As daar nou een ding is waaroor hierdie Boetman nog nooit
die bliksem in was nie, dan is dit die balsak
waarmee die SAW & Seuns hom in 1987 uitgereik het. Teen die tyd dat my min dae al minder en minder begin word
het, as het ware uitgeloop het en ek einde 1988 uitklaar, het ek al so baie goed om aan te vlieg states toe, dat ek skoon ʼn tweede een
pasella kry.
bron |
Dis hoeveel jaar later, en ek het steeds die twee kit bags, of dan troepesakke.
Nie net hét ek dit nog steeds nie – ek gebrúik dit
steeds. Ek het netnou in die donker oor die een getrap toe ek opgestaan het om
te kom tik aan die gedagtes wat in my kop maal.
Ek en Annieka het al reistasse en –sakke en allerhande fancy dinge gehad. Die helfte daarvan is
weggegooi, die ander helfte is stukkend in die motorhuis.
Ek voorsien nie dat
ek ooit in ʼn vyfster hotel sal inboek vir vakansieverblyf nie, maar sou dit wel
gebeur, voorsien ek dat ek met my balsak oor die skouer in die foyer sal
aanmeld.
Ek stop myne soos ʼn wors, en Annieka, wat áltyd te veel
klere inpak, het geleer om haar wors selfs nog stywer te stop.
So kon ek die twee
al selfs in Botswana of Zambië langs mekaar lê-maak om op hulle te kan slaap.
Dis miskien ook die enigste nadeel – ons gaan nou elke keer
met te veel klere op vakansie. Disomdat ons al die ander sakke opweeg, elkeen te lig
bevind, en op die ou einde op ons ou vertroude balsakke besluit.
Ek dink baie keer dat dit
darem soveel makliker sal wees om, in plaas van die twee sakke, net een sak te
neem, én dan een boksie Koue Water Omo daarby, maar verniet of ek Annieka kan
oortuig om in te koop.
Die voordeel van die stywe wors is dat jou klere nie kreukel
nie. Soos ek dag veertien se pakkie twee weke gelede heel onder ingepak het, so
haal ek dag veertien se pakkie twee weke later heel onder uit. Uit die tas, aan die bas.
Partykeer, hang net af hoeveel keer ons kamp opslaan en
verskuif, konsolideer ek en Annieka ons vuil wasgoed in die een, en skoon klere
in die ander – dan leef ons uit net die een. Kom ons by die huis, dan bly die
een in die waskamer agter, die ander gaan verder kamer toe.
Dis hoeka waar die een vandaan kom waaroor ek van effe
gestruikel het toe ek opgestaan het. Teen daardie tyd het Sussa, die spanjoel,
al die warmte van haar slaapplek verruil vir die sagtheid van die balsak, en is
dit eintlik oor haar én die balsak dat ek gestrompel het.
Nou as jy dink ék pak te veel klere in, het jy nog nie vir
Annieka gesien nie – ons kan in die middel van nêrens en êrens karprobleme
optel, vir twee weke gestrand op parte moet wag, en sy sal steeds ʼn skoon
pakkie vir elke dag hê, ongeag die weer. Want dis mos ekstra somersgoedjies, ekstra
goedjies vir as daar ʼn byt in die lug is, en ekstra goed vir ingeval dit in die
middel van die somer in die Nasionale Kruger Wildtuin begin sneeu.
En nés jy dink dís nou erg wat sy vir haarself inpak, dan
het jy nog nie gesien wat sy vir Klaradyn inpak nie – vir tien jaar nou al.
Klaradyn was nog in die doeke, dan lyk haar bagasie net soveel soos ons sʼn.
Noudat die kind 10 se kant toe staan, is dit nog erger.
Ek sal myself jare se sukkel spaar as ek army surplus store toe ry en kyk of ek
nie dan maar ʼn derde balsak vir die gesin kan aanskaf nie.
Vir Klaradyn word
elke vakansie voorsiening gemaak vir drie seisoene in een dag, met die
moontlikheid dat sy in elke seisoen roomys op haar sal mors – dit kom neer op
twee pakkies vir elkeen van die drie seisoene per dag.
ʼn Derde balsak is ons voorland.
***
Ons kan darem nie van ʼn heerlike vakansie in die wildtuin
kom, en al waaroor ek praat, is ou bruin balsakke nie.
Dit was hemel op aarde. Nie net die wildtuin nie, maar ons
drie, saam, van die oggend tot die aand, net ons drie. Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd in die oortreffende trap.
Klaradyn, onthou ek reg, is in die wildtuin van die bottel
gespeen – ons het hom vir die apies gegee. Darem nie letterlik nie, die bottel
wag in een van die kaste om ontdek te word. Soos ʼn jaar of wat gelede met die
rooi Kersvaderpak gebeur het.
Maar omdat die kind haar melktande, by wyse van spreke, in
die wildtuin gesny het, is sy natuurlik net ʼn plesier en koop sy een honderd
persent in op ʼn outentieke wildtuinervaring: vroeg na bed, maar net so vroeg om
weer op te staan.
Ons hou nie van krag in die wildtuin nie, dis kerskrag en
paraffien. Elke aand, nes ons hier teen 19:00 klaar geëet het, dan vou sy haar
bene oorkruis en trek los met: “Kom ons
gaan slaap nou julle.” Elke aand. En elke aand wys ons haar op die opruimwerk,
skottelgoed en alles in gereedheid kry vir more se koffie-en-beskuit iewers
langs die pad waar dit mooi genoeg is om 'n koffie-breek te neem. Elke aand maak
sy dan of sy ons nie gehoor het nie, sy kom rank dan bloot oor een van ons twee
en herhaal: “Kom nou julle, kom ons gaan
slaap.”
Sy is dalk moeg, maar haar verstand skakel lank nie af nie.
So vra sy een aand, klokhelder, in haar slaap: “Is dit ʼn basterhartbees, Mamma.”
Annieka antwoord, dik deur die slaap, instemmend.
Maar my gewete pla my, of die kind nou slaap of nie, ons kan
nie sommer so goedsmoeds, soos met Kersvader, die tandemuis en wat van haar bottel geword het, vir haar lieg nie, toe voeg ek maar by, “of dalk
eerder ʼn tsessebe, skat.”
Ek lees op die oomblik Chris Barnard se Boela van die Blouwater vir haar.
Dit het alles begin toe hulle my een middag hardop onder die
bome hoor snik het oor twee hartroerende stories in die man se mees onlangse bundel
kortverhale.
Die aand stuur ons haar solank bed toe, maar ek en Annieka
bly sit, ek skink nog ʼn dop en begin vir haar by lamplig voorlees aan die stories wat my die middag so aan die hart gegryp het. Daar gaan Annieka ook
aan die tjanke. En toe ons ingaan, laat val die merrieperd vanuit die slaapsak
waar net haar gesig uisteek: “Dit was
nou twee mooi maar hartseer stories.”
My gehoor was toe groter as wat ek vermoed het. En van toe
wil niemand gaan slaap voor Pappa nie storie gelees het nie. Gevolg is toe dat
ek elke oggend, terwyl ek wag vir die dag om te breek, twee of drie stories by die lig van 'n toorts lees, net sodat ek een of twee kan kies vir vanaand se slaaptyd. Chris Barnard
se teikenmark is immers nie tienjariges nie en nie alles daarom vir ʼn tienjarige
toeganklik nie.
Op pad terug, loop ek deur ʼn tweedehandse boekwinkel op Haenetsburg,
en hier spring Chris Barnard se Boela van
die blouwater, voor my in. ʼn Storie sonder selfone, i-pads en selfs
elektrisiteit, ‘n storie wat afspeel op ʼn vissersdorpie, geskryf in 1962. Maar ʼn
tydlose storie, met tydlose temas vir die jeug.
Klaradyn koop in op Boela en Oukoos, Patrys en Vlooi,
Boeliepens, Janneman en Sollie, presies soos sy inkoop op tsessebes, gompoue,
bergarende en bosbokke.
As dit nie vir ander dinge was nie, sou ons dit in een
sitting kon kafdraf, maar dis toe nie moontlik nie. Met moeite en
selfbeheersing dat ek daarin slaag om die laaste twee hoofstukke, vir die
laaste oggend van die vakansie te spaar.
Dit was lekker om weg te wees.
Dis net so lekker om terug te wees.
Naskrif:
Die verwysing na Chris Louw se Boetman wat die bliksem is
(ook al 14 jaar gelede) het my die brief laat soek. Dis op meer as een plek op
die internet beskikbaar. Ek het dit opgespoor, waar dit oorspronklik publiseer
is, in Die Burger, 8 Mei 2000.
Dit bly die moeite werd om te lees. Ek hoop nie dis ʼn eerste
keer nie.
No comments:
Post a Comment