Pages

21.9.14

Kulinêre sinsbedrog (2)

Toe ek en ‘n kollega in drie minute moet besluit wat ons vir ‘n vriendin se verjaarsdagete by die skool gaan maak, toe praat ek my mond verby en sê dat ek ‘n bobotie-lasgane sal maak. So asóf ek dit al gemaak het, so asóf dit ‘n ou treffer uit my hand is.

Toe ek Woensdag op hom afstap en hom meedeel dat ons ete van Vrydag nie gaan werk nie – omdat die prefekte pouse vir die personeel ‘n ete gee, kry ek die antwoord: “Maar ons ete is nie Vrydag nie, Hans, dis more!”

Ons praat hier van “more”, soos in “die volgende dag”, binne 24 uur; teen hierdie tyd more, het ons al klaar geëet, het ons al vergeet ons het geëet.

Omdat ek Vrydag vir ons tafel van 13 kos moes vat én Annieka vir haar tafel vertel het dat sy Vrydag vir hulle tafel iets te ete sal vat, het ek, genadiglik, Woensdagoggend toe ons uit is skool toe, gou die vleis in die prutpot gesit.

Eintlik wou ek vroeg opstaan en dit doen, maar toe vergeet ek. Slegs omdat ek nie die tandepasteproppie laat val het en daarom laat vir skool sou wees nie, het ek toe die tyd om die vleis solank aan die gang te kry terwyl Annieka en Klaradyn aanstap kar toe dat ons kan ry.

As die Italianers ‘n Bolognese sous maak, dan is hy ‘n minimum van drie ure op die hitte, en ek wil nie sommer pasta & mince maak nie, ek wil ‘n propperse lasagne maak – my Bolognese-sous moet bloot Bobotiesous word. Die sous sal egter steeds daaraan moet herinner dat sy oerwortels op die stadige koolstoofplate van Bologne vorm gekry het.

Maar dis al wat ek gedoen het, ek het nie eers tyd gehad om gebraaide uie en knoffel in te sit nie. Ek het die maalvleis, kerriekruie en –speserye, appelkooskonfyt en ‘n grypie water in die pot gefoeter en uitgehol kar toe waar Annieka en Klaradyn al gewag het. Ek is so haastig daar uit, ek moes nog terughol om te kyk of ek in my haas wel onthou het om die pot aan te skakel.

Wat meer is, ons is met een kar by die skool en na skool moet Annieka vir die vriendin ‘n present kry terwyl ek in aller yl lasagne-velle en wat ek ook al dink ek nog nodig gaan kry, moet gaan koop.

Maar dis nog níks – Klaradyn (én Mamma en Pappa) moet 17:30 by Klaradyn se skool wees vir die jaarlikse koffiehuis-/verskeidenheidskonsert.

Ons stap 15:30 in die huis in en ek begin kos maak – al wat in plek is, danksy die prutpot, is die maalvleissous se tekstuur en die helfte van die kleur en geur.

Maar 17:30 toe klim ons in die kar, die lasagne/bobotie het kleefplastiek om en wag om oond toe te gaan sodra ons terug is.

Soos alle laerskoolaande word dit ‘n lang aand. As ek geweet het dat daar ‘n pouse is, en dat Klaradyn tweede na pouse aan die beurt kom, het ek by die huis gebly en kos gemaak en gewag vir Annieka om my pouse te bel. Maar hoe sal ek dit nou weet.

Na Klaradyn se item skiet ek toe deur huis toe. Daar sit ek toe en kyk vir die oond terwyl hy warm word. Die oomblik toe die liggie afgaan, om aan te dui dat die regte temperatuur bereik is, toe prop ek die twee bakke in die oond en jaag deur laerskool toe, terug na die girls toe.

39 minute later stap ek met die twee in die kombuis in en ek draai die oond af – rou kan die kos waaragtig nie meer wees nie, en as dit dan nou te lank in die oond was, is dit klaar te laat en kan ek onder die son niks meer daaraan doen nie. Ek gaan slaap en los die kombuis wat herinner aan tien dae voor die skepping, nie so leeg nie, maar so woes.

Of die outjies dit aan tafel as ‘n sinestetiese ervaring sou beskryf, betwyfel ek. Vir die meeste mense is dit straks maar net “so ‘n lasagne wat Hans gemaak het”, of, erger nog – “pasta en mince”! Maar dan darem ‘n “baie lekker” pasta en mince, lei ook geen twyfel nie.

Enige iemand wat van bobotie hou, sal daarvan ook hou. Probeer gerus. Hou net weg van die in-melk-gedoopte-witbrood, jy wil geen vog deur iets anders as die droë lasgane-velle laat absorbeer nie.

Ek het in my soektog na ‘n resep nie minder nie as drie verwysings na so iets op die internet opgespoor, selfs iemand wat dit êrens as bruilofsmaal gehad het – met foto’s nogal – maar nergens ‘n resep nie.

Maar ja, die mog-het-troffe bobotie-lasagne/lasagne-bobotie hét goed afgegaan. Ek sal dit met vrymoedigheid weer, en hopelik met minder haas en kortpaaie, berei.

Maar nee, daar is nie ‘n resep met hoeveelhede en mates nie. Ek moes sien-kom-klaar met wat ek in daardie twee ure in die huis, of pas aangekoop, had.

Jy het nodig vir die vleissous:

·         Ongeveer 1 kg maalvleis (bobotie is streng gesproke net bobotie as dit van skaapvleis gemaak word, maar deesdae is dit net ek, Leipoldt en Peter Veldsman wat nog só oor bobotie voel)
·         1 of 2 uie
·         ½ knoffel (dis ‘n ½ bol knoffel, nie ½ knoffelvlokkie nie)
·         ½ pakkie van Woolworths se Cape Malay Curry Spice (dis so pienk boksie – die lekkerste)
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gekapte/gebreekte/gevlokte amandels
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol rosyne/korente
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gesnyde droë appelkose
·         Lekker baie, jy moet dink dis te veel en dan is dit eintlik nog maar skaars genoeg, vars gekapte koljanderblare – lag-lag drie of vier van die pakkies wat Woolies of P&P verkoop.
·         ½ kleinerige blikkie appelkooskonfyt (ek was gelukkig, ek het die laaste van my eie tuisgemaakte kooksel gehad)
·         ‘n paar suurlemoen en/of ‘n paar lourierblare

Braai die opgesnyde ui in botter of olie, gooi die kerriepoeier by en braai, gooi die fyngemaakte knoffel by en wees versigtig dat dit nie brand nie – knoffel brand gou.

Kry die vleis by en braai tot bruin. Voeg dan die appelkooskonfyt en vloeistof by en prut vir drie ure. Jy kan die drie ure seker maar oorslaan. Ek wou wyn vir die vloeistof gebruik, maar die Maleiers gebruik nie alkohol nie. As jy nie ‘n puris wil wees nie, kan jy gerus wyn gebruik. Jy moet basies nou met jou vleissous regkry wat tamatie aan ‘n rasegte Bolognese-sous sou doen. Of sommer net curry mince maak – dis net so lekker. Ek had ‘n blik klappermelk in die kas, en het dit bygevoeg – ek is spyt ek had nie twee nie, want dan het ek twee gebruik. Liqi-fruit-sap sal net so lekker werk – appelkoos miskien.

Dan kry jy die rosyne en appelkose by, ook die amandels. Proe en gooi geurmiddels by tot dit vir jou lekker genoeg is. (Ek het nog kerrie én nog appelkooskonfyt bygevoeg en Annieka elke keer geroep om te kom oordeel.)

Vir die béchamel-sous het jy nodig:

·         500ml natuurlike jogurt
·         500ml melk
·         blikkie klappermelk (ek het myne in die vleis gegooi, maar dit sal hier ook lekker wees)
·         8 eetlepels botter
·         8 eetlepels meel
·         koppie of meer klapper
·         1 ui in ringe gesny
·         2 of 3 knoffelhuisies
·         lourierblaar of wat
·         grypie borrie

Jy verhit die melk met die ui, knoffel, lourierblaar en borrie in ‘n pot. Moenie haastig wees nie, die geurmiddels moet die melk kan geur want later haal jy dit uit. (Ek moes kortpad vat, ‘n heerlike kortpad – omdat daar nie tyd was nie, het ek my ui en knoffel versap, nie in ‘n blender nie, in ‘n regte egte versapper wat heldere sap aan die kant oplewer en verpulpte groenteweefsel aan die ander. Die sap het ek by die melk gegooi en die pulp in die vleis)

Dan smelt jy die botter in ‘n pan. As die botter gesmelt is, haal jy die pan van die hitte af en roer die meel by sonder om klonte te maak. (Ek is ‘n man – dit het my tien jaar gevat voor ek so ver kon kom om nié klonte te maak nie – hou maar ‘n elektriese whisk of hand-blendertjie byderhand).

Kry jou roux terug op die hitte en gooi die gegeurde melk by. As dit lekker dik is, gooi die jogurt by. En die klapper. Geur met sout en peper. (Ek het appelkooskonfyt ook bygevoeg, maar miskien was dit slegs nodig omdat die uie-en knoffelsap te potent was, ek weet nie.)

Sorg dat jy genoeg pastavelle het vir minstens 3 lae pasta. 4 lae pasta is ook reg.

·         Verdeel jou vleissous in twee (as jy drie lae pasta gebruik), verdeel dit in drie as jy vier lae pasta gebruik.
·         Skep ‘n derde van jou witsous af en gaan steek dit in ‘n ander vertrek weg.
·         Neem nou so vier eetlepels witsous en smeer die bodem van jou bak.
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         (moontlike lagie vleissous, koljanderblare, witsous en pasta)
·         Die witsous wat jy in die ander vertrek gaan wegsteek het, kom nou heel bo.

Ek hou nie van die gedagte aan kaas saam met bobotie nie, maar ‘n dun lagie kaas lyk mooi as dit 40 minute later bruin gebak uit ‘n 180 grade oond kom.

Bedien saam met ‘n slaai (of twee of drie sambals van jou keuse – as jy dit Kaaps en Maleis wil hou).

Hier is die Duitse weergawe. Sonder mates en gewigte. Maar vir my het dit baie gehelp. Al het ek net in standerd 6 Duits as vak gehad (en elke oomblik daarvan gehaat).







No comments: