In my klas het ons al baie keer, baie lekker gelag. Die lekkerste daarvan, vir my, elke keer wanneer ek hardop vir myself kan lag. Soos verlede jaar toe ek midde ‘n les met my voet op ‘n stoel gesteun het en die stoel onder my gebreek het. Ek het omtrent met my ken teen ‘n bank en my gat op die grond beland. Maar ek was so besig met lesgee, dat ek eers die gesels klaar gemaak het. En die oomblik, toe daar drie minute later ‘n oomblik van rus is, toe kraak ons almal soos ons lag. Die kinders het drie minute vasgebyt omdat hulle my nie in die gesig wou vat deur te lag nie, maar ek was self dik van die lag, het lankal geleer om vir myself te kan lag, en het net gewag om waarmee ek besig was, klaar te maak, voor ek my oorgee aan die lag.
Maar min van die baie kere se lag, vir myself lag, was nog ooit so lekker soos vandag se lag.
Ek het ‘n oulike kind in my klas wat beslis nie onder die top 28 voorbeeldigste en hardwerkendste leerders uit ‘n klas van dertig tel nie, maar nie ‘n slegte kind om in die klas te hê. (En ek sê jare nou al dat ek in die onderwys is, suiwer dat daar onderwysers kan wees wat van seuns en dogters van sy kaliber ook kan hou.)
Ek is besig met moeilike werk, trouens die enigste moeilike werk wat daar na 1994 nog in die Afrikaanse sillabus oorgebly het. Maar dit gaan goed, ek is in hoogste rat en die kinders snap.
Toe raak ek bewus van die seun wat, so wil dit aanvanklik vir my voorkom, besig is om op of met sy selfoon te totter.
Sulke goed val my gewoonlik nie op nie, ek het in meer as 25 jaar van onderwys hoogstens nog net een keer ‘n kind in my klas gehad waarvan die hare te lank was en ek hom moes aanspreek, of ‘n dogter met grimering, of gekleurde, hare of vals naels, of iets verkeerd, wat my opgeval het. As ek skoolhou, hou ek skool – ek kyk nie of die kinders kou en of hulle skoene skoon is of nie, en of hul rompe lank of kort genoeg is nie.
Gevolglik sal ‘n kind ook eers letterlik met sy selfoon op my moet afstap en aansê om mooi vir die kamera te glimlag, hulle is besig om ‘n selfoon-video-opname van my tirade te maak wat hulle op die internet wil laai, voor ek enigsins agterkom daar is iemand wat met ‘n selfoon totter.
So as die seun met die selfoon my vandag midde my les opgeval het, dan moes hy regtig baie duidelik uitgestaan het as iemand wat met iets anders as aantekeninge afneem, besig is.
Ek bly toe midde my les skielik stil en gee hom ‘n kyk wat duidelik kommunikeer dat hy nou sy selfoon moet bêre as hy nie wil hê dat ek soos ‘n swanger engel op hom moet neerdaal nie. Maar die mannetjie kyk my net aan soos ‘n bok wat gemelk word en wend geen poging aan om sy selfoon te bêre nie.
Ek is nie veronderstel om dit te doen nie – ek is veronderstel om sy selfoon se sim-kaart af te neem en dan moet hy ‘n week later R50-00 betaal voor hy dit terug kan kry. Maar ek doen so iets nie sommer nie, ek gee die kind eerder net ‘n kyk, en dan bêre hulle gou die ding waarmee hulle besig is.
Maar nie hierdie seun nie.
En dis eintlik nogal vreemd, want die kind is nie ‘n slegte kind nie, ons het ‘n goeie verhouding en ek het eintlik verwag dat hy dadelik sou reageer.
Ek stap toe nader en sien dis nie ‘n selfoon nie, maar iets veel erger, dis ‘n eietydse walkman waarmee al wat kind is deesdae rondloop, ‘n kleinerige iets met dradewerk wat hulle teen hul lyf oplei na hul ore toe – en so loop hulle die ganse dag en luister na die allervreelikste musiek wat nog verskrikliker boodskappe inhou as ‘n mens dit net agteruit speel.
Hy het die dingetjie steeds in sy hand, en dan verdwyn die oorfoondrade hier onder sy hemp in.
Nou het die kind klaar nie reageer toe ek hom duidelik te kenne gegee het dat hy die ding moet wegsit as hy nie moeilikheid wil hê nie.
Ek was nou lank genoeg Mr Nice Guy gewees, ek moet nou optree, en ek bied dit in die vorm van ‘n bevelsin aan hom dat hy die ding vir my moet gee.
Maar hy doen niks, hy knip nie eens ‘n oog nie, hy wend nie eers, al is dit nou hopeloos te laat, ‘n poging aan om die ding te bêre nie.
Nou kyk, is nie verniet kamstig een jaar die universiteit se beste dramastudent gewees nie (nie dat dit iets met my toneelspel te doen had nie, eerder my akademiese insette) en ek laat weet in ‘n bulderende stem, met my dubbelkenne en opgeblaasde binnebande om die middellyf wat saam beweeg, dat hy die ding vir my moet gee, mooi monosillabies: “GEE DIE DINK VIR MY, NOU!”
Die Griek in sy kafee af in die straat kan my midde ‘n gewande roof hoor, ek hoor maak die kollegas onder en bo en langs my hul vensters en deure toe.
Was ek groot en sterk en aggressief en kort van draad, was ek enige iets soos enige van die onnies wat ek op skool had, hét ek die ding uit sy hand geruk; ek doen dit nie, ek wag vir die weerklank teen die Magaliesberge om weg te sterf, voor ek hom weer verskree.
Want die kind sê steeds niks, doen niks – hy staar my net in ongeloof aan.
Toe ek op die punt is om spontaan in vlamme op te gaan, sê hy heel sedig, maar doodernstig, en dankie tog ek het die ding nie uit sy hand geruk nie: “Meneer, ek kan nie, ek is ‘n diabeet”.
En dis toe dat ek begin lag, soos ek in geen jare gelag het nie.
En die klas lag, en die seun lag, en ons almal lag.
En al wat ek uitkry is: “Jy kan bly wees ek glo jou, want as ek jou nie geglo het nie, het ek daardie dink, nie net uit jou hande nie, maar uit jou lyf geruk!”
Stel jou voor ek was die aggressiewe tipe, groot en sterk genoeg om te kan doen wat ek wil – dan het ek die ding in woede uit sy hande geruk!
Arme kind!
Arme ek! Want ek sou in groot moeilikheid wees.
As ek meer street wise was, sou ek dadelik geweet het die kontrepsie is nie ‘n eietydse walkman of draadlosie nie.
As ek meer van diabetes geweet het, sou ek die ding herken het – ‘n vriendin van my loop met so ding rond, maar ek het haar nog nooit gevra dat sy my haar tools moet wys nie.
Is daar ‘n les in vir ou mans?
Beslis.
Maar gelukkig nie ‘n dure les nie: Ek moet meer in voeling kom met die jeug se nuutste tegnologie, dan sal ek my naam nie so doodsekuur met ‘n plank slaan nie.
No comments:
Post a Comment