Met komkommertoebroodjies het ek die eerste keer te doen gekry op
universiteit, 1984. Ons het ʼn vertaling van Oscar Wilde se drama, The
Importance of being Ernest, op die planke gebring. In een van die tonele bedien
Merriman (ek verbeel my dit was die karakter se naam) komkommertoebroodjies en
tee.
Ag, siestog, en daar is die stomme mens wat Merriman speel (hoeka ook
nie ʼn Merri-man nie, maar ʼn Merri-woman) alergies vir komkommers. Maar dit kom
ons eers openingsaand agter toe die verhoogbestuurder en rekwisietemeester ons
vir die eerste keer met haar tuisgemaakte komkommertoebroodjies bederf.
Onse Merriman gaan aan het nies, dis ʼn aardigheid. En toe sy eers die
onbeheerbare niesings het, toe gaan sy ewe onbeheersd aan die giggel.
En dan is so ʼn giggel mos iets wat aansteeklik inwerk op al wat mens op
dieselfde verhoog is.
Egter ook nie net die giggels wat in daardie produksie aansteeklik was
nie – die grillings het by tye net so sterk die ronde gedoen. Veral hier teen
die laaste aand van die speelvak.
Behalwe vir die komkommertoebroodjies en tee in een van die vroeë
bedrywe, is daar nog koek en tee teen die einde ook. En na ons openingsaand in
bedryf 1 so heerlik op komkommertoebroodjies trakteer is, kon ons nie wag om te
sien, en te proe, waarmee die rekwisiete-vrou (dierbare Philippa en ook al in
haar graf) in bedryf vier vorendag gaan kom nie.
O, en was dit nie aanskoulik nie – Philippa is al die pad Turkstra-bakkery
toe (ja, hierdie speel alles op Potjiesdorp af) en het terug gekom met ʼn
driedubbele sjokoladeroomkoek. Die ding moes ʼn fortuin gekos het. Dit móés,
want ons mog nie ding opgeëet het nie.
Lady Bracknell was die enigste wat elke aand een happie kon neem – die
res van ons moes sorg dat ons skyfies koek in die volgende dekorwisseling
ongedeerd agtertoe gaan.
More-aand kry jy weer die vorige aand se skyfies koek.
Maar hier teen die einde van die speelvak was die room nie net al suur
nie, die miere het die koek al dae gelede in die rekwisietekamertjie ontdek en
hul intrek geneem.
So nou moes jy keer dat die ellendige miere vurklangs teen jou arms
opklim.
Geld vir ʼn tweede koek was daar nie.
Skynbaar ook nie vir ʼn tweede bottel melk nie. Die melk wat uit die
silwer melkbekertjie geskink is, het hier na die einde se kant toe in sulke
kaserige dik hompe en bobbels in die porselein teekoppietjie geval.
Die plesier waarna ons aand een so uitgesien het, toe lankal nie meer ʼn
plesier nie.
Selfs die komkommertoebroodjies het nie meer komkommer gehad nie, maar
flou verlepte stukkies groen blaarslaai. Vir ʼn tweede nies- en giggelbui het
die regisseur nie kans gesien nie en hy het sommer vroeg met die komkommer
weggedoen.
Nie dat ons nie weer gegiggel het nie. Ek onthou byvoorbeeld toe die
verhooglig se blou jelly (die raampie gekleurde sellofaan wat voor die ligte
ingeskuif word om ʼn sekere ligeffek te verkry) een aand op my, Jack Worthing,
se kop geval het.
Jack en Ernest was so van stryk gebring dat hulle letterlik in ʼn groef
verval het – ons het ʼn groot gedeelte van die teks, trouens die grootste deel
van een toneel, daardie aand drie keer na mekaar in ʼn sinnelose sirkel aan die
gehoor voorgehou.
Verlede week se komkommertoebroodjies het hierdie stukkies onthou aan
die vergetelheid ontruk. Want na 1984 se nieserige kennismaking, was verlede
week die eerste keer dat komkommertoebroodjies weer my pad gekruis het.
Annieka is lief daarvoor om te sê dat ons graag 17 kinder sou wou hê,
maar toe net 1 gekry het, 1 wat meisiekindalleen 17 kinders sterk is en 16
ander se skoene ook vol staan.
So kom sy die Donderdag by die huis en laat val dat Juffrou haar en
twee maatjies gevra het vir ʼn item op die skool se jaarlikse English-evening.
Ons lees al van graad 0 af van hierdie English-evening in die skool se
dagboek, maar wat dit is, weet ons nie – die aand is beperk vir leerders van
graad 4 tot graad 7.
En Sussie is vanjaar eers in graad 4.
Dat die kind nou groot word, is duidelik – veral nadat sy vroeër by die
huis gekom het met ʼn briefie wat lui:
“Sal jy saam met my English evening toe gaan?” En dit van ʼn knapie!
Juffrou se versoek is vir my aansienlik meer aanneemliker en ek stem
dadelik in. Iets in Klaradyn se algehele gebrek aan dringendheid waarsku ons
egter om te kyk waar vanjaar se English Evening in die dagboek aangeteken is.
Ook maar goed so want dis die eerskomende Woensdag. As hulle iets wil
doen, moet dit more skool toe – die Juffrou moet goedkeur en hulle moet dit die
naweek leer. Maandag kan ons werk aan bewegings, Dinsdag oefen en Woensdag die
optrede.
Waar kry jy in een middag ʼn gepaste gedig vir graad 4 dogters om saam
as ʼn item op ʼn English Evening te doen?
Ek gryp my eerste Engelse digbundel wat ek gekry het toe ek 7 was, maar
al die gedigte is te lank. Ek gryp Klaradyn se eerste digbundel van 40 jaar
later, maar almal is te kort.
Toe google ek maar, en oomblikke later hét ek ʼn werkbare gedig, te
kostelik:
The Quarrel - by Maxine Kumin
Said a lightning bug to a firefly,
"Look at the lightning bugs fly by!"
"Silly dunce!" said the fly. "What
bug ever flew?
Those are fireflies. And so are you."
"Bug!" cried the bug. "Fly!"
cried the fly.
"Wait!" said a glow worm happening by.
"I'm a worm," squirmed the worm. "I
glimmer all night.
You are worms, both of you. I know that I'm
right."
"Fly!" cried the fly. "Worm!"
cried the worm.
"Bug!" cried the bug. "I'm standing
firm!"
Back and forth through the dark each shouted his
word
Till their quarrel awakened the early bird.
"You three noisy things, you are all
related,"
She said to the worm, and promptly ate it.
With a snap of her bill she finished the fly,
And the lightning bug was the last to die.
All glowers and glimmerers, there's a MORAL:
Shine if you must, but do not quarrel.
Ek verdeel dit in drie stemme en werk hier en daar ‘n stukkie
koorspraak in.
Vrydag by die huis gekom, hoor ons Juffrou het klaar haar goedkeuring
gegee, maar meer nog – en vandag se kinders moet nie onderskat word nie –
Klaradyn ken reeds die gedig, nie net haar woorde nie, die hele gedig – hulle
het dit in die twee pouses gou geleer.
Maandag-middag wil ek bewegings insit, maar dis te laat – hulle het
sommer gou pouse bewegings uitgewerk. Wie is ek nou om te wil inmeng.
Dinsdag tweedepouse is dit kleedrepetisie.
En na skool moet ek hoor ek moet kos vir 10 mense maak. Hulle drie het
glo ‘n tafel en tussen die drie an hulle is ons 10 gaste. Die een dek die tafel,
die ander sorg vir drinkgoed en ons voed hulle. “But it has to be cucumber sandwiches.”
Die dat ek toe maar gaan oplees oor die goed. En die eerste wat ek
raaklees is dat dit saam met agtermiddag se tee bedien is omdat dit geensins
vullend is nie. Jy kon komkommertoebroodjies eet dat dit ʼn aardigheid is, en
steeds teen vanaand se kant ʼn eetlus hê.
En dit moet botter wees, nie margarien nie. En die komkommerskyfies
moet 20 minute in ʼn vergiettes asemhaal en sweet maar nie dehidreer nie. En dit
mag nie ure voor die tyd gemaak word nie – dit raak soggy. En dit moet liefs dadelik voorgesit word. En... En... En!
En toe my twee komkommers op is, het ek nog twee brode oor. En ek bel
Annieka om nog twee komkommers te bring.
Maar ek bly nie by die tradisionele nie, ek bestel ook roomkaas en jogurt en
doen iets wat die een meesterkok ophemel, maar ʼn ander vervreem – ek maak nie
komkommertoebroodjies nie, maar smeerkaas-en-jogurtbroodjies met komkommer.
Maar ek het vrede – ons moet iets substansieel hê om voor te sit. Die 10 het
intussen 12 geword.
Dankie tog ons het uit die staanspoor gesê dat Mamma sommer kolwyntjies
gaan koop – anders het ons nog kolwyntjies ook moes bak.
Pappa, Mamma en Klaars loop al drie twee keer motor toe met eetgoed vir
12 mense.
En toe ons in die kar sit, Mamma en Klaars met skinkborde en bakke op
hul skote, by hul voete en gebalanseer op hul koppe, hoor ek: “Die ander mense bring ook elk die een of
ander soet en sout.”
Wat hulle toe ook doen – hoenderboudjies en koue vleisies en kasies en
hope komkommerbroodjies. Die tafel kreun, daar is nie pakplek nie. Annieka
bring nie eers die kolwyntjies te voorskyn nie – daar is genoeg vir ʼn weermag.
En die 10 wat 12 geword het, word 14.
Maar dit was ʼn heerlike aand. Die broodjies was inderdaad effe soggy teen die einde van die program. Maar nie die ergste nie. (Dalk
was die meel net bitter omdat die muis so vol was, ek weet nie.)
Toe ons uitstap sit elke vrou met ʼn bord broodjies op die skoot. Ek
laai dit by die vulstasie af en sê vir die joggies om te eet. Daar word heerlik
laataandfees gevier.
Ons elkeen kom met ʼn lied in die hart by die huis aan. Klaradyn kwetter
soos 17, ek het wonderlike heimwee terug universiteit toe. En Mamma wonder
watter gedig volgende jaar aangepak kan word.
No comments:
Post a Comment