Iewers jare der jare gelede toe ek nog nat agter die ore was, het iemand die volk wou leer: Maar as jy val, dan moet jy gou weer opstaan, uithou aanhou, altyd voortgaan.
Ek het destyds gedink dis 'n pot tjol, en ek dink 22 jaar later steeds so. Die pot is net groter, en die tjol het snot geword. Of iets erger.
As ek net geweet hoe dit voel om op te staan nadat die lewe jou omgebliksem het, het ek miskien anders gevoel.
Eintlik sing die mannetjie mos (en die man sal wat wil gee om 22 jaar later steeds 'n mannetjie genoem te word):
Jy sal soms val en seerkry, sonder dat jy werklik sal verstaan;
Maar as jy val, moet jy gou weer opstaan;
UITHOU, AANHOU, altyd voortgaan...
Wie kan dit verstaan?"
Maar as jy val, moet jy gou weer opstaan;
UITHOU, AANHOU, altyd voortgaan...
Wie kan dit verstaan?"
Ek waarborg nie die akkuraatheid van die woorde nie, ek kon die volledige liriek nie op die internet opspoor nie en is trots om te kan sê dat ek daarvan nog nooit 'n opname beskik het nie.
Tog is dit of ek met daardie “wie kan dit verstaan” saamstem. Myself daarmee kan vereenselwig.
Juis omdat ek, die meeste van almal, dit nie kan verstaan nie, nog nooit kon verstaan nie.
Vandat ek die eerste keer geval het, kon ek nog nooit weer op my voete kom nie, ek weet nie hoe dit voel om op te kan staan nie.
Elke dan en wan lig ek miskien my kop, net om 'n veeg dwarsweg deur die gesig te kry – plat op die grond.
Ek kom nie eers op my knieë nie, wat nog te sê “op my voete.”
Kyk, ek het mos nou die maand wat verby is, verjaar.
Dit maak dat ek nou iewers in die onlangse verlede aan die ontvang kant van 'n salarisbonus was.
Streng gesproke natuurlik nie ék nie, die bankbestuurder het bloot teruggekry wat hy die laaste jaar vir my gegee het toe ek geld uitgegee het wat ek nie had nie. (Ek was immers nog nooit goed om geld wat aan my behoort uit te gee nie, maar as dit die bank se geld is, is dit 'n ander saak.)
Maar daar sou genoeg oor wees dat ek die stoute skoene kon aantrek om die girls iewers vir 'n naweek voor die vakansie aanbreek in die Blue Waters Hotel in Durban te bederf.
My werk het my Donderdag daar vir 'n nag gehad – en toe ek daar sit, besef ek die plek is cheap genoeg dat ons vir 'n naweek kan afskiet. Klaradyn is nou nog jonk genoeg om in verwondering daaroor te wees. Sy sal so 'n naweek nooit vergeet nie, en eers later besef dit was sommer die goedkoopste van goedkoop hotelle waarheen haar pa haar gevat het.
Maar vir nou is dit spoggerig genoeg om baie spesiaal vir 'n onbedorwe naïewe dogter soos Klaradyn te wees.
(Ek onthou hoe wonderlik, asembenemend, fantasmagories, was die Warmbad Hotel waarheen ek as kind geneem is!)
Klaradyn sal van alles in die hotel hou, die servette, die ligte, die outydse silwer suikerpotte, die voorportaal, die kos. Sy sal soos 'n jong dame, 'n prinses voel.
En dit sal vir my lekker wees om haar so te laat voel, en 'n lieflike herinnering te help bou.
(My peetpa, Oom Kobus, die Vrystaatse boer van my vorige inskrywing, het elke jaar met sy gesin by hierdie hotel ingetrek, en voor ons motor nie een nag buitekant Kroonstad gebreek het, en Pa vir ons plek in die hotel daar gekry het nie, was 'n kuier by Oom Kobus-hulle in die hotel, my enigste verwysing wat hotelle betref.)
Om 'n lang storie kort te maak. Annieka maak toe in my afwesigheid die een of ander rekening oop –ek maak 'n punt daarvan om niks in 'n vensterkoevert – ooit – oop te maak nie; voor dit nie met die hand persoonlik aan my geadresseer is en aan 'n briefie of Kerskaartjie herinner nie, kyk ek nie eers daarna nie. Daar is oorgenoeg slegte nuus in die koerante, ek gaan dit nie in my eie posbus loop soek nie.
En daar is die salarisbonus toe nou nie maan toe (eintlik moertoe, maar dan kla my vrou weer).
Iewers moes die water en ligte se uitgawes gestyg het. Ek het nie my aftrekorder vergroot nie, en dit wil nou voorkom dat ek, by benadering, en ondertoe afgerond, R11 000-00 se water en krag deur my alie getrek het, sonder om daarvoor te betaal.
So ja, nog 'n jaar, ook nou die drie en twintigste in 'n ry, wat niks my gaan help om gou weer op te staan nie.
Ek bly maar net lê.
***
Maar van die os op die jas: hulle het toe vandag gebel om te laat weet die ou vrou het gekom, ek kan haar gaan optel.
Toe ek bietjie meer as 'n maand gelede daar uit is, was my woorde: “So as ek my ma weer sien, dan is sy in 'n houte kissie.”
Dit voel beter. Dit voel goed.
Ma se kissie is tog mooier as Tannie Anne s'n.
Ma se kissie klink ook anders as Tannie Anne s'n. Nie as jy daaraan klop nie, as jy dit skud,to hear the bones that are a shaking.
Dit klink of hulle Ma gekompakteer het.
Ek weet nie.
Maar ek is bly om weer in haar geselskap te wees.
Miskien moet ek vir die eksekuteurs laat weet dit was my ma se laaste wens om by Uvongo ter water bestel te word. Die boedel moet my en Annieka en Klaradyn Durban toe stuur dat ons haar laaste wens in die verband kan vervul.
Maar dit sal 'n te slegte naweek wees. Met hopeloos te veel trane.
En met die dat die bedroefde naasbestaandes nie 'n oop graf had om op gepaste wyse in te kon val nie, sien ek, al van voor my Ma se dood, hoe ek of my broer oor die kant van die boot in die see foeter as ons die aarde teruggee wat die aarde toekom.
***
Van die jas, daarom terug op die os: van net hier na die begrafnis vrees ek die dag waarop dit gebeur, wonder ek wanneer dit gaan gebeur.
En toe gebeur dit hoeka Vrydagoggend in die lieflike art deco eetkamer van die Blue Waters hotel.
Ek staan op van die tafel waarby tien van ons sit, ek gaan skep 'n tweede porsie gerookte stokvis.
En toe ek twee tree van die tafel is, te naby om te draai en oor die balkon te spring sonder dat iemand my sien, sny dit deur my: Lara se tema uit Doctor Zhivago. Judy se gunsteling.
Ons moes 'n orrelis betaal om die een of ander gesang te sing – dankie tog ek kan nie eers onthou wat dit was nie – maar ek het nie orrel in my kop gehad nie, die oggend nie.
Lara se tema het deur my kop gemaal.
En toe Vrydagoggend deur my siel en wese gesny.
One down, one to go: Blue Spanish Eyes.
Drie jaar gelede ry ons haar af vir haar peetkind se dogter se troue. Meer ter wille van ons as ter wille van haar. Sy weet van al die jare op Ficksburg, haar skoonsuster en peetkind niks.
Maar dit bly vir lekker en spesiaal in my en Annieka en Klaradyn en Jac en Bev (my broer en skoonsuster) se geselskap.
Die orkes maak die hele aand dansmusiek.
Die hele aand reageer sy nie. Sy weet nie of sy Arthurof Martha is nie, of dit Maandag of wasdag is nie.
Toe trek die orkes weg met Blue Spanish Eyes.
En daai hele ou lyfie reageer, van haar kroontjie tot haar toontjie, sy kyk om, soek die orkes, en toe sy weer vorentoe kyk, sê sy: “Hoor net daar, hoe mooi is dit nie.”
Dit is en bly een van die baie ongelooflike dinge van menswees en oud word en stadig maar seker dood gaan en jou brein verloor – so baie verander, maar soveel meer bly presies dieselfde.
No comments:
Post a Comment