Pages

18.8.12

Vrydag iewers in Augustus

En wat doen ek en my kind Donderdagmiddag terwyl ons moet huiswerk doen, Donderdag-agtermiddag  laat terwyl ons tafels moet leer vir vandag se toets, Donderdagaand in die kombuis om die tafel terwyl die kos in die oond brand?
Ons foeter Kollonade toe, koop die ding en kom speel Battleship.


 Ja, was my enigste ‘n seuntjie, het ek seker nie sommer uitgery om vir hom sy eie Barbie te koop nie, maar ek kan in my wildste drome nie voorstel dat Klaradyn enige identiteitskrisis kan ontwikkel oor sy en haar pa Battleships speel nie!
Ek regverdig my aankoop verder met die feit dat dit my kind se wiskundevaardighede opskerp en ons later nog baie bly gaan wees ons nou, op amper 8, hierdie kosbare oefening inkry. Gee my ook net tyd, en ek sal vorendag kan kom met nog tientalle ander vaardighede, waarsonder geen groeiende kind kan klaarkom nie, wat alles en almal in die speel van Battleship opgesluit is.
En dan moet julle weet, ons het in agt jaar geen doodmaak-doodmaak-speletjies gespeel nie. Speelgoedgeweertjies is ten sterkste afgekeur, selfs waterspuitgeweertjies is weggewys en spuitgoeters in die vorm van inspuitingnaalde is aangekoop.
En hier speel ek en sy ‘n ding wat daarop neerkom dat elkander se vliegdek- ek lugafweergevegskepe kruis oor dwars en links en regs moer toe geskiet moet word, om te wen.
Ja, so val die helde.
Maar ek moes dit net doen, al kry ek baie lag vir myself in die proses.
Ons het die speletjie die langnaweek in ‘n boekwinkel raakgeloop. Ons het baie dinge die langnaweek in die boekwinkel raakgeloop, baie dinge, lieflike dinge, baie lieflike baie lieflike dinge.
MAAR: dis verjaarsdagmaand, Klaradyn die einde van die maand, Pappa vier of vyf dae later. Dis twee partytjies (klaspartytjie en huispartytjie – nie by die huis nie, maar ‘n dieretuin), en, soos elke jaar einde Julie het die Automobiele Assosiasie se geld afgegaan, my water en ligte was R4 300 en bla-bla-bla-bla... daar is ‘n duisend en een redes waarom ons nie die langnaweek die Battleships kan koop nie.
En dis ‘n Hasbro-produk, enige Hasbro ding is moeiliker as hoendertande om in die hande te kry.
Maar daar is nie geld nie, en basta.
En ek spot altyd vir Annieka – haar tjeks hop nie, haar tjeks hop nooit nie, maar o, wee, die geld wat in haar bankrekening kom, hop altyd vinniger daar uit, as wat dit daar in gekom het – dit vat skaars grond, dit word nie toegelaat om asem te skep of tydelik nes te skrop nie, dit vat-vat net-net grond en dan is dit uitgegee.
En toe ek haar na skool gaan tatta-sê, vra sy my of ek ook salaris gekry het, die bank se SMS het laat weet sy het ‘n ou bedraggie gekry.
Ek sal nie weet nie, my selfoon is in die motor.
Maar daar was sprake van ‘n salarisverhoging iewers, en ek verbeel my ek het iets van ‘n terugbetaling gehoor.
O, en toe ek in die kar klim, en ek spoor die selfoon op, toe is daar ook ‘n ou halwe kwarteleiertjie wat darem ‘n knertsie beter is as die leë dop van die afgelope drie weke.
So toe ek die merrieperd vra hoeveel huiswerk sy oor het, en sy noem dis net die tafels vir Vrydag se toets, toe vra ek of sy nie saam met my Kolonade toe wil ry nie.
Ai, en toe ek net noem ek wil na die boekwinkel toe gaan omdat ek ‘n geldjie gekry het en ek my verbeel daar was iets wat ek nog laas daar wou gekoop het, toe weet sy presies waarvan ek praat.
Ag, en hoekom nie?
Sy en Mamma het Maandag teen donker van die Voortrekkers af gekom, hulle tref my toe in die motorhuis aan, en die volgende waarvan ek bewus word, is my kind wat van die motorhek af op my afhol en in my arms en om my nek  spring.
Volgens Annieka, ‘n rukkie later toe ons alleen is, het sy gevra of sy by die hek kan uitspring voor Annieka intrek, “want,” en ek haal haar aan, “ek gaan daardie man nou dood druk.”
O, my swakke vaderhart!
Sy het hoeka die wind verlede week uit my seile geneem toe ek haar die oggend in die symste motorhuis afsien en sy, uit die bloute, sonder enige bymotief, sommer so in die verbygaan, in my oor fluister en terloops net laat val:  “Onthou ek het Pappa baie lief.”
Die enigste ander vroumens wat my nog ooit kon laat voel soos hoe ek gevoel het toe ek net  toe daarna die huis instap, is dieselfde meisiesmensie se ma.
Ja, ek kon sjokolade ook gekoop het, ek kon die sagte speeldingetjie ook gekoop het, die boek waarvan ons al twee so baie hou, ek kon, maar ek het nie en ek sal nie – dis verjaarsdagmaand en ons draai die geldjies twee maal om.
Dis nou al die geldjies, met die uitsondering van die paar rand wat Donderdagmiddag ‘n breukdeel van ‘n sekonde in my rekening was, voor ek dit uitgegee het op iets waarvoor ek gerus maar en met die grootste vrymoedigheid my oë, in plaas my beursie, toe kon knyp.
Niemand het my nog ooit vertel dat kind grootmaak maklik is nie, maar niemand het ook al ooit ten behore kon vertel hoe lieflik, en lekker, en asembenemend, en alles wat mooi is, dit by dit alles ook is nie.
Kyk byvoorbeeld net wat is agter op Woensdagmiddag se vel papier waarop ons die middag se spelwoorde geoefen het.

Watter en welke paaie het die kind se gedagtes nie geloop om haar hierby alles uit te bring nie?
Dit sal seker help as ek vra.
Maar dan is dit nie dat ek wil weet wat sy geteken het nie, ek kan moes sien, en ek herken Gary Larson en elemente van "Idees vol vrees", maar dis die gedagtes terwyl sy teken waarby ek wil uitkom, die bewussynstroom, iets waarby 'n mens nie sommer uitkom nie, selfs nie eers al vra jy nie.
Aan die ander kant is dit miskien goed en reg en deel van die lekker van menswees, die feit dat jy plekke kan gaan en paaie kan loop waar ander nie saam met jou kan kom nie, waar jy alleen maar jy, en jy alleen, kan wees.



No comments: