Pages

13.8.14

Vertrou my maar/dit belowe ek jou

Ek klim Sondagaand pens en pootjies (baie meer pens as pootjies) saam met Klaradyn in die bed. Ook nie net die twee van ons nie, maar drie. Eintlik vier. In ʼn enkelbed. Pappa en dogtertjie, ook Jasper (die regte egte hond) en Kamphond (die wollige speelding-hond).

Dit moet Klaradyn se English hour wees want sy haak af:  “I must be the happiest girl on earth - I am in the arms of my father, and in my arms I have my little Jasper.”

Ek wonder stilweg of sy die vaagste benul het dat sinnetjies soos daardie, hierdie pappa van haar die happy-ste man, nie on earth nie, maar sommer in die hele universe maak.

Ek wou dít op Facebook deel, maar toe voel dit te veel soos goedkoop spog, toe bêre ek dit vir hier waar minder mense lees. 

Toe bêre ek dit vir hier waar sy dit eendag sal kan lees. Dis immers waaroor hierdie geklets daar is – vir Klaradyn as sy eendag sou wonder en uitvra hoe dit was toe sy nog 'n kindertjie was en ek haar nie kan vertel nie - my kop het my verlaat, of ék die ondermaanse.

Ook om my, en Mamma, te help onthou.

Om ons ook te herinner aan iets wat ons almal die volste potensiaal het om eendag te vergeet, byvoorbeeld die storie van die perdeblom.

Nou as jy my moes vra, voor ek die storie van die perdeblom gekoop het om vir haar voor te lees, wat op aarde ʼn perdeblom is, sou ek jou nie kon antwoord nie.

ʼn Perdeblom, vir ingeval daar ander soos ek is wat nie weet nie, is hierdie klein geel blommetjies wat ons as bossie en onkruid leer ken. Aan die einde van die seisoen word hulle sulke spierwit sagte bolletjies wat in tientalle saadjies opbreek en dan in die lug wegsweef.

As kind is ek grootgemaak om baie versigtig vir die goed te wees – as een van daardie veerligte saadjies in jou oog beland, word jy blind. Seker ʼn ouvroustorie gewees, maar ek het daarvoor geval. (Nie dat dit my ooit gekeer het om nie die saadbondeltjies te pluk en in die wind weg te blaas nie.)

Klaradyn was seker so drie, miskien vier, toe ek met die storieboek van die perdeblom by die huis aankom. Dis deur die Duitse skrywer, Knister. In die oorspronklike Duits, verbeel ek my, kom die titel neer op iets soos “Vertrou my” of “Vertrou jy my.”

In Afrikaans is dit miskien uitgegee onder ʼn naam soos “ʼn Belofte is ʼn belofte” of “Die belofte”. Ek sal nie weet nie; ons praat almal van die boekie as “Die storie van die Perdeblom”, of sommer net “Perdeblom”.

In daardie symste bed waar ek en sy en Jasper Sondagaand geklim het, het ek en sy en die Perdeblom-boek destyds geklim sodat Pappa die nuwe slaaptydstorie kan lees.

En daar word die boek ʼn mylpaal in my kind se lewe.



Die storie het my in die winkel aangegryp, so ek lees met oorgawe en gevoel. En daar leef Klaradyn haar so in die storie dat sy, vir die eerste maal in haar lewe, toe ons die krisis van die storie nader, onbedaarlik, onbeheersd, totaal ontroosbaar, snot-en-trane begin tjank.

Asof in ʼn fliek. Maar net ʼn boek.

Dat so ʼn jong en klein sieletjie tot soveel empatie in staat was het ʼn diep, en blye, indruk op my gemaak.

Daarna het ons al weer baie, en baie lekker gehuil; in flieks, maar ook in boeke. Ontroosbaar.

Die boeke en flieks is die meeste nou al vergete. Maar die storie van die perdeblom het vas bly steek.

Gereeld ook dat een van ons drie, ʼn ander in die driemanskap van Pappa, Mamma en Klaars, sal konfronteer met die kern van die storie:  “Vertrou jy my” of “Vertrou my (alles sal regkom)



ʼn Goeie sewe jaar later soek ons toe ʼn storie vir die kunswedstryd se gedramatiseerde prosa. Ek soek iets wat sy uit haar hart en guts kan vertel, en ons al drie besluit, na ons by báie stories ingeloer het, eenparig op kleintyd se storie van die Perdeblom. Dit is immers nie net ʼn storie vir klein-klein kindertjies nie, dit sny temas aan wat op iemand se oudag nog ter sprake is.

Net 75% van die storie word met woorde vertel (party sal sê dis net 50%), die ontbrekende 25% (of 50%) is suiwer prentjies, so ons moes heelwat aanpassings maak en met woorde, stem en beweging tuisbring wat baie van die prentjies vertel het.



Ek het lank en wyd gesoek of die storie nie iewers aanlyn gelees en gekyk kan word nie, maar helaas nie. Hier is daarom ons verwerking vir die verhoog, nie naastenby so aangrypend soos die boek nie en beslis tweedebeste.

Baie diere slaap baie lank en baie diep in die winter. Dit is hulle winterslaap. Sodra die lente dan weer aanbreek, is dit tyd om wakker te word.

Bruno, die marmotjie, raak wakker uit sy lang, diep winterslaap. “O, maar ek voel lekker uitgerus en versterk. Laat ek sommer dadelik die wye wêreld daar buite gaan verken.”

Bruno loop en loop en loop tot hy stokflou is. Toe kruip hy uitgeput in ʼn holtetjie in die gras en maak sy ogies toe sodat hy eers ʼn bietjie kan rus.

En wát sal hy sien toe hy sy ogies weer oopmaak? Hier vlak voor hom, ampertjies teen sy snoet.
ʼn Blom. ʼn Wonderskone blom, ʼn goudgeel-soos-die-son, Perdeblom.

“Halo,” sê Bruno. Sy hartjie bons van blydskap.
“Halo,” sê Perdeblom, en sy skyn so geel soos die son.

Die twee is dolgelukkig en lag en speel. Dag, na dag, na dag.

“Vir my, Blommie, word jy elke dag net al mooier en mooier,” verklap Bruno een aand laat voor hy vlak teen Perdeblom se stammetjie gaan slaap. “Ek hou weer daarvan as jy so vrolik in die helder maanskyn rondspring en dans,” laat val Perdeblom, “en ek weet ook dat jy my altyd sal beskerm as ek slaap.”

Op ʼn dag lyk Perdeblom heeltemal anders, sy is nie meer haar ou vertroude goudgeel-soos-die-son nie, maar spierwit en donsig, ʼn veerligte bolletjie katoen amper.

Sy vra vir Bruno:  “Vertrou jy my, Broens?” 
“Natuurlik vertrou ek jou,”
antwoord Bruno verbaas. 
“Sal jy my altyd vertrou, al gebeur wat ook al?” vra Perdeblom weer.
“Ek sal jou altyd vertrou, al gebeur wat ook al,” belowe Bruno.
“Nou blaas dan so hard as wat jy kan. Ek belowe jou alles sal weer regkom.”

Toe blaas Bruno so hard as wat hy kan.

Maar iets vreesliks gebeur.  “Ag, wat het ek tog nou gedoen?”  Daar sweef wit en donsige Perdeblom se blom in een duisend sewe honderd ses en vyftig sagte spikkeltjies wit op die lug van Bruno weg.

“Maar sy het my tog belowe dat alles weer sal regkom. En ek het haar belowe dat ek haar vertrou! ʼn Belofte is ʼn belofte.”

Wat het Perdeblom tog bedoel toe sy gesê het: “Alles sal weer regkom.”

Toe die laaste sagte spikkeltjie wit ook verdwyn, sug Bruno diep en fluister saggies: “Sy het belowe.”

En toe loop hy maar alleen verder, deur die grote wye wêreld.  En, o, daar is so baie mooi dinge om te ontdek en te leer ken: skoenlappers, waterstroompies, die groenste groen grasvelde.  “O, ek wens ek kon vir my mooi perdeblom daarvan vertel.”  Hy wonder ook elke dag steeds oor haar belofte: “Wat het sy tog bedoel toe sy gesê het alles sal regkom?”

Toe dit herfs word, verlang hy so baie na sy blom, dat hy teruggaan na die plekkie waar hulle een keer so gelukkig saam was.  Bruno raak sommer baie vaak. “Dit is tyd,” dink hy, “om ʼn nessie vir my lang winterslaap te bou.”

Dis presies wat hy toe ook doen. Spoedig kruip hy in en maak sy ogies toe.  “ʼn Belofte is ʼn belofte,” dink hy oulaas, “en sy het belowe alles sal weer regkom...”

Hy sink weg in ʼn lang, diep, diepe lang slaap...

En wat sien Bruno toe hy na sy lang winterslaap weer wakker word en die slaap uit sy twee ogies vee?  Wat ʼn wonderlike gesig: Nie een nie, maar, so ver soos hy kan sien, een duisend sewe honderd ses en vyftig piksplinternuwe, wonderskone perdeblomme, goudgeel soos die son.


Hier kan die regte-egte storie aanlyn bestel word:  http://fantasi.co.za/?mbt_book=dit-belowe-ek-jou

No comments: