Pages

20.7.14

Vakansiepraatjies

As daar nou een ding is waaroor hierdie Boetman nog nooit die bliksem in was nie, dan is dit die balsak waarmee die SAW & Seuns hom in 1987 uitgereik het. Teen die tyd dat my min dae al minder en minder begin word het, as het ware uitgeloop het en ek einde 1988 uitklaar, het ek al so baie goed om aan te vlieg states toe, dat ek skoon ʼn tweede een pasella kry.

bron

Dis hoeveel jaar later, en ek het steeds die twee kit bags, of dan troepesakke

Nie net hét ek dit nog steeds nie – ek gebrúik dit steeds. Ek het netnou in die donker oor die een getrap toe ek opgestaan het om te kom tik aan die gedagtes wat in my kop maal.

Ek en Annieka het al reistasse en –sakke en allerhande fancy dinge gehad. Die helfte daarvan is weggegooi, die ander helfte is stukkend in die motorhuis. 

Ek voorsien nie dat ek ooit in ʼn vyfster hotel sal inboek vir vakansieverblyf nie, maar sou dit wel gebeur, voorsien ek dat ek met my balsak oor die skouer in die foyer sal aanmeld.

Ek stop myne soos ʼn wors, en Annieka, wat áltyd te veel klere inpak, het geleer om haar wors selfs nog stywer te stop.

So kon ek die twee al selfs in Botswana of Zambië langs mekaar lê-maak om op hulle te kan slaap.

Dis miskien ook die enigste nadeel – ons gaan nou elke keer met te veel klere op vakansie. Disomdat ons al die ander sakke opweeg, elkeen te lig bevind, en op die ou einde op ons ou vertroude balsakke besluit. 

Ek dink baie keer dat dit darem soveel makliker sal wees om, in plaas van die twee sakke, net een sak te neem, én dan een boksie Koue Water Omo daarby, maar verniet of ek Annieka kan oortuig om in te koop.

Die voordeel van die stywe wors is dat jou klere nie kreukel nie. Soos ek dag veertien se pakkie twee weke gelede heel onder ingepak het, so haal ek dag veertien se pakkie twee weke later heel onder uit. Uit die tas, aan die bas.

Partykeer, hang net af hoeveel keer ons kamp opslaan en verskuif, konsolideer ek en Annieka ons vuil wasgoed in die een, en skoon klere in die ander – dan leef ons uit net die een. Kom ons by die huis, dan bly die een in die waskamer agter, die ander gaan verder kamer toe.

Dis hoeka waar die een vandaan kom waaroor ek van effe gestruikel het toe ek opgestaan het. Teen daardie tyd het Sussa, die spanjoel, al die warmte van haar slaapplek verruil vir die sagtheid van die balsak, en is dit eintlik oor haar én die balsak dat ek gestrompel het.

Nou as jy dink ék pak te veel klere in, het jy nog nie vir Annieka gesien nie – ons kan in die middel van nêrens en êrens karprobleme optel, vir twee weke gestrand op parte moet wag, en sy sal steeds ʼn skoon pakkie vir elke dag hê, ongeag die weer. Want dis mos ekstra somersgoedjies, ekstra goedjies vir as daar ʼn byt in die lug is, en ekstra goed vir ingeval dit in die middel van die somer in die Nasionale Kruger Wildtuin begin sneeu.

En nés jy dink dís nou erg wat sy vir haarself inpak, dan het jy nog nie gesien wat sy vir Klaradyn inpak nie – vir tien jaar nou al. 

Klaradyn was nog in die doeke, dan lyk haar bagasie net soveel soos ons sʼn. 

Noudat die kind 10 se kant toe staan, is dit nog erger.

Ek sal myself jare se sukkel spaar as ek army surplus store toe ry en kyk of ek nie dan maar ʼn derde balsak vir die gesin kan aanskaf nie. 

Vir Klaradyn word elke vakansie voorsiening gemaak vir drie seisoene in een dag, met die moontlikheid dat sy in elke seisoen roomys op haar sal mors – dit kom neer op twee pakkies vir elkeen van die drie seisoene per dag.

ʼn Derde balsak is ons voorland.

***

Ons kan darem nie van ʼn heerlike vakansie in die wildtuin kom, en al waaroor ek praat, is ou bruin balsakke nie.

Dit was hemel op aarde. Nie net die wildtuin nie, maar ons drie, saam, van die oggend tot die aand, net ons drie. Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd in die oortreffende trap.

Klaradyn, onthou ek reg, is in die wildtuin van die bottel gespeen – ons het hom vir die apies gegee. Darem nie letterlik nie, die bottel wag in een van die kaste om ontdek te word. Soos ʼn jaar of wat gelede met die rooi Kersvaderpak gebeur het.

Maar omdat die kind haar melktande, by wyse van spreke, in die wildtuin gesny het, is sy natuurlik net ʼn plesier en koop sy een honderd persent in op ʼn outentieke wildtuinervaring: vroeg na bed, maar net so vroeg om weer op te staan.

Ons hou nie van krag in die wildtuin nie, dis kerskrag en paraffien. Elke aand, nes ons hier teen 19:00 klaar geëet het, dan vou sy haar bene oorkruis en trek los met:  “Kom ons gaan slaap nou julle.” Elke aand. En elke aand wys ons haar op die opruimwerk, skottelgoed en alles in gereedheid kry vir more se koffie-en-beskuit iewers langs die pad waar dit mooi genoeg is om 'n koffie-breek te neem. Elke aand maak sy dan of sy ons nie gehoor het nie, sy kom rank dan bloot oor een van ons twee en herhaal:  “Kom nou julle, kom ons gaan slaap.”

Sy is dalk moeg, maar haar verstand skakel lank nie af nie.

So vra sy een aand, klokhelder, in haar slaap:  “Is dit ʼn basterhartbees, Mamma.”

Annieka antwoord, dik deur die slaap, instemmend.

Maar my gewete pla my, of die kind nou slaap of nie, ons kan nie sommer so goedsmoeds, soos met Kersvader, die tandemuis en wat van haar bottel geword het, vir haar lieg nie, toe voeg ek maar by, “of dalk eerder ʼn tsessebe, skat.”

Ek lees op die oomblik Chris Barnard se Boela van die Blouwater vir haar.

Dit het alles begin toe hulle my een middag hardop onder die bome hoor snik het oor twee hartroerende stories in die man se mees onlangse bundel kortverhale.

Die aand stuur ons haar solank bed toe, maar ek en Annieka bly sit, ek skink nog ʼn dop en begin vir haar by lamplig voorlees aan die stories wat my die middag so aan die hart gegryp het. Daar gaan Annieka ook aan die tjanke. En toe ons ingaan, laat val die merrieperd vanuit die slaapsak waar net haar gesig uisteek:  “Dit was nou twee mooi maar hartseer stories.”

My gehoor was toe groter as wat ek vermoed het. En van toe wil niemand gaan slaap voor Pappa nie storie gelees het nie. Gevolg is toe dat ek elke oggend, terwyl ek wag vir die dag om te breek, twee of drie stories by die lig van 'n toorts lees, net sodat ek een of twee kan kies vir vanaand se slaaptyd. Chris Barnard se teikenmark is immers nie tienjariges nie en nie alles daarom vir ʼn tienjarige toeganklik nie.

Op pad terug, loop ek deur ʼn tweedehandse boekwinkel op Haenetsburg, en hier spring Chris Barnard se Boela van die blouwater, voor my in. ʼn Storie sonder selfone, i-pads en selfs elektrisiteit, ‘n storie wat afspeel op ʼn vissersdorpie, geskryf in 1962. Maar ʼn tydlose storie, met tydlose temas vir die jeug.

Klaradyn koop in op Boela en Oukoos, Patrys en Vlooi, Boeliepens, Janneman en Sollie, presies soos sy inkoop op tsessebes, gompoue, bergarende en bosbokke.

As dit nie vir ander dinge was nie, sou ons dit in een sitting kon kafdraf, maar dis toe nie moontlik nie. Met moeite en selfbeheersing dat ek daarin slaag om die laaste twee hoofstukke, vir die laaste oggend van die vakansie te spaar.

Dit was lekker om weg te wees.

Dis net so lekker om terug te wees.

Naskrif:

Die verwysing na Chris Louw se Boetman wat die bliksem is (ook al 14 jaar gelede) het my die brief laat soek. Dis op meer as een plek op die internet beskikbaar. Ek het dit opgespoor, waar dit oorspronklik publiseer is, in Die Burger, 8 Mei 2000.

Dit bly die moeite werd om te lees. Ek hoop nie dis ʼn eerste keer nie.







1.7.14

Wat 'n voorreg

Patroon en Patat het sommer gou-gou Boeta en Sussa geword.

Boeta het met verloop van tyd ook Boets geword. Maar met ʼn lang en liefdevolle –oe, soos in die Engelse “boots”.

En Pa-se-seun, of Pa-se-groot-seun. (En dan het ek my stem so diep, bas en laag as moontlik gemaak – dié liefdesnaampie is immers net in oomblikke van onbevange male bonding gebruik.)

Ook Ouman, Ou-man en Ou man.

Nie dat hy ooit soos ʼn ou man begin lyk het nie. Sussa het vroeg tekens van ouderdom begin toon – fyn grys strepies al om die bek. En op die voete om die tone langs.

Tog was Boeta al Ouman, lank voor ek Sussa smiddae met ʼn hoezit Ou Girl begin groet het. Want sien,  hy het hom op relatiewe jong leeftyd al soos ʼn befoeterde ou man begin gedra – een wat altyd van beter geweet het, sy eie kop gevolg het, sy eie rigting ingeslaan het. Obsternaat. Dik, dom en difficult.

Vir lank het hy soggens voor ons uitgehardloop motorhuis toe. En dan het hy daar gaan sit. Tussen die twee karre. Vasgeslaan soos ʼn vasgesteekte donkie. Dat ons oor hom klim om verby te kom. Hy weet ons kan mos nie ry met hom in die motorhuis nie – hulle bly agter in die agterste deel van die erf, ons ry voor uit.

Boeta het sulke oggende sommer vinnig-vinnig net HÓNT geword. O, en dan het hy probeer om jou met sulke puppy eyes te laat swymel.  Verbeel jou – ʼn groot volgroeide brak wat jou met die hemelwaarts slaan van sy oë wil vermurwe.

Én dit reg sou kon gekry het, ás dit nie was dat ʼn skoolklok nie op hom laat wag het nie.

Toe ek en Annieka destyds uitgery het om na die patryshondbabas waarvan iemand ons vertel het, te gaan kyk, het ons op ʼn spesiale bendetaal besluit. Praat ek voor die verkopers met haar en ek spreek haar aan as “Ankie”, is ek positief oor die honde; noem ek haar “Annieka”, moet sy weet dis ʼn nee-nee. Dieselfde van haar kant af met die gebruik van onderskeidelik “Hans” of “Hansie”.

En daar neem die ganse werpsel en hul ouers die wind so uit ons seile, dat ons skoon van allerhande bende- en kodenaampies vergeet. Ons sou met vier honde daar uitgestap het, sou ons net kon.

Ek het daardie middag huis toe bestuur soos ʼn pa wat sy eersgeborene van die kraaminrigting huis toe neem.

Presies soos ek minder as ʼn jaar later bestuur het, toe ons met Klaradyn uit die Moedersbond of Mary Font (of wat ook al dit was) se parkade wegry.

Ek is vroeër die oggend eers huis toe met ʼn poefdoek, ʼn baby-grow, babapoeier en nog wat – vir Boeta en Sussa om aan te ruik, en gewoond te raak, vóór die nuwe baba huis toe kom. Baba-Klaradyn het dan ook ʼn deegliker bekendstelling aan die honde by die huis gehad, as aan enige van die vriende en familie wat ons in die hospitaal kom besoek het.

O, en die honde het op die pienkvoet ingekoop. Boeta meer as Sussa. Miskien was dit omdat Annieka en Boeta voor Klaradyn se geboorte so lekker op Steve Hoffmeyer se “Papmpoen”-liedjie gedans het. Ek sien Annieka weer voor my – hoogswanger en met ʼn lieflike boepie , aan die dans met Boeta.

Boeta en Annieka was saam op kraamverlof. Waar Mamma en baba gaan, daar was Boeta saam.

Later, met Annieka terug in die tuig, ook. Dis waar Boeta maar altyd was – by Klaradyn. Swaai Klaradyn, dan gaan lê hy onder die swaai. Slaap sy, dan gaan lê hy by haar. Kom eet sy, dan is hy by haar voete.

In ons kamer is, lewensgroot opgeblaas op doek, ʼn foto van Klaradyn en Boeta saam op die bed toe Klaradyn ʼn kleuter was. Annieka het dit die een jaar vir my gemaak vir Vadersdag. En die volgende jaar, toe vergroot ons die ander foto, die een wat enkele sekondes ná die ander een geneem is, óók. En ons hang die twee langs mekaar. Nie agter ons, waar ons hulle nie kan sien nie, ons hang dit waar ons dit, die laaste ding in die aand, die eerste ding in die oggend, kan sien.

Annieka weet ook, gaan ons twee die dag ouetehuis toe, kan die Dykmans en Claerhouts en Buchells en ander skilderye en dinge maar bly – ék trek met Klaradyn en Boeta se twee Vadersdag-fotovergrotings. Die res kan maar gaan.

Ek en Boeta het ʼn onsigbare Eybersiaanse naelstring wat nooit breek nie, gekry, dié oujaarsnag toe ek enkele minute voor twaalf met hom deurgejaag het noodveearts toe. Hy was sterwend, bulkend soos ʼn bees. Maar die mediese wetenskap ʼn bedrewe noodveearts en meer as ʼn maand se salaris het sy lewe gered. 

Danksy ʼn slim chirurgiese prosedure is hy toe ook ʼn lang en gelukkige lewe gewaarborg.

Hy was natuurlik aanvanklik  ʼn bang hond. Dis hý wat ágteruit in die gang kon afhardloop, tot in die hoofslaapkamer. Dan spring hy (dit sal my nie verbaas hy dít óók in reverse gear gedoen het nie) by ons op die bed, en blaf aggressief vir die tuindienstemense wat by die voorhek inkom.

En omdat hy bangerig was, was hy ook gouer op die aanval en verdedig. Maar onder “aanval en verdedig” bedoel ek bloot net “grommend” – niks meer nie.

Met die jare het hy dit egter ontgroei. Grotendeels.

Behalwe sy vrees vir die vrou wat hulle kom was en dip het.

Ek het kleintyd al gedink hy kan gedagtes lees. Ek sou opstaan om koffie te gaan maak, dan sal Boeta op die bank bly lê. Ek sal opstaan om badkamer toe te gaan, dan sal Boeta op die bank bly lê. Maar laat ek nou net opstaan om die honde-haarborsel te gaan haal, om hom uit te borsel, dan is hy ʼn breukdeel van ʼn sekonde vóór my al op en onder die bank in, of weg. Ek het nog nie eers die borsel in my hand nie, ek dínk nog net aan uitborsel, dan weet Boeta dit al!

As daardie bakkie en sleepwa van die hondewas-vrou stop, dan is Boeta weg en iewers in die tuin in. Ek jok- as die vrou se SMS deurkom om te laat weet sy kom die volgende dag, dan is Boeta op en uit en weg – nog vóór ek die boodskap gelees het. Ek het later trouens al geweet – kom daar ʼn SMS deur en Boeta maak hom uit die voete, dan is dit Michelle wat wil weet of sy kan kom was-en-dip.

Kruis jy jou bene op ʼn bank of ʼn stoel, dan kom skuif Boeta voor jou in, plaas hy sy kop op jou voet en moet jy die onderkant van sy gevreet met die bokant van jou voet streel en speel. Stop jy, dan laat rus hy bloot sy kop op jou voet, en sou hy net kon, dan sal hy so aan die slaap geraak het ook.

Boeta en Sussa het twee uiteenlopende geaardhede. In al hierdie jare had ons nog nooit nodig om Boeta kaal te skeer nie. Met Sussa is dit anders, sy moet liefs drie keer ʼn jaar gestroop word. Van in die modder en reën speel. Nie Boeta nie. Hy is die stil, besadigde een wat nooit sy hare koek nie – die ore uitgesluit natuurlik. Maar dis ook bykans ál wat ons skeer, die ore en hier en daar ʼn koek, onder die maag of om die bene.

Ons is babatyd met hulle "hondeskool" toe. Nie hondeskool-hondeskool nie, maar oom-veearts se puppy school. Sussa was die modelleerling. En Boeta. Hy is nie oor 'n enkele hindernis nie, maar onder de leste een deur, reguit na die "doekesak" met treats, om daar te gaan sit en slaap.

Boeta is ook die een vir roetine. As hy soggens mooi stil gesit het om sy beskuitjie te kry, dan gaan maak hy homself lê voor sy kosbak, en dan eet hy ontbyt. En jy moet hom nie pla nie – hy éét. vanaand is dit weer so.

Ons honde kon van die tafel af, en met oorskiet, met niks anders nie as vleis bederf word nie. Boeta se maag het aanvanklik keer op keer opgeblaas as hy stysel en ander koolhidrate inkry. En as die maag opblaas, dan druk dit teen die ingewande. Die ander ingewande draai dan die maag, en met verloop van tyd knoop die dermkanaal waar die by die maag in en uit beweeg. Dan blaas hy op soos ʼn bees wat te veel lusern gevreet het.

Die veearts moes twee keer deur die buikwand ʼn snit in die maag maak, dat die gasse kan ontsnap en die stomme dier afblaas. Doen jy dit nie, sterf hulle.

Die derde keer, die Oujaarsnag, die aand toe ek Boeta die eerste keer Pa-se-seun genoem het, het die dokter bloot sy maag aan sy buikwand vasgewerk. Boeta het nog opgeblaas, maar soos hy opgeblaas het, het hy dan dadelik weer afgeblaas, sy ingewande kon nie meer knoop of soos ʼn ballon opgerol word om te keer dat die lug en gasse ontsnap nie.

Gevolglik was Boeta ʼn vreeslike poeper, ʼn onbeheersde poeper. En elke keer as hy so wind afblaas, dan is ons heimlik bly, want dan weet ons hy sou nou opgeblaas het, en ons sou met hom veearts toe moes jaag, ás dit nie vir Doktor Peck se slim operasie was nie.

Dis wat ons gister aanvanklik gedink het toe hy nie sy goeie selwers was nie – hy moes iewers iets verkeerds geëet het.

Maar na ons ʼn uur of wat terug was van die veaarts, en die fout eerder by water om die hart of op die longe gevind het, was dit duidelik, Boeta is sommer goed siek. En die gewone opblaasmaag is dit beslis nie. Allermins.

Ek kon sy roggelende asemhaling, gisteraand, met net een uur in my lewe verbind – die uur waarin my ma, in my arms, in haar eie liggaamsvog en -water verdrink het.

Ek en Annieka, en Klaradyn het geweet ons neem van Boeta afskeid. Daar in die kombuis waar ons ʼn spul van ons die lekkerste tye saam gehad het.

Ek het hom in ʼn stadium ingedra van buite. Ons het saam met hom op die vloer gesit waar ons saam op die vloer gesit het toe Klaradyn nog nie eers kon loop nie.

Ek het gewag vir die laaste roggel. Soos met Judy. Maar dit het nie gekom nie. Wou nie kom nie, kón nie kom nie. Nié met ons teenwoordig nie. Boeta is te veel van ʼn gentleman gewees om ʼn spektakel van sy heengaan te maak.

Ons al drie het ons uitgehuil, saam met hom in die kombuis. Of altans, só het ek gedink.

Na ek hom vanoggend op die plekkie wat hy vir homself gaan uitsoek het, gekry het, het ek Annieka egter beide besef dat ons in 11 jaar baie meer kosbare oomblikke en herinneringe opgebou het om oor te huil, as wat ons gisteraand ooit kon vermoed het.

Dit was ʼn voorreg om vir 11 jaar ʼn huis met Boeta te kon deel.

ʼn Huis, ʼn erf, ʼn lapa, ʼn stoep. Én ʼn swembad.

Ja, dis inderdaad wanneer ek hom seker die meeste sal mis. Boeta, my swem-en speelmaat wanneer ek en Klaradyn en Sussa en Snuffels Oktober gaan begin swem.

ʼn Voorreg, ja. ʼn Voorreg.



Ai, die honde darem

Ek het die volgende ʼn rapsie meer as ʼn maand gelede geskryf:

En dan is daar nou Jasper ook.

Die naam, Jasper, is gekies uit ʼn kortlys van seker sowat 30 seunsname wat Klaradyn maande gelede in een van haar notaboekies neergepen het.

Ook nie seunsname nie, eerder reunsname. Sy het gedink aan name vir mannetjieshonde.

Maar ek sit my voet neer. Elke keer. Lag-lag vyf jaar lank nou al.

“Ons het klaar drie honde op die erf!”

“Die jongste een gaan jaloers raak as Klaradyn ʼn skoothond in die kamer by haar het, terwyl hulle ander in die kombuis moet slaap.”

“Klaradyn hét haar eie hond.”

Klaradyn het inderdaad haar eie hond. Snuffels. Die jongste, die jaloerse, een. Die een waarmee ek en Annieka sewe jaar gelede die fout mee gemaak het . Om vir ʼn driejarige haar eie hond te koop.

Klaradyn was hopeloos te jonk. 

En die hond het binne die eerste maand uitgedraai om ʼn monster te wees. 

Sewe jaar later is sy niks minder van ʼn monster as destyds nie.

Toe kry ons drie jaar later vir Klaars ʼn kat.

Groter fout as hond.

Klaradyn het ʼn allergiese reaksie op die kat. Ses maande in graad R in, stel die juffrou dit duidelik:  “Klaradyn is nie die helfte van wat sy maand 1 was nie, sy is trouens nie eers ʼn skaduwee van wat sy was toe sy die begin van die jaar haar skoolloopbaan afgeskop het nie.”

Ons was teen daardie tyd elke vier weke by Dr. Smit met die kind. En ons het geweet (maar wou nie weet nie) dis die kat. Die kat moet gaan.

En Sokkies (drie witte pootjies aan ʼn swarte lyfie) was nie drie dae by die nuwe mense nie, toe gaan sy in kraam.

Vandag weet ek dat ek en sy reageer op ʼn ensiem in die kat se speeksel. Die ensiem bly agter as die katte hulself poets. 

Selfs die haarlose katte het daardie ensiem.

Maar die Siberiese kat nie.

Siberiese katte, lieflike goed, het destyds vir R5 000-00 gegaan. En dan moet hulle nog van die Kaap afvlieg Johannesburg toe. Dit was in graad R. Ons is nou in graad 4. 

Ek wil nie weet hoeveel kos hulle nou nie.

Ek het groot geword met Happies, Annieka met Ogies.

Happies was my beste maatjie. Ook gedurende die egskeiding. Hy het saam met my en Ma uit die huis getrek woonstel toe.

Annieka kry nog trane in haar oë as sy net aan Ogies dink.

Moet my kind dan nou sonder ʼn kleintjie van haar eie van haar kinderdae afskeid neem.

Sonder dat sy ooit die tere gevoel van ʼn hond se hartjie leer ken het, verdrink het in  ʼn welpie se asempie?

Ek het nie ʼn hond gesoek nie. Ek het nie.

Ek is weer daaraan herinner dat ʼn kat ongelukkig buite die kwessie is.

Toe gaan koop ek voëlsaad. In die uur wat Klaradyn dramaklas het.

En toe stap ek uit met voëlsaad en ʼn hond.

Ek het nie die hond gekies nie. Die hond het my gekies.

En hy het lank gewag voor hy sy keuse gemaak het.

Die laaste van sy drie sussies is al vier weke gelede verkoop.

Hy het agtergebly. Alleen.

Die odd one out. Ek verbeel die Engelse praat van ʼn runt.

Die uitskot-welpie. Die afvlerkspreeu. Die swakkeling. Loser!

En toe kom ek verby met R90-00 se voëlsaad.

Ek stel my voor dat hy geweet het, nog voor ek geweet het – daardie man gaan my koop. Daardie man en sy gesin gaan ʼn groot verskil in my lewe maak.
Hy het op sy agterpote teen die tralies gaan staan en bewe van opwinding.

Ek het in sy jakkalsgesiggie vasgekyk en met eerste oogopslag verlief geraak.

Toe breek my hart:  hy is afgemerk! Hulle het die hond op ʼn uitverkoping gesit. Sale Price.

Hoe min moet jy ʼn hond wil hê, hoe graag moet jy van ʼn hond ontslae wil raak as jy hom afmerk!

Dit kan nie! Dit mag nie!

Ek het Annieka gebel. Sy was te oorbluf om weerstand te bied. Terwyl ek met die een hand aflui, het ek die debietkaart met die ander hand in gereedheid gebring.

Klaradyn is soos haar ma en pa, lief vir honde. Dis ʼn week en haar oorgawe het nog geensins begin taan nie. Dit sal ook nie.

Sit jy die hond langs ʼn groot vet rietrot, dink ek die rietrot staan hoër en groter. Maar die dingetjie is destyds juis geteel om rotte te vang.

Die hondmalles praat van Min Pin, of “The king of the toys” (dalk is dit “prince” ek kan nie onthou nie.)

Leke praat sommer van Miniatuur Doberman Pinchers. Maar dis totaal verkeerd. Doberman Pinchers (Magnum PI se honde) is eers in 1880 geteel. Teen daardie tyd was die Miniatuur Pinchers al ʼn lank gevestigde ras in Europa wat gedoen het wat die rottevanger van Hamelyn hulle nie kon nadoen nie.

Gewone outjies soos ek praat, miskien verkeerdelik, sommer van tant Mien se hondjie, die swart keffertjie wat tant Mien van Ben, Babsie en familie hier in die vyftigerjare so onder die arm vasgeklem het.

Tot hier het ek ʼn maand gelede gekom, maar dit nie gepos nie. Ek het skuldig gevoel oor vier honde op die werf, die onverantwoordelikheid, die impulsiwiteit.

Miskien was dit nie onverantwoordelikheid of impulsiwiteit nie, eerder ʼn onbewuste gereedmaak vir wat in die nabye toekoms voorlê. Want ons is vanoggend, bietjie meer as ʼn maand later,  weer net drie hondeasems op die werf. Boeta, gebore en gedoop as Patat, is gisternag na 11 mooi jare en ʼn baie kort siekbed van minder as 24 uur oorlede.