Pages

5.8.14

Nooit weer nie, nooit-ooit

Dis regtig nie lekker om eerste ding, elke oggend van jou lewe, met gedagtes rondom “nooit, ooit weer nie” te moet begin nie.

En met my is dit seker nou al ses maande presies hoe dit is.

Ek voorsien ook nie dat dit gaan verander nie. Nooit ooit nie.

Gelukkig is dit nie verganklikheidsgedagtes rondom goeters soos die dood nie; eintlik bloot net variasies op een enkele woord:  “Nooit!” Nie doodnegatief nie, maar gagga-negatief genoeg.

En vir iemand met ʼn brein soos myne, het ek smorens net ʼn woord soos “nooit” nodig en my gedagtes loop met my hol agter al die ander nooit-ooite in my lewe aan.

Ek het vrede met al die oorlye mense, selfs die naastes soos oorle’ Hans en Judy, Ouma van Wyk en Tannie Anne. Daar is niks wat ek nog vir een sou wou sê of doen wat my soggens voor die badkamerspieël, terwyl ek tande borsel, besig sal hou nie.

Maar Oom Ben en ʼn gans ander Tannie Anne as my ma se sus, Tannie Anne, is geheel en al in ʼn ander klas. Hulle is soos ʼn ertjie onder vyftig matrasse. En dan weet ek nie eers of dit ooit Oom Ben en Tannie Anne was nie, is nie, moes wees nie. Ek en my broer sien mekaar hoogstens een keer in twee jaar, en die laaste vier kere al het ek hom nog elke keer met hierdie Oom Ben en Tannie Anne konfronteer.

Tannie Anne, hulle het iewers in Durban gebly. (Die “Bluff”? Daar is mos ʼn plek soos “The Bluff”, is daar nie?) Een jaar het sy vir my vir Kersfees seker ʼn stuk of vyftien of meer leesboekies gestuur. Ek praat van sowat veertig jaar gelede. Drie of vier daarvan het sulke gunstelinge geword, dat ek dit steeds het; ʼn ander, dat ek dit steeds onthou. Dis in Klaradyn se boekrak – ons bewaar dit soos goud.

Daar was Suid-Wes-parkiete in hok vlak teen die motorhek. En leiklip vloere. Frangipani en alles tipies Natal. Geil, groen, welig, humied, drukkend.

Dit was (miskien) familie van my pa. Die tannie had goud in haar tande en het gerook. Die oom het gedrink. En al het hulle Afrikaans gepraat, was hulle Engels. Óf die tannie had ʼn “husky voice”, óf die oom had ʼn rasperstem. Ek weet waar het die yskas gestaan, hoe die tuinpaadjie gelyk het, selfs hoe die parkiete in die hok opgelyn gesit het...

Maar ek weet nie eers of dit ʼn Anne en ʼn Ben was nie. Dreyer, verbeel ek my.

En my broer weet nie eers van wie ek praat nie.

Ma Judy is dood en sou seker die laaste tien jaar van haal lewe nie meer geweet het van wie ek praat nie. Pa is al jare voor haar tot stof.

My eerste herinnering aan ʼn “Game”-kettingwinkel, ek onthou dit asof dit gister was, hou verband met die vakansie dat ek, Ma en Pa by, noem hulle dan maar Oom Ben en Tannie Anne Dreyer, gekuier het.

Vandat my gedagtes soggens so in die “nooit-ooit” gewerp word, dink ek seker twee keer ʼn week opnuut aan hulle:  “Ek sal nooit-ooit weet wie hulle was, waar hulle vandaan gekom, of wat hulle in my lewe gesoek het nie.” Die enigste rede waarom ek hul nog lewendig in my het, is die kinderboekies op my kind se rak. Dis al.

En so spring ek dan van die een nooit-ooit na die volgende nimmer-as-te-nimmerste nooit-ooit-nooit nie. Byvoorbeeld springboklewer en uie, op ʼn regte, egte skottelskaar, in die veld, dis winter saam met Oom Kobus op sy plaas; op ʼn bankie voor Rembrandt se Joodse Bruidjie, of Van Gogh se slaapkamer; kaartspeel, in die aand, onder die bome, in die destydse karavaanpark oorkant Warmbad se warmbad. For that matter, nooit ooit weer matzos met botter en sout saam met tee in die Warmbad-hotel se sitkamer nie – die hotel en sy poeierblou interieur is al jare afgebreek

Rembrandt en Van Gogh, Breughel en Giotto en al die ander outjies soos hulle, is natuurlik nie een honderd en tien persent finaal verby nie. Daar is ʼn nul-komma-nul-nul-nul-één-kans. Maar nie sommer nie.

Teen daardie tyd van die oggend, my tande nou net klaar geborsel, het al die finaliteitsgedagtes my al so negatief gestem vir die res van die dag, dat ek die nul-komma-trippel-nul-een-kans nie eers registreer nie.

En dit alles omdat die buurmaatjies, ʼn tweeling – Hannes en Wikus, se ouma (maar of dit nou Oom Zed, of Tannie Rhona se ma was, sal ek nie weet nie) iewers rondom 1969 Europa toe gegaan het. Vir die twee seuns het sy plastiek woer-woere teruggebring. Dit had ingeboude liggies wat aangaan as die goed ordentlik begin spoed optel. Suiwer toorkuns vir ʼn klein seuntjie. Daardie jare. Vandag, verbeel ek my, is dit algemeen.

En dan het sy ook gebring – maar nie ʼn speelding vir een van die seuns nie, eerder iets vir die hele gesin – ʼn kontrepsietjie met drie onderdele waarin jy die onderkant van die destydse lood-tandepastabuisies staangemaak het. Hierdie kontrepsietjie het dan jou lood-tandepastabuisie, soos jy keer na keer tandepasta gebruik het, mooi netjies in sy magie opgerol. Niks tandepasta het in die buisie se stert agtergebly nie en die buisie het netjies en in plek gebly.

As die woer-woere met hul ingeboude liggies destyds vir hierdie jong seuntjie suiwer toorkuns was, weet ek nie wat hierdie toothpaste dispenser was nie. Magic, met ʼn hoofletter –M. Nee, MAGIC, in hoofletter gespel. Miskien eerder on-ge-fokken-looflik – maar daardie jare was so ʼn sterk woord nie deel van my verwysingsraamwerk nie.



Ek kan dit, vandag nog, niks anders as ʼn toothpaste dispenser noem nie – dis nie iets wat in Suid-Afrika bestaan, gekry en gekoop kan word nie, dis nie iets wat in Afrikaans ʼn naam het nie.


Ek onthou dat ek, speel ek by die bure, gaan piepie het – nie om te piepie nie, maar om te kyk hoe die tandepastabuisie ingekatrol en korter word.


Dis natuurlik vandag geen geheim nie, as ek en Annieka ooit in ʼn skeihof beland, sal dit nie oor ʼn derde party of die een of ander onversoenbare persoonlikheidsverskil of ding wees nie, maar oor ʼn tandepatabuisie. Nee, ʼn tande-fokken-pasta-fokkense-buisie.

Sy het vir ʼn tandepastabuisie en hoe daar met ʼn tandepastabuisie omgegaan moet word, geen, maar geen respek nie. Dis ʼn blog-inskrywing op sy eie, dit wás trouens al, en ek gaan nie nou ons vuil wasgoed in die openbaar uithang vir almal om te sien nie.

Vir die eerste veertien jaar van ons huwelik was ons totaal uiteenlopende omgang met tandepastabuisies nie so ʼn wesenlike probleem nie – sy het hare gehad, en ek myne, langs mekaar in die badkamer.

Want in 1994 toe ek by Annieka-hulle aan huis begin kom, spoor my oog, vir die eerste keer na meer as dertig jaar, weer so ʼn porselein toothpaste dispenser op.


Annieka se tannie was jare tevore Europa toe en het vir haar familie van die goed ingebring.

Daar is duidelik meer mense as net ek wat oor tandepastabuisies se versorging voel soos ek. Waarom anders sal hulle sulke goed opkoop en die land inbring as hulle in die vreemde is.

Dié betrokke tandepata-kontrepsie het my nog nooit laat wonder oor enige moontlike bymotiewe waarom ek Annieka getrou het nie, maar laat ek eerlik wees – dit het heimlik ʼn baie groot rol gespeel in die keuse van ons destydse huwelikskontrak:  binne gemeenskap van goedere, daar buite, of met aanwas van goedere.

Ek het die ding al een keer, en dit het ons bootjie gevaarlik na aan die rotse gehad, uit die asblik moes red.

Kan jy glo – in een van haar akute spring cleaning aanvalle bliksem sy die ding, sonder om nugter te dink, mooitjies in die asblik. Ek spoor hom, uit en deur suiwer genade alleen, op toe ek iets in die buitenste groot asblik gaan gooi.

Dit was gelukkig nie ʼn maand nie, toe praat ons weer met mekaar en deel ons van nuuts af aan dieselfde slaapkamer en bed.

En toe, ses maande gelede, kom ek agter die eenvoudige stukkie ding werk nie meer so goed soos hy al die jare gewerk het nie.

ʼn Oomblik se ondersoek het my by die rede – ʼn onderdeel is soek.

En ek soek en soek, op my knieë, in die badkamerkas se diepste hoekies waar geen mens in jare was nie. Maar verniet – die onderdeel is nie net soek nie, dis weg.

Ek sal dit nie wees nie – ek pas die ding soos goud op.

Maar tussen Annieka en Martha is enige iets moontlik. Annieka het net ʼn effense bevlieging en die ding is asblik toe omdat sy nie hou van hoe ding lyk nie. Martha kon die onderdeel gesien het en nie geweet het wat dit is nie, sy kon gereken het dit hoort nie in ʼn badkamer nie en het dit weggegooi.

Ja, as die tandepasta nou sy gat gesien het en die buisie heeltemal ingekatrol was dat net sy kop uitsteek, is daar mos nog ʼn dag of twee se tandepasta in die buis se nek en keel oor. Iemand soos Annieka het haar buisie dan al lankal eenkant gelos en ʼn nuwe oopgemaak; nie ek nie.

Dis dan wanneer ek die buisie teen die spieël plat- en gladstryk met die steel van die tandeborsel. (Daarom ook dat ek nooit ʼn tandeborsel vervang as die hare uitgewerk is nie – lank voor die hare uitgewerk is, het ek die steel al teen die spieël op een van die gladgestrykte tandepastabuisies afgebreek en moet hy vervang word.)

Dit is wat moes gebeur het – die tandepasta was 99, 99999999% klaar opgebruik en ek moes die buisie uit die kontrepsie gehaal het om die laaste oggend se tandepasta met die steelkant van die borsel uit te kry.

Iemand moes die onderdeel vir ʼn stukkie gemors aangesien het en dit weggegooi het.

My broer bel my ʼn week gelede in die klas. Ek skrik, want hy sal nooit in klastyd bel nie – dit moet dood wees.

Maar dit is nie. Hy het vergeet om te sê hulle gaan Europa toe, is daar iets wat ek nodig het.

Op daardie oomblik weet ek daar is iets wat ek wil vra, maar verniet of ek kan onthou. Ek onthou ek het die laaste dag of wat gedink dat al hoe ek aan wat ek soek, gaan kom, is as iemand dit vir my van oorkant die waters bring.

Maar verniet of ek kan onthou wat dit was.

Dis eers die volgende oggend, terwyl ek tande borsel natuurlik, dat ek onthou – ek moes gevra het dat hy op die uitkyk moet wees vir ʼn tandepastabuisiebewerker – in ʼn Suid-Afrikaanse winkel het ek dit in amper vyftig jaar nog nooit gesien nie. Hoe kan ek so onnosel wees om te wil staan en vergeet.

Ek kan met die wonderlikste lied in my hart en die beste, korrekste voet denkbaar, uit die bed opstaan, maar eindig ek deesdae voor die wasbak by tandeborsel op, dan bederf my dag. Nie oor ek moet sukkel met die buisie nie –  ek laat my nie ore aansit deur ʼn tandepastabuisie nie, ek sit hóm ore aan – maar oor ek keer op keer weer daaraan dink dat ek “nooit ooit weer” my kontrepsie kan gebruik nie.

En dan verval ek in al die ander nooit-ooits van my lewe, sleep ek my voete verder en verander die melodie in my hart in ʼn treurmare met ʼn dodemarspas.




No comments: