Pages

9

Uit die argief:
Uncle Chappy se onderbroeke
Uncle Chappy het kanker gekry. Kanker van watter aard sal ek nie meer weet nie, dis ‘n goeie derig jaar terug en ek was maar in die omgewing van 14 jaar oud.
Dat hy wel die tydelike met die ewige verwissel het in Augustusmaand van 1978 staan my egter nog helder voor die gees.
Dit was trouens 8 Augustus 1978, as ek dit nie mis het nie.  Aunty Anne het haar teekoppie iewers laat lees hier voor sy dood en teruggekom met die boodskap dat “agt” vir haar sou onheil inhou. (Of dit nou ‘n teekoppie was, sal ek nie weet nie. Daar is destyds maar in sirkels gepraat voor kinderore, maar ek weet daar was gereeld sprake van die een of ander siener by wie my ma-hulle op meer as een geleentheid gaan kersopsteek het.)
Ek onthou ek het heel hoopvol gewonder of Uncle Chappy nie straks eers oor agt jáár vorentoe die stryd gewonne gaan gee nie, dalk agt maande as ons dan nou spoke móét opjaag, maar aan die twee susters se fluistergesprekke was dit duidelik dat die agt in 1978 vir hulle die teken was, en as dit nie die agt van ’78 was nie, dan die agtste maand, of die agtste van die maand.
En toe gaan hy heen op die agtste dag van die agtste maand in die jaar 1978, sê maar om 8 minute oor 8 (maar dit is suiwer goedkoop poetic license.)
Daar word gehuil, gekoek en getee en naarstiglik gesoek na iemand wat hierdie Boere Jood wat in geen jare in 'n kerk was nie, Christelik sal begrawe.
Maar na een of ander gepaste seremonie met verdere trane, koek en tee, kom Ma ‘n week of wat later by die huis aan met agt onderbroeke. Van Uncle Chappy. Agt. Vir my.
Vertel ek vandag daarvan, kom ek agter mense deins terug. En ek weet steeds nie waarom nie. Is dit oor die dood, rigor mortis, balsem en al daai klas van dinge? Of is dit by die gedagte daaraan dat onderbroeke wat ‘n sterwende man se akkerkoppie vir die laaste maande van sy lewe moes huisves, toe opsluit my kroonjuwele in plek moes hou? Nóg vir die twee susters, nóg vir my, was dit enigsins iets vreemds. Ek was 14. Ek het agt onderbroeke geërf, gescore, so eenvoudig soos dit.
Elmar-onderbroeke, was hulle gewees. Agt van hulle. Van ‘n dik wolstof of katoenstof. Hulle was in so ‘n Skotse tartan-motief geweef.  Twee bruin, twee blou, twee groen. En twee so ‘n akelige meroen-rooi-vermenging. (Dit was die jare toe alles in (g)rootmaat by Makro aangekoop is “omdat dit soveel goedkoper” is.)
Ook die dae voor hipsters en tangas en briefs (en ek weet nie watse styles en fits en cuts daar vandag nog alles is nie.) Hierdie was onderbroeke soos onderbroeke van ouds was: met ‘n gleuf-gulp-gat-gedoente vir presenteer geweer of pointing Percy tot the porcelain.
Die rekke om die bene was later so uitgerek met breathing space vir ‘n hele bataljon, die goed het eerder herinner aan die boxer shorts wat kinders vandag dra. (Dis ook seker nie net kinders wat dit dra nie, maar mans ook. Ek sal nie weet nie. Dit behoort duidelik te wees dat onderbroeke nou nie juis die tipe mode-item is wat baie swaar op my gemoed rus nie.)
Die rek om die middel, aan die ander kant, wou verdomp net nie uitrek nie.
Geen jarelange chemiese blootstelling aan wasmiddels en versagmiddels en bleikmiddels (en ander verbode middels) wou die kleur laat taan nie.
Geen wringkrag, vryfkrag, spinkrag of manne- en perdekrag oor jare se was heen, wou hierdie agt Elmars enigsins wear and tear nie, enigsins laat skif of frummel  of deurskuur nie.
Ek is later universiteit toe met die goed en eers hier in die beginjare van my onderwysloopbaan het ek gesien dat Uncle Chappy se onderbroeke nou Ma se koperborde en –ornaments opvryf.
Wat my uitbring waar ek wil wees:  Hulle maak nie meer onderbroeke, soos hulle dit in die ou dae gemaak het nie. Ek kan nog onthou hoeveel ek die vorige jaar vir vyf onderbroeke betaal het (dis goedkoper as jy grootmaat by Woolies koop), en dan staan ek al weer voor die rak en vergelyk pryse vir die volgende vyf!
Want binne 'n jaar is die goedjies gefrummel, gebleik, deurgeskuur, uitgerek, deursigtig gewas, gate ingeval asof deur die motte gevreet.
Ek het my eie private conspiracy teorie hieroor. Hulle maak die goed met ‘n lewensverwagting van hoogstens twee jaar sodat die verbruiker elke jaar kan aanhou koop en weer koop en nogmaals koop.
My teorie gaan só ver dat hulle presies weet hoe om onderbroeke te maak wat twintig jaar hou, lewenslank hou, maar dit geheim hou omdat elke volwassene dan net sewe onderbroeke in sy volwasse leeftyd koop, en dít kan hulle nie bekostig nie.
En by onderbroeke stop dit nie. Dis trouens eers toe ek hierdie week die gastetoilet se wasser vir die derde maal in ses jaar vervang, en dit terwyl ek eerlik nie kan onthou dat Pa-hulle ooit in menseheugenis ‘n enkele toiletwasser vervang het nie, dat ek van Uncle Chappy se onderbroeke onthou en daaraan terug dink.
Dan eindig die teorie natuurlik ook by Uncle Chappy en al die ander honderde duisende siekes en sterwendes soos hy:  Sal ons, as ons uiteindelik ‘n wondermiddel teen byvoorbeeld die alledaagse verkoue gekry het, waag om dit bekend te stel en gevaar loop om in die proses die miljoene te verloor wat ons maak met bestaande kwaksalwery?