Ek het nou al meer onvoltooide blog-geselsies op my rekenaar, as wat ek blog-geselsies in die kuberruim het.
Alles oor die Olimpiese Spele en osn wat vir die eerste keer in sewe jaar weer 'n TV gekoppel had sodat ons die sport kon geniet, moet maar oorstaan tot 2016.
Hierdie gesels eindig stomp, maar wag ek langer is sy tydsgees ook verby, het ons al vergeet dit was koud, en het ek aan hom geen erg meer nie.
As ‘n dieetkundige Woensdag Klaradyn se kosblik onder oog had, het hy my laat opsluit.
Met die opwinding van die sneeu die vorige dag en ek wat deur die stad jaag om by my kind uit te kom voor die sneeu ophou, het die aankoop van brood my geheel en al ontgaan.
Dis toe eerstens sjokoladekoek. Dit het ek eintlik met ‘n skoon gewete gestuur omdat ek geweet het sy sal dit nie eet nie. Sy het nie die vorige dag die koek geëet nie, en ek het dit eintlik net ingesit sodat ek na skool ‘n strooptog van haar kosblik van stapel kan stuur.
Maar behalwe vir die koek, is daar toe regtig niks anders nie. Behalwe drie Mariebeskuitjies. Eintlik twee, want die laaste een was in twee gebreek. Ek kyk so ewe of daar nie malvalekkers in die kas is nie – dan smelt ek vir haar ‘n toe-koekie (soos toe-broodjie) in die mikrogolf. Maar helaas.
Toe gaan ek oorboord: ek smeer Nutella, nie op een koekie nie, om ‘n toe-koekie te maak nie, maar op elke koekie! En toe druk ek die Nutella-kant in sjokolade vermicelli en vertel my dis Hollandse hagelslag.
Om alles af te rond, spoor Annieka ‘n klein pakkie Safari-vrugtelekkers op en dit vins ook die weg in die skooltas in.
Daar was darem twee rooiworsies (seker net so ongesond) met tamatiesous in ‘n klein pilhouertjie-grootte plastiekhouertjie.
Ek het my oë toegeknyp en gehoop daar daag nie ‘n inspekteur van enige gesonde aard op nie.
En toe is daar genadiglik ‘n klaspartytjie en bykans alles kom net so terug. (My strooptog het by die sjokoladekoek gestop.)
En toe vergeet ek weer van kos – nie Klaradyn s’n nie, die konyne s’n.
Met ‘n Spar loopafstand van ons huis af, was ek Vrydag drie keer daar en terug. Maar toe ek met eiervrug in ‘n warm pan agterkom die laaste twee blikkies tamatie wat Maandag nog in die huis was, is deur die huishulp opgebruik, toe sit ek my voet neer – ek doen die eiervrug, dan gaan kry Annieka gou die tamaties.
En daar vergeet ek van die blaarkool wat sy vir die konyne moet kry.
Ek onderneem om, terwyl die kos 40 minute in die oond is, dan maar gou vir die hoeveelste keer te stap, dis regtig net twee blokke, twee klein blokke, se tjoef-tjaf stap.
Maar ons val vas in ‘n potjie UNO, eet, kyk ‘n DVD met Mamma wat onder die springbokvelkaros aan die slaap raak... en onthou knap voor 22:00 van die honger hase in die hok.
En streng gesproke voel ek hoeka steeds skuldig oor die goed: die sneeudag se aand, dieselfde aand toe ek van my kind se brood vergeet het, het ek nie net van haar brood vergeet nie, ons het ook, op die koudste nag van die ganse winter, vergeet van die hase. Ek het die volgende oggend knap voor 05:00 in die koue uitgehop om hulle te voer en was verlig gewees dat die goed sowel die koue as die honger oorleef het.
Laat daar ter versagting darem genoem word dat dit ‘n hoogsuitsonderlike aand was, behalwe nou die koue. Ons het nie kans gesien dat Martha agtermiddag in die koue ‘n bus vat, en dit in ‘n bus wat laat opdaag, straks met hulle gaan staan, of tien teen een glad nie opdaag nie.
Sonder iets soos ‘n spaarkamer (ons derde slaapkamer is studeerkamer en die vierde kleintjie Klaradyn se speelkamer) kos dit dit toe bedopblaas en –opmaak en ek wat kos maak vir ‘n skielike oorslaapgas ook.
So alles was anders en buite die normale roetine, geen wonder ek vergeet van die konyne ook nie.
Maar toe vergeet ek so wraggies nie ‘n week later nie, weer van hulle.
Gelukkig kom ek dit teen 22:00 agter en ek is uit om hulle hul koolblare te bedien.
Miskien was dit danksy ‘n beskermengel dat ek onthou het, ek weet nie.
Ek glo nie in iets soos persoonlike beskermengele nie, maar ek kan verstaan dat daar partykeer sulke ongelooflike goed kan gebeur dat mense nie ander kan as om dit aan iets soos beskermengele toe te skryf nie.
En was die een kwartel in ons hok ‘n ateïs, dan is hy vandag ‘n belydende Christin wat oornag in veel meer as net beskermengele glo.
Ek en Annieka en Klaradyn deel ons kamers met drie patryshonde. Drie patryshonde waarvan die een reeds ‘n kwartel die hiernamaals ingestuur het (of dan nou by gebrek aan ‘n hiernamaals, beslis asblik en asgate toe) en ‘n ander een bykans haar hele dag daaraan wei om die kwartels se bewegings in die hok dop te hou. Dit is vir ons almal duidelik dat daar net een ding is wat Sussa met die kwartels, kry sy net die geringste kans, wil doen.
Ek is soggens eerste op, en die oomblik dat ek my voet op die matjie langs die bed neersit, dan het twee honde tussen my bene en ‘n derde op my skoot en in my nek. Met drie honde wat al tussendeur my bene koeksister worstel ek dan die vier tree tot in die badkamer, om af te handel wat ‘n mens eerste ding smorens afhandel.
En of dit eerste my oog of my oor was, weet ek nie, maar ek raak in die badkamer bewus van ‘n fladdering en iets soos ‘n rot. En ek besef dadelik dat dit nie ‘n rot kan wees nie – rotte fladder nie met vlerkgeklap nie. Gelukkig is die honde so op my ingestel dat hulle, wonder bo wonder, teen alle verwagting in, nié die gefladder registreer nie.
Ek draai net daar vin spore om, want vries kan ek nie; vries ek stap hulle verby my en is die kwartel ‘n peuselhappie vir ontbyt.
Ek is af in die gang, agter die hondebeskuitjies aan, en kry die honde agter ‘n kombuisdeur toe.
Annieka word wakker toe ek oomblikke later met die badkamerasblik, toegegooi onder ‘n handdoek, in die hand uitstap. Dat ek sê daar is ‘n voël in die asblik, maak nie vir haar sin nie.
En hoe die voël in die badkamer gekom, en dit met ‘n toe badkamervenster, weet ek nie.
En hoe die ding ‘n nag in die geselskap van die honde kon oorleef, weet ek ook nie. Sussa, die een wat die kwartels bedags so kwylend dophou, slaap in die stort; ek het die kwartel aan die anderkant van die stort se deursigtige afskorting opgespoor.
Die stomme ding moes 22:00 uitgekom het toe ek die konyne in die donker gevoer het.
Sy moes met die dal van doodskaduwee langs al in die gang af gestap het, verby die drie honde (tussen hulle deur) en haarself die hele nag so stil gedra het, dat geen een van haar bewus geword het nie.
Dit ís ongelooflik.
Ek weet nou nog nie hoe dit kon gebeur het nie.
Behalwe natuurlik as selfs kwartels persoonlike beskermengele het.
No comments:
Post a Comment