Pages

5.10.11

Gietvorms wat vorentoe vat


Toe Christa McAuliffe destyds (vandag ook al meer as 25 jaar gelede) 73 sekondes na die tiende lansering van Challenger-ruimtetuig haar dood ontmoet het, het hier in Suid-Afrika, waar daar nog altyd gespot was met onderwysers se karige salarisse in vergelyking met die werk wat hulle lewer, 'n eenvoudige ou grappie die ronde gedoen.

Presies hoe dit gegaan het, kan ek nie onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat dit honderd persent te verstane is dat die Challenger, met die eerste onderwyser ooit in die ruimte aan boord, toe nooit by die ruimte sou uitkom nie – geen onderwyser kan ooit toegelaat word om sulke hoë hoogtes te bereik nie.

En vandag, die dag waarop onderwysersdag internasionaal gevier word, dink ek toe nou weer aan haar. Allermins nie aan die grappie nie – my selfbeeld as onderwyser maak dit vir my onmoontlik om met sulke grappies oor my professie te identifiseer; ek weet van beter en meer, ek weet welke hoogtes en diepste, buitenste, omvangrykste, ongebaande ruimtes 'n onderwyser binnedring. Nee, ek word herinner aan die woorde wat sy op haar bagasie en ruimtepak aangebring het:  “I touch the future – I teach.”

En dis presies wat ek nou vir 24 jaar al doen. Dis 'n ongelooflike voorreg wat my te beurt geval het.

Woorde waarvoor sy as ruimtevaarder, en nie as onderwyser nie, onthou word, is: “What are we doing here? We’re reaching for the stars.”

En dis wat ek as onderwyser ook doen, if not reaching fór the stars, then óút tó the stars.

Ek weet na 24 jaar nie hoeveel super novas ek aangeraak het nie, maar in 'n sin, iewers, is bykans elkeen, op sy of haar manier, 'n ster gewees.

Ek weet van 'n hele paar sterretjies wat ek aangeraak het, wat onderwysers geword het, nie onderwysers nie, onderwyssterre wat elkeen op hul beurt weer die toekoms aanraak. Maar daar is baie ander, baie ander waarvan ek nooit eers sal weet nie.

En natuurlik maak ons droog ook, en anders as dokters wat hul foutjies begrawe, stuur ons ons mislukkings die toekoms in.

Daarom dat ek elke onnie vandag weer eens wil herinner aan G.A. Watermeyer se lieflike opdrag.

En waar elkeen nie noodwendig meer sy sterk nasionalistiese sentimente deel nie – kyk daar verby, laat die man dan met onderysershart, en nie noodwendig jou Afrikanerhart nie, praat.

Hy praat met onderwysershart, én my Suid-Afrikaner-hart as hy skryf:

Gietvorms

Gietvorms van ons jeug, ons vra
dat julle skouers breed moet dra

jul bou met meer as staal of steen,
ons volkswees wentel om jul heen.

Aan julle is daar mag gegee
bo dié wat wet of vonnis smee:

mag van die liefde, mag van vrees,
mag oor die wording van die gees.

Bo die struktuur van been en bloed
staan jul gestaltes in die gloed

van ewigheid, wat om die mens
se innerlike wese grens;

agter bewussyn van die brein
skemer die siel se teerder grein.

Wat julle wond, word nooit meer heel,
wat julle sterk, staan stoer verseël

teen ruk van elke later wind
om rigting teen die son te vind ...

Gietvorms van ons jeug, ons vra
dat julle harte deernis dra;

jul bou met meer as staal of steen,
ons volkswees wentel om jul heen.

G.A. Watermeyer

Vir my 'n lekkerte om onderwysersdag 2011 in die geselskap van onderwysers deur te kan bring, nie waar nie, op Bloemfontein, by Grey Kollege, besig met verryking aanbied in die nuwe onderwysdinge wat die regering vir ons uitgedink het.

Vir baie lê dit soos 'n berg. Maar dan is daardie berg baie soos die lat wat voor die hoogspringatleet op 'n hoogte gelê het, wat hy nog nooit gespring het nie. En dis toe hy wou opgee en nie eers probeer nie, dat sy afrigter glo vir hom sou gesê het:  maar dis maklik, gooi net jou hart oor die lat en die res van jou liggaam sal volg.

Ek het hierdie staaltjie nou al aan soveel mense (en afrigters en vaders) toegedig gehoor dat ek feit lankal nie meer van fiksie kan onderskei nie.

Tog is en bly die tipe hart waarvan hier gepraat word, die hart wat 'n onderwyser nodig het, en elke goeie onderwyser het.

Beste onderwysersdag aan elke kollega.

No comments: