Pages

31.10.11

Paptert

Annieka laat voel verlede week op Skoonma se verjaarsdag dat ons deel van die gesin Saterdag vir 'n paptert sal sorg.

Sy het twee of drie weke gelede die pikantste klein paptertjies in blink kolwyntjie-pannetjies geniet, so ek ek weet dadelik waarna sy terughunker.

My dierbare vrou laat val gereeld uit die bloute sulke wilde stellings, welwetende natuurlik dat die hele dis suiwer een mens se verantwoordelikheid gaan wees – en daardie een mens is beslis nie Klaradyn nie, nog minder syself.

Al wat ek moet doen, benewens om die dis op te tower, is om my seëninge te tel – sy kon met dieselfde gemak genoem het dat ons deel van die gesin 'n gestopte speenvarkie met 'n appel in sy bek en glasuur oor sy gat sal voorsien.

Ek is in elk geval nie histeries nie, al het ek in my ganske lewe nog nooit paptert gemaak nie, het ek twintig jaar gelede die lekkerste van lekker papterte by Maryna geëet (ek onthou iets van 'n blik kondensmelk). Verder het ek so sewe jaar gelede 'n boek present gekry waarin 'n mens jou eie resepte moet aanteken.

Ek het die boek onder my vriende sirkuleer en elkeen moes daarin 'n gunstelingresep deel.

Toe ek Saterdagmiddag, voor die ete, by hierdie resepteboek uitkom, toe is dit nie Annelize se heerlike paptert nie, maar Annelize se heerlike stampmieliegereg.

Tyd om stampmielies gereed en verwerk te kry, is daar nie – behalwe as ek afsit Spar toe en die klaar bereide samp gaan koop, maar dit sal vir my soos verneuk en lui huisvrou voel.

Dit neem egter nie veel tyd om nie minder nie as vier verskillende paptertresepte voor my oop te kry nie – en as ek nie so haastig was nie, het ek seker nog twee ander ook opgespoor.

Tot my spyt maak nie een van hulle melding van 'n blik kondensmelk nie. Miskien onthou ek verkeerd, ek weet nie. (Ek sal Maryna pols en straks deel sy haar resep met ons.)

Nadat ek my vier resepte onder oog had, was dit duidelik – daar is slegs twee groot gemene delers:  'n blik suikermielies en gerasperde kaas; wat die res betref, slaan elkeen sy eie rigting in.

En vandat ek in 1989 een keer per ongeluk twee bobotieresepte so langs mekaar in 'n kookboek opgemix het, en dit heerlik uitgekom het, is ek nogal lief daarvoor om dan iets van alles wat ek raaklees by te werk.

Maar eers moet ek die resep volg om pap te maak. Beide my ouers het in die Kaap grootgeword en hul neuse vir pap saam met braaivleis opgetrek. Uit my kinderdae onthou ek van slegs een keer wat my ma pap gemaak het. En dan jok ek, sy het dit nie gemaak nie, die huishulp moes. My ma het die koue pap toe in vingertjies gesny, spekvleis daarom gedraai en dit saam met drankies voorgesit.

Toe ek genoeg pap vir agt mense in die pot aan die gaar kom het, het ek 'n pakkie spekvleis bros gebraai. Nee, ek gebruik nie die snippers nie, dis te dik, ek gebruik gewone spekvleis-repies wat ek, as dit eers lekker bros is, uit die pan haal en met 'n skêr fyner en kleinder snipper.

In die spekvleis se vet wat uitgebak het, het ek toe 'n vet uit, in dun repies gesny, gebraai.

Hierby het 'n pakkie opgesnyde sampioene gekom.

Ek het drie tamaties vel-af gemaak en grof gekap. Dit is saam met fyn repies geel soetrissie in die pan in.

Ook drie knoffelhuisies, vars pietersielie en heelwat blatjang. (Ek het ook met bykans elke botteltjie kruie met sy kenmerkende groen deksel gespeel, en onthou in die besonder 'n knypie tiemie.)

Die een resep het vir die tamaties gevra om die sous 'n sous te maak, die ander het blatjang bygevoeg, en nog 'n ander room.

Ek het nie kans gesien om die halwe kannetjie room wat in die yskas was, by die tamatie en blatjang te voeg nie – toe werk ek my room by die gaar pap in – wat heerlik was. (Ek glo enige iets, van biltong tot wit brood, smaak lekkerder met 'n halwe kannetjie - liefs 'n hele kannetjie - room.)

Saam met die room is ook die blik suikermielies en 'n groot hand gerasperde kaas ingewerk.

Aanvanklik het ek die sous in die pan in drie dele verdeel en beplan om my pap in vier dele te deel. Op soek na 'n geskikte bak, besef ek toe dat ek besig is met 'n mieliepapgereg, nie 'n paptert nie – 'n paptert moet tog in 'n tertbord bedien word en aan 'n tert herinner.

So toe kry ek 'n diep tertbord uit en kry die helfte van die pap onder in die tertbord. Al die souserigheid volg toe.

Die oorblywende helfte van die pap, het ek toe lepelsvol in groterige bolletjies gerol. Hoe het ek nie vir Anna Mofokeng, die vrou wat my help grootmaak het, gemis nie! Die pap wat ek kleintyd ingekry het, was saam met haar, wat ons bolletjies gemaak het en in 'n sousie klam gekry het. (My ma het spottenderwys van pap en tik gepraat oor jy die bolletjie in jou hand so in die sous ge-tik-tik het.)

Hierdie groterige bolletjies het ek toe plat gemaak en die skyfies pap, met redelike groot oorvleueling, bo-op die sous staan gemaak. Die boonste deel van die tert herinner nou aan 'n prehistoriese vis se vel met baie groot skubbe.

Hieroor rasper jy nou, met die fyner kant van die rasper, 'n dun lagie kaas oor die tert. Nee, jy rasper nie kaas en strooi dit bo-oor nie, die kaas klou vas en land in hompe op die tert – jy staan met die rasper oor die tert en rasper.

Waar jy netnou rojaal was met die kaas wat jy in die pap ingewerk het, kan jy nou maar suinigerig wees.

Bak jy nou tert op 160 of 170 grade tot deurwarm, smelt die kaas nie in 'n dik kors bo op die tert (soos met een wat nie weet van lasagne maak nie) nie, maar smelt dit in 'n dun lagie oor die papskywe – plek-plek skyn die ligter kleur van die pap deur die geel, en die boonste knoppies van die skubbe verbruin weer lieflik.

Dit was regtig lekker – Skoonpa het 'n tweede porsie geneem (en enige iets waarvan hy ooit 'n tweede porsie neem, is altyd 'n kompliment.)

Dit was lekker. Ek sal dit weer maak.

Maar kan nie wag om van Maryna en die kondenmsmelk te hoor nie.

30.10.11

Oktober op sy rug


Dit is en bly die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand. Die houtkappers en ander geveerde vriende sorg soggens vir 'n ongekende malsheid in die lug, en om wakker te word sal geen ander tyd van die jaar so lekker wees soos juis nóú nie.

Maar wat die mens se kalender betref, hou hierdie tyd van die jaar 'n amperse malligheid in wat vir niks skrik nie. Na twee weke waarin beide ek en Annieka vyf uit die vyf weeksaande by die skool sou moes wees as ons nie doelbewus begin nee sê het en briek aandraai nie, tref Klaradyn toe ook verlede week 'n week met drie uitsonderlikhede in een week ingeprop. Dis nou benewens Voortrekkers en swem en kuns (waarvan laasgenoemde twee op Woensdag moes sneuwel om terug te staan vir die res).

Dinsdag het sy by Drama-klas 'n kommunikasie-eksamen afgelê. Toe ek Annieka vra of dit lekker was, laat val sy dat dit nie iets is wat as lekker beskryf kan word nie – dit is en bly 'n eksamen. Maar ons kind het haarself goed gehandhaaf en dit was beslis blootstelling en ervaring wat gebou en nie en gebreek het nie.

Dit is en bly maar iemand wat uit ander 'n bestaan moet maak en toe met die gedagte van 'n kommunikasie-eksamen vorendag gekom het. Klaradyn se portuur moet oor hul gunstelingspeelding gesels en ook op vrae rondom die onderwerp van bespreking kan reageer. Dan kan Mamma of Pappa uit hul gunstelingboek voorlees, waarop hul dan weer eens moet reageer. Óf hulle kan self lees, met dien verstande dat die eksaminatrise deeglik daarvan bewus is dat hulle nog beginnerlesers is.

Klaradyn berei toe die eerste klompie bladsye van Babalela – oor jare heen beslis die boek wat sy die meeste na gevra het – voor. En met die dat sommige skole die boek as graad 1-leesboek aangekoop het, reken ons dit gepas vir haar ouderdom en leesvaardigheidsvlak.

En toe maak die tannie die boek in die middel oop en sê Klaradyn moet lees – glad nie dit wat Klaradyn voorberei het nie. Maar sy lees, weliswaar nie so vertolkend soos die eerste helfte wat sy voorberei het nie.

Die outjies na haar het duidelik gestel dat hulle sekere bladsye voorberei het, maar Klaradyn wat on the spot in die hot seat sit gemaak is, het haar sit uitgesit, en, volgens haar, baie geniet.

Die meeste van vandag se kinders wat die voorreg het om iets soos dramaklasse met kommunikasie-eksamens te kan geniet, het natuurlik hopeloos te veel speelgoed om enigsins iets soos 'n gunstelingspeelding te kan hê; selfs iemand soos Klaradyn wat nie soos talle van haar maats toegegooi onder speelgoed grootword nie. (Gooi ons haar toe, is dit onder liefde en, materieel gesproke, onder boeke.)

Klaradyn kies toe haar hart se punt – 'n soft toy waarmee sy 'n sterk emosionele band het. In plaas daarvan om Annieka toe te gooi onder salfies en roompies en doekies en borslappies en skoentjies en dingetjies, het die dames op die personeel dit agt jaar gelede goed gedink om hulle geld saam te gooi en een ekstra-groot, jumbo-jumbo-grootte, wollerigste van wollerigste, wollerige speelgoed-honde gekoop.

Dis regtig een van daardie wollerige speelgoed-diere waaroor die gemiddelde ouer of kind lewenslank regtig net kan droom – dis bloot net te groot en te duur om te kan koop.

En vir Klaradyn was dit vanuit die staanspoor 'n uitgemaakte saak – sy gaan oor Broensie praat. Ons het die dier voor Klaradyn se geboorte, Bruno gedoop; sý het dit jare later van die troetelnaampie, Broens, voorsien – maar as sy baie lief vir die dier voel, wat bykans altyd is, praat sy van Broensie. Hierdie verkleiningsvorm is natuurlik heel belaglik want, selfs op sewe, is die dier, van sy toontjie via sy kroontjie tot sy ander toontjie, uitgestrek, steeds langer as Klaradyn van haar kop tot haar toon.

En Woensdag, na Dinsdag se eksamen, moet die kind toe in 35 grade plat resies op die skool se jaarlikse interhuis hol. En ook nie net plat resies nie – sy moet vir haar span stokkieresies ook hol. (Toe haar juffrou vroeër die dag vir 'n ander seuntjie vra of hy die middag deelneem, antwoord hy dat hy wel gaan hol, “maar ek is nie een van daai wat met die ysters hol nie.”)

Ek het in my laerskoolloopbaan hoogstens sakresies gehop in 'n baan, dis al. Annieka se atletiekprestasies, en sy praat óf nie veel daaroor nie, óf daar was nie veel daarvan nie, was, verbeel ek my, ook eerder op die veld as om die baan.

So ons was altwee vreeslik verbaas en trots om te hoor Klaradyn verteenwoordig die Berghane op die interhuis en sy moet tot dan elke dag hardloopklere saamneem skool toe om in die aktiwiteitsperiodes te kan oefen.

Wat die sewejariges betref is die Berghane egter vir die volgende ses jaar uitgelewer aan die onderpunt van die atletiese genepoel. Klaradyn het in die bondel, eintlik nader na die stert se kant toe, daar aangekom. Maar dit was vir haar een vet heerlikte – al wat miskien vir haar nie so lekker was nie, was die feit dat sy nie onder die eerste drie opgeëindig het nie. Maar daardie nie lekker nie is so gering dat dit geensins opweeg teen die lekker nie.

Ek het besef ons moes die kind beter voorberei het toe die een Mamma laat val dat hulle die wegspring en uit-die-blokke-kom, vorige agtermiddag by die huis geoefen het. Miskien moes ons haar meer opge-psyche het, die kompetisieding en wenmotief ingeprent en –dril het, ek weet nie.

Maar met die aflos, sorg Klaradyn toe vir die mooiste oomblik wat net die mooiste in haar karakter verklap. Vir 'n ander Pappa sou dit straks die grootste verleentheid wees, maar soos met die lekker en die nie-lekker-nie hier bo, was die verleentheid gering geensins iets wat opweeg teen trots wat in my hart oorgeloop het nie.

Klaradyn spring toe in die buitebaan weg. Dit het tot gevolg dat sy 'n hele paar tree voor die maatjie in die middelste en binneste bane staan. Ek weet nie of die rede hiervoor ooit duidelik aan die kleintjies uitgespel is nie. En soos die noodlot dit wil hê, spring een van haar beste maatjies vir die ander span in die binnebaan weg.

So toe die skoot klap, spring Klaradyn vervaard weg, maar kyk dadelik om, om te sien wanneer kom haar maatjies dan. En toe mis sy die bondel en die res van haar maatjies, en toe wag sy vir hulle, dat hulle haar kan inhaal en dat hulle saam lekker kan hol en jol.

En daar maak my kind haar skuldig aan die mees prysenswaardige optrede wat ek onder omstandighede nie kan aanprys nie. Hierdie vaderhart sal daardie mooiste van mooi oomblikke nie sommer gou vergeet nie; wat vir ons nederlaag kon wees, toe een groot sege en oorwinning.

Daardie aand raak ons meisie onder die tafelgebed aan die slaap – sy het 'n heerlike agtermiddag gehad. (Ook die eerste keer dat ek my kind bed toe stuur sonder dat sy haar huiswerk klaar gedoen het – maar dis ons wat ons voet neergesit het, nie ons kind nie.)

Vrydag, toe breek die lekkerste van lekkerstes op die skoolkalender aan:  kaskar 2012.

Ek het darem al heelwat kaskar-byeenkomste in my lewe meegemaak.

Die allerlekkerste van allerlekkerstes was Alberton se jaarlikse, propperse, kaskarwedren. Hier is nie al in die rondte gehardloop om geld in te samel nie, hier is bult-af gestoot om te sien wie wen, die karre in verskeie kategorieë, die drywers en stoters en bestuurders in verskeie ouderdomsgroepe.

Ou-Alberton, soos ons die oudste deel van die dorp genoem het, is teen 'n bult gebou, en een van die steiler state is hierdie betrokke Saterdag feestelik afkordon en in 'n resiesbaan omskep. Toeskouers het die sypaadjie volgestaan en daar was ballonne en trofees en spookasem en springmielies.

En toe ek begin skoolhou, toe stoot ons in die rondte op die sportveld om geld te maak.

Van hierdie soort het ek al baie as registeronderwyser meegemaak.

Deesdae huur die skole kaskarre in; ek onthou die jare toe elke klas sy eie kaskar moes kry, of self bou. (Een jaar is my klas se geleende kaskar gesteel – maar die diewe het die ding na hulle den moes stoot, toe spoor ons die ding twee dae later met baie rondvra en uitvra en snuf en speur in East-Lynne op en stoot dit al die pad terug skool toe.)

Hierdie was egter my eerste kaskar-byeenkoms as ouer. En dis net so lekker, indien nie lekkerder nie.

Waar die laerskole, tot ons hoërskole se nadeel, nie meer atletiek beoefen met toeskouers wat toejuig en sing met stringe dirigente nie, het iets daarvan oorgeskuif kaskar toe. Elke klas het sy eie kreet en daar word luidkeels aangespoor en –gepor.

Ek kon Klaradyn nie kwart voor drie, vir vyfuur, by haar skool kry nie, Mamma moes dit doen; ék het my weg deur vyftien dekadente koeke, in ons skool se jaarlikse feestelikheid waarvan potjiekos en koeke 'n item is, geproe en beoordeel.

En nou weet jy hoe elke bakker en bakster van sy of haar koek is – hulle wil elke beoordelaar van 'n volwaardige porsie voorsien. En hierdie beoordelaar weet hy moet daarin soos met 'n wynproe – hoogstens 'n teelepelgrootte per koek. En hoekom kan hier maar soos by wyn iets soos 'n diskrete spoegbakkie ook maar wees nie – die laerskool se brief het genoem die ouers help stoot as dit hul kind se beurt is om te bestuur.

Toe ek, uitgeswel soos 'n balie en soet tot agter my ore by die huis aankom, tref ek Annieka soos 'n resiesperd in 'n wegspringhok aan:  “Jy moet gou maak, daar is nie meer parkering of plek vir 'n muis om die skool nie, ons gaan laat wees, dis vreeslik groot, met vreeslik baie mense – ons kind kan verbouereerd raak, dis amper soos by die Randse Paasskou oor Paasnaweek.”

En sy het nie oordryf nie. Ek het daardie skoolterrein nog nooit so besig gesien nie. Dis soos karnaval, kermis en basaar tegelyk.

Ons het weer eens besef ons kind se juffrou is die beste. Sy het gevra dat ons nommers van 1 tot 30 vir die outjies sal maak om aan te steek. Op die manier kon elkeen sy beurt afwag om om die baan gestoot te word, niemand kon huil en kla dat 'n ander voor hom of haar, of meer as hy of sy, agter die stuur en om die baan was nie – alles het in beheersde numeriese volgorde geskied.

En dan was die doel by ons kuipe duidelik – die leerders moet die pret hê. Gevolglik het die maatjies, en nie die maatjies se ouers nie, die meeste van die stootwerk gedoen. Met 'n ander uitgangspunt sou ons klas strakkies meer rondes kon afmerk, maar vir die kleintjies was dit die lekkerste van lekker om mekaar te kon stoot. En wat die stootwerk betref, het jy nie nodig gehad om jou beurt af te wag nie – die oomblik wat jy kans sien, kan jy inval.

Klaradyn se een maatjie het die een oomblik nog gehuil oor haar voet as bestuurder iewers in die pad van 'n as of speek gekom het, maar toe ek weer sien, toe stoot sy asof haar voet in geen jare met ys behandel is nie, en weer 'n keer, en nog 'n keer – as ons die kind nie teen ronde drie aangesê het om nou briek aan te draai nie, sou sy haarself in die opwinding van die oomblik reguit in 'n floute in gestoot het.

Ook Klaradyn het meer rondes op haar voete, as op haar boude in die bestuurdersitplek, meegemaak.

Ek wou darem een keer voel hoe dit voel om my kind om die baan te help kry (miskien wou ek voel hoe dit voel om laat te gewag het om 'n gesin te wil begin) en toe ek wegtrek, was ek skaars enkele treë verder klaar spyt, vreeslik spyt – my broek wou afsak tot op my knieë.

Netnou nog het ek gelag vir oudleerlinge uit die vroeë jare negentig wat lankal nie meer die superatlete en rugbyspelers van 30 jaar gelede is nie. Daar hol ons interhoëratleet van ouds nou met kniestut agter sy seun aan, en net voor hom is een van die skool se destydse Springbok-drome met 'n effense hinkepink agter sy dogter om die baan.

En nou voel dit of elke oudleerling sedert 1989 gereed staan om vir Meneer Moolman, wie se broek oor twee treë onder op sy knieë gaan lê, te lag. Met die een hand op die stootstang en die ander op die gat, maak ek toe maar klaar. Net om twee rondes later te sien dat 'n ander oudleerling van 1990, wat intussen buurman en vriend geword het, sit met dieselfde dilemma as ek – hoe verder ons hol, hoe meer neig die broek af onder toe.

En dis my eie skuld, ek moes geweet het. Ek was nie lus vir iets wat knel (om my al groter wordende maag) nie en het toe die eerste beste broek met 'n rek gekies – dit was toe my swembroek wat streng gesproke twee nommers te groot vir my is. Ek kón die broek ook nie stywer vasbind met die lawwe veter voor by my naeltjie nie – die flappe was al klaar reeds op hul uiterste en kleinste toegetrek.

Die kinders sou van vyf tot sewe hol, en ek het begin uitsien dat hulle nou oormoeg word sodat ons mammas en pappas kan inskop en begin stoot – my eerste ronde met my een hand op die bonsende perisentrum van my boepens, het my net lus gemaak vir nog.

Maar voor die kinders kan begin uitsak, is dit duidelik dat 'n stormreën wat vir niks skrik nie oor ons gaan uitsak lank voor die ghong 19:00 slaan. Ek dra ons stoele motor toe, toe die koelboks met vrugteysies en ys. Toe ek weer by die kuipe kom, het Ouma en Oupa wat hulle by ons aangesluit het, verstandiglik verkas – hulle motor het baie ver parkeer gestaan, en dis net per groot geluk dat hulle droog by die huis gekom het.

Die volgende oomblik ruk 'n stormwind ons kuip se tent, met my aan die een punt, amper hoër as die pawiljoen en ons breek met moeite die kuip af.

Ook net betyds dat ons onder dak kom.

Ons kan egter nie dat die kinders se aand in teleurstelling eindig nie – ek nooi summier 'n klasmaatjie se ouers (die pappa nóg 'n oudleerling van 1990) om by ons te kom eet. Die mammas en kinders huis toe in die een motor, ons pappas in die ander om die winkels voor toemaaktyd nog oop te vang.

In die winkel kom die oproep deur:  verander die spyskaart na iets wat nie krag nodig het nie, daar is 'n kragonderbreking.

Toe maak ons kos en kuier by lamplig – te gesellig, en die kinders het 'n heerlike agtermiddag en aand om nog lank te onthou.

Volgende jaar maak ons weer so – hopelik sonder die storm en die reuse doringboom wat 20 meter van ons motorhek af die hele pad toe, en die kragdrade stukkend, geval het.

Die drama-eksamen sal nie vroeër of later kan skuif nie, die skoolprogram sal nie veel kan verander nie, maar ons sal daar deur.

Ons het weliswaar van die swem 'n SMS gekry om ons te nooi na 'n vriendskaplike gala wat volgende week plaasvind. In belang van ons kind, en onsself, het ons dit vir hierdie jaar van die hand gewys.

23.10.11

Blye weersiens


Van baie boeke wat ek onthou kan ek die tipies Afrikaanse sinnetjie sê:  “Dit was 'n lekker boek om te lees.”

Dan is daar boeke wat nie noodwendig lekker is nie, maar die omstandighede waarin ek dit gelees het, onthou ek as lekker.

Die lekkerste van lekker boeke, daarom die enkele boeke wat dubbel en dwars lekker leeservarings is: lekker stories én lekker omstandighede.

My allerlekkerste lekkerste van lekker boeke, sedert 1988, daarom Jan van Tonder se Is Sagie. Sy Aandenking vir 'n vry man het nie tot my gespreek nie, maar ek is al meer as 20 jaar spyt dat ek Is Sagie uit my hande laat gaan het en nog nooit, êrens, 'n tweede kopie kon raaksnuffel nie.

My Is Sagie het ek, by 'n plek wat ek my verbeel Klein Gelukkie of Gelukkie genoem is, een Saterdag op my rug, in die koelte, op die walle van die Okavango-rivier gelees.

En 23 jaar later sal ek vir die eerste keer wonder welke klein of los gelukkie watter staandemag-lid hier raakgeloop het, dat hulle na die betrokke kampplekkie as Klein Gelukkie verwys het. 'n Paar van ons troepe het die naweek saam met 'n paar PF’s (Permanent Force members) en hul gesinne hier kom uithang.

En as ons nie in die water, 'n effense stroomversnelling sonder enige kanse van krokodille, was nie, was ons op ons rug op die wal. Ons was die Vrydag op Rundu, en ek het my Is Sagie daar raakgeloop in 'n baie klein boekwinkeltjie. (Ek verbeel my trouens dit was iets soos 'n tuisnywerheid, of snuistery-winkel, met 'n enkele rak of twee met 'n paar Afrikaanse boeke op.)

So in my een hand wel 'n bier, maar in die ander 'n boek. En daar ruk Jan van Tonder my in die lewe van Sagie in. Dit was heerlik (heerlik soos in lekker), 'n heerlike storie, 'n heerlike ervaring, 'n heerlike dag. Ek het heerlik gehuil ook. Maar nie 'n slegte huil nie – 'n huil waarvan jy regtig kan sê dat jy heerlik lekker gehuil het.

Daarom ook dat ek nooit oor die Gelukkie in die naam van die kampplek gedink het nie – vir my was dit een moerse geluk, een van die lekkerste dae in twee jaar dienspligpleging aan Jannie Geldenhuis en die ander soos hy.

Toe Die Kind 'n twee of drie jaar later verskyn, toe koop ek dit vir my graad 10’s aan en ek onthou die boek as baie leerders se eerste lekker leeservarings ooit op skool. Vir baie van hulle die eerste (en ongelukkig ook enigste) voorgeskrewe boek wat hulle op hoërskool enduit gelees het.

Drie jaar terug toe maak ek weer so. Sodat die oorgrootte meerderheid van die leerders darem matriek uit kan stap en sê dat hulle daardie boek van bladsy een, tot die laaste, self gelees het én elke oomblik daarvan geniet het.

Maar toe Roepman destyds op die rakke kom, toe het ek geen begeerte om die boek te koop nie. Dit was, weet ek, omdat die boek aan my bemark is as sou dit 'n outobiografiese streep deur hê. En elke mens mag mos maar sy geite hê – as die woorddeel outobio- vaagweg in 'n woord herkenbaar is, bly ek weg. Nie hieroor of daaroor nie, dis suiwer -geit. Of dit nou onnosel-geit of simpel-geit of watse –geit ook al is, maak nie saak nie.

Toe leen 'n kollega my die boek verlede Desember. En ek lees dit maar. Mooi of lekker is die storie waaragtig nie. En ek het getjank. Baie. Maar lekker huil was dit ook nie. Sommer pleinweg 'n baie slegte snot en trane was dit gewees.

Toe die fliek Meimaand begin draai, was ons te besig, en die Vrydagaand wat ek en Annieka uiteindelik vry en vir Klaradyn by Ouma-hulle het, was toe die week waarin hulle die fliek by die laaste teater ophou vertoon het. (Ons het toe nie eers gaan uiteet nie – Annieka het op my skoot voor 'n DVD wat ons uitgeneem het, aan die slaap geraak.)

Met die dat ek die boek al gelees het, was ek al heeltemal uitgehuil aan die storie toe ek uiteindelik die fliek op DVD te siene kry.

Maar die fliek was vir my een van die ontstellendste ervarings in baie jare. Ongelukkig eers aan die einde. Toe die storie uitgewoed is en die name oor die skerm begin rol.

Daar staan Rika Sennet. O genade! Waar was Rika Sennet? Ek het haar nie gesien nie!

Paul Luckhoff! Nee, o, hemel, hy het nie in die fliek gespeel nie! Ek sou hom mos herken het. Dis hy wat oor jare en seisoene heen die rol van Saul Barnard in Peet van Rensburg se verwerking van Dalene Matthee se Kringe in 'n bos gespeel het. Ek het die produksie seker agt keer gesien, letterlik in Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein, Durban én op Rundu. Hoeka in 1988, die jaar wat ek op Klein Gelukkie uitgehang het!

O, aarde, en daar is die naam van 'n girl wat saam met my geswot het! Kan nie wees nie, ek het haar ook nie geëien nie.

Ek het Petru Wessels – sy het my heel eerste ATKV-skoletoneelkompetisie-aanbieding beoordeel en ons het jare later minstens een keer 'n jaar saam by gemeenskaplike vriende begin kuier - nie eers herken nie.

En toe ek rewind om hulle te soek, toe het Rika, ou skoolvriendin van my broer, een van die hoofrolle vertolk.

Ek glo maar steeds dat die karakter wat aldus die rolverdeling aan Paul Luckhoff toegedig word, wel deur Paul Luckhoff vertolk word, want van my 1988 Kringe in 'n bos Saul Barnard (ek het op my seven days pas in 1987 ingesit terwyl hulle aan die produksie aan het repeteer was) kon, en kan ek steeds nie, 'n enkele trek herken nie.

Dieselfde wat betref die girl derdejaar was, toe ek eerstejaar was.

Daarom dat ek so ontsteld was, so vreeslik bitterlik ontsteld was – het ons dan so oud geword. Dit wat met hulle gebeur het – om onherkenbaar oud te word – moes dan tog sekerlik met my ook gebeur het!

Maar daarom ook dat ek vanoggend soveel beter voel, en nou hier sit en tik.

In my tweede jaar, was daar hierdie eerstejaar wat van iewers op die platteland – ek onthou nog goed presies van waar – gekom het.

So naïef en jonk en onskuldig en plattelands en alles wat mooi is, was sy gewees, dat sy die een snobgat vroue-dosent grensloos ontstel het, elke keer as sy haar, nie as Mevrou nie, maar as, Antie aangespreek het.

Die lieflike mooi meisiekind het toe oor die jare heen ontwikkel tot waar sy vandag 'n baie prominente figuur oor die eter en op die lug is.

Self het ek haar laas in die middel tagtigs van die vorige eeu gesien. Hoor, hoor ek haar ook maar min – die radio is selde aan in die huis, my motorradio vang geen radiostasie op nie, en ons TV-antenna is jare reeds nie eers gekoppel nie.

En toe gisteraand, op die vliegtuig Baai toe om met Afrikaans-onderwysers te kom gesels, kom hierdie figuur die gangetjie afgestap, en ek vertel myself dis sy, die meisie uit die Verre Dorre Groot Haai Karoo.

Miskien misgis ek my.

En ek noem haar naam. Die naam waaronder ek haar leer ken het, nie die verhoog-, radio- en televisienaam waaronder die Suid-Afrikaanse luister- en kykpubliek haar leer ken het nie.

Maar sy reageer nie.

Miskien het sy nie gehoor nie. Miskien onthou sy nie meer haar naam nie.

Miskien is dit nie sy nie!

Maar toe is sy by my, en ek lees die van op haar kaartjie, en ek wéét dit ís sy.

Dis 26 jaar later... en ek herken haar... soos gister...

Ag, nee wat – ons het g'n so oud geword nie! Ons is nie verby en oor die muur en afgeskryf en vergeet nie. Die beste lê nog voor

Dis al die tyd die bloody Paul Eilers en sy grimeerkunstenaars wat Rika en Paul en Petru en daai outjies 30 jaar ouer en onherkenbaar gemaak het.

Die saak is reg. Die Kaap is Hollands. Die kind se naam is Wit Willem!

14.10.11

Gedagtes tree aan


Ek soek vanoggend iets om op ougoed te pos, toe ek lukraak die dokument wat volg oopmaak.

En na ek gisteraand Tree aan in die Statusteater gaan kyk het, is dit waarvan ek in die eerste helfte van hierdie stuk geselskap aanknoop, op 27 Oktober 2010, vertel het, presies wat gisteraand deur my gedagtes gegaan het.

Die laaste deel waar ek dit oor Koos Kombuis het (hoeka hy wat begin het met die fase [in Afrikaanse musiek] van Anton Goosen en Musiek en Rumatiek  [Musiek en Liriek] in die Statusteater) is ook nie toeval nie – ek het heel week in die motor verlede week in sy geselskap deurgebring, en was in my gedagtes meer in die bungalow op die grens as in Pretoria in my motor.

Aangesien ek vertroud is met toneelkonvensies het ek die uiteinde (drie ure later) van Tree Aan, sewe minute na die gordyn gelig het reeds geken. Maar toe daai man kom met die naam van elkeen van die weerlose weerbare jong outjies wat in die 20 jaar of wat van die oorlog hulle lewens gegee het vir dit wat aan hulle vertel is, hulle land was, toe knak die regisseur my in twee.

Toe tjank ek snot en trane, toe tjank ek so, en toe rol die name gelukkig so vinnig, dat ek nie die drie of vier name wat ek sou wou opsoek, kon uitwerk, opspoor en raak lees nie.

En toe maak ek sommer van die geleentheid gebruik om Judy se troepie-pakkies wat sy so getrou gestuur het, ook met 'n snotsnik in die herinnering te roep.

Na afloop van die vertoning wil iemand in ons geselskap ons aan een van die hoofspelers in die produksie bekend stel. Ek hou myself op 'n afstand - nie hieroor of daaroor nie - ek wil nie dat 'n snotkop youngster moet sien met watse dik gehuilde oë hierdie ou oom sit nie, beslis nie enige een van die talle youngsters in die produksie wat geen maar geen verwysingsraamwerk van die produksie se bronmateriaal het nie. Dit grens amper aan sonde dat sulke youngsters met ons herinneringe omgang moet hê, maar dit nou maar daar gelaat - 'n 47-jarige has been, gaan any way moeilik die rol van 'n 18-jarige rower vertolk.

Hier dan verlede jaar, maar ook die laaste week, en in die besonder gisteraand, se gedagtes:

Die Poskantoor het in die tagtigerjare ‘n kartondosie spesiaal vir troepies se ouers om pakkies grens toe te versend, verkoop.

Donderdagaand was posaand, dan het jy die kilometer of wat deur die bos hoofkwartier toe gestap en gehoop daar is iets vir jou.

Judy was baie getrou met een pakkie elke maand, een van hierdie spesiale Poskantoor-pakkies.

Nou Judy is ‘n baie presiese mens gewees; sy het daardie boksie gepak op ‘n wyse dat hy 100% vol is en daar nie ‘n geringe kans bestaan dat selfs ‘n tuisgebakte speserykoekie miskien kan skuif en breek nie. Was daar iewers ‘n 2 cm2 spasie, dan sal sy ‘n pakkie malvalekkers (van daai met die klapper om) koop en een in ‘n plastieksakkie sit om die 2 cm2 te vul.

Nodeloos om te sê dat bykans alles, of dit nou breekbaar is of nie, soos Noritake of Royal Albert in koerantpapier toegedraai is, selfs elke maand se De Kat en Insig.

En as ek klaar het met De Kat en Insig dan lees ek maar die verpakking van hoek tot kant deur; meestal was dit bladsye uit die plaaslike gemeenskapskoerantjie, die Alberton Rekord/Record, wat daardie jare gelukkig uit meer as net advertensies bestaan het.

Maar eendag toe is dit ‘n bladsy uit Beeld met ‘n klein beriggie, skaars vyf paragrafies lank (ek het dit vandag gaan soek, maar Beeld se internet-toeganklike argiewe gaan net tot 1989).

Dit vertel van ‘n nuwe Afrikaanse sanger wat pas ‘n plaat (kasset?) by Deon Maas se Shifty Records uitgegee het; die naam van die vrystelling is Ver van die ou Kalahari, die sanger, Andre le Toit, gaan onder die naam Koos Kombuis en die kasset kan teen R25-00 van Shifty Records bestel word.

Nou Andre le Toit (Andre le Roux du Toit?) se debuut in die digbundel Brekfis met vier het ek op universiteit uit my kop geken; sy eerste digbundels, sy destydse kortverhaalbundels het ek gekoop en sommiges daarvan letterlik gememoriseer vir vertolkingsprogramme – en nou kom hy en sing ook nog.

So wat doen ek? Ek sit R25-00 van my danger pay in ‘n koevert en stuur dit vir hulle via die veldposkantoor met sy privaatsak.

(Ek het sommer vir die man ‘n brief ook geskryf en vertel dat ek saam met een van sy universiteitsvriende my basiese opleiding gedoen het.)

En via die einste privaatsak (en ek kon nooit verstaan waarom iets met so ‘n X-rated naam nie eerder privaatsak XXX-127, in plaas van X127 is nie) kry ek toe ‘n maand of wat later my eerste tape van Koos Kombuis.

(En ‘n brief van die man homself om te vertel van ons gemeenskaplike vriend.)

Wat daardie tape in 1988 of 1987 vir ‘n Hans Moolman op die walle van die Okavango-rivier beteken het, kan twee en twintig jaar later helaas nog steeds nie in woorde omskryf word nie.

You had to be there, at that time, in that times, and in my shoes.

Ek het hom voos geluister, ons het hom voos geluister, en het een of ander kolonel my in die middel van die nag wakker gemaak, sou dit vir my makliker gewees het om die hele kant 1 vir die man op te sê, as wat dit sou wees om my eie magsnommer uit te roep. (En dis iets onvergeeflik in die geselskap van die SAW&Seuns. 13988212BG, is seker nie sleg vir 22 jaar later nie.)

In ‘n stadium het die man my vervreem (tien teen een oor ‘n kortverhaal wat ons met die matrieks gedoen het en ek tot vandag toe oortuig is die man spook gerook was toe hy dit geskryf het; en nou moet ons sy snert as literêre werk ontsluit). Maar dit was eers lank na ek een aand laat by die KKNK in ‘n ry staan om by een van sy vertonings in te kom en ‘n seuntjie, duidelik van die dorp en hier toe aangedryf deur sy bewondering, kyk na my, en vra met verafgoding in sy oë:  “Oom, is Oom Koos Kombuis?”

Na die vervreemding het hy my egter weer teruggegwen, teruggewen in so ‘n mate dat die tweede CD wat ek (hierdie keer op my eie) gister in die motor geluister het Ver van die ou Kalahari was.

Elke liedjie vertel mos maar sy eie storie; hierdie hele CD het my teruggeneem grens toe en wonderlike herinneringe teruggebring.

Laurika luister ek vanaf ‘n geheuestokkie wat ek vir myself saamgestel het.

So watter CD ek volgende kar toe gaan sleep, weet ek nie.


13.10.11

Entrepreneursdag (Hoofstuk II)


Ek sê dit baie:  elke kraai dink sy eier is die witste.

Maar dan is daar kraaie, soos hierdie pappa-kraai en Klaradyn se mamma-kraai, wat dit nie dínk nie – hulle wéét dit.

En toe ek gister na die entrepreneursdag by die laerskool in die motor klim, toe weet ek dit weer, toe weet ek dit opnuut, toe weet ek dit van vooraf aan:  in my oë is my kind spierskitterleliesneeuwit.

Ek was só trots op Klaradyn wat heeltyd in die son gestaan en werk het, kleingeld uitgetel, kopers nader gelok en klante bedien het.

Die velletjie papier wat Maandag toe hier aangekom het, het genoem van 08:30 die stalletjies bou.

Teen 07:45 had ek die basaartafel egter al gesoek en opgespoor en was, én ek, én my motor, soos twee spreekwoordelike resiesperde in 'n wegspringhok.

O8:00 besluit ek toe maar om die lang ent pad (drie blokke) skool toe aan te durf – dis spitsverkeer in die voorstad en netnou kry ek 'n pap wiel langs die pad. Ek wil ook seker maak ek kry staanplek vir die motor iewers naby die hek, want teen daardie tyd het ek dit al oorweeg gehad om die sleepwa te haak, ek sal nie vier keer moet loop nie, ek sal vyf of ses keer moet loop.

En toe ek 08:04 daar stop, toe is ek bly ek het nie 'n terugslag langs die pad gehad nie – die pappas en mammas en oumas en oupas skrop al nes onder die bietjie skadukolle wat daar is. En dan is dit nie groentjies soos ek nie – jy kan sommer op 'n afstand sien dis ou gesoute entrepreneursdag-ouers en –grootouers hierdie; hulle wéét van.

Maar ek is gelukkig, ek is betyds vir 'n skadukol aan die oorkant van die veld. Na ek 'n derde keer aangekom het, met die tweede tafeltjie en twee uithangborde wat aan twee straatnaampale herinner – dit help as Mamma toegang tot haar opedaggoeterstes het – skuif ek toe maar ek skadukolletjie uit, die stalletjie raak nou 'n bietjie breed vir die kleim wat ek vir myself afgesteek het.

Ons leuse is nie verniet gaan groot of gaan huis toe, gaan groot of gaan dood nie; en vandag gaan ons bloot nie so groot nie, maar so breed – veral met hierdie twee bloedrooi advertensieborde wat soos die oop vlerke van 'n engel links en regs van die tafel gesprei staan.

Net om seker te maak die mense verwar dit nie regtig met engelvlerke nie, het ek bo oor elke paal se dwarsarm, daar waar die plakkaat aan hang, 'n parmantige vere boa gehang. Hierdie vererasie is afgerond met 'n parmantige rooi hoed – en dit lyk eerder of ons uit die Moulin Rouge as die engele se opleidingskwartiere ontsnap het.

Klaradyn se beste seunsmaatjie se pappa het intussen ook opgedaag en nou kan die twee maatjies én die twee pappas langs mekaar staan en kuier. (En ek het iemand wat kan help aandra aan die laaste goed uit die motor – 'n geseënde man is hierdie pappa.)

Toe raak dit tyd om die piece de resistance in die gereedheidshouding te kry – 'n batteryaangedrewe skuimborrelblaser. Pleks ek het twee van die goed gekoop, een vir elke vlerk se punt – dan het ons nou skuimparty ook gehou op die koop toe.

Toe moet ons maar werk met net die een. Die ding lyk soos 'n plastiek spaarbussie in die vorm van 'n tier of 'n beer. Hy hou 'n mandjie (waarin jy die seep/skuim gooi) vas, sy mond blaas wind en in die mandjie tol 'n windmeulerige ding met vier sirkeltjies aan elke punt rond – en soos een van die sirkeltjies (wat nou net uit die skuim gelig is) verby die mond met die lang en sterk asem beweeg, stuur die kontrepsie 'n string seepborrels die lug in wat geen mens hom sal kan nadoen nie.

Dis nou alles baie oulik, maar behalwe dat die ding sy eie borrels blaas, maak hy sy eie musiek ook. Seker mooi musiek vir 'n Oosterse oor wat ook van die vreemde lawwe klanke wat hulle in Sjinese restourante speel, hou; maar op enige Westerse oor val daardie klanke soos iets uit die hel en herinner dit aan die gekerm van gepynigde siele of katte wat iewers gemartel word.

Die onvriendelike buurman links van ons, laat val toe ook 'n opmerking hard genoeg vir my om te hoor, nee ek jok, hard genoeg sódat ek kan hoor. Maar dis verbasend hoe doof ek kan wees as ek die dag nie wil hoor nie. En toe ek in 'n stadium iets soek om te eet, is dit doelbewus nie by mý buurman nie, maar by sý buurman links van hom waar ek my geld uitgee.

Ek en my gawe buurman (die oudleerling- en Klaradyn-se-beste-maatjie-een) moes hierdie kontrepsie nooit op die proef gestel het nie, want die volgende oomblik toe het ons al kinders al om ons stalletjie wat wil kom koop – dit terwyl die ander mense nog opstel en myle tussen die motor en die skoolhek moet pendel.

Ek dog toe eers dit gaan werk soos 'n kerkbasaar op die platteland – jy verkoop niks voor die Dominee nie gebid en die verrigte met 'n gepaste teks uit die Bybel geopen het nie, maar toe dit lyk of niemand kyk nie, toe begin ons maar handel dryf.

Klaradyn en haar maatjie het intussen met groot gejuig by ons aangesluit en nou gaan dit klopdisselboom.

Elke skool het gelukkig 'n klankversterkingstelsel, en toe dié eers inskop met lekker musiek, toe pla die tier met die skuim bek se uitgestrekte doodsnikke ook glad nie meer so vreeslik nie. Dankie tog ek het ekstra bottels borrelseep gekoop gehad, want die ding gaan toe deur borrelseep soos 'n weermag deur witgoud – ek kan nie voorbly om die ding vol te maak nie. Toe die verrigtinge 'n uur en 'n half later tot 'n einde loop, toe het ek van die drie bottels ook nie meer 'n enkele druppel oor nie.

Ek het iewers op skool, ook al meer as derig jaar gelde, gehoor van “klein winsgrens, groot omset,” En dit het toe nou die uitgangspunt van ons stalletjie geword – ek het ook in hoofstuk 1 al gesê ons is nie daarop uit om geld te maak nie, maar 'n lekker tyd te hê. Goed wat ons toe, met Boereverneukery, vir R5-00 en R10-00 kon verkoop, sit ons toe alles uit die hand vir R2-00 stuk.

Met elke klok wat iewers lui, beweeg 'n nuwe stroom kinders verby, van graad 0 tot graad 7.

Ons het op die ingewing van die oomblik sulke Blou-Bul tatoeëer –plakkers, wat jy met 'n nat spons op jou lyf staan maak, aangekoop. Die gedagte was om dit teen 50c stuk van die hand te sit. Maar toe raak die goed soek in die huis. En toe ek dit, enkele oomblikke voor ek in die lang pad moes val, opspoor, toe is daar nie tyd vir stukkend knip nie.

Klaradyn het dit toe op haar geneem om elkeen van hierdie velletjies (wat 'n hele spul van die tatoo’s op had) persoonlik van die hand te sit. As die seuntjies nog dink om verby te beweeg oor dit meisietjie ringe en dinge is wat ons verkoop, dan roep sy hulle nader met 'n velletjie Blou-Bul in die hand. Te lekker.

Kleingeld vir R10-00 het Klaradyn al die pad uitgetel, en ons sou seker 'n opvoedkundige geleentheid kon maak van die R20- en R50-note wat ingekom het, maar daarvoor was daar net te veel van 'n toestroming by die stalletjie (klein winsgrens; groot omset).

Ek het iewers, terwyl ons nog suiwer onder die tafel deur, en nog nie amptelik nie, handel gedryf het, vir buurman gevra om ogie te hou – ek wil gou die ander stalletjies uitkyk. Elke iedere stalletjie was oulik. Daar was eetgoed en speelgoed, en goed wat hulle self gemaak het, en goed wat ander gemaak het.

Ek het selfs vir my tol gekoop. Nou moet ek net weer oefen om die ding te gooi. Dan wys ek vir Klaradyn. Die prognose is egter nie baie goed nie. Ek vermoed die fout lê by die tol.

Ek het so twee of drie (seker vier) handjies gehad wat R1-00 aangesien het vir R2-00. Dan weet ek nie of dit aspris is of nie, maar dan sien ek dit ook maar in die stilligheid vir 'n R2-00 aan. Nie Klaradyn nie, moenie glo nie, dan praat ek haar maar stil of kry haar aandag op 'n ander klant gevestig.

En die volgende oomblik staan daar hierdie dogtertjie met hierdie diep stem, donker vel, donker hare, en diep donker oë, tussen die kinders en staar na die ringetjies. Sy kyk my in die oë en sê met 'n lispel dat sy nie geld het nie. My hart vermurwe op die plek en ek ruk my beursie uit en prop die kind R8-00 se munte in die hand.

Maar die klein swernoot, sy het nie gelieg nie, maar ook nie die volle waarheid gepraat nie. Sy het gesê dat sy nie geld het nie, wat waar was, maar wat sy moes gesê het, is dat sy nie meer geld oorgehad het om uit tye geen nie. Want nadat sy toe R4-00 se goed by ons gekoop het, buk sy af om die goed by haar voete op te tel – en daar kom ek toe agter die kap van die byl – sy het seker goed R50-00 se goeterstes reeds aangekoop gehad. Die hartseer in haar lyftaal, stem en oë, was nie omdat sy nie geld gehad het nie, maar omdat sy dit alles so vinnig en onoordeelkundig uitgegee het.

As die doel was om 'n lekker tyd ('n jolige jol te same met vet pret) saam met jou kind te hê, dan het die entrepreneursdag in sy doel geslaag; as die doel, soos vir Annieka, was om die kind te leer 'n mens gooi jou volle gewig in, dan het ons beslis geslaag.

Hoeveel geld ons gemaak het? Nee, ek weet nie. Die goed is nog nie eers uit die motor gepak nie. Ek is haastig skool toe, na skool was dit jaarblad tot laat. En dit was blykbaar ook nie Klaradyn se hoofdoelwit om groot geld te maak nie – ons het gistermiddag laat nadat ek hier aangekom het, en gisteraand, soveel ander lekker dinge gehad om te doen, dat sy ook nie eers gevra het om geld te tel en wins te bereken nie.

Volgende jaar maak ons weer so. Wat ons dan gaan doen weet ek nie. Juwele sal dit nie wees nie – daar was hopeloos te veel mense wat gesien het hoe gewild so iets kan wees. Selfs onder die seuns. Die kleintjies het vir mammas en sussies gekoop, die groteres het ons toegestroom vir geskenkies vir hul meisies.

Miskien doen ons volgende jaar dieselfde. Dan verkoop ons net dit wat die ander vir R5-00 en R10-00 verkoop, steeds vir R2-00.

12.10.11

Enterperneersdag

Ons het vandag Entrepreneursdag by die laerskool.

Ek weet 'n mens sou eerder wou hoor dat Klaradyn vandag Entrepreneursdag by die skool het; dis egter inderdaad nie sýnie, maar óns. Die briefie wat Maandag hier aangekom het, stel dit duidelik: dis beter as die ouers hulle bystaan; as die ouers nie kan help nie, word ouer kinders in hoër grade glo gevra om met die graad-eentjies-paddabeentjies hande te vat.

So toe word daar verlof ingesit. 'n Positiewe herinnering in my kind se kop, is belangriker as die enkele werksdag wat ek vandag afstaan. Ek gaan jaarin en jaaruit siek skool toe, so om vir privaatverlof aansoek te doen, is nie my gewoonte nie. Had ons nie vanjaar begrafnis gehou nie, was hierdie my eerste privaatverlof in jare.

Dit was weliswaar vreemd, toe Klaradyn half te kenne gee ek moet die een wees wat moeite doen om daar te wees. Waarom sal nugter weet –Annieka se persoonlikheid pas hierdie soort dinge honderd maal beter as myne...

Maar hier sit ek nou en wag om te ry sodat ek die stalletjie kan gaan bou. (Miskien moet ek eerder gaan kyk waar die opvoutafel is wat ek wil inpak.)

Klaradyn laat val slapenstyd gisteraand dat almal wil weet wat sy gaan verkoop en dat sy hulle dan los met die inligting dat sy gekleurde hoenderkuikens as lewende wesens gaan verkoop.

Wat die stomme maatjies hiervan maak, weet ek nie. Klaradyn onthou nie mooi van “lewende hawe” nie, en verander die hawe toe na wesens. Of dalk maak wesens vir haar net meer sin – 'n hawe is op haar ouderdom immers 'n plek vir skepe en by die see.

Die idee van gekleurde kuikens of konyne kom van my af. Daar was dertig of meer jaar gelede die absurde siek mode om gekleurde konyne aan kinders te verkoop. En iewers moes gekleurde kuikens ook die ronde gedoen het, want toe ek die vakansie laat val my kind se eerste entrepreneursdag lêom die draai, kom 'n pappa met baie ervaring, met die aanbeveling dat gekleurde kuikens 'n wegholsukses is. Ek het die suksesnie ernstig opgeneem nie, en die weghol letterlik– daar sien ek toe die ryklik gekleurde kuikens al oor die werf aan die weghol van die drie spanjoele af, dis nou die handjievol dagoud kuikens wat wel, eers dag 1, en toe die koekkleursel, oorleef het.

Toe sê ek Klaradyn voor om aan almal wat nuuskierig is, te vertel sy gaan gekleurde lewende hawe van die hand sit.

Genadiglik het die skool 'n verbod op lewende hawe. Kan jy jou die onaangename verassings voorstel as Sussa met 'n katjie in 'n boks van die skool af kom! Kan jy jou die trane voorstel?

Klaradyn sal met sywurms, katte, konyne, kokketiele én akkedisse (wat iemand as miniatuur komododrake aan haar afgesmeer het) op ons werf aankom.

Dankie tog die skool weet van beter.

Ek wens net hulle het van beter geweet as om Maandag eers te laat weet dat deelname vrywillig en opsioneel is!

En dan moet jy nog R50-00 in die skool se kis pomp voor jy en jou kind 'n lekker tyd kan hê.

Ons sal gelukkig wees as Klaradyn R10-00 wins toon. As ek haar dan moet vertel sy moet haar R10-00 afstaan én sy skuld my R40-00 wat ek haar moes voorskiet sodat sy kan deel neem – is dit oorverdowende snot en trane.

Nóg ek, nóg Annieka, nóg Klaradyn is hier in om geld te maak.

Ek wil 'n lekker tyd met my kind hê – en sedert Saterdag (toe ons voorraad gaan aankoop het) en vandag (met die krat gepak, die plakkate geskryf en alles klaar in gereedheid) het ons nog net een vet jol gehad. So lekker dat ons, wat my betref, nie 'n enkele pennie hoef te maak nie; dit wat ons beleef kan in elk geval nie in rand en sent omgesit word nie. Hoe betaal jy byvoorbeeld vir 'n kind wat met entoesiasme kom vertel van die lewende wesens –dis van onskatbare ware! Hoe sit jy die lekker van as gesin spoeg en plak en planne maak om in rand en sent? Jy kan nie.

Ons het in vyf dae sedert Saterdag nou al soveel koek gehad, dat die kersie vandag maar kan uitreën, dit sal nie die ergste wees nie.

Die drie van ons was twee jaar gelede by die China Mall in Johannesburg, ons het in een uitstappie drie van die Oosterse plekke besoek. En iewers, in 'n winkel wat besiger is as die ark se hoofingang net voor dit begin reën het en Noag almal se paspoorte pas korrek en in plek verklaar het – almal kan maar aan boord stap, iewers in so besige winkel, kom ons af op 'n Afrikaanse Afrikaner gesinnegroepie wat lawwe goed opkoop. By navraag blyk dit toe vir die entrepreneursdag te wees.

Toe kyk ek en Annieka mekaar gelyk in die oog, en sê, in koorspraak vir mekaar: “Ons moet hiervan onthou as Klaradyn eendag haar eerste entrepreneursdag het.”

Wel, dis drie jaar later, en ons is Saterdag deur China Mall toe om juwele te gaan koop. Ringe en oorbelle. Maar iewers moes ons moeg geraak het, perspektief verloor het, of ek was te haastig om by die volgende stalletjie uit te kom – want toe ons by die huis kom, het ons hopeloos te veel ringe, en, steeds hopeloos te veel, maar in verhouding tot ringe, hopeloos te min oorbelle.

Klaradyn sal in graad 10 nog met graad 1 se voorraad kan entrepreneursdag hou.

Ek het nagelaat om te noem waarom Annieka met haar volle gewig in die entrepreneursdag inklim, as dit nie is om geld te maak nie, of, soos in my geval, om vet pret te hê nie.

My vrou is 'n baie edeler mens as ek en nie so op onmiddellike behoeftebevrediging ingestel as ek nie – sy sien dit as 'n wonderlike opvoedingsgeleentheid om Klaradyn te wys 'n mens doen niks half, halfmas en afskeep nie – jy gee jou alles in alles wat jy aanpak.

Ek stem natuurlik 100% met haar saam, maar dis wat my betref net 'n bonus- en verskuilde uitkoms, 'n ietsie ekstra saam met al die lekker.

En oor Klaradyn wat nie hier in is om geld te maak nie, het ek gelieg – sy wil die einde van die jaar konyne koop. Nadat sy duidelik tot die besef gekom het dat nóg ek, nóg Annieka vir hase gaan koop, het sy dit op haarself geneem om die goed te koop.

En ek weet nou al wat gaan gebeur: sy gaan vergeet van insetkoste en ander uitgawes, sy gaan vergeet van die kleingeld wat ek by die bank gaan kry het – as die stalletjie toemaak, gaan sy al die geld in trommeltjie so kyk, en net een ding voor haar sien – KONYNE!

Gelukkig het niemand nog ooit gesê om groot te word is maklik nie.

En daardie lessie sal ons dan nou maar ook moet leer. Hy sal wel aanklop, so ek gaan dit nou vooruit loop nie.

(Ek wonder wat is die Afrikaans vir: We’ll cross that bridge when we get there?)

Wat ek nou moet gaan doen, is op die basaartafel te gaan soek.
Intussen bly hoop ek dat Klaradyn ten minste net eendag, na baie jare se entrepreneursdae, in staat sal wees om die elendige te kan spel. Ek het een eksamen nie minder nie as 27 maniere gekry waarop kinders dit verkeerd gespel het.

As die dag egter net naastenby so lekker afloop as die laaste 5 dae se aanloop, laat hoor ek in hoofstuk 2 weer van my.