Pages

1.9.14

Klaars verjaar (2)

ʼn Jaarlikse hoogtepunt, naas Klaradyn se verjaarsdag,  was altyd haar verjaarsdagpartytjie. Dis nou van die eerste een op kleuterskool (waarvoor ek jaarliks ʼn dag verlof geneem het), tot die laaste een op kleuterskool (waarvoor ek steeds ʼn dag verlof geneem het). Naas die klaspartytjies, ook die huispartytjies in die tuin.

Maar ook net tot op ʼn punt, want toe kom die jaar dat hulle skielik nie meer speletjies wil speel en allerhande gestruktureerde aktiwiteite wil doen nie – ons is mos nou in graad O. Nou is dit ongestruktureerde vryspel, en die een moppie speel pop, die ander wegbreekgroep slaan ʼn gans ander rigting in, dít terwyl daar nog twee splinterfaksies op drie verskillende plekke in die huis en tuin gevaar loop om ongekontroleerde kwaad aan te vang.

Dit was ook die einde van huispartytjies met lekker baie maatjies.

Toe is dit telkens een of twee of drie (hoogstens vier) maatjies wat iewersheen gaan – een of ander dieretuin, of soos verlede jaar, die Wieg van die Mensdom en sy nabygeleë grotte.

Ons geniet haar partytjies en uitstappies. Hoeka Robin Williams wat gesê het: “Spring is nature’s way of saying ‘let’s party’”. En Klaradyn verjaar 30 Augustus. In die Moolman-huisgesin vier ons Lentedag, gevolglik nou al vir 10 jaar lank, elke jaar, twee dae voor die res van die land. En as daar ʼn partytjie kan wees, is dit nóg beter.

Om en by 30 dae later, 30 September, op die heel laatste, begin moeder en dogter dan geselsies aanknoop oor die volgende jaar se verjaarsdag. En dan psyche hulle mekaar oor maande heen, heen en weer op. Te aardig!

Einde Julie, 10 maande later, sluit ek eventueel by hulle aan.

Vanjaar, teen daardie tyd, was ʼn aandbesoek aan die dieretuin reeds bespreek, dis nou (oudergewoonte sedert daardie gewraakte kinderpartytjie met die baie vryspel waar al wat Pappa moes doen, was om die worsies te braai) vir sussie en drie of vier maatjies. Niks groot nie. Klein en intiem.

Maar toe reken Sussie sy kry nog ʼn syfertjie by, die een-syfer -9 word mos nou ʼn twee-syfer -10. En dis ʼn mooi afgeronde, ronde getal – dit verdien kwansuis, aldus mej. Moolman, ʼn groter partytjie soos van ouds.

En daar begin die twee vrouens se gesels van vooraf.

Met die dat ek die begin van die jaar al twee boksies met feitekaarte rondom tuiseksperimente van wetenskaplike aard gekoop het, met die dat ons al vir haar ʼn boek met wetenskapeksperimente (seker eerder demonstrasies, as jy vakkundig korrek wil wees) en met die dat ek self nog ʼn eksperimentboek uit my kinderdae het, word dit toe ʼn wetenskaplaboratorium-partytjie.

Ek maak ander voorstelle, Mamma maak ander voorstelle, maar Klaradyn se hart staan met ʼn punt wetenskapeksperimente toe.

En 10 maatjies word 11, word 12, word 13, word 14.

Die laboratorium sal lank nie meer die lapa kan wees nie en word ʼn regte laboratorium, weliswaar nie by die WNNR nie, maar by een van die mees gerekende opvoedkundige instansies in die land – die skool waar Mamma en Pappa werk.




Die enigste met rede tot kommer is Tannie Esme wat jaar een aangebied het om vir die verjaarsdagkoek ma te staan. Hier trek ons al by jaar tien en haar volle oorgawe het nog nie end bereik nie.

Maar watse koek skaf sy aan?

Gedagtig aan die immergewilde vulkaan wat koeksoda, voedselkleursel en asyn oplewer, besluit ons op ʼn vulkaan-koek.

Vulkane kan die tema van die partytjie wees – daar is die koeksoda-vulkaan, die lawa van olie, water, voedselkleursel met bruistablette of sout in ʼn bottel én die een of ander groot woord wat ek raak google. Dis ʼn verbinding van goeterstes op die periodieke tabel wat lieflik ontbrand en 7 keer in volume toeneem terwyl dit  ontbrand – pak jy dit in ʼn hopie en jy steek dit aan die brand, lyk dit kompleet nes ʼn brandende vulkaan.

Té lieflik op youtube.

En R700-00 in die praktyk. Toe ek uiteindelik ʼn verskaffer opspoor wat 500 gram al die pad van Johannesburg voor my deur sal kom aflaai.

Dit was óf dit, óf 2 gram teen R28-00 van ʼn laboratorium wat hom toespits op kinderpartytjies. Nodeloos om te sê dat ons vir laasgenoemde geval het.

Met alles in plek lyk die vulkaniese koek toe glo so lelik soos die nag en Tannie Esme besluit op ʼn vuurpylkoek wat sy by die seuntjieskant van die katalogus opspoor. Die vriendelike banketbakster beloof egter om ons vuurpyl nie in skakerings van die gebruiklike blou te versier nie, maar dit in ʼn dogtertjievriendelike pienk of rooi aan te bied.







Toe swaai ons maar bloot die partytjie in ʼn vuurpyl-wentelbaan in – te heerlik, met die hoogtepunt die bou van elkeen se eie waterbottelvuurpyl wat op die rugbyveld lanseer word.

Jy prakseer ʼn vuurpyl uit twee koeldrankbottels, plak vier stertvinne vas, vul die een bottel met water en kry ʼn groot en sterk man soos Pappa om die bottel met ʼn fietspomp vol lug te pomp, en siedaar – die rocket vuur soos ʼn wafferse spoetnik deur die lug.

Die geneuk is net, daar is 14 maatjies, 14 vuurpyle, genoeg water en opwinding dat elke maatjie agt keer wil sien hoe jaag Pappa sy of haar rocket die lug in. En Pappa ís groot en sterk, maar té groot, eintlik sommer dik, onfiks en én self op die vooraand van 50 (waarvan hy goed 20 omgerook het).

Dankie tog vir Peetpappas soos Oom Erik. Toe ek nie meer ʼn krieseltjie gô in my oor het nie, en die maatjies nog stringe by die kraan staan om hul bottels te hervul, roep ek Klaradyn baie floutjies nader:  “Gaan roep vir Oom Erik en sê hy moet kom kyk hoe lekker skiet ons die vuurpyle af.”

Oom Erik is besig om met oobleck te eksperimenteer. Hierdie mengsel van mielieblom en water wat een van Newton se natuurwette op sy kop keer, reageer asembenemend op klankgolwe.

Maar dan moet dit die regte klankgolwe teen die regte desibels, saam met die regte verhouding mielieblom teenoor water wees.

Ek en Klaradyn het al die hele week lank omtrent drie bokse mazeina opgeoefen, sonder veel sukses. Die bure wil al teen die mure uitklim as ons die klank elke aand teen sonsaktyd tot die maksimum oopdraai en na musiek wat as bass hunter bekend staan, luister.

En hier is dit al die partytjie en ons kry dit steeds nie 100% reg nie – Oom Erik moet oulaas gou probeer terwyl ons vuurpyle afvuur.

Dis nou tot ek hom laat roep om die skoene van peetvader nog voller te staan agter ʼn fietspomp.

Maar dit maak nie saak nie – alles is een groot vet lekkerte.

Chronologies, onthou ek ʼn dag later nog reg, het dit soos volg verloop:

Ons maak hopballtejies deur eetlepelsvol van die een of ander kristal by water uit te bring.





Boraks en iets anders sorg vir ʼn slymerige goo – waarvan die een  kind sʼn op pad terug in Mamma se kar uitloop.








Ons oefen om balletjies met strootjies in die lug te hou.





Ons steek sosatiestokkies deur ballonne sonder dat die ballonne bars. (Glo my, vir elke een wat nie gebars het nie, was daar ʼn stuk of twaalf wat wel gebars het!)





Ons bou ons eie lawalampies – eers met sout, en toe met bruistablette.








Ons skep olifanttandepasta met peroksied, kitsgis, voedselkleursel en skottelgoedseep en ʼn grypie vasbyt en geluk. Ek was letterlik by sewe apteke voor ek 40-volume peroksied, en ook net een botteltjie, kon raakloop. Swakker volumes kry jy oral, en dit werk, by die huis (as en Klaradyn vooraf oefen). Maar daar, voor die maatjies, doen die eerste bottel so te sê niks. Ek wou met die 20-volume begin, oorgaan na 30 en afeindig met die enkel botteltjie 40.

Maar toe die 20-volume nie eers een kind sy oog laat knip nie (nadat dit ons die vorige aand in vervoering had), raak ek desperaat en spring dadelik na die 40-volume. Voila – ʼn reusesukses.






Ons meng elkeen sy eie bakkie oobleck wat soos ʼn vastestof reageer as jy dit slaan, maar soos ʼn vloeistof as jy sagkens daarmee omgaan.

Ons steek die chemiese iets op die periodieke tabel aan die brand.

Ons doen wonderlike dinge met ʼn bord vol melk, druppels voedselkleursel en skottelgoedseep.







Daar is ʼn wetenskaplike verklaring vir alles, maar daarby kom ek nie uit nie. Dis trouens al lankal duidelik dat ons nie by alles wat ons beplan het, gaan uitkom nie. 7 eksperimente (of dan nou demonstrasies) moet oorstaan vir ʼn volgende keer. Ek jok, 10.

3 van die 10, na ek daarvoor gekoop en beplan het, het ons al die Donderdagaand afgeskryf, nog voor ons begin het – dit was te moeilik om aan die gang te kry.

Ek verwys hier na drie karre – die een ry met rekke, die ander met ʼn muisvalletjie en die laaste met lug. Ons sou resies jaag. Dit sal nou maar vakansiepret word. As dit nie Oktobervakansie is nie, dan Desembervakansie.

Ons het nog tyd om te sien hoe dans die oobleck op klankgolwe...

... en om elkeen ʼn skreeuende ballon te maak.

Toe is dit huistoegaantyd – vir die maatjies, én Mamma wat vier maatjies moet gaan aflaai.

Pappa bly agter om ʼn wetenskapklas wat amper lyk soos ses dae voor die skepping (net so woes, trouens woester, maar nie so leeg nie) lyk, op te ruim.

Maar ek gee nie om nie.

Mamma, geseënde vrou wat sy is, het vorentoe gedink en een van die skool se werkers gevra om 14:00 te kom help.

Ons ís weliswaar eers 16:00 klaar opgeruim.

Maar ek gee nie om nie.

Dit was een vet lekkerte.

In ʼn stadium het die kamera se e-skyf vol geraak en het Mamma ophou foto’s neem. Dit met die rekenaar in die klas waarop ons  alles kon aflaai – dit het net só dol  en lekker gegaan dat ons nie een daaraan of so ver gedink het nie.

Maar selfs dit maak nie saak nie.

Dit was een groot vet lekkerte in hoogste versnelling en oortreffende trap wat én Mamma, én Pappa én Klaars nog lank met ons sal saamdra.





No comments: