Pages

24.9.14

Erfeniskos vir erfenisdag

Ek het so lank hierna gesoek, dat ek dit vandag aan die groot klok wil hang. 

En waar wil jy nou ‘n beter dag as juis Erfenisdag kry om so iets te kan doen. 

Straks is daar ergens iemand anders wat ook daarna hunker en kom hierdie na aan dit wat jy soek of onthou.

Ek het so vyf of ses jaar gelede gedink ek het dit gekry. Dit was in die doktor se spreekkamer. Die man het twee van die goed en terwyl hy in die een besig is, maak sy ontvangsdame jou solank sit in die ander. En dan is daar vier of so tydskrifte in ‘n amperse waaier uitgepak vir jou om in te blaai.

Ek reik natuurlik altyd eerste na die buitelewe maar dit vat nooit lank nie of ek kwyl soos ‘n hond met met my neus en oë in die vrouetydskrif se kosafdeling.

Ek het seker al vier resepte van die einste dokter by die huis aangebring, en ek sal die een waarna ek hier bo verwys het, ook deel – maar dit was nie die een nie, nie vir my nie.

Toe spoor ek die lui huisvrou van die laat jare sewentig se imitasie (laasgenoemde woord in hierdie geval ‘n gepaster woordkeuse as namaaksel) op. 

Ek het dit egter een kyk gegee en geweet dis nie die real makhoya nie. Ek het dit nietemin maar afgeskryf en in dieselfde boek kom neerskryf waar ek die een uit die spreekkamer oorgedra het.

En toe kry ek vroeër vanjaar die resep wat my so lank ontwyk het by my beste skoolvriend sedert ek in standerd 1 in sy ma se klas beland het. In sy ma, Tannie Marthie, se eige handskrif.

Ek het toevallig gister van haar vertel Sy was een van my ander mammas; hy die maatjie wie se huis nou onherkenbaar in ‘n kleuterskool verander is. 

Suiwer op grond van ‘n boom in die agterplaas dat ek die regte erf kon eien. 

Die huise links en regs het net so verander – in die hele blok van Launcestonstraat waar hulle destyds gebly het, het ek miskien twee huise vaagweg herken.

Toevallig ook die maatjie saam met wie ek twee bome geplant het waaraan ek die verskil wat ek op aarde teweeg gebring het, meet.

Omdat ek weet dat hy so lief vir die imitasie was en dit gereeld in hulle huis gemaak het, bel ek hom 'n ruk terug en vra of hy nie die oorspronklike het nie. Toe die twee gesinne weer saamkuier, toe kom hy met hy met sy ma se kookboek, die een wat sy in haar eie hand sedert skooldogterdae bygehou het, hier aan.

En ek weet sommer, net by die kyk en lees, dat die resep wat hy voor my neus indruk, die een is waarna ek soek, jare nou al.

Toe my generasie (en ons almal klok nou die een na die ander op 50 in) klein was, baie klein, het jy by die ou mense ‘n slaaisous oor ertappelslaai gekry wat aan soet mosterd herinner het.

Later van tyd, in die sewentigerjare, het die vrouens kortpad begin vat met kondensmelk en mosterd.

En deesdae, as jy gelukkig is, spoor jy nog iets daarvan op as iemand vir die snaaksigheid iets wat daaraan herinner by die gekoopte mayonnaise voeg. (Dis nou ás jy gelukkig genoeg is om nie ‘n gekoopte Woollies-ertappelslaai voorgesit te kry nie.)

Maar ek het na die oer-oorspronklike gesoek, die een wat my oorlede ouma (en tien teen een haar oumagrootjie) nog gemaak het.

Toe ek vroeër vanandeesmaand 50 strike en ons voorberei vir die tradisionele Pilanesberg-verjaarsdagnaweek weg in die bos, besluit ek, deur nostalgie daartoe gedryf, om dié slaaisous in ‘n fles saam te neem.

Ek het die resep twee keer aangemaak en my fles was bietjie klein, toe beland daar ‘n lekseltjie in ‘n tupperbakkie. 

En toe ek gisteraand naarstiglik op soek na iets in die yskas gaan, wonder ek wat in dié betrokke bakkie is, toe is dit die laaste van Tannie Marthie se slaaisous wat dadelik weg vind na die halfpad klaargemaakte mengelslaai op die tafel.

Die ganse tafel smul.

In my handgeskrewe kookboek, in haar seun se eie handskrif, uit die handgeskrewe kookboek sedert haar hoërskooldae, hier dan:

Tannie Marthie se “Mayonnaise”

·         4 eiers
·         4 eetlepels suiker
·         ½ koppie water
·         ½ koppie asyn (wit)
·         1 teelepel sout
·         1 eetlepel rou uiesap
·         1 teelepel droë mostert

Metode

Klits eiers & suiker saam. Gooi water & asyn in kastrol en laat kook. Gooi die kokende water & asyn oor eier-&-suiker-mengsel terwyl jy dit vinnig roer. Gooi die mengsel dan terug in die kastrol en plaas eenkant op die stoof. Roer tot mengsel dik word en kook. (Pasop dat dit nie brand nie.) Haal van die stoof af en voeg uiesap & sout by. Los die mostert in ‘n bietjie van die vloeistof op en voeg dit by die mengsel in die kastrol. Klits goed en laat eenkant in die kastrol om af te koel. Gooi in vrugtefles en kurk toe – gebruik wanneer nodig.

Dis vir my duidelik dat hierdie resep vir ‘n koolstoof geskryf is (plaas eenkant op die stoof). Mosterd is mostert. En Tannie Marthie was ‘n onderwyseres, sy maak nie spelfoute nie, nie daardie jare se onnies nie. Sy skryf hierdie nie oor uit ‘n tydskrif nie, maar uit ‘n ouer handgeskrewe kookboek, vermoed ek. Die gebruik van”en” sowel as “&”. Daar is sprake van ‘n vrugtefles wat toe gekurk moet word.

Dís mos nou erfeniskos! Héérlike erfeniskos.

Een wat daaraan herinner (maar ek het dit nog nooit self gemaak nie) is:

·         6 eetlepels kondensmelk
·         9 eetlepels asyn
·         1 desertlepel Worcestershiresous
·         1 teelepel mosterd
·         1/8 teelepel peper

En dan is daar die een uit die spreekkamer, wat by the looks of it heerlik is:

·         125 ml room
·         15 ml suiker
·         klits tot amper styf
·         1 ml sout
·         1 ml mosterdpoeier
·         knippie peper
·         klits geleidelik 45 ml witasyn by.
·         As die asyn by is, moet die room styf wees


Van Tannie Marthie se sous, behalwe dat dit lekker is, kan ek verder getuig dat dit die gedagtes om lang en ver paaie terugneem.

No comments: