Pages

23.9.14

Iewers in September

Met uiterse selfbeheersing dat ek nie vanoggend, na ek vyf jaar gelede ophou rook het, weer vir my ʼn pakkie sigarette gekoop het nie.

Ek kon ook seker maar netsowel; ek sou dit in elk geval nie gerook het nie. Ek wou uit beginsel sommer voel hoe dit voel om ʼn pakkie sigarette in Loizoz se Kafee te koop.

Daardie jare was dit nie sommer enige Loizoz se Kafee nie, dit was Yoiti Loizoz, die Griekse Boertjie wat destyds een of twee langspeelplate die lig laat sien het, en ʼn keer of wat ook op die kassie was, wat agter die kasregister gestaan het.

Dit was ook die kafee die naaste aan my hoërskool en waarom ek wou voel hoe dit voel om daar ʼn pakkie sigarette te kan koop. Hoeveel skoolkinders, oor hoeveel jare heen, sou nie daar sigarette wou koop nie!

Baie hét seker, maargoodytwo shoe- outjies soos ek kan en kon my so iets natuurlik nie voorstel nie – nie in my wildste drome nie.

Dis nog steeds Loizoz se Kafee (net ʼn nuwe naambord) , in die Loizoz-gebou (dieselfde stokou naambordjie) maar dis duidelik dat geen Griekse Boer of ewe Griekse Boorling deesdae nog die kasregister slaan nie – ʼn Indiër dryf nou handel met die maroen skooldasse- en baadjies wat daar verbykom.

Ek was meer as ʼn uur te vroeg vir ʼn begrafnis en wanneer moet ʼn onderwyser nou tyd kry om herbesoek aan sy skool te bring? As die skool oop is, is hyself op skool; vakansies, wanneer hy wel kan inloer, is die skool gesluit.

Toe gaan meld ek myself aan. Tralies, hekke, slotte, sekuriteit en mure wat 32 jaar gelede nie daar was nie.

ʼn Adjunkhoof móét saam met my stap (asof ek ʼn agent van die een of ander terreurbeweging is) maar ten minste is hulle bereid om my te akkommodeer.

Dit was lekker en dit was goed, ek is bly ek het gegaan en sal dit ʼn verdere 32 jaar later weer wil doen. Watter voorreg sal dit nie wees nie, nie net om die skool te besoek nie, maar ook om so lank te kan leef!

Dis soos gister dat ek laas daar was, daar lê nie halwe leeftyd tussen die laaste keer dat ek daar was (om my matrieksertifikaat op te tel) en hierdie herbesoek (nie net om halo te sê nie, maar seker ook om afskeid te neem en los te kan kom) nie.

Alles het miskien verander, maar niks het verander nie. Die minste van alles, naas miskien die skool, ek.

Die dop is dieselfde dop. En wat binne gebeur het, staan my in elk geval nie aan nie.

Ek sou graag my naam op een van die ererolborde wou sien. In ons dae was daar nie so iets nie, maar kollegas wat daar matriekeindeksamenvraestelle gaan merk het, het genoem dat hulle my naam daar raakgelees het.

Dié voorreg is my helaas nie beskore nie. Die ererol het gekom en gegaan sonder dat ek dit ooit kon sien. Die name het te veel geword en die eerstes en oudstes is afgehaal om plek te maak vir die nuwe generasies.

Vir wat wil ʼn mens dan ook nou agteruit in jouself in terug loop.

Jy het niks daar verloor nie, hoor ek stemme opgaan.

En ek stem 100% saam – ek hét onder die son niks daar verloor nie.

Maar ek het so baie daar gekry! En met my daar weggeneem, en opgeneem, en op my lewenspad saamgeneem! Ek dra dit vandag nog met my saam.

Twintig jaar gelede het dit my opgeval, bring ek aan my geboortedorp besoek, hoe min die afdraaipaadjies, stop- en besoekpunte geword het.

Ek het ʼn parallel getrek met die doodgetrekte telefoonnommers in my ma se telefoonboekie. Daar is niks wat my so ontstem soos ʼn telefoonboekie met soveel deurgehaalde nommers nie, maar ook nie net nommers nie, dikwels name ook soos wat die een wat aan die ander kant antwoord, die een na die ander, die tydelike met die ewige verwissel.

Later trek jy inskrywings dood, nie omdat iemand afgesterf het nie, bloot omdat jy nie meer onthou wie dit hierdie is nie.

So is dit ook met Alberton gewees. Later was dit nog net Ma-hulle waarby die motor se neus ingetrek het. Al die ander was weg of het langs die pad sommer net weggeval.

Ek wou oulaas laerskool toe ook. Toe sien ek die klipmonument waarvoor elke kind destyds ʼn klip gebring het om in te lê, is in ʼn ondeurdagte oomblik gelykgemaak met die grond. Toe pluk ek my moer en toe ry ek verby.

Ek onthou die laerskool dan maar soos twaalf jaar gelede toe ek en Annieka, my ma en Klaradyn gereeld daar gaan stap het. Die oues het in daardie stadium naby die skool gebly en dit was vir ons ʼn lekkerte om agtermiddag deur die strate te gaan dwaal.

Tog wou ek oulaas laerskool toe ook.

Na dese sal ʼn rede om Alberton toe te foeter hom nie sommer weer voordoen nie.

Daar ís na vandag, van al die baie wat daar eens was, nie meer ʼn enkele afdraai of stop oor nie.

Selfs die historiese geboortehuis is afgebreek om plek te maak vir die een of ander nuwe ontwikkeling.

Ek wou uitry Brackenhurst toe om te kyk hoe groot is die bome wat ek en Riaan geplant het (hulle huis is nou onherkenbaar en ʼn kleuterskool). Ek meet die verskil wat ek gemaak het, nou al donkiesjare nie aan die ingrype in leerders se lewens nie, maar aan die bome wat ek geplant het. As ek ooit nodig het om te voel dat ek iets bereik het, het ek net nodig om onder een van my bome te gaan staan – dan word ek in my oë die grootste rolspeler wat die aarde nog ooit had.

Maar ek het te wyd gery, te stadig gery, te veel besoek en moes kerk toe, begrafnisdiens toe.

Met ʼn ma wat na die egskeiding nie wou dat haar seun ʼn “flat boytjie” word nie, het sy vir my tweede gesinne gekry waar ek na skool tot sesuur of half sewe saans opgeneem kon word. So had ek toe vier ander mammies en drie ander pappies waar ek my agtermiddae van standerd 3 tot matriek deurgebring het:  Tannie Marica en Oom Gustav, Tannie Marjorie-hulle, Tannie Marie en Oom Cas, en Tannie Marthie (Oom Hannes was toe al oorlede).

Tannie Marjorie en ook Tannie Marie en Oom Cas is nie meer op Alberton nie. Tannie Marthie is oorlede toe ek in die weermag was. Al wie op Alberton oorgebly het, was Tannie Marica en haar tweede man.

En toe is Tannie Marica sommer net een mooi dag oorlede.

Die laaste keer dat ek die moed had om deur my ma se telefoonboekie te blaai, was sowat ʼn jaar na haar dood.

Telefoonboeke is vir my erger as fotoalbums met vergeelde blaaie waarvan die driehoekies reeds losgekom het.

Maar ek het twee groepe mense weer opgesoek, soos destyds na my ma se dood:  John en Ian, en Tannie Marica.

Nie net die afdraaipaadjies en besoekpunte het opgedroog en doodgeloop nie, ook die telefoonnommers in die voosgevatte boekie het niks meer nie as vae brokkies onthou geword.

Behalwe John en Ian. En Marica Smook. Toe ook al vir jare nie meer Smook nie, maar Regnart. Vir Judy en haar telefoonboekies sou sy egter Smook bly tot die dag wat Tannie Marica by my haar kom kuier het en Marica vir alle praktiese doeleindes toe vir haar reeds dood was – my ma het nie geweet wie Marica is nie, ook nie wie sy was nie en wat sy vir haar en haar seun beteken het nie.

Ek bel en Tannie Marica “my kind” en “haai seun” my na al die jare steeds.

Die Russe sê ʼn mens word uiteindelik wat jy was. Ek is vandag wat ek was. Ek is vandag wat ek is, oor ek was wat ek was aan huise van Marica en Gustav Smook, die Schüllers, Oom Cas en Tannie Marie, en Tannie Marthie ook.

Ek is die Hans wat ek is, ja, maar wil dan vandag eerder stilstaan by die onderwyser wat ek is, danksy Marica Smook, die vrou wat agt jaar probeer het om my te leer orrel speel. (Daarom dat ek drie middae ʼn week soheentoe is – een middag vir les, en twee middae om te kan oefen as daar ʼn gat by een van die sewe of agt orrels in haar studio oop is.)

As skrander, hardwerkende, bogemiddelde, individualis, was ek gewoond daaraan om orals deel van die kop te wees – in bykans elke klas en groep. Behalwe LO en atletiekuitdunne en op die tennisbaan. En dan agter die orrel.

Deesdae verklaar hulle kinders iets soos dyscalculia nes hulle agterkom dat jy nie daartoe gebore in staat is om wiskundige calculations te kan doen nie. Nou, ék is nie dis-calculia of dis-calcula nie, ek is geheel en al, volslae, dis-musica.

Later jare is ek amptelik toondoof verklaar, do is vir my ʼn bok, re niks anders as ʼn sonstraal nie en me ʼn persoonlike voornaamwoord om na myself in Engels te verwys.

Maar daardie jare het Marica Smook met die grootste liefde vasgebyt as ek haar oordromme en ingebore sin vir musiek verkrag met wat ook al my vingers op die klawers aanvang (om nie te praat van my pote rondom die onderste pedale van die instrument nie). Sy het my positively reinforce en laat goed voel oor my baie stadige vordering, trouens, in retrospeksie, seker eerder “algehele gebrek aan vordering”. Nooit het hierdie agteros soos ʼn agteros gevoel nie. Sy het my trouens gekomplimenteer met wat ek vermag – denkende veral daaraan dat ek nie kan oefen wanneer ek wil oefen nie, maar net wanneer daar toevallig ʼn oop orrel is.

Oor ʼn paar jaar hou ek dertig jaar skool. In daardie dertig jaar het ek elke jaar soortgelyke Klein Hansietjies in my taalklas gehad, die agterste punt van die stert – hulle kan die kop van die taalklas nie eers sien nie.

Ek praat nie van die slegtes en die luies en die lyfwegstekers nie, ek praat van die outjies met minder aanvoeling vir taal as katte vir saffraan. Die outjies wat lag-lag dis-lingua verklaar sou kon word.

Nie altyd vir almal maklik om hierdie kinders in hul klas te hê nie, veral nie vir ʼn taalonderwyser nie – die kind sou nooit jou vak geneem het as hy ʼn keuse had nie, nou móét hy in jou klas sit.

Elke jaar as en nuwes en nog van hierdie kinders raakloop, dan gaan ek terug na my rolmodel in die onderwys wat hierdie klas van kind betref, Tannie Marica.

Dit kom trouens nou al vanself – en het in al hierdie jare nog nét goeie vrugte opgelewer.

Daarom dat dit vir my ʼn voorreg en ʼn lekkerte was om een oggend van skoolhou opsy te kan sit en begrafnis te kan hou saam met al die ander in wie se lewe sy ʼn ingryp gemaak het.

Ook nie trane wat my dryf nie, maar dank en dank en nogmaals dank.

Daarom ook miskien dat ek, nes my ma, weier om ou telefoonboekies weg te gooi. Dit bring soveel goeie herinneringe terug. Soos ʼn herbesoek aan die skoolgeboue van jou verlede.


So jammer dat selfone telefoonboekies oorbodig gemaak het. My en Annieka se twee oues, en Judy se laaste een of twee, is en bly in veilige bewaring in die laaikas langs my bed.

No comments: