donderdagmiddag ‘n breukdeel van ‘n sekonde in my rekening was, voor ek dit uitgegee het op iets waarvoor ek gerus maar en met die grootste vrymoedigheid my oë, in plaas my beursie, toe kon knyp.
Niemand het my nog ooit vertel dat kind grootmaak maklik is nie, maar niemand het ook al ooit ten behore kon vertel hoe lieflik, en lekker, en asembenemend, en alles wat mooi is, dit by dit alles ook is nie.
Kyk byvoorbeeld net wat is agter op Woensdagmiddag se vel papier waarop ons die middag se spelwoorde geoefen het.

Watter en welke paaie het die kind se gedagtes nie geloop om haar hierby alles uit te bring nie?
Dit sal seker help as ek vra.
Maar dan is dit nie dat ek wil weet wat sy geteken het nie, ek kan moes sien, en ek herken Gary Larson en elemente van "Idees vol vrees", maar dis die gedagtes terwyl sy teken waarby ek wil uitkom, die bewussynstroom, iets waarby 'n mens nie sommer uitkom nie, selfs nie eers al vra jy nie.
Aan die ander kant is dit miskien goed en reg en deel van die lekker van menswees, die feit dat jy plekke kan gaan en paaie kan loop waar ander nie saam met jou kan kom nie, waar jy alleen maar jy, en jy alleen, kan wees.



17.8.12

Voor dit te laat is

Ek het nou al meer onvoltooide blog-geselsies op my rekenaar, as wat ek blog-geselsies in die kuberruim het.
Alles oor die Olimpiese Spele en osn wat vir die eerste keer in sewe jaar weer 'n TV gekoppel had sodat ons die sport kon geniet, moet maar oorstaan tot 2016.
Hierdie gesels eindig stomp, maar wag ek langer is sy tydsgees ook verby, het ons al vergeet dit was koud, en het ek aan hom geen erg meer nie.
As ‘n dieetkundige Woensdag Klaradyn se kosblik onder oog had, het hy my laat opsluit.
Met die opwinding van die sneeu die vorige dag en ek wat deur die stad jaag om by my kind uit te kom voor die sneeu ophou, het die aankoop van brood my geheel en al ontgaan.
Dis toe eerstens sjokoladekoek. Dit het ek eintlik met ‘n skoon gewete gestuur omdat ek geweet het sy sal dit nie eet nie. Sy het nie die vorige dag die koek geëet nie, en ek het dit eintlik net ingesit sodat ek na skool ‘n strooptog van haar kosblik van stapel kan stuur.
Maar behalwe vir die koek, is daar toe regtig niks anders nie. Behalwe drie Mariebeskuitjies. Eintlik twee, want die laaste een was in twee gebreek. Ek kyk so ewe of daar nie malvalekkers in die kas is nie – dan smelt ek vir haar ‘n toe-koekie (soos toe-broodjie) in die mikrogolf. Maar helaas.
Toe gaan ek oorboord: ek smeer Nutella, nie op een koekie nie, om ‘n toe-koekie te maak nie, maar op elke koekie! En toe druk ek die Nutella-kant in sjokolade vermicelli en vertel my dis Hollandse hagelslag.
Om alles af te rond, spoor Annieka ‘n klein pakkie Safari-vrugtelekkers op en dit vins ook die weg in die skooltas in.
Daar was darem twee rooiworsies (seker net so ongesond) met tamatiesous in ‘n klein pilhouertjie-grootte plastiekhouertjie.
Ek het my oë toegeknyp en gehoop daar daag nie ‘n inspekteur van enige gesonde aard op nie.
En toe is daar genadiglik ‘n klaspartytjie en bykans alles kom net so terug. (My strooptog het by die sjokoladekoek gestop.)
En toe vergeet ek weer van kos – nie Klaradyn s’n nie, die konyne s’n.
Met ‘n Spar loopafstand van ons huis af, was ek Vrydag drie keer daar en terug. Maar toe ek met eiervrug in ‘n warm pan agterkom die laaste twee blikkies tamatie wat Maandag nog in die huis was, is deur die huishulp opgebruik, toe sit ek my voet neer – ek doen die eiervrug, dan gaan kry Annieka gou die tamaties.
En daar vergeet ek van die blaarkool wat sy vir die konyne moet kry.
Ek onderneem om, terwyl die kos 40 minute in die oond is, dan maar gou vir die hoeveelste keer te stap, dis regtig net twee blokke, twee klein blokke, se tjoef-tjaf stap.
Maar ons val vas in ‘n potjie UNO, eet, kyk ‘n DVD met Mamma wat onder die springbokvelkaros aan die slaap raak... en onthou knap voor 22:00 van die honger hase in die hok.
En streng gesproke voel ek hoeka steeds skuldig oor die goed:  die sneeudag se aand, dieselfde aand toe ek van my kind se brood vergeet het, het ek nie net van haar brood vergeet nie, ons het ook, op die koudste nag van die ganse winter, vergeet van die hase. Ek het die volgende oggend knap voor 05:00 in die koue uitgehop om hulle te voer en was verlig gewees dat die goed sowel die koue as die honger oorleef het.
Laat daar ter versagting darem genoem word dat dit ‘n hoogsuitsonderlike aand was, behalwe nou die koue. Ons het nie kans gesien dat Martha agtermiddag in die koue ‘n bus vat, en dit in ‘n bus wat laat opdaag, straks met hulle gaan staan, of tien teen een glad nie opdaag nie.
Sonder iets soos ‘n spaarkamer (ons derde slaapkamer is studeerkamer en die vierde kleintjie Klaradyn se speelkamer) kos dit dit toe bedopblaas en –opmaak en ek wat kos maak vir ‘n skielike oorslaapgas ook.
So alles was anders en buite die normale roetine, geen wonder ek vergeet van die konyne ook nie.
Maar toe vergeet ek so wraggies nie ‘n week later nie, weer van hulle.
Gelukkig kom ek dit teen 22:00 agter en ek is uit om hulle hul koolblare te bedien.
Miskien was dit danksy ‘n beskermengel dat ek onthou het, ek weet nie.
Ek glo nie in iets soos persoonlike beskermengele nie, maar ek kan verstaan dat daar partykeer sulke ongelooflike goed kan gebeur dat mense nie ander kan as om dit aan iets soos beskermengele toe te skryf nie.
En was die een kwartel in ons hok ‘n ateïs, dan is hy vandag ‘n belydende Christin wat oornag in veel meer as net beskermengele glo.
Ek en Annieka en Klaradyn deel ons kamers met drie patryshonde. Drie patryshonde waarvan die een reeds ‘n kwartel die hiernamaals ingestuur het (of dan nou by gebrek aan ‘n hiernamaals, beslis asblik en asgate toe) en ‘n ander een bykans haar hele dag daaraan wei om die kwartels se bewegings in die hok dop te hou. Dit is vir ons almal duidelik dat daar net een ding is wat Sussa met die kwartels, kry sy net die geringste kans, wil doen.
Ek is soggens eerste op, en die oomblik dat ek my voet op die matjie langs die bed neersit, dan het twee honde tussen my bene en ‘n derde op my skoot en in  my nek. Met drie honde wat al tussendeur my bene koeksister worstel ek dan die vier tree tot in die badkamer, om af te handel wat ‘n mens eerste ding smorens afhandel.
En of dit eerste my oog of my oor was, weet ek nie, maar ek raak in die badkamer bewus van ‘n fladdering en iets soos ‘n rot. En ek besef dadelik dat dit nie ‘n rot kan wees nie – rotte fladder nie met vlerkgeklap nie. Gelukkig is die honde so op my ingestel dat hulle, wonder bo wonder, teen alle verwagting in, nié die gefladder registreer nie.
Ek draai net daar vin spore om, want vries kan ek nie; vries ek stap hulle verby my en is die kwartel ‘n peuselhappie vir ontbyt.
Ek is af in die gang, agter die hondebeskuitjies aan, en kry die honde agter ‘n kombuisdeur toe.
Annieka word wakker toe ek oomblikke later met die badkamerasblik, toegegooi onder ‘n handdoek, in die hand uitstap. Dat ek sê daar is ‘n voël in die asblik, maak nie vir haar sin nie.
En hoe die voël in die badkamer gekom, en dit met ‘n toe badkamervenster, weet ek nie.
En hoe die ding ‘n nag in die geselskap van die honde kon oorleef, weet ek ook nie. Sussa, die een wat die kwartels bedags so kwylend dophou, slaap in die stort; ek het die kwartel aan die anderkant van die stort se deursigtige afskorting opgespoor.
Die stomme ding moes 22:00 uitgekom het toe ek die konyne in die donker gevoer het.
Sy moes met die dal van doodskaduwee langs al in die gang af gestap het, verby die drie honde (tussen hulle deur) en haarself die hele nag so stil gedra het, dat geen een van haar bewus geword het nie.
Dit ís ongelooflik.
Ek weet nou nog nie hoe dit kon gebeur het nie.
Behalwe natuurlik as selfs kwartels persoonlike beskermengele het.

9.8.12

Kapok, kapok, lawwe kapok

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu,
Daal op die aarde neer,
Dit skitter, dit swewe, (?)
Dit bibber dit bewe, (?)
O, kyk tog hoe val dit al weer!
Ek het iets in hierdie lyn in standerd 5 geleer. By Meneer Peens.
Ons moes ook die kruiwawiel se skreeugeluid kerm hy droefgeestig uit, die tarentaal uit ons koppe kon opsê.
Van hom het ek gehou, al kon ek nog nooit ‘n tarentaal se geluid by ‘n kruiwawiel se skreeugeluid uitbring nie. Maar dan het ek ook nog nooit ‘n kruiwawiel gehad waarvan ek sy geskree by ‘n poelpetater uit kon bring nie. Miskien is dit omdat ek nog nooit juis baie lank en baie nou met ‘n kruiwa saamgewerk het nie. Miskien is Totius-hulle se kruiwaens daardie jare anders gemaak as ons s’n deesdae. Hoe sal ek weet.
Egter nie oor tarentale, poelpetaters of pêrelhoenders dat ek hier sit nie, maar oor die sneeu.
Dit was in 1977 vir my so absurd, so belaglik (of in my standerd 5-woordeskat, so laf of simpel) om opgewonde te moet raak, of opgewonde te moet klink, oor ‘n ding wat ek glad van geen kant nie ken nie, nog nooit gesien het nie, en tien teen een nooit gaan sien of leer ken nie.
Ja, een keer in standerd 4, by Oom Kobus-hulle op die plaas buitekant Bultfontein was daar vir so drie minute iets wat Tannie Erica kapok genoem het, maar dit was niks om oor huis toe te skryf nie; ook niks wat my kon help om geloofwaardig sneeu-sneeu-lieflike-sneeu uit te moet roep nie. Dit was eintlik niks anders as koud nie.
En omdat sneeu iets was wat ek op Kersfeeskaartjies leer ken het, en kapok iets gans anders was wat ek op Holfontein vanuit die sonkamer leer ken het, was sneeu en kapok nog altyd vir my twee totaal verskillende goed. Dis nou tot gister, toe die Aardrykskunde-leerkrag in die personeelkamer aankondig daar is hoegenaamd geen verskil tussen sneeu en kapok nie.
Oor die radio hoor ek wyle Fanus Rautenbach het voorgestel jy vervang die kapok in jou kussing met sneeu, en dan vind jy sommer self uit wat die verskil is. Maar hoeveel mense wel nog van kapokkussings praat, weet ek nie. Dit sal nie baie wees nie.
Standerd 9, toe sneeu dit wel Kerskaartjiesneeu en ons Ekhulurheniane (destyds was ons sommer Albertonners) was uit ons velle uit, en oor dit skooltyd was, sommer uit ons klasse ook. ‘n Skoolvriendin onthou 31 jaar later selfs in watter onnie se klas sy gesit toe dit begin sneeu het, juis omdat hy hulle nie wou laat uitgaan het nie. Hy het al die jare later via sy dogter laat weet, dat daar kwansuis ‘n inspekteur in die klas was en dat hy die klas net so graag wou uitstuur, maar nie kon nie.
Ek onthou dit nie. En in sy klas was ek beslis nie – ek het nie sy vak gehad nie.
Ek onthou my beste vriend, Riaan, ‘n jaar verder met skool as ek, het toe rekordeksamen geskryf, en in plaas van om te leer, soos hy moes, het ons ure se pret in die tuin gehad en ‘n sneeuman in die agterplaas gebou.
Maar ook dít het nie die belaglike aanleer en opsê van sneeu-sneeu-lieflike-sneeu vyf jaar te vore regverdig nie. En die sneeu ten spyt, is en bly my sterkste sneeu-herinnering uit my kinderdae die belaglik absurde, lawwe gedig.
En dan die foto’s wat my pa geneem het toe dit iewers voor my geboorte baie sterk op die dorp gesneeu het. Dit was nou vir jou sneeu, soos ek dit nog nooit gesien het nie.


Judy en Jac in ons agterplaas

Jac was 16, Judy 35 toe ek gebore is

Ek onthou my en Riaan se sneeu man as so iets

Mammie

Ons huis soos ek hom ken
(behalwe nou vir die sneeu)

Dit is by Germiston meer geneem -
ons gaan duidelik maar altyd mal
as ons sneeu kry

Ons huis soos ek hom nie ken nie,
lank voor my tyd
Daarom ook dat sneeu vir my geen maar geen bekoring inhou nie - ek het uitgemis op al hierdie pret wat ek op skyfiesaande teen die sitkamermuur geprojekteer leer ken het.
In 1994 kon ek met sweefspoor sneeu toe in Switzerland – my reisgenoot het maande daarna uitgesien. Ek is ure met die trein hoofstad toe – dit was nasionale museumdag en alle museums was daardie betrokke dag gratis – so terwyl sy frost bite in die berge opgedoen het, het ek museum-hopping gedoen.
Ag, en toe nou gister! Ek noem dit, die nuwe vakwetenskaplike kennis ten spyt, steeds sommer kapok.
Gelukkig dat ons nie juis meer hoede dra nie. Anders moes die Arries-onnie vandag haar hoed opeet. Vir ‘n hele week lank werk sy daaraan om die kinders te oortuig dat dit beslis nie in Pretoria gaan sneeu nie, en toe, voor die einde van die skooldag, toe lê die sneeu wit op die skoolveld.
OK, nie toe lê die sneeu wit soos in Switzerland nie, maar so dik en so wit soos dit in geen jare in Pretoria gelê het nie.
Ek het dit gemis – amper soos die Spinks-Coetzee geveg wat destyds verby was toe ek na ‘n piepie teen 03:15 voor die televisie uitkom. Net hierdie keer het ek nie gaan piepie nie, ek is vroeg by die skool weg om na Klaradyn se inset by die kunswedstryd te kan gaan luister.
Maar terug by die skool, na Sussie se vyfde A++ (ek MOES dit net IEWERS inwerk, en moet byvoeg dat daar nog ‘n A+ ook is) toe sneeu dit weer, en as dit nie was dat ek nie daarin glo om ‘n skeppergod met sulke beuselagtighede te pla nie, het ek wraggies gebid dat Klaradyn tog ook die sneeu moet sien.
Sy lê toe in Mamma se kar en slaap, na die kunswedstryd. Ma sit by haar in die motorhuis en wil haar nie wakker maak nie.
Maar die volgende kry ek ‘n oproep en dis net lenteklanke en –tone en –hoogtes in my ore:  “PAPPA DIT SNEEU!”
Maar toe ek 7 minute later by hulle aansluit, is daar natuurlik niks van oor nie – ek het die heeltyd trouens gery en kyk hoe die wolke voor my uittrek, hoe die klare blou hemel agter my oopval.
Ons gaan slaap die aand vroeg, ek, desnieteenstaande alles, steeds heimlik in die hoop dat ons die volgende oggend wakker gaan word met alles wit om ons, dreaming dan maar van ‘n white spring, maar helaas.
Ek sal die lawwe gediggie wat ek Klaradyn wil leer, maar moet bêre vir ‘n ander keer, dit straks nog maar saam met my graf toe neem.