Pages

24.9.14

Erfeniskos vir erfenisdag

Ek het so lank hierna gesoek, dat ek dit vandag aan die groot klok wil hang. 

En waar wil jy nou ‘n beter dag as juis Erfenisdag kry om so iets te kan doen. 

Straks is daar ergens iemand anders wat ook daarna hunker en kom hierdie na aan dit wat jy soek of onthou.

Ek het so vyf of ses jaar gelede gedink ek het dit gekry. Dit was in die doktor se spreekkamer. Die man het twee van die goed en terwyl hy in die een besig is, maak sy ontvangsdame jou solank sit in die ander. En dan is daar vier of so tydskrifte in ‘n amperse waaier uitgepak vir jou om in te blaai.

Ek reik natuurlik altyd eerste na die buitelewe maar dit vat nooit lank nie of ek kwyl soos ‘n hond met met my neus en oë in die vrouetydskrif se kosafdeling.

Ek het seker al vier resepte van die einste dokter by die huis aangebring, en ek sal die een waarna ek hier bo verwys het, ook deel – maar dit was nie die een nie, nie vir my nie.

Toe spoor ek die lui huisvrou van die laat jare sewentig se imitasie (laasgenoemde woord in hierdie geval ‘n gepaster woordkeuse as namaaksel) op. 

Ek het dit egter een kyk gegee en geweet dis nie die real makhoya nie. Ek het dit nietemin maar afgeskryf en in dieselfde boek kom neerskryf waar ek die een uit die spreekkamer oorgedra het.

En toe kry ek vroeër vanjaar die resep wat my so lank ontwyk het by my beste skoolvriend sedert ek in standerd 1 in sy ma se klas beland het. In sy ma, Tannie Marthie, se eige handskrif.

Ek het toevallig gister van haar vertel Sy was een van my ander mammas; hy die maatjie wie se huis nou onherkenbaar in ‘n kleuterskool verander is. 

Suiwer op grond van ‘n boom in die agterplaas dat ek die regte erf kon eien. 

Die huise links en regs het net so verander – in die hele blok van Launcestonstraat waar hulle destyds gebly het, het ek miskien twee huise vaagweg herken.

Toevallig ook die maatjie saam met wie ek twee bome geplant het waaraan ek die verskil wat ek op aarde teweeg gebring het, meet.

Omdat ek weet dat hy so lief vir die imitasie was en dit gereeld in hulle huis gemaak het, bel ek hom 'n ruk terug en vra of hy nie die oorspronklike het nie. Toe die twee gesinne weer saamkuier, toe kom hy met hy met sy ma se kookboek, die een wat sy in haar eie hand sedert skooldogterdae bygehou het, hier aan.

En ek weet sommer, net by die kyk en lees, dat die resep wat hy voor my neus indruk, die een is waarna ek soek, jare nou al.

Toe my generasie (en ons almal klok nou die een na die ander op 50 in) klein was, baie klein, het jy by die ou mense ‘n slaaisous oor ertappelslaai gekry wat aan soet mosterd herinner het.

Later van tyd, in die sewentigerjare, het die vrouens kortpad begin vat met kondensmelk en mosterd.

En deesdae, as jy gelukkig is, spoor jy nog iets daarvan op as iemand vir die snaaksigheid iets wat daaraan herinner by die gekoopte mayonnaise voeg. (Dis nou ás jy gelukkig genoeg is om nie ‘n gekoopte Woollies-ertappelslaai voorgesit te kry nie.)

Maar ek het na die oer-oorspronklike gesoek, die een wat my oorlede ouma (en tien teen een haar oumagrootjie) nog gemaak het.

Toe ek vroeër vanandeesmaand 50 strike en ons voorberei vir die tradisionele Pilanesberg-verjaarsdagnaweek weg in die bos, besluit ek, deur nostalgie daartoe gedryf, om dié slaaisous in ‘n fles saam te neem.

Ek het die resep twee keer aangemaak en my fles was bietjie klein, toe beland daar ‘n lekseltjie in ‘n tupperbakkie. 

En toe ek gisteraand naarstiglik op soek na iets in die yskas gaan, wonder ek wat in dié betrokke bakkie is, toe is dit die laaste van Tannie Marthie se slaaisous wat dadelik weg vind na die halfpad klaargemaakte mengelslaai op die tafel.

Die ganse tafel smul.

In my handgeskrewe kookboek, in haar seun se eie handskrif, uit die handgeskrewe kookboek sedert haar hoërskooldae, hier dan:

Tannie Marthie se “Mayonnaise”

·         4 eiers
·         4 eetlepels suiker
·         ½ koppie water
·         ½ koppie asyn (wit)
·         1 teelepel sout
·         1 eetlepel rou uiesap
·         1 teelepel droë mostert

Metode

Klits eiers & suiker saam. Gooi water & asyn in kastrol en laat kook. Gooi die kokende water & asyn oor eier-&-suiker-mengsel terwyl jy dit vinnig roer. Gooi die mengsel dan terug in die kastrol en plaas eenkant op die stoof. Roer tot mengsel dik word en kook. (Pasop dat dit nie brand nie.) Haal van die stoof af en voeg uiesap & sout by. Los die mostert in ‘n bietjie van die vloeistof op en voeg dit by die mengsel in die kastrol. Klits goed en laat eenkant in die kastrol om af te koel. Gooi in vrugtefles en kurk toe – gebruik wanneer nodig.

Dis vir my duidelik dat hierdie resep vir ‘n koolstoof geskryf is (plaas eenkant op die stoof). Mosterd is mostert. En Tannie Marthie was ‘n onderwyseres, sy maak nie spelfoute nie, nie daardie jare se onnies nie. Sy skryf hierdie nie oor uit ‘n tydskrif nie, maar uit ‘n ouer handgeskrewe kookboek, vermoed ek. Die gebruik van”en” sowel as “&”. Daar is sprake van ‘n vrugtefles wat toe gekurk moet word.

Dís mos nou erfeniskos! Héérlike erfeniskos.

Een wat daaraan herinner (maar ek het dit nog nooit self gemaak nie) is:

·         6 eetlepels kondensmelk
·         9 eetlepels asyn
·         1 desertlepel Worcestershiresous
·         1 teelepel mosterd
·         1/8 teelepel peper

En dan is daar die een uit die spreekkamer, wat by the looks of it heerlik is:

·         125 ml room
·         15 ml suiker
·         klits tot amper styf
·         1 ml sout
·         1 ml mosterdpoeier
·         knippie peper
·         klits geleidelik 45 ml witasyn by.
·         As die asyn by is, moet die room styf wees


Van Tannie Marthie se sous, behalwe dat dit lekker is, kan ek verder getuig dat dit die gedagtes om lang en ver paaie terugneem.

23.9.14

Iewers in September

Met uiterse selfbeheersing dat ek nie vanoggend, na ek vyf jaar gelede ophou rook het, weer vir my ʼn pakkie sigarette gekoop het nie.

Ek kon ook seker maar netsowel; ek sou dit in elk geval nie gerook het nie. Ek wou uit beginsel sommer voel hoe dit voel om ʼn pakkie sigarette in Loizoz se Kafee te koop.

Daardie jare was dit nie sommer enige Loizoz se Kafee nie, dit was Yoiti Loizoz, die Griekse Boertjie wat destyds een of twee langspeelplate die lig laat sien het, en ʼn keer of wat ook op die kassie was, wat agter die kasregister gestaan het.

Dit was ook die kafee die naaste aan my hoërskool en waarom ek wou voel hoe dit voel om daar ʼn pakkie sigarette te kan koop. Hoeveel skoolkinders, oor hoeveel jare heen, sou nie daar sigarette wou koop nie!

Baie hét seker, maargoodytwo shoe- outjies soos ek kan en kon my so iets natuurlik nie voorstel nie – nie in my wildste drome nie.

Dis nog steeds Loizoz se Kafee (net ʼn nuwe naambord) , in die Loizoz-gebou (dieselfde stokou naambordjie) maar dis duidelik dat geen Griekse Boer of ewe Griekse Boorling deesdae nog die kasregister slaan nie – ʼn Indiër dryf nou handel met die maroen skooldasse- en baadjies wat daar verbykom.

Ek was meer as ʼn uur te vroeg vir ʼn begrafnis en wanneer moet ʼn onderwyser nou tyd kry om herbesoek aan sy skool te bring? As die skool oop is, is hyself op skool; vakansies, wanneer hy wel kan inloer, is die skool gesluit.

Toe gaan meld ek myself aan. Tralies, hekke, slotte, sekuriteit en mure wat 32 jaar gelede nie daar was nie.

ʼn Adjunkhoof móét saam met my stap (asof ek ʼn agent van die een of ander terreurbeweging is) maar ten minste is hulle bereid om my te akkommodeer.

Dit was lekker en dit was goed, ek is bly ek het gegaan en sal dit ʼn verdere 32 jaar later weer wil doen. Watter voorreg sal dit nie wees nie, nie net om die skool te besoek nie, maar ook om so lank te kan leef!

Dis soos gister dat ek laas daar was, daar lê nie halwe leeftyd tussen die laaste keer dat ek daar was (om my matrieksertifikaat op te tel) en hierdie herbesoek (nie net om halo te sê nie, maar seker ook om afskeid te neem en los te kan kom) nie.

Alles het miskien verander, maar niks het verander nie. Die minste van alles, naas miskien die skool, ek.

Die dop is dieselfde dop. En wat binne gebeur het, staan my in elk geval nie aan nie.

Ek sou graag my naam op een van die ererolborde wou sien. In ons dae was daar nie so iets nie, maar kollegas wat daar matriekeindeksamenvraestelle gaan merk het, het genoem dat hulle my naam daar raakgelees het.

Dié voorreg is my helaas nie beskore nie. Die ererol het gekom en gegaan sonder dat ek dit ooit kon sien. Die name het te veel geword en die eerstes en oudstes is afgehaal om plek te maak vir die nuwe generasies.

Vir wat wil ʼn mens dan ook nou agteruit in jouself in terug loop.

Jy het niks daar verloor nie, hoor ek stemme opgaan.

En ek stem 100% saam – ek hét onder die son niks daar verloor nie.

Maar ek het so baie daar gekry! En met my daar weggeneem, en opgeneem, en op my lewenspad saamgeneem! Ek dra dit vandag nog met my saam.

Twintig jaar gelede het dit my opgeval, bring ek aan my geboortedorp besoek, hoe min die afdraaipaadjies, stop- en besoekpunte geword het.

Ek het ʼn parallel getrek met die doodgetrekte telefoonnommers in my ma se telefoonboekie. Daar is niks wat my so ontstem soos ʼn telefoonboekie met soveel deurgehaalde nommers nie, maar ook nie net nommers nie, dikwels name ook soos wat die een wat aan die ander kant antwoord, die een na die ander, die tydelike met die ewige verwissel.

Later trek jy inskrywings dood, nie omdat iemand afgesterf het nie, bloot omdat jy nie meer onthou wie dit hierdie is nie.

So is dit ook met Alberton gewees. Later was dit nog net Ma-hulle waarby die motor se neus ingetrek het. Al die ander was weg of het langs die pad sommer net weggeval.

Ek wou oulaas laerskool toe ook. Toe sien ek die klipmonument waarvoor elke kind destyds ʼn klip gebring het om in te lê, is in ʼn ondeurdagte oomblik gelykgemaak met die grond. Toe pluk ek my moer en toe ry ek verby.

Ek onthou die laerskool dan maar soos twaalf jaar gelede toe ek en Annieka, my ma en Klaradyn gereeld daar gaan stap het. Die oues het in daardie stadium naby die skool gebly en dit was vir ons ʼn lekkerte om agtermiddag deur die strate te gaan dwaal.

Tog wou ek oulaas laerskool toe ook.

Na dese sal ʼn rede om Alberton toe te foeter hom nie sommer weer voordoen nie.

Daar ís na vandag, van al die baie wat daar eens was, nie meer ʼn enkele afdraai of stop oor nie.

Selfs die historiese geboortehuis is afgebreek om plek te maak vir die een of ander nuwe ontwikkeling.

Ek wou uitry Brackenhurst toe om te kyk hoe groot is die bome wat ek en Riaan geplant het (hulle huis is nou onherkenbaar en ʼn kleuterskool). Ek meet die verskil wat ek gemaak het, nou al donkiesjare nie aan die ingrype in leerders se lewens nie, maar aan die bome wat ek geplant het. As ek ooit nodig het om te voel dat ek iets bereik het, het ek net nodig om onder een van my bome te gaan staan – dan word ek in my oë die grootste rolspeler wat die aarde nog ooit had.

Maar ek het te wyd gery, te stadig gery, te veel besoek en moes kerk toe, begrafnisdiens toe.

Met ʼn ma wat na die egskeiding nie wou dat haar seun ʼn “flat boytjie” word nie, het sy vir my tweede gesinne gekry waar ek na skool tot sesuur of half sewe saans opgeneem kon word. So had ek toe vier ander mammies en drie ander pappies waar ek my agtermiddae van standerd 3 tot matriek deurgebring het:  Tannie Marica en Oom Gustav, Tannie Marjorie-hulle, Tannie Marie en Oom Cas, en Tannie Marthie (Oom Hannes was toe al oorlede).

Tannie Marjorie en ook Tannie Marie en Oom Cas is nie meer op Alberton nie. Tannie Marthie is oorlede toe ek in die weermag was. Al wie op Alberton oorgebly het, was Tannie Marica en haar tweede man.

En toe is Tannie Marica sommer net een mooi dag oorlede.

Die laaste keer dat ek die moed had om deur my ma se telefoonboekie te blaai, was sowat ʼn jaar na haar dood.

Telefoonboeke is vir my erger as fotoalbums met vergeelde blaaie waarvan die driehoekies reeds losgekom het.

Maar ek het twee groepe mense weer opgesoek, soos destyds na my ma se dood:  John en Ian, en Tannie Marica.

Nie net die afdraaipaadjies en besoekpunte het opgedroog en doodgeloop nie, ook die telefoonnommers in die voosgevatte boekie het niks meer nie as vae brokkies onthou geword.

Behalwe John en Ian. En Marica Smook. Toe ook al vir jare nie meer Smook nie, maar Regnart. Vir Judy en haar telefoonboekies sou sy egter Smook bly tot die dag wat Tannie Marica by my haar kom kuier het en Marica vir alle praktiese doeleindes toe vir haar reeds dood was – my ma het nie geweet wie Marica is nie, ook nie wie sy was nie en wat sy vir haar en haar seun beteken het nie.

Ek bel en Tannie Marica “my kind” en “haai seun” my na al die jare steeds.

Die Russe sê ʼn mens word uiteindelik wat jy was. Ek is vandag wat ek was. Ek is vandag wat ek is, oor ek was wat ek was aan huise van Marica en Gustav Smook, die Schüllers, Oom Cas en Tannie Marie, en Tannie Marthie ook.

Ek is die Hans wat ek is, ja, maar wil dan vandag eerder stilstaan by die onderwyser wat ek is, danksy Marica Smook, die vrou wat agt jaar probeer het om my te leer orrel speel. (Daarom dat ek drie middae ʼn week soheentoe is – een middag vir les, en twee middae om te kan oefen as daar ʼn gat by een van die sewe of agt orrels in haar studio oop is.)

As skrander, hardwerkende, bogemiddelde, individualis, was ek gewoond daaraan om orals deel van die kop te wees – in bykans elke klas en groep. Behalwe LO en atletiekuitdunne en op die tennisbaan. En dan agter die orrel.

Deesdae verklaar hulle kinders iets soos dyscalculia nes hulle agterkom dat jy nie daartoe gebore in staat is om wiskundige calculations te kan doen nie. Nou, ék is nie dis-calculia of dis-calcula nie, ek is geheel en al, volslae, dis-musica.

Later jare is ek amptelik toondoof verklaar, do is vir my ʼn bok, re niks anders as ʼn sonstraal nie en me ʼn persoonlike voornaamwoord om na myself in Engels te verwys.

Maar daardie jare het Marica Smook met die grootste liefde vasgebyt as ek haar oordromme en ingebore sin vir musiek verkrag met wat ook al my vingers op die klawers aanvang (om nie te praat van my pote rondom die onderste pedale van die instrument nie). Sy het my positively reinforce en laat goed voel oor my baie stadige vordering, trouens, in retrospeksie, seker eerder “algehele gebrek aan vordering”. Nooit het hierdie agteros soos ʼn agteros gevoel nie. Sy het my trouens gekomplimenteer met wat ek vermag – denkende veral daaraan dat ek nie kan oefen wanneer ek wil oefen nie, maar net wanneer daar toevallig ʼn oop orrel is.

Oor ʼn paar jaar hou ek dertig jaar skool. In daardie dertig jaar het ek elke jaar soortgelyke Klein Hansietjies in my taalklas gehad, die agterste punt van die stert – hulle kan die kop van die taalklas nie eers sien nie.

Ek praat nie van die slegtes en die luies en die lyfwegstekers nie, ek praat van die outjies met minder aanvoeling vir taal as katte vir saffraan. Die outjies wat lag-lag dis-lingua verklaar sou kon word.

Nie altyd vir almal maklik om hierdie kinders in hul klas te hê nie, veral nie vir ʼn taalonderwyser nie – die kind sou nooit jou vak geneem het as hy ʼn keuse had nie, nou móét hy in jou klas sit.

Elke jaar as en nuwes en nog van hierdie kinders raakloop, dan gaan ek terug na my rolmodel in die onderwys wat hierdie klas van kind betref, Tannie Marica.

Dit kom trouens nou al vanself – en het in al hierdie jare nog nét goeie vrugte opgelewer.

Daarom dat dit vir my ʼn voorreg en ʼn lekkerte was om een oggend van skoolhou opsy te kan sit en begrafnis te kan hou saam met al die ander in wie se lewe sy ʼn ingryp gemaak het.

Ook nie trane wat my dryf nie, maar dank en dank en nogmaals dank.

Daarom ook miskien dat ek, nes my ma, weier om ou telefoonboekies weg te gooi. Dit bring soveel goeie herinneringe terug. Soos ʼn herbesoek aan die skoolgeboue van jou verlede.


So jammer dat selfone telefoonboekies oorbodig gemaak het. My en Annieka se twee oues, en Judy se laaste een of twee, is en bly in veilige bewaring in die laaikas langs my bed.

21.9.14

Kulinêre sinsbedrog (2)

Toe ek en ‘n kollega in drie minute moet besluit wat ons vir ‘n vriendin se verjaarsdagete by die skool gaan maak, toe praat ek my mond verby en sê dat ek ‘n bobotie-lasgane sal maak. So asóf ek dit al gemaak het, so asóf dit ‘n ou treffer uit my hand is.

Toe ek Woensdag op hom afstap en hom meedeel dat ons ete van Vrydag nie gaan werk nie – omdat die prefekte pouse vir die personeel ‘n ete gee, kry ek die antwoord: “Maar ons ete is nie Vrydag nie, Hans, dis more!”

Ons praat hier van “more”, soos in “die volgende dag”, binne 24 uur; teen hierdie tyd more, het ons al klaar geëet, het ons al vergeet ons het geëet.

Omdat ek Vrydag vir ons tafel van 13 kos moes vat én Annieka vir haar tafel vertel het dat sy Vrydag vir hulle tafel iets te ete sal vat, het ek, genadiglik, Woensdagoggend toe ons uit is skool toe, gou die vleis in die prutpot gesit.

Eintlik wou ek vroeg opstaan en dit doen, maar toe vergeet ek. Slegs omdat ek nie die tandepasteproppie laat val het en daarom laat vir skool sou wees nie, het ek toe die tyd om die vleis solank aan die gang te kry terwyl Annieka en Klaradyn aanstap kar toe dat ons kan ry.

As die Italianers ‘n Bolognese sous maak, dan is hy ‘n minimum van drie ure op die hitte, en ek wil nie sommer pasta & mince maak nie, ek wil ‘n propperse lasagne maak – my Bolognese-sous moet bloot Bobotiesous word. Die sous sal egter steeds daaraan moet herinner dat sy oerwortels op die stadige koolstoofplate van Bologne vorm gekry het.

Maar dis al wat ek gedoen het, ek het nie eers tyd gehad om gebraaide uie en knoffel in te sit nie. Ek het die maalvleis, kerriekruie en –speserye, appelkooskonfyt en ‘n grypie water in die pot gefoeter en uitgehol kar toe waar Annieka en Klaradyn al gewag het. Ek is so haastig daar uit, ek moes nog terughol om te kyk of ek in my haas wel onthou het om die pot aan te skakel.

Wat meer is, ons is met een kar by die skool en na skool moet Annieka vir die vriendin ‘n present kry terwyl ek in aller yl lasagne-velle en wat ek ook al dink ek nog nodig gaan kry, moet gaan koop.

Maar dis nog níks – Klaradyn (én Mamma en Pappa) moet 17:30 by Klaradyn se skool wees vir die jaarlikse koffiehuis-/verskeidenheidskonsert.

Ons stap 15:30 in die huis in en ek begin kos maak – al wat in plek is, danksy die prutpot, is die maalvleissous se tekstuur en die helfte van die kleur en geur.

Maar 17:30 toe klim ons in die kar, die lasagne/bobotie het kleefplastiek om en wag om oond toe te gaan sodra ons terug is.

Soos alle laerskoolaande word dit ‘n lang aand. As ek geweet het dat daar ‘n pouse is, en dat Klaradyn tweede na pouse aan die beurt kom, het ek by die huis gebly en kos gemaak en gewag vir Annieka om my pouse te bel. Maar hoe sal ek dit nou weet.

Na Klaradyn se item skiet ek toe deur huis toe. Daar sit ek toe en kyk vir die oond terwyl hy warm word. Die oomblik toe die liggie afgaan, om aan te dui dat die regte temperatuur bereik is, toe prop ek die twee bakke in die oond en jaag deur laerskool toe, terug na die girls toe.

39 minute later stap ek met die twee in die kombuis in en ek draai die oond af – rou kan die kos waaragtig nie meer wees nie, en as dit dan nou te lank in die oond was, is dit klaar te laat en kan ek onder die son niks meer daaraan doen nie. Ek gaan slaap en los die kombuis wat herinner aan tien dae voor die skepping, nie so leeg nie, maar so woes.

Of die outjies dit aan tafel as ‘n sinestetiese ervaring sou beskryf, betwyfel ek. Vir die meeste mense is dit straks maar net “so ‘n lasagne wat Hans gemaak het”, of, erger nog – “pasta en mince”! Maar dan darem ‘n “baie lekker” pasta en mince, lei ook geen twyfel nie.

Enige iemand wat van bobotie hou, sal daarvan ook hou. Probeer gerus. Hou net weg van die in-melk-gedoopte-witbrood, jy wil geen vog deur iets anders as die droë lasgane-velle laat absorbeer nie.

Ek het in my soektog na ‘n resep nie minder nie as drie verwysings na so iets op die internet opgespoor, selfs iemand wat dit êrens as bruilofsmaal gehad het – met foto’s nogal – maar nergens ‘n resep nie.

Maar ja, die mog-het-troffe bobotie-lasagne/lasagne-bobotie hét goed afgegaan. Ek sal dit met vrymoedigheid weer, en hopelik met minder haas en kortpaaie, berei.

Maar nee, daar is nie ‘n resep met hoeveelhede en mates nie. Ek moes sien-kom-klaar met wat ek in daardie twee ure in die huis, of pas aangekoop, had.

Jy het nodig vir die vleissous:

·         Ongeveer 1 kg maalvleis (bobotie is streng gesproke net bobotie as dit van skaapvleis gemaak word, maar deesdae is dit net ek, Leipoldt en Peter Veldsman wat nog só oor bobotie voel)
·         1 of 2 uie
·         ½ knoffel (dis ‘n ½ bol knoffel, nie ½ knoffelvlokkie nie)
·         ½ pakkie van Woolworths se Cape Malay Curry Spice (dis so pienk boksie – die lekkerste)
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gekapte/gebreekte/gevlokte amandels
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol rosyne/korente
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gesnyde droë appelkose
·         Lekker baie, jy moet dink dis te veel en dan is dit eintlik nog maar skaars genoeg, vars gekapte koljanderblare – lag-lag drie of vier van die pakkies wat Woolies of P&P verkoop.
·         ½ kleinerige blikkie appelkooskonfyt (ek was gelukkig, ek het die laaste van my eie tuisgemaakte kooksel gehad)
·         ‘n paar suurlemoen en/of ‘n paar lourierblare

Braai die opgesnyde ui in botter of olie, gooi die kerriepoeier by en braai, gooi die fyngemaakte knoffel by en wees versigtig dat dit nie brand nie – knoffel brand gou.

Kry die vleis by en braai tot bruin. Voeg dan die appelkooskonfyt en vloeistof by en prut vir drie ure. Jy kan die drie ure seker maar oorslaan. Ek wou wyn vir die vloeistof gebruik, maar die Maleiers gebruik nie alkohol nie. As jy nie ‘n puris wil wees nie, kan jy gerus wyn gebruik. Jy moet basies nou met jou vleissous regkry wat tamatie aan ‘n rasegte Bolognese-sous sou doen. Of sommer net curry mince maak – dis net so lekker. Ek had ‘n blik klappermelk in die kas, en het dit bygevoeg – ek is spyt ek had nie twee nie, want dan het ek twee gebruik. Liqi-fruit-sap sal net so lekker werk – appelkoos miskien.

Dan kry jy die rosyne en appelkose by, ook die amandels. Proe en gooi geurmiddels by tot dit vir jou lekker genoeg is. (Ek het nog kerrie én nog appelkooskonfyt bygevoeg en Annieka elke keer geroep om te kom oordeel.)

Vir die béchamel-sous het jy nodig:

·         500ml natuurlike jogurt
·         500ml melk
·         blikkie klappermelk (ek het myne in die vleis gegooi, maar dit sal hier ook lekker wees)
·         8 eetlepels botter
·         8 eetlepels meel
·         koppie of meer klapper
·         1 ui in ringe gesny
·         2 of 3 knoffelhuisies
·         lourierblaar of wat
·         grypie borrie

Jy verhit die melk met die ui, knoffel, lourierblaar en borrie in ‘n pot. Moenie haastig wees nie, die geurmiddels moet die melk kan geur want later haal jy dit uit. (Ek moes kortpad vat, ‘n heerlike kortpad – omdat daar nie tyd was nie, het ek my ui en knoffel versap, nie in ‘n blender nie, in ‘n regte egte versapper wat heldere sap aan die kant oplewer en verpulpte groenteweefsel aan die ander. Die sap het ek by die melk gegooi en die pulp in die vleis)

Dan smelt jy die botter in ‘n pan. As die botter gesmelt is, haal jy die pan van die hitte af en roer die meel by sonder om klonte te maak. (Ek is ‘n man – dit het my tien jaar gevat voor ek so ver kon kom om nié klonte te maak nie – hou maar ‘n elektriese whisk of hand-blendertjie byderhand).

Kry jou roux terug op die hitte en gooi die gegeurde melk by. As dit lekker dik is, gooi die jogurt by. En die klapper. Geur met sout en peper. (Ek het appelkooskonfyt ook bygevoeg, maar miskien was dit slegs nodig omdat die uie-en knoffelsap te potent was, ek weet nie.)

Sorg dat jy genoeg pastavelle het vir minstens 3 lae pasta. 4 lae pasta is ook reg.

·         Verdeel jou vleissous in twee (as jy drie lae pasta gebruik), verdeel dit in drie as jy vier lae pasta gebruik.
·         Skep ‘n derde van jou witsous af en gaan steek dit in ‘n ander vertrek weg.
·         Neem nou so vier eetlepels witsous en smeer die bodem van jou bak.
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         (moontlike lagie vleissous, koljanderblare, witsous en pasta)
·         Die witsous wat jy in die ander vertrek gaan wegsteek het, kom nou heel bo.

Ek hou nie van die gedagte aan kaas saam met bobotie nie, maar ‘n dun lagie kaas lyk mooi as dit 40 minute later bruin gebak uit ‘n 180 grade oond kom.

Bedien saam met ‘n slaai (of twee of drie sambals van jou keuse – as jy dit Kaaps en Maleis wil hou).

Hier is die Duitse weergawe. Sonder mates en gewigte. Maar vir my het dit baie gehelp. Al het ek net in standerd 6 Duits as vak gehad (en elke oomblik daarvan gehaat).







Kulinêre sinsbedrog (1)


Snaaks hoe ‘n mens party goed, hoe klein of gering of laf en verspot dit ook al mag wees, nooit vergeet nie.

‘n Driemanskap waarin ek op universiteit was, het die einde, die aller-einde se eindste laaste, met koek en melkskommel by Philippa aan huis gevier.

Dit was die laaste keer dat ons drie, ek en Ian en Philippa, saam as studente gekuier het – ‘n dag of wat later het ons elkeen ‘n eie, ander rigting ingespat.

Die wortelkoek (in liefdevolle en tere herinnering aan die lekker wortelkoek wat ons telkemale saam in ‘n koffiewinkel tydens ‘n Grahamstad-kunstefees geniet het) het die leunende toring op Pisa na die loodregte Brixton-toring laat lyk – so krom en skeef het die ding uit die oond gekom.

Meer nog – die koek was nog nie 100% afgekoel toe Philippie die versiersuiker opgeplak het nie. Nee, kom ons wees nou maar eerlik:  die koek was nog nie 5% afgekoel toe Phlippie die koek versier het nie.

So toe sy met die koek een warm middag vroeg in November 1986 in die sitkamer aankom, toe het die versiersuiker soos stollende lawa teen die ysingwekkende skuinstes van die koek begin afkruip.

Hoe meer ek die koek, nou, 28 jaar later, oproep, hoe duideliker word dit vir my dat dit vandag as die een of ander eietydse aardrykskunde taak oor geologiese landvorme deur sou kon gaan.

Maar die koek is nie die laf en verspotte ding van ons plegtige afskeidsfunksie wat ek nog onthou en seker nooit sal vergeet nie – dis die melkskommels waarmee ons vriendin daar opgedaag het, wat ek nog so helder soos gister onthou.

Dis omdat daar iets soos sinestesie in was. Maar heeltemal sinestesie was dit ook nie. Sinestesie is immers iets wat jy in die lettere en nie op somersmiddag in ‘n glas opspoor nie.

Sinestesie, vir die wat vergeet het, of dit nooit geleer het nie (die sillabus het baie verander)  is ‘n stylfiguur in die letterkunde waarin daar ‘n vermenging van die sintuie plaasvind. ‘n Vermenging in dié sin dat iets wat gewoonlik met een betrokke sintuig waargeneem word, nou aan die hand van ‘n ander sintuig deurdring.

So het Sheila Cussons die geur van peper (iets wat jy ruik) in een van haar gedigte aan die hand van pizzicato (om klanke uit ‘n viool voort te bring deur die snare te pluk in plaas daarvan om dit te bestryk – iets wat gehoor word) beskryf.

Nou daardie middag het die twee van ons wat in die sitkamer bly wag het om te kyk hoe die versiersuiker teen die hange van Vesuvius afkruip, terwyl Phlippie die melkskommel gaan maak het, iets van ‘n sinestetiese ervaring gehad toe sy met die goed daar aankom.

In die kombuis aangekom had Philippa ‘n probleem: tussen die botteltjies in die kas was daar aarbeigeursel, maar geen pienk of rooi voedselkleursel nie; daar was groen voedselkleursel, maar geen kruisement- of lemmetjiegeursel nie.

Die gevolg is dat ons elkeen met ‘n groot glas lime milkshake in die hand staan. Dis nou  as ons na oë luister – en sien is glo, onthou.
Maar toe ons sluk, en ons leen ons ore uit aan ons tong, toe is dit die ene aarbei.

Dit was die vreemdste ervaring, die vreemdste gewaarwording. Philippa het niks vooraf gesê nie, so ons het onverhoeds daarin getrap. Jy verwag een iets, en kry dan iets gans anders.

Jare later, sowat vyf of ses jaar gelede, had ek ‘n soortgelyke kulinêre ervaring wat my ook altyd sal bybly.

Ek kuier aan huis van Judit Tamata, ‘n Portugees-Angolese oudleerling van 1988. Self kook sy lankal nie meer nie. En as sy vir baie onthaal, kook nie een van die drie huisbediendes nie – sy kry die dienste van ‘n spysenier.

Tussen die skottels en skottels vol vleis- en toekosse op die tafel dié aand, is ‘n reuselasagne. Dis asof ek hom na my hoor roep van die oorkant van die reusetafel af. Dit lyk, op die oog af, na die lekkerste dis op die tafel – en daar was vis en hoender en twee ander wit- én nog ‘n verdere drie rooivleise op die tafel.

Daar is dit, op die oog af, toe ‘n eg-Italiaanse lasagne, maar op die tong af, gans iets anders. Dis die suiwerste vorm van sinsbedrog, soos Philippa se melkskommel: jou oog vertel jou een ding, maar jou tong en neus ‘n ander.

Dis wat die ervaring so vreemd maak, daar sal mense wees wat doktorsgrade daaroor doen. As jy in die lasagne in byt en iets heeltemal anders kry, dan weet jy nie dadelik wat jy kry nie. Dis asof jou oë jou so oortuig het dat dit lasagne gaan wees, is, móét wees, dat jou brein nie die ander sintuie wil laat inskop om jou te vertel wat dit is wat jy toe op die ou einde proe en ruik nie.

Soos met Philippa se melkskommel, het dit my ‘n hele ruk geneem om te snap presies wat die heerlike dis is wat ek eet, wat ek ruik en proe. En wat ‘n deurkruisde, byna kosmopolitaanse, ervaring was dit nie: tussen ‘n stuk of dertig swart Angolese vlugtelinge uit die sewentigerjare van die vorige eeu, eet ek toe nié Angolees-Portugese hoender nie, ook nie, soos ek vermoed het, Italiaanse lasagne nie, maar iets wat proe soos Kaaps-Maleise bobotie.

En as ek sê Kaaps-Maleis, dan bedoel ek so Kaaps-Maleis as wat Kaaps-Maleis vandag kan kom. Ek het die spysenier ontmoet toe ek en Annieka so bobotie-lasgane-dis vir Annieka se verjaarsdag bestel het – die vrou was toe nog nie ‘n jaar in Pretoria vanaf Kaapstad nie, en of sy ‘n Kaapse Moslem is, sal ek nie kan sê nie, maar dat haar wortels enige dag in die Bo-Kaap kan lê, is ‘n feit.

Twee keer aan huis van Judit, het ek dit geniet, en een keer hier by ons met die verjaarsdag, maar nie weer nie. Die smaak en die geur en die lekkerte van die ervaring, bly my egter by. Soos (vandag ook al “oorléde”-) Philippa”, se melkskommel van destyds.


1.9.14

Klaars verjaar (2)

ʼn Jaarlikse hoogtepunt, naas Klaradyn se verjaarsdag,  was altyd haar verjaarsdagpartytjie. Dis nou van die eerste een op kleuterskool (waarvoor ek jaarliks ʼn dag verlof geneem het), tot die laaste een op kleuterskool (waarvoor ek steeds ʼn dag verlof geneem het). Naas die klaspartytjies, ook die huispartytjies in die tuin.

Maar ook net tot op ʼn punt, want toe kom die jaar dat hulle skielik nie meer speletjies wil speel en allerhande gestruktureerde aktiwiteite wil doen nie – ons is mos nou in graad O. Nou is dit ongestruktureerde vryspel, en die een moppie speel pop, die ander wegbreekgroep slaan ʼn gans ander rigting in, dít terwyl daar nog twee splinterfaksies op drie verskillende plekke in die huis en tuin gevaar loop om ongekontroleerde kwaad aan te vang.

Dit was ook die einde van huispartytjies met lekker baie maatjies.

Toe is dit telkens een of twee of drie (hoogstens vier) maatjies wat iewersheen gaan – een of ander dieretuin, of soos verlede jaar, die Wieg van die Mensdom en sy nabygeleë grotte.

Ons geniet haar partytjies en uitstappies. Hoeka Robin Williams wat gesê het: “Spring is nature’s way of saying ‘let’s party’”. En Klaradyn verjaar 30 Augustus. In die Moolman-huisgesin vier ons Lentedag, gevolglik nou al vir 10 jaar lank, elke jaar, twee dae voor die res van die land. En as daar ʼn partytjie kan wees, is dit nóg beter.

Om en by 30 dae later, 30 September, op die heel laatste, begin moeder en dogter dan geselsies aanknoop oor die volgende jaar se verjaarsdag. En dan psyche hulle mekaar oor maande heen, heen en weer op. Te aardig!

Einde Julie, 10 maande later, sluit ek eventueel by hulle aan.

Vanjaar, teen daardie tyd, was ʼn aandbesoek aan die dieretuin reeds bespreek, dis nou (oudergewoonte sedert daardie gewraakte kinderpartytjie met die baie vryspel waar al wat Pappa moes doen, was om die worsies te braai) vir sussie en drie of vier maatjies. Niks groot nie. Klein en intiem.

Maar toe reken Sussie sy kry nog ʼn syfertjie by, die een-syfer -9 word mos nou ʼn twee-syfer -10. En dis ʼn mooi afgeronde, ronde getal – dit verdien kwansuis, aldus mej. Moolman, ʼn groter partytjie soos van ouds.

En daar begin die twee vrouens se gesels van vooraf.

Met die dat ek die begin van die jaar al twee boksies met feitekaarte rondom tuiseksperimente van wetenskaplike aard gekoop het, met die dat ons al vir haar ʼn boek met wetenskapeksperimente (seker eerder demonstrasies, as jy vakkundig korrek wil wees) en met die dat ek self nog ʼn eksperimentboek uit my kinderdae het, word dit toe ʼn wetenskaplaboratorium-partytjie.

Ek maak ander voorstelle, Mamma maak ander voorstelle, maar Klaradyn se hart staan met ʼn punt wetenskapeksperimente toe.

En 10 maatjies word 11, word 12, word 13, word 14.

Die laboratorium sal lank nie meer die lapa kan wees nie en word ʼn regte laboratorium, weliswaar nie by die WNNR nie, maar by een van die mees gerekende opvoedkundige instansies in die land – die skool waar Mamma en Pappa werk.




Die enigste met rede tot kommer is Tannie Esme wat jaar een aangebied het om vir die verjaarsdagkoek ma te staan. Hier trek ons al by jaar tien en haar volle oorgawe het nog nie end bereik nie.

Maar watse koek skaf sy aan?

Gedagtig aan die immergewilde vulkaan wat koeksoda, voedselkleursel en asyn oplewer, besluit ons op ʼn vulkaan-koek.

Vulkane kan die tema van die partytjie wees – daar is die koeksoda-vulkaan, die lawa van olie, water, voedselkleursel met bruistablette of sout in ʼn bottel én die een of ander groot woord wat ek raak google. Dis ʼn verbinding van goeterstes op die periodieke tabel wat lieflik ontbrand en 7 keer in volume toeneem terwyl dit  ontbrand – pak jy dit in ʼn hopie en jy steek dit aan die brand, lyk dit kompleet nes ʼn brandende vulkaan.

Té lieflik op youtube.

En R700-00 in die praktyk. Toe ek uiteindelik ʼn verskaffer opspoor wat 500 gram al die pad van Johannesburg voor my deur sal kom aflaai.

Dit was óf dit, óf 2 gram teen R28-00 van ʼn laboratorium wat hom toespits op kinderpartytjies. Nodeloos om te sê dat ons vir laasgenoemde geval het.

Met alles in plek lyk die vulkaniese koek toe glo so lelik soos die nag en Tannie Esme besluit op ʼn vuurpylkoek wat sy by die seuntjieskant van die katalogus opspoor. Die vriendelike banketbakster beloof egter om ons vuurpyl nie in skakerings van die gebruiklike blou te versier nie, maar dit in ʼn dogtertjievriendelike pienk of rooi aan te bied.







Toe swaai ons maar bloot die partytjie in ʼn vuurpyl-wentelbaan in – te heerlik, met die hoogtepunt die bou van elkeen se eie waterbottelvuurpyl wat op die rugbyveld lanseer word.

Jy prakseer ʼn vuurpyl uit twee koeldrankbottels, plak vier stertvinne vas, vul die een bottel met water en kry ʼn groot en sterk man soos Pappa om die bottel met ʼn fietspomp vol lug te pomp, en siedaar – die rocket vuur soos ʼn wafferse spoetnik deur die lug.

Die geneuk is net, daar is 14 maatjies, 14 vuurpyle, genoeg water en opwinding dat elke maatjie agt keer wil sien hoe jaag Pappa sy of haar rocket die lug in. En Pappa ís groot en sterk, maar té groot, eintlik sommer dik, onfiks en én self op die vooraand van 50 (waarvan hy goed 20 omgerook het).

Dankie tog vir Peetpappas soos Oom Erik. Toe ek nie meer ʼn krieseltjie gô in my oor het nie, en die maatjies nog stringe by die kraan staan om hul bottels te hervul, roep ek Klaradyn baie floutjies nader:  “Gaan roep vir Oom Erik en sê hy moet kom kyk hoe lekker skiet ons die vuurpyle af.”

Oom Erik is besig om met oobleck te eksperimenteer. Hierdie mengsel van mielieblom en water wat een van Newton se natuurwette op sy kop keer, reageer asembenemend op klankgolwe.

Maar dan moet dit die regte klankgolwe teen die regte desibels, saam met die regte verhouding mielieblom teenoor water wees.

Ek en Klaradyn het al die hele week lank omtrent drie bokse mazeina opgeoefen, sonder veel sukses. Die bure wil al teen die mure uitklim as ons die klank elke aand teen sonsaktyd tot die maksimum oopdraai en na musiek wat as bass hunter bekend staan, luister.

En hier is dit al die partytjie en ons kry dit steeds nie 100% reg nie – Oom Erik moet oulaas gou probeer terwyl ons vuurpyle afvuur.

Dis nou tot ek hom laat roep om die skoene van peetvader nog voller te staan agter ʼn fietspomp.

Maar dit maak nie saak nie – alles is een groot vet lekkerte.

Chronologies, onthou ek ʼn dag later nog reg, het dit soos volg verloop:

Ons maak hopballtejies deur eetlepelsvol van die een of ander kristal by water uit te bring.





Boraks en iets anders sorg vir ʼn slymerige goo – waarvan die een  kind sʼn op pad terug in Mamma se kar uitloop.








Ons oefen om balletjies met strootjies in die lug te hou.





Ons steek sosatiestokkies deur ballonne sonder dat die ballonne bars. (Glo my, vir elke een wat nie gebars het nie, was daar ʼn stuk of twaalf wat wel gebars het!)





Ons bou ons eie lawalampies – eers met sout, en toe met bruistablette.








Ons skep olifanttandepasta met peroksied, kitsgis, voedselkleursel en skottelgoedseep en ʼn grypie vasbyt en geluk. Ek was letterlik by sewe apteke voor ek 40-volume peroksied, en ook net een botteltjie, kon raakloop. Swakker volumes kry jy oral, en dit werk, by die huis (as en Klaradyn vooraf oefen). Maar daar, voor die maatjies, doen die eerste bottel so te sê niks. Ek wou met die 20-volume begin, oorgaan na 30 en afeindig met die enkel botteltjie 40.

Maar toe die 20-volume nie eers een kind sy oog laat knip nie (nadat dit ons die vorige aand in vervoering had), raak ek desperaat en spring dadelik na die 40-volume. Voila – ʼn reusesukses.






Ons meng elkeen sy eie bakkie oobleck wat soos ʼn vastestof reageer as jy dit slaan, maar soos ʼn vloeistof as jy sagkens daarmee omgaan.

Ons steek die chemiese iets op die periodieke tabel aan die brand.

Ons doen wonderlike dinge met ʼn bord vol melk, druppels voedselkleursel en skottelgoedseep.







Daar is ʼn wetenskaplike verklaring vir alles, maar daarby kom ek nie uit nie. Dis trouens al lankal duidelik dat ons nie by alles wat ons beplan het, gaan uitkom nie. 7 eksperimente (of dan nou demonstrasies) moet oorstaan vir ʼn volgende keer. Ek jok, 10.

3 van die 10, na ek daarvoor gekoop en beplan het, het ons al die Donderdagaand afgeskryf, nog voor ons begin het – dit was te moeilik om aan die gang te kry.

Ek verwys hier na drie karre – die een ry met rekke, die ander met ʼn muisvalletjie en die laaste met lug. Ons sou resies jaag. Dit sal nou maar vakansiepret word. As dit nie Oktobervakansie is nie, dan Desembervakansie.

Ons het nog tyd om te sien hoe dans die oobleck op klankgolwe...

... en om elkeen ʼn skreeuende ballon te maak.

Toe is dit huistoegaantyd – vir die maatjies, én Mamma wat vier maatjies moet gaan aflaai.

Pappa bly agter om ʼn wetenskapklas wat amper lyk soos ses dae voor die skepping (net so woes, trouens woester, maar nie so leeg nie) lyk, op te ruim.

Maar ek gee nie om nie.

Mamma, geseënde vrou wat sy is, het vorentoe gedink en een van die skool se werkers gevra om 14:00 te kom help.

Ons ís weliswaar eers 16:00 klaar opgeruim.

Maar ek gee nie om nie.

Dit was een vet lekkerte.

In ʼn stadium het die kamera se e-skyf vol geraak en het Mamma ophou foto’s neem. Dit met die rekenaar in die klas waarop ons  alles kon aflaai – dit het net só dol  en lekker gegaan dat ons nie een daaraan of so ver gedink het nie.

Maar selfs dit maak nie saak nie.

Dit was een groot vet lekkerte in hoogste versnelling en oortreffende trap wat én Mamma, én Pappa én Klaars nog lank met ons sal saamdra.