Pages

24.8.12

Los gedagtes, gisteraand en vanmiddag

Behalwe dan nou vir die talle onvoltooide bloggeselsies waarvan ek ‘n vorige keer, indien nie laas nie, melding gemaak het, is daar natuurlik ook talle voltooide gesprekke wat ek net bloot nooit sal plaas nie.
Soos die een wat ek gisteraand aangeknoop het.
Ek het begin by Klaradyn se partytjie van eerskomende Saterdag.
Ons gaan na ‘n klein privaat-dieretuin toe.
Toe spring my gedagtes na verlede jaar se Pretoria Dieretuin-besoek.
En toe, voor ek my kon keer,  is ek by Judy waarby ek toe nie die Saterdag van die partytjie uitgekom het nie, maar eers Sondag. Judy wat toe siek is en ‘n doktor wat Vrydag al laat kom is, maar die ordentlikheid gehad het om te laat weet hy is te besig, hy gaan nie kom nie.
Ek bel hom toe Sondag terwyl hy gebraaide skaapboud en uitgebakte ertappels eet om te hoor of hy nog steeds te besig is.
Om ‘n lang storie kort te maak – Judy is die Woensdag oorlede. Anders as om soos van Sondag af op fakse en toetsverslae te reken, het hy wel die Woensdag by haar uitgekom. Dis toe dat hy my laat kom het met die boodskap dat my ma sterwend is.
Ek het toe sommer weer die bloginskrywing wat ek verlede jaar rondom my ma se afsterwe geskryf het, maar ook nooit gepos het nie, gaan lees.
Dis duidelik dat ek ‘n jaar later nog net so kwaad is as destyds, ‘n kwaad en woede wat ek nie wil afsterf nie en ek hoop ek ook nooit sal afsterf nie.
Toe snik ek sommer vir die effek ook so bietjie, maar nie naastenby so lekker soos wat Klaradyn vanaand gesnik het nie.
En dis ook iets wat ek hoop, my kind hierdie keer, nooit sal afleer of –sterf nie – die vermoë om te huil in storieboeke en flieks. Maar ook nie net in storieboeke en flieks nie; in die werklike lewe met die die lotgevalle van regte mense van vlees en bloed, daarby.
Vanaand was dit egter ‘n fliek, ‘n fliek wat ons seker vanaand vir die tiende keer in haar lewe, die agtiende keer in my lewe, gekyk het.
Ek en sy sê al die dialoog vir mekaar op en ons kyk wie kan die stemme van die akteurs die beste naboots.
En toe Mufasa vanaand vir die tiende/agtiende keer na sy dood val dink ek dat dit darem maar wraggies ‘n erger kennismaking met die dood in hierdie kinderfliek is, as in baie ander flieks wat ek nie bereid is om my kind aan bloot te stel nie.
En terwyl ek, wat besig is met goeters regkry vir die partytjie, sluk-sluk aan die knop in my keel, gee my kind my een kyk, my oog vang haar oog, en toe draai sy beide krane volsterkte oop, en sy snik asof dit die heel eerste keer, en nie die tiende keer is, wat sy met die storielyn in kontak kom nie.
Ai, dis darem maar lekker! Daar pik ek en sy en ma toe saam ‘n traantjie weg, ek en ma nie soseer oor die fliek nie, maar sommer oor ons kind wat so lieflik sensitief is, wat so vreeslik vinnig so vreeslik groot geword het, en steeds so klein is (en gelukkig nog nie afgestomp genoeg is nie) om te kan by Mufasa se afsterwe.
Ek onthou self hoe ek as jong seun elke dan en wan as ek lekker wou huil, die slothoofstuk van Jock of the Bushveld gaan lees het. Ook nie slothoofstuk nie, sommer net enkele bladsye hier teen die einde, dan tjank ek te heerlik.
Vandag nog is ek die een wat, kyk ek die fliek ‘n tweede of derde keer, dan huil ek al in die openingstoneel – bloot by gedagte aan dit wat nog moet kom.
Flieks waarin Klaradyn vyf jaar gelede gehuil het, wil sy vandag steeds nie kyk nie. Challotte’s Web, waar wil jy ‘n mooier storie kry, is een. Ons het dit gekyk toe sy drie was. Sy is volgende week 8. Sy weier om dit te kyk. Sy het nie ‘n idee wat die strekking van die storie is nie, al wat sy onthou, is dat ‘n spinnekop doodgaan; watter spinnekop en dat die spinnekop se naam Charlotte is, weet sy nie eers meer nie, maar dis vir haar genoeg om viervoet vas te steek sodra ons die lieflike fliek wil kyk.
Ek sê dit al vyf jaar, as ek gelukkig genoeg is om nog in die lewe te wees as my kind miskien eendag die dag trou, weet ek dat sy en ek, in die week voor die troue iewers die tyd sal afknyp om vir oulaas saam Lion King te kyk. Ek weet ek sal huil. En ek weet sy sal huil. En dit sal nie net oor Mufasa wees nie. Maar ek weet ook dit sal heerlike huil wees. ‘n Huil wat ek regtig hoop ek nie gespaar gaan word nie, maar ‘n huil wat ‘n wonderlike voorreg gaan wees.
Sy en Mamma sal ook fliek, nie Lion King  nie, maar Mama Mia. Hulle het dit in die laaste week weer een keer deurgewerk. Klaradyn is nog nie daar nie, genadiglik nie, maar ek kan nie wag om te hoor hoe Mamma gaan bontstaan as Klaradyn wil weet hoe dit dan moontlik is dat die tannie nie weet watter een van die vier ooms die pappa van die kind is nie. Of as sy sou vra wat die “and then we dot dot dot” is waaroor die karakters in die fliek so lekker lag
Maar dis nog lank, voor dan het ons nog eers ‘n agtste verjaarsdagpartytjie. Ek laat hoor later weer van my, as die partytjie oor en verby is.

No comments: