Pages

29.10.15

Onthou jy nog?

Ek is wraggies seker die enigste een wat nog onthou. Pa is al lankal dood. Ma ook al ʼn klompie jare. Miskien onthou Boeta nog hierdie “Onthou jy nog”, maar ek betwyfel  dit. Toe ek daarmee te doen gekry het, was ek ʼn kind, en hy, 16 jaar ouer, al uit die huis uit.

Oorkant die pad van my graad 1-klas by Juffrou Scholtz (wat toevallig ook my standerd 5-klas was; hierdie keer by Meneer Peens omdat Juffrou Scholtz wat al ʼn ou juffrou was toe sy vir Boeta in graad 1 skoolgehou het, intussen afgetree het) was die “Griekse Saal”. (As Ma fancy wou klink, het sy van die “Hellenic Hall”, of sommer net “die Hellenic” gepraat.)

Hier het die Betsie Verwoerd Damesklub (Ma en Tannie Susan was twee stigterslede) maandeliks vergader. Voor die burgersentrum gebou is, is die damesklub se jaarlikse lentebal ook elke jaar hier gehou.

Hierdie klein seuntjie het ook op die linoteëls gegly as Ma een of ander troue se blomme gedoen of help doen het.  Dan onthou ek ook ʼn konsert toe Gert Potgieter kom sing het. En die keer toe die Drakensbergse seunskoor daar opgetree het.


Daar was ook ʼn verskeidenheidskonsert waarin ek aan die slaap geraak het op “waar kry jy daardie hoed meneer, waar kry jy daardie hoed.” Ek het wakker geword toe vrouens oor die verhoog heen vir mekaar soos katte miaau, die een of ander immergewilde, nimlike katteduet van die een of ander aard.

Langsaan was die kerk. Maar dié was verbode terrein – net soos die Roomse Kerk en motorfietsryers  was die Grieks Ortodokse Kerk reguit van die Duiwel af. Ek verbeel my ek het, miskién, één keer, by die deur ingeloer, maar dit was, hoogstens, dit.

Langs die kerk was die parkie-oorkant-die-skool waar ek na skool gewag het vir Ma of Pa om my op te kom tel. (Ek kon eers van standerd 1 af huis en skool toe, wat maar ʼn paar blokke van mekaar is, stap.) In hierdie parkie-oorkant-die-skool – dis nou al ʼn hele paar jare toe onder woonstelle – het  ek eendag van ʼn draaiende ding afgefoeter en in die oomblikke wat gevolg het, meer bloed verloor as was daar voor die ongeluk in my liggaam was.

Maar dis die huis ágter die Griekse Saal (ekskuus – Die Hellenic) wat ek vanaand onthou.



Ek sien Google Maps gee die adres aan as  9 Penzance Street. 

Teen Desember 2014, toe hulle die straataansig karteer, was die huis al plat.

Ek onthou dit egter soos gister. Swart teëldak, wit mure, blou geute. Swart stoep met trappies na die stoep en geboude blombeddings so breed so die trap, links en regs van die trap. Malvas of snyblomme of die beste van die seisoen.

Tannie Hannie en haar man, oom Leslie Greeff, het hier gebly.

Tannie Hannie onthou ek as ʼn sagte engel. Ek hoor nog die sagte ritsel van haar vlerke as sy in Springbok-apteek, waar sy al die jare gewerk het, rondbeweeg. By Tannie Hannie wat ek en Pa een keer elke jaar gekom het om Fenjal of Badedas vir Moedersdag te koop. (Een jaar het ek Pa oorreed dat ons iets ander by Tannie Hannie koop – ʼn borsspeld. Dit was twee slange wat in ʼn roset opgekrul lê, met groen steentjies vir oë. Dis vandag nog die eerste ding wat in my kop opkom as ek die woord “basilisk” hoor. Ek weet ook dat my ma daardie borsspeld nooit gedra het nie. Baie later van tyd het ek een en een bymekaar gesit en gesnap, enkele maande voor die egskeiding, dat my slegs ingestem het om aan my versoek te voldoen omdat hy sy eie boodskap met die twee slange by my ma wou tuisbring.)

Ek dink nie ek het Oom Leslie  een keer in my lewe gesien nie. Ek ken hom net van ʼn swart-en-wit foto in ʼn boek. En miskien verbeel ek my hierdie boek en foto net.

Tog is Oom Leslie groter in my onthou as Tannie Hannie, Springbok Apteek, Immelman se apteek, die-parkie-oorkant-die-skool, selfs die Griekse saal en kerk ook.

Sien Oom Leslie was ʼn baie famous oom – Oom Leslie het  nie sommer net gesing nie, hy het plate gemaak ook. Regte plate. Langspeelplate én seven singles, of soos hulle dit oor die radio genoem het: “solo sewes” (ek het altyd “solussewes” gehoor).

Vra jy my of ek enige plate uit my vroegste kinderdae onthou, dan onthou ek net drie en ʼn vierde se omslag:

Leslie Greeff se “Onthou jy nog”, Gert Potgieter se “Yellow Bird” en Vivaldi se “Four Seasons” wat Jac se Engelse girlfriend (en die laaste 42 jaar of so ook my skoonsuster) een Kersfees by die see vir Pa as Kerspresent gegee het.

Die vierde se omslag had ʼn vrou in ʼn lang rooi rok op. Die rok het ʼn ellelange sleep gehad en die vrou het in haar spore omgedraai en vir die sleep gekyk. Miskien Leonora Veenemans of Virginia Lee.

Ek en Ma is einde standerd 2 uit die huis uit en die eerste omkooppresent waarmee my pa eendag by die woonstel opgedaag het, was ʼn radio-en-platespeler-in-een-kontrepsie. Dis dan ook hoe Gert Potgieter se Yellow Bird by my opgeëindig het – pa het dit saamgegee.

Maar Oom Leslie se plaat het by die huis agtergebly.



Ek moes dit voor standerd 2 se einde laas geluister het, iewers in die vroeë sewentigs. Maar ek het dit oor en oor geluister, so baie dat ek baie daarvan se woorde nog onthou en gereeld nog in my gedagtes sing.

So ʼn klompie jare gelede het ʼn boek oor Afrikaanse musiek op die rak beland. Ek het dadelik geloer of Oom Leslie daarin vermeld word. Inderdaad.

Van tyd tot tyd google ek ook sy naam, soek ek hom op you-tube.

Gisteraand weer.

Definitief vir die eerste keer in meer as ʼn jaar.

Want, jou wrintiewaar, kan jy glo, is dit moontlik:  knap oor ʼn jaar gelede, het iemand inderdaad elke snit op daardie einste “Onthou jy nog”-langspeler, die een wat na al die jare gereeld nog op my kop se draaitafel van onthou draai, opgelaai.

Ek het al hoeveel keer, sonder sukses, gaan loer, en elke keer teleurgesteld en bedroë daarvan afgekom.

Tot gisteraand!

Dis ongelooflik – selfs die liedjies wat in geen jare deur my kop gemaal het, wat ek nie eens meer  geweet het dat dit bestaan nie, het na my terug gekom. Dit was asof ek dit gister laas geluister het! Ek het nie eers nodig gehad om agter die man aan te sing nie – ek het sommer voor hom uit gesing!

Ja, ek het opgehou hoop en dink dat ek ooit eendag weer na die musiek sal kan luister. En daar val dit, kaplaks, in my skoot. Klaradyn sal wil byvoeg “létterlik in Pappa se skoot, want Pappa luister daarna op Pa se skootrekenaar.”

Ek het gaan loer of daar al iets van Anneli van Rooyen se nuutste vrystelling opgelaai is – daar ís – en toe sommer net uit oudergewoonte en niks anders nie, ʼn kans geneem en “Leslie Greef” ingetik.

Ek sou graag elkeen van sy treffersnitte wou deel, en miskien doen ek dit nog. Maar ek weet dit is vandag net ʼn treffersnit as jy die man, soos ek, saam met moedersmelk en aan “vadersknie” ingekry het.

Hoe kies ek ʼn gunsteling?

Kleintyd het ek vir Klaradyn gesing: “Klaradyn, o, Klaradyn, jou het ek lief bo alles. Van al die Klaarsies wat ek ken, nie een so mooi, so soet soos jy. Klaradyn, o, Klaradyn, Pa het jou lief bo alles.” Natuurlik op die wysie van “O boereplaas.” En as ek die liedjie gesing het, was dit nie omdat ek Charles Jacobie of Gert Potgieter in my agterkop had nie, dit was Oom Leslie wat die liedjie daar geplant het.


Die plaatomslag was altyd vir my “Maanlig op die Vaalrivier se walle”. Daarin sing hy “Ons moes gaan trou in somerlente blou, drome het ons laat wag; Maanlig op die Vaalrivier se walle – ek  wonder of jy nog daar wag vir my.” Lief daarvoor om dramas in my kop af te speel, het ek altyd die hartroerendste scenario’s rondom ʼn moontlike oorsprong vir hierdie woorde uitgedink.

Die man en sy tyd is duidelik nader aan die Briels as aan Anneli van Rooyen of Snotkop. Léés dan net dié "O, my pappa" met die Lowrey of Yamaha-orrel as deel van die begeleiding:

O my pappa – vir my was hy so wonderlik, O my pappa – vir my was hy so goed
Niemand soos hy: so teer en tog so liefderyk, O my papa – net hy kon my verstaan
Ek dink nog terug: hy’t my soms op sy skoot geneem, En met sy lag het sorge gou verdwyn.
O my papa – so vriendelik en beminlik – het hy vir my nog altyd hier gebly
O my papa – vir my was hy so wonderlik, hier in my hart verlang ek steeds na hom
Ek dink nog terug: hy’t my soms op sy skoot geneem, en met sy lag het sorge gou verdwyn.

Ek mis sommer my eie pa!

Silwer hare tussen goud, skyn vandag al op my voorhoof – ja, my liefling ekword oud nou.” Eers jare later dat ek teleurgestel moes word deur te hoor dat dit bloot ʼn vertaling van “Silver threads among the gold” is.

Ek dink weer vanaand aan die brug op ons plaas, gebou oor ʼn heldere stroom,want daar het my lelie en ek, vaak helaas, van lief in die maanskyn gedroom.” (Nee, o, aarde, ek weet nie wat die “vaak helaas” daar soek nie, dalk is dit nie eers “vaak helaas” nie maar iets soos “Oom Bertie se sandale” wat toe al die tyd “Op berge en in dale” was. Dis “vaak helaas” wat ek nou hoor; ek onthou iets of iemand soos "Vakie Laas")

Laat ek dan maar volstaan by hierdie enkeles  en afsluit met die moeder-liedjie (hoe kan daar ʼn vader-lied wees en nie een vir moeder ook nie):


Die dierbare moeder van my

Ek was weg van ouerhuis, oral het ek rondgereis:
nêrens is daar een soos sy – die dierbare moeder van my.
Sy was altyd goed vir my, en so sal sy altyd bly.
God was goed – hy’t my gegee, die dierbare moeder van my.

Die laaste sinnetjie van die lokparagrafie op die plaat se agterkant was beslis profeties: 

Leslie Greeff het natuurlik geen voorstelling nodig nie. Hy is een van die Republiek se bekendste en gewildste sangers. Die aanvraag na sy opnames word bewys deur die groot hoeveelheid solo-sewe en langspeelplate wat reeds van hom vrygestel is.

Leslie se bekoorlike stem pas aan by omtrent enige nommertjie maar hy self verkies om aan die sentimentele kant te bly.

Met hierdie opname bied hy 'n verskeidenheid van ou gunsteling liedjies wat deur die jare altyd gewild gebly het. Elkeen wat na die liedjies op hierdie plaat luister sal onwillig vra ONTHOU JY NOG?



Al die snitte is hier gelys.