Uit die argief:
O, Boereplaas
O, Boereplaas
O, Boereplaas, o, soetste plaas, jou het ek lief bo alles.
Of is dit nou “geboortegrond” in die plek van “o, soetste plaas”?
Al dwaal ek deur die wêreld heen, niks ooit so mooi, so goed vir my…
Kersfees en Nuwejaar verlang ek, gebore stadsmuis, na ‘n plaas, enige plaas, en nie noodwendig Holfontein, die plaas van my kindertdherinneringe buite Bultfontein in die Vrystaat, waar ek as kind vakansie na vakansie deurgebring het nie.
Hierdie hunkering, jaar na jaar, hou geensins verband met horisonne, heuwels, ooptes of Bolandse optes en aftes nie. Ook geen kriek of kommandovoël, ‘n windpomp wat klap-klap die dam in lek of die sentimentele aandlied van die vlei- of vlaktevoëls wat my lok nie.
Laat staan ook maar die wind deur die sering- of peperbome wat die sering-, peper- en ander werfgeure tot in jou kamer bring, waar jy na ‘n hemelse middagete uitgestrek op die bed lê en wag vir die gerinkel en –klinkel van die agtermiddag-koffie- of teegoed wat aangedra en reggesit word.
Ek loop in elk geval altyd, en op enige plaas en enige tyd van die jaar, met chroniese hooikoors-oë en neus.
Nog minder is dit die vyf huismeidjies, drie kindermeidjies, (pejoratiewe, ek weet, de leste een van hulle) en nog twee of drie elk vir die stoep, voorhuis, werf, kombuis, en die res wat hulle besig hou met opwas, was en stryk.
Nee, my hart, siel en wese, smag elke Kersfees en Nuwejaar na ‘n plaas se ýskaste.
Soos die foto’s, af in die gang, van drie of vier geslagte se pa’s en seuns wat elk op daardie betrokke familiegrond bestaan gemaak het, is daardie selfde drie of vier geslagte se yskaste en koelkaste mos altoos deur die huis en buitegeboue versprei.
Oorle’ Oorgrootjie se hout- en draad- kontrepsie van kooks en steenkool, wat eers met die hand en toe met ‘n koperpyp nat gehou is, staan nog iewers buite teen ‘n muur, dalk by die eerste opstal, of wat daarvan oor is, so nie, in die omgewing van waar die nuwe(-rige) hoenderhokke aangebou is.
Dit maak ook nie saak nie, want dis nie van hom wat ek praat nie. Oupa se eerste gas-koelkas, met die vlammetjie wat jou hand so brand as jy as kind stadig met jou vingers oor die gat gaan, staan in die buitekamer langs die slagkamer.
Dan is die twee yskaste, die oudste van die twee nogal ‘n Fuchs Ware, wat Pa in sy tyd aangekoop het ook in die koelte van ‘n buitegebou met sif voor die vensters om die vlieë uit te hou.
In die huis self is die huidige boer se twee yskaste, en die een wat hy verlede jaar vir sy vrou gekoop het om op te maak vir ‘n effense onsmaaklikheid en ongemaklikheid waarop ons nie nou sal ingaan nie.
Maar nie Hans Moolman nie. Hy sit in Pretoria met ‘n fênsie yskas en vrieskas in een.
Die vrieskas het nie plek vir drie propperse vetgemaakte slaghoenders nie.
Die naaste wat die yskaskompartementjie aan ‘n emmer room of melk sal kom is die 250 ml plêstiek kannetjies van Clover en, tot my spyt – want nou het ek nie plek vir alles nie – een van hierdie twee liter kartonhouers van Spar wat die laaste ruk altyd goedkoper is as die ander. (Straks ook net goedkoper oor dit meer water in het, of die beeste hormone en steroïedes gevoer is wat dit eintlik onwettig maak om die melk vir menslike gebruik beskikbaar te stel en hulle sou gou as moontlik daarvan ontslae moet raak.)
En dan beplan ek ‘n driegang-maaltyd (met die stoelgang daarby is dit natuurlik vier of vyf, maar daarvoor het jy gelukkig nie ‘n yskas nodig nie) vir agt of tien mense, oor Kersfees én weer vir Nuwejaar. (Oukers- en Oujaarsaane is darem altyd stil en klein en rustig.)
Een van die twee is altyd kouevleis en slaaie, maar dan nie hierdie Bybelvelletjies wat jy in plêstiek of papier by die Deli koop nie, nee, daar moet ‘n varkboud, gepekel of vars, skaapboud en een of ander meer sappige snit van ‘n beesboud, self en met die hand voorberei word.
Die slaaie maak jy ook nie met ‘n skêr, verwysende na hierdie Werda-sakkiesslaaie, bottel- of blikoopmaker oop nie, dis Krismis, en Krismis is nie Krismis sonder een van Oorlede Ouma se gestolde slaaie nie. (Onthou haar generasie het yskaste vir die eerste keer leer ken. Kindertyd het hulle ge-kooks in ‘n skadukol onder die koelteboom. Hulle het toe mal gegaan en die yskas ordentlik ingespan en Ouma se Krismis kos is van Ma na Dogter na Kleinseun oorgedra!)
Kouevleis en slaai ons nie, dan braai ons. Maar onthou, ek kom uit ‘n huis waar ma en pa baklei het as die een die ander se kosmaakbeurt wou annekseer. My skoonsus is bekommerd oor my broer wat deesdae net een afleiding ken, en dis die kombuis. Die gevolg is ons praat nie hier van ‘n tjoppie oor die kole nie, ons praat van sosaties, ‘n agtiende-eeuse resep van ‘n Bolandse plaas met dae en dae, en bakke en skottels se voorbereiding. Dan maak en maal en stop ek ook net een maal ‘n jaar my eie boerewors, en dis in die Desembervakansie.
Hoe kan jy ook nou sê jy het ge-Kersfees en ge-Nuwejaar as jy nie by die een tuisgemaakte gemmerbier en by die ander ‘n Boerse bola of Britse punch het nie. En beide van hulle soek staanplek in die yskas. Saam met die wyn. En vanjaar ook sjampanje, wat vroulief spesiaal gaan koop het om te geniet saam met nuwe sjampanjeglase wat vroulief spesiaal gaan koop het om te pas by die wynglase wat vroulief verlede jaar spesiaal gaan koop het om te pas by die nuwe ten seater tafeldoek wat sy spesiaal gaan koop het. (En toe, omdat dit ‘n special was, loop koop sou toe hierdie jaar weer ‘n nuwe tafeldoek.)
Dan is daar nog die voorgereg, elkeen elke keer koud en in ‘n individuele bakkie, bordjie of een van Ma se skulpies wat vir jou as kind tog so grênd was – jy hunker, nostalgie ontwil, elke Kersfees of Nuwejaar na iets om daarin voor te sit.
Nou ken Annieka ook net een van drie plekke om met goed te gaan waarvoor sy nie dadelik die plek ken nie: wasbalie toe, studeerkamer toe, of yskas toe. ‘n Vreemdeling moet haar tog nie ongenooid en onverhoeds eendag in haar eie huis raakloop nie — oor daar nie meer plek in die studeerkamer is nie, prop sy hom of haar wragtig in die wasbalie of yskas.
En dan moet hy nie kla nie, hy kon deur my vriendin, Esti, geweeg en onbekend bevind gewees het, en sy ken nét één plek: louoond toe met jou, of jy nou skoon of vuil, organies of anorganies, bladwisselend of immergroen, lewendbarend of nie, is. Of nie.
Hier teen die drie en twintigste begin Annieka kla oor die koskaste wat so vol loop. Dan het ek bloot nodig om alles wat onnodig in die yskas gehou word (die goed wat sy self die vinnigste uit haar gesigsveld verwyder het deur dit in die yskas te plaas) te hersoneer na waar dit hoort. Vier botteltjies slaaisous, grondboontjiebotter, aanmaakkoeldrank, koekmeel, broodmeel, bruismeel, semels...
Maar teen die nege en twintigste is daar double bookings in die yskas: Krismis se left overs en Nuwejaar se nuwe aankope wat eersdaags voorberei gaan word.
Die oggend van die eerste, of reeds Kersdag wanneer daar spitsverkeer is, is die selfoon se wekker gestel om al om die uur af te gaan. Dit wat buite was, gaan yskas toe, wat in die yskas was gaan vrieskas toe. Die vrieskas se goed gaan weer buite toe, en so wissel die goed mekaar af tot die eerste gaste hier teen laat agtermiddag opdaag.
‘n Mens sal dink jy leer ken jou yskas op hierdie rotasiemanier. Moenie glo nie. Die goed raak nog helder oordag spoorloos soek ook. Opsoek na die blaarslaai deur die loop van Nuwejaarsdag kry ek aanvanklik, en sonder Annieka se ingryping, alles behalwe die blaarslaai; wel Kersfees se verlore kruisement wat gelukkig en danksy Woolies se verpakking nog kraakvars en gereed is om Nuwejaar in die bola te gebruik.
Vra Klaradyn my toe – nadat sy my só gestaan en kyk het, soos net ‘n kind haar pa kan kyk – vir wat staan ek so gebukkend voor die oop yskasdeur en sing.
Toe leer ek haar maar die woorde van “O, Boereplaas” soos ek dit onthou.